Psalm 81

Psalm 81

1.  Laat ons nou die HEER
wat sy volk verbly het
deur sy sterkte, eer!
Hom, die grote God,
wat weer feesgenot
vir sy volk berei het.

2.  Laat die trommel hoor
by die toongemengel
van 'n jubelkoor!
Laat die harpenaar
klank van sagte snaar
deur die blydskap strengel!

3.  Laat basuine klink
as aan lae transe
nuwe maan weer blink!
Blaas hul nog 'n keer
as die Paasmaan weer
skyn met volle glanse.

4.  Want dis die bevel
wat alom weerklink het 
onder Israel;
dis die groot gebod
van 'n troue God
wat aan ons gedink het;

5.  wat ons wou bevry
aan die Nyl se boorde
van die slawerny.
Maar as nou my oor
dieper luister, hoor
ek die vreemde woorde:

6.  Ék was 't wat hul juk
eind'lik opgelig het
toe hul, hard gedruk,
hand en skouer vas
aan die draerslas,
slawediens verrig het.

7.  Jul 't geroep, en my
antwoord was 'n wonder;
om jul uit te lei,
het uit onweerskuil,
waar die dreunings skuil,
my bevel gedonder.

8.  Deur die dors gekwel
is hul, nooit tevrede,
op die proef gestel
in hul trou aan My,
wat hul uit wou lei
deur my wonderhede.

9.  Neig, my volk, jul oor,
dis wat Ek getuig het -
neig jul oor en hoor:
Ag, as Israel
maar op my bevel
voor my woord gebuig het!

10.  Onder jul mag geen
afgodsbeeld verrys nie:
Ek is God alleen!
Jul mag god of heer
wat die nasies eer,
met geen lofstem prys nie.

11.  Ek is God en HEER
wat die volk bevry het -
Ek en niemand meer!
Wat jul deur my hand
uit Egipteland
veilig uitgelei het.

12.  Open julle mond,
eis van My vrymoedig
op my trouverbond:
al wat jul ontbreek,
skenk Ek as jul smeek
mild'lik en oorvloedig.

13.  Maar my volk wou My
nie gewillig eer nie,
aan my diens gewy;
ver van My vandaan
het hul weggegaan
en My nie begeer nie.

14.  Toe 't Ek hul laat gaan
op hul donker spore,
weg van My vandaan;
in hul hart verhard,
in hul sin verward,
in hul weg verlore.

15.  Ag, as hul maar net
na my raad wou handel,
op my woord wou let!
As hul maar wou hoor,
in die veil'ge spoor
van my wet wou wandel!

16.  Vyande sou dan
voor my mag gebuk het - 
hul wat, saamgespan,
met 'n slaweband,
met 'n ysterhand
Israel verdruk het.

17.  Godverlaters sou
veinsend Hom gevrees het
met 'n skynberou;
maar my volk se tyd
sou in ewigheid
vrede en bloei gewees het.

18.  Koring, vet en goed,
sou die lande oorgroei het,
om hul mild te voed.
In die dorste streek
sou 'n heuningbeek
uit die krans gevloei het.