Psalm 76

 

1.  Die HEER wat woon in donker tent,
maak Hom by Juda's stam bekend;
daar word sy wonderdaad vertel,
sy Naam is groot in Israel;
in Salem met sy veil'ge skanse,
daar straal sy huis met vredeglanse.

2.  Hy het die vuurge pyl verbreek
waarmee Gods vyand hom wou wreek,
die skild en swaard en oorlogstuig.
Hoe heerlik bo die roofberg ruig
styg U, o God, ver bo die skare
van buiters en geweldenare.

3.  Die held is daar beroof, verswak:
hy het meteens in slaap gesak;
die sterk en dapper mensekind
het daar sy hande nie kon vind.
U dreigstem, HEER, op oorlogsvelde
bedwelm tesaam die perde en helde.

4.  Hoe vreeslik, HEER, is u gerig!
Wie kan bestaan voor u gesig?
U laat van bo die oordeel hoor,
u donderwoord, die wêreld oor;
die aarde, uit skrik vir u vermoë,
lê stilverlate voor u oë.

5.  In stortvloed van sy krag kom Hy
al die sagmoediges bevry;
want grimmigheid en wraakgeweld
van mense moet u lof vermeld. 
Die toorn wat oor is van die bende
dien, HEER, as gordel van u lende.

6.  Doen dan geloftes aan die HEER
en lê jul offers voor Hom neer;
laat almal wat die HEER omring,
uit vrees aan Hom geskenke bring.
Hy breek die mens se praalvertonings,
Hy's vreeslik vir die aardse konings.