Psalm 95

Psalm 95

1.  Kom, laat ons jubel voor die HEER,
laat ons Hom toesing lof en eer -
die rots van heil wat ons oordek het.
Laat ons met lof en eerbiedsgroet 
sy vriend'like aangesig ontmoet
wat nuwe vreugde in ons gewek het.

2.  Bo al die gode en godeprag
troon God as Koning; sy gesag
is groot en ken geen grense of lyne.
Die aard' se diepste binnekant
is in die holte van sy hand;
die hoë berg daarbo is syne.

3.  Die woeste see het Hy gemaak,
die rotse wat ons kus bewaak
en wydgeleë wêreldlande.
Kom, laat ons voor sy voete aanbid:
sy grootste skeppingsdaad is dit,
en ons die maaksel van sy hande.

4.  Hy's onse God en Herder, Hy,
en ons die skape van sy wei
wat uittrek onder sy beskerming.
As jul vandag sy roepstem hoor,
verhard jul nie, maar neig jul oor,
merk op die roep van sy ontferming.

5.  Verhard jul hart nie, soos weleer
jul vaders wat - hoe dikwels weer! -
nie op my wondermag vertrou het.
Hul het My, deur die dors gekwel,
versoek, My op die proef gestel,
hoewel hul al my werk aanskou het.

6.  Ek het verdriet van hul gehad
wat aldeur weg wou van my pad,
en deur 'n dwaalsiek hart verlei is.
Daarom het Ek in toorn gesweer:
Die rusplek erf hul nimmermeer
wat vir 'n trouer volk berei is.