Psalm 96

Psalm 96

1.  Sing vir die HEER 'n nuwe lied!
Die aard' se verste perke
moet jubel oor sy werke,
en Hom die lof en hulde bied;
moet uitroep en verwag
sy heil van dag tot dag.

2.  Verkondig nou sy roem en eer
by al die nasies, onder
die volke: sterkte en wonder;
want groot, lofwaardig is die HEER.
Vreeslik in heerskappy
bo al die gode is Hy.

3.  Die gode wat die volke aanbid,
is nietig en onmagtig.
Die HERE is skeppingskragtig:
die hemel daar - sy werk is dit!
Voor Hom is majesteit
en heersersheerlikheid.

4.  By Hom is sterkte en sieraad; daar
is mag- en pragvertoning,
waar God sit in sy woning.
Gee dan, geslagte en volkeskaar,
gee prys en sterkte en eer
aan onse God en HEER.

5.  Gee aan sy Naam die hoogste eer.
Bring aan uit alle lande
sy tempelofferande;
buig daar in heil'ge kleding neer!
Die aarde - al wat leef,
moet voor Hom skrik en beef.

6.  Verkondig nou van mond tot mond:
oor al wat is, regeer Hy,
oor onreg triomfeer Hy -
dus is die wêreld vas gegrond.
Die volkestryd beslis
Hy wat regverdig is.

7.  Laat nou die aarde juig van vreug! 
Laat juig die hoë hemel,
die see met wat daar wemel!
Laat al die velde hul verheug!
Dan breek en boom en bos
in wilde jubels los.

8.  Laat aarde en hemel juig voor Hom!
Want Hy, die Wêreldregter,
die strenge Saakbeslegter,
groot in geregtigheid, Hy kom!
Hy kom, waar en getrou,
sy strafgerigte hou.