Psalm 49

Psalm 49

1.  Kom luister, volke wat
die aarde oordek,
wat woon so ver die wêreldlande strek!
Kom aan, wie klein en arm is in die land,
saam met die rykes, hoog in eer en stand!
My hart en mond bring enkel wysheid voort.
Ek neig my oor en luister na 'n woord;
'n diep geheim - 'n stof vir harpenare -
sal ek vertolk by ruising van my snare.

2.  Waarom sou ek verskrik
wees in 'n tyd
as onheil dreig in ongeregtigheid,
as onderkruipers my gedagtes kwel,
en hul vir my die fynste strikke stel?
Hul wil oorwin deur kragdaad en geweld,
dra roem op grootheid, mag van goed en geld;
maar kom die dood - wie weeg dan geld vir lewe?
Geeneen wat God die losprys dan kan gewe.

3.  Onvindbaar is vir ewig
die rantsoen
wat aan Gods reg en strengheid kan voldoen.
Geen mens het ooit, hoe sterk ook sy bestaan,
hoe wys of dwaas, die grafkuil kon ontgaan;
daar's niemand wat die dood ontvlug, geeneen;
en magt'loos gaan die mensekind weer heen.
Geen skatte volg hom op dié donker spore;
wat hy verwerf het, is vir hom verlore!

4.  Hy prent hom, dwaas in
sy verdorwe sin,
'n ewigheid van aardse dinge in:
sy hoë huis, dink hy, sal altyd staan,
sy naam, al wyd vermaard, sal nooit vergaan!
Dié hoop reik ver, maar wat, wat is dit tog?
'n Skynsel eers en dan - 'n groot bedrog.
Die mens, hoe hoog in eer en mag verhewe,
vergaan soos vee en derf oplaas die lewe.

5.  So 's dit met hom wat
op homself vertrou,
en almal wat sy woord in waarde hou.
Die dood, hul herder, lei hul dieper af,
hul volg hom ná soos skape na die graf.
Dié wat opreg is, sien die môre straal,
maar trotsaards moet in donker dieptes daal,
waar al hul grootheid brokkel in sy broosheid
en hul gestalt' verword tot wesenloosheid.

6.  Maar ná die dood, dan
rys die dag vir my.
God sal my red, Hy koop my siel dan vry.
Hy, die oorwinnaar in die laaste stryd,
neem my dan op in eewge heerlikheid.
Vrees nie, wanneer 'n man se skatte groei,
wanneer sy huis in waarde en weelde bloei;
want by die grens daar staan die dood, die wagter;
dié wys 'n graf, en - hy laat alles agter!

7.  Vlei hy homself in sy
gelukstaat nou,
prys hul dit dat hy hom geen weelde onthou -
sy blom verwelk waaroor die doodswind gaan,
en hy daal neer, agter sy vaders aan.
Die duisternis, geselskap van verderf,
'n eewge nag, is al wat hy verwerf.
Die dwase mens, hoe hoog in eer verhewe, 
vergaan soos vee en derf oplaas die lewe.