Psalm 92

Psalm 92

1.  Wie sou die HEER nie prys nie,
as weer met nuwe gloed
'n rusdag ons begroet?
Wie Hom nie dank bewys nie
in stille môrewagte,
as ons sy guns omring?
Wie vir sy trou nie sing
ln loflied in die nagte?

2.  Wie sou die troue HEER nie -
Hom wat sy gunste ons bied -
met hooggestemde lied
by harp- en luitspel eer nie?
Hy maak weer los my bande,
Hy maak my tong weer vry;
ek roem sy dade bly,
die werke van sy hande.

3.  Hoe groot is, HEER, u werke,
hoe diep gaan u beleid!
Hoe reik u moëndheid
oor alle aardse perke!
Maar dwase sit gevange
en in hul waansin vas;
hul weet nie dat hul ras
sal struikel in hul gange.

4.  Hul groei in pragverskyning
soos plante, groen en fris,
terwyl hul einde is
verdelging en verdwyning.
Maar U is hoog verhewe:
u vyand, HEER, moet val;
geen onregwerker sal
ooit strafloos voor U lewe.

5.  Van blydskap opgetoë
en deur u krag gedug,
swaai ek weer in die lug
die horing van vermoë.
U, HEER, laat op my druppel
u salf en laat my nou
die val van hul aanskou
wat oor my val wou huppel.

6.  'n Palmboom hoog en rustig,
'n seder sterk en skoon
met breë blarekroon -
so groei Gods volk, so lustig.
Hul groei deur Gods genade:
hul boei daar hoog en fris,
waar God se voorhof is,
in skone lofgewade.

7.  Hul groei in balsemlugte;
selfs in hul ouderdom
sal daar geen mind'ring kom
van bloei en eedle vrugte.
Hul lof sal nie verstom nie:
Die HEER is reg! en Hy,
Hy is 'n rots vir my!
Geen onreg is in Hom nie.