Psalm 77

1.  Opwaarts klim my roep en rede,

o my God, verhoor my bede;
in benoudheid, altyd weer,
neem ek toevlug by die HEER,
En my hande, hele nagte,
met my worst'lend in my klagte,
bly, terwyl 'k mistroostig smeek,
sonder moeg word, opgesteek.

2.  In 'n nag so dubbelduister
wil my siel na troos nie luister.
En gedenk ek in my nood
aan die God, voorheen so groot
in ons redding en ontvlugting,
dan versink ek in versugting;
en my gees in my versmag,
waar ek raadloos hoop en wag.

3.  Slaap kom daar nie in my oë;
diep onrustig, neergeboë,
draai ek aldeur om en om,
maar my mond bly strak en stom.
Al die lank vervloë jare,
ook die juigtoon van my snare
kom voor my in stille nag.
Alles het my gees deurdag.

4.  Gans mistroostig, wederstrewig,
vra ek: Sal die HEER vir ewig
dan verstoot en nimmermeer
wees nie wat Hy was weleer?
Is dan sy beloftenis nie
onverbreekbaar en gewis nie?
Is sy goedertierenheid
nie bestendig vir altyd?

5.  Sou God sy gena vergeet het?
Van my onheil nie geweet het?
Is ontferming dan vir my
deur sy gramskap afgesny?
Ja, Gods hand, voorheen grootdadig,
red ons nou nie meer genadig,
ons wat diep ellendig is -
dit is my bekommernis!

6.  Maar 'k wil liewer wees indagtig
al u dade, groot en magtig,
dade van die ou tyd aan
wonderbaar deur U gedaan.
Ek wil let op al die merke
van u onvolprese werke
en in plaas van bitter klag,
daaroor nadink dag en nag.

7.  Heilig was, o God, u weë,
in die voortyd, lank geleë, 
toe u Naam en sterkte alom
groot was by die heidendom;
toe U, HEER, u mag gewek het,
Jakobs kinders uit laat trek het.
U het Josefs nakroos vry
uit Egipteland gelei.

8.  Watervloede, opgesteier,
wou u volk die deurtog weier;
maar toe hul u koms gewaar,
het 'n skrik in hul gevaar.
Donderwolke het hul water
uitgegiet, en fel geklater
het gedreun met swaar gerug
deur die vuurverligte lug.

9.  Hoog daarbo gerol van donder,
vuur van vlammesee daaronder;
aarde en wêreld, stormverlig,
het geskrik by die gesig. 
Ja, u pad was in die seë,
U verlos langs diepe weë;
en u nooit ontdekte spoor -
daar sweef donker waters oor.

10.  Kudde skape en hul herder;
veil'ge hoede en altyd verder -
Moses met Aäron lei
Isr'el deur die woesteny.