Psalm 80

Psalm 80

1.  O Herder Isr'els, neem ter ore,
wat Josefs kroos, deur U verkore,
soos skape rustig wil laat wei,
of deur gevare heen wil lei;
U wat u troon op gerubs stig -
verskyn weer blinkend in u lig!

2.  Wek op u mag voor Efraims oë,
toon Benjamin u alvermoë,
en wil Manasse red, o HEER!
O Herder, lei, herstel ons weer,
verkwik, verlos ons deur die lig 
wat afstraal van u aangesig!

3.  Hoe lank, o God der leërmagte,
verwerp U ons gebed en klagte?
Hoe lank verlaat U ons in nood?
U spysig ons met tranebrood,
en laat ons in ons jammerstaat
die trane drink uit volle maat.

4.  U maak u volk in donker ure
'n skyf en mikpunt vir sy bure;
ons vyande bespot ons, HEER!
Sien op ons in ontferming neer;
verkwik, verlos ons deur die lig
wat afstraal van u aangesig.

5.  U, HEER, het ons in vroeër dae
geken, en in u welbehae
'n wynstok uit Egipteland
gebring, en self hier ingeplant;
U het die nasies uitgeroei,
en in hul plek u volk laat groei.

6.  Sy wortels sprei na alle kante,
sy ranke slaan wyd oor die rante.
Hy dek die hoë bergetop
en klim teen hoë seders op;
hy 't uitgeswaai van see en strand
tot by Eufraat se wonderland.

7.  En nou, waar is sy pragverskyning?
Waarom verbreek U sy omheining?
Waarom gedenk U nie aan hom?
Die bosvark woel sy akker om;
'n ieder pluk en gaan verby,
en wilde diere kom daar wei.

8.  Keer weer, o God der leërmagte!
Verhoor ons in ons jammerklagte.
Skou uit die hoë hemel neer,
besoek u wynstok soos weleer;
en laat u hand die seun bewaak
vir U gekweek en grootgemaak.

9.  Hy staan verbrand op ope velde;
hy's omgekap; van al u skelde
vergaan die volk deur U geplant.
Ag, laat u sterke regterhand
wees met die seun wat U, o HEER,
gekweek, gesterk het tot u eer.

10.  O HERE, God der leërskare,
verlos u volk uit doodsgevare;
dan sal ons U weer dien en eer.
O Herder, lei, herstel ons weer,
verkwik, verlos ons deur die lig
wat afstraal van u aangesig.