Psalm 94

Psalm 94

1.  Verskyn weer aan die onweerstranse,
o God van wraak, in skitterglanse!
Vertoon u stralende aangesig,
o Regter, wat die wêreld rig!
Staan op, verhef U en vergeld
die trotsaards nou hul trots geweld!

2.  Hoe lank, o HEER, sal nog die bose
hier triomfeer... die goddelose
by al ons jammer en gesug
hul jubels uitstoot in die lug?
En giftig, by hul seëpraal,
ons uitspot met hul lastertaal?

3.  Hoe lank het hul ons nie laat buk nie?
Hoe ons, u erfdeel, nie verdruk nie?
Die weduwee van hulp ontbloot,
word met die vreemdeling gedood;
verdrukte wees word nie verhoor,
maar onder skyn van reg vermoor.

4.  Hul roem uit krag van hul vermoë:
"Die HEER slaan op ons daad geen oë!
Wie sal ons planne uitvind? Wie?
Die God van Jakob sien dit nie.
Hoe lank, o sondaars, bly jul doof?
O dwase, van verstand beroof?

5.  Sou Hy, die Skepper van die oor, nie,
sou Hy, die HEER, dit nie kan hoor nie?
Sou Hy ontbloot wees van gesig,
die Maker van die oëlig?
Wat volke straf, en kennis leer
aan hom wat waarheidslig ontbeer?

6.  Maar, mens, die HEER ken u gedagte -
van nietigheid is niks te wagte!
Gelukkig dan die man, o HEER,
wat uit u wet sy wysheid leer,
en weet hoe Gods geregtigheid
gehandhaaf word in nood en stryd.

7.  In stil vertroue is hy geduldig;
hy sal in lyde menigvuldig,
die roede wat hom tugtig, kus;
en onderwerping gee hom rus -
totdat die kuil gegrawe word,
waarin die sondaar neer sal stort.

8.  Die HEER sal in ons donker lewe
sy volk en erfdeel nooit begewe.
Die regspraak keer, vol majesteit,
terug weer tot geregtigheid.
En wie opreg is van gemoed -
hy volg die regspraak op die voet.

9.  Wie sal my bystaan as die bose
my aanval? En die goddelose
van alle kante my verras?
As nie die HEER my bystand was,
dan was my lewe gou verkort,
en ek diep in die graf gestort.

10.  As ek moet roep in donker stonde:
"My voet gly uit, ek gaan te gronde!"
dan ondersteun u goedheid my.
In my gepeins is U naby;
as duisend sorge my verskrik,
het u vertroosting my verkwik.

11.  Kan by U staan, gestrenge Rigter,
die setel van die onheilstigter
wat, teen u heil'ge wette in,
net moeite en onreg wil versin?
Op ons, onskuldig, storm hul af
en lê op ons die swaarste straf.

12.  Maar God die HEER is hoog en heilig;
by Hom, my vesting, is ek veilig,
my steenrots en my toeverlaat.
Hy stort die sondaar in die kwaad,
en delg, as Hy hul aanval stuit,
die sondaar met die sonde uit.