Psalm 45

Psalm 45

1.  My hart, ontroer deur
mymering,
sal lieflik van 'n Koning sing.
My tong, deur digvuur aangedryf,
is soos 'n pen wat vaardig skryf.

2.  U 's skoon! Geen skoon
wat daarby haal.
Bevalligheid van trek en taal
is oor u lippe uitgestort -
U wat deur God geseën word.

3.  Gord aan u wapens tot
die stryd,
o Held, u glans en majesteit!
Oorwinnend ry na die geveg
vir waarheid, ootmoed, hoogste reg.

4.  U regterhand wat
triomfeer,
sal U gedugte dinge leer.
U pyle sal die volke tref
wat teen die Koning hul verhef.

5.  U troon hou stand in
storm en stryd,
u septer is regverdigheid.
U min geregtigheid, maar haat
die onreg met die onregsdaad.

6.  U, Koning, van so 'n
ryksgebied,
het God met vreugdesalf oorgiet.
O God, u God, die maak U groot
bo elke vors en troongenoot.

7.  U klere is mirre en
alewee,
en balsemgeur sweef met U mee;
uit u ivore-koningshuis
kom wonderskone snaargeruis.

8.  Daar 's koningsdogters
in die ry
van dogters wat U begelei;
die koningin hou by U stand
in fynste goud uit Ofirland.

9.  O dogter, wat die
bruidsroep hoor,
o skoonste, luister, neig jou oor!
Vergeet jou volk, jou eie vlees,
dat jy die Koningsbruid kan wees.

10.  Gee dan die Koning,
groot van mag,
op jou en op jou skoonheid ag,
o wier nie: buig voor Hom neer;
Hy is jou Koning en jou HEER.

11.  Uit Tirus sal hul
nader kom -
ook rykes, met geskenke, om
met skatte van die fynste kuns
te werf die sonskyn van jou guns.

12.  Die Koningsdogter is
nou gans
verheerlik in haar skoonheidsglans.
En oor haar kleed 'n weerskyn sweef:
dit is met gouddraad ryk deurweef.

13.  Veelkleur'ge kleed,
daarin word sy,
die skone, na haar Vors gelei;
'n stoet van maagde agteraan
wat met haar na die Koning gaan.

14.  Hul word met vreugde
voortgelei;
en almal, in hul Koning bly,
mag intree - hoogste gunsbewys! -
in koninklike pragpaleis.

15.  Wanneer u vaders heen
moet gaan,
sal in hul plek u nakroos staan.
U vestig hul met vaste hand
as vorste in die ganse land.

16.  Ek sal, o Vors, U eer
bewys,
u Naam deur die geslagte prys.
Die volke sal, in U verblyd,
U loof vir ewig en altyd.