Psalm 61

Psalm 61

1.  Neig, o God, tot my die ore!
Ver verlore,
ver van hulp en heil vandaan,
as my hart in my geen krag het,
al versmag het,
roep ek U as helper aan.

2.  Op 'n rots waar 't hoog en yl is,
my te steil is,
laat u hand my daar gelei,
God is my 'n sterke toring;
daar 's verhoring,
skuiling teen die storm vir my.

3.  Graag sou ek, van sorg onthewe,
heel my lewe
my verskuil diep in u hut,
waar u goedheid, my geneë,
met 'n breë
almagsvleuel my beskut.

4.  My geloftes en gebede,
nietighede,
het die HEER nogtans gedenk:
en Hy het vervul sy woorde,
skone oorde
as besitting my geskenk.

5.  U sal in u welbehae
lange dae
oor die koning heen laat gaan;
en sy troon, deur U gestewig,
sal vir ewig
voor u aangesig bly staan.

6.  Send, o HEER, tot sy beskerming
u ontferming
en getrouheid as 'n wag.
Dan, dan loof ek, en dan sing ek,
en dan bring ek
U my offers dag ná dag.