Psalm 51

Psalm 51

1.  Ontferm, o God, ontferm U tog oor my! 
Ontsluit die bron van u barmhartighede;
wis uit die smet wat kleef aan al my lede,
en maak my siel van sondeskuld weer vry!
Was my geheel tot my behoudenis,
was weg tog, HEER, die skandvlek van die sonde,
die kwaad wat my altyd voor oë is.
Hoe voel ek nou die brandpyn van my wonde!

2.  U, HEER. wat my deurskou geheel en al,
is van my euweldaad die hoogste weter;
U het die kwaad gesien; dus niemand beter
wat my kan vonnis in my droewe val.
Teen U het ek my sondedaad begaan,
ja, voor u oog deur swaar misdryf gesondig;
dus sal u woord regverdig bly bestaan,
en rein u vonnis, oor my afgekondig.

3.  Dis nie dié sonde alleen wat roep om straf:
ek is in ongeregtigheid gebore,
en lê voor U in doemskuld gans verlore
al van die uur van my ontvang'nis af.
U eis is waarheid in my binnenst', HEER;
en ek is tot my wesensgrond toe skuldig!
Daal af in my verborge diepte en leer
my daar u wysheid, diep en menigvuldig.

4.  Net soos die lyder, van melaatsheid vry,
verlangend na die teer gemeenskapsbande,
besprinkel word deur priesterlike hande -
ontsondig, HEER, ontsondig so ook my!
Was my met suiwer water van dié smet
en sneeu in blankheid sal nie witter wees nie.
Laat die gebeent' wat U verbrysel het,
weer in my juig, nie meer verbrysel wees nie.

5.  Verberg u oog, die vlammelig wat oor
my sonde brand en speur deur al my lede.
Was weg, delg uit my ongeregtighede,
herskep my hart wat wegdwing uit u spoor.
Gee my opnuut, o HEER, 'n vaste gees,
dat ek nie só weer van u baan mag gly nie!
Laat my voor U tog geen verstootling wees,
en neem u goeie Gees nie weg van my nie.

6.  Gee my weer lewensvreug, die soete smaak
wat ek moet mis, in sondesmart verlore;
gee my gewilligheid, uit vreug gebore,
wat weer u diens vir my 'n vreugde maak.
Dan hoor ek nie die wrede aanklag meer:
"Kyk hoe het hy, die kind van God, gesondig!"
Ek wil oortreders dan u weë leer,
bekering aan die sondaars bly verkondig.

7.  Skrikbeeld van smet wat in my siel bly heg,
en my herinner aan my sware skande:
vergote bloed besoedel my die hande!
God van my heil, werp tog dié bloedskuld weg!
Dan sal'k aan u geregtigheid weer dink,
wanneer my mond wat stom was deur die sonde,
deur U geopen, weer u lof laat klink,
my tong, lank vas, in juigtoon word ontbonde.

8.  Gebroke hart en gans verslae gees -
dit is u offers, HEER! Geen altaardiere,
geen bloed of vet van kleinvee of van stiere,
kan voor u oog die ware offers wees.
Doen goed aan Sion, wees dit welgesind,
en bou weer op Jerusalem se mure;
dan sal ons hand die regte offers vind,
brandoffers opgeur uit die altaarvure.