Psalm 37

Psalm 37

1.  Vertoorn jou oor die bose nooit:
hul sal verkwyn, hul raak verstrooid
soos gras wat gou verdor, vergaan,
soos spruitjies wat maar kort bly staan.

2.  Vertrou op God: die hart en hand
in troue diens aan Hom verpand.
Verlustig jou in Hom altyd
wat mild'lik gee en nooit verwyt.

3.  Laat yd'le sorg jou nimmer kwel,
wil aan die HEER jou sorg vertel:
Hy sal jou reg, soos middagglans,
laat skitter aan 'n helder trans.

4.  Al bruis dit in jou omdat lis
en leuen hier voorspoedig is -
swyg voor die HEER, gerus en stil,
jou wil verenig met sy wil.

5.  Wag op die HEER in lydsaamheid,
wees traag tot toorn: Hy ken sy tyd.
Kwaaddoeners stort in hul verderf;
wie God verwag, sal alles erf.

6.  'n Rukkie nog, en kyk dan weer -
die goddelose 's daar nie meer!
Sagmoediges sal alles erf
en vrede sonder eind' verwerf.

7.  Vergramd bedink die bose 'n lis
teen wie voor God regverdig is.
Die HEER belag die domme waan:
Hy weet die dag van straf kom aan.

8.  Die bose kom - hul nyd gewek,
hul boog gespan, hul swaard getrek.
Die arme, so ellendig al,
sal voor hul wapens neer moet val!

9.  Hom wat opreg is, klein van krag,
swak tot verweer, wil hulle slag.
Maar wee, hul swaard sal húl deursteek,
hul boë sal die HEER verbreek.

10.  'n Weinig 's vir die vrome meer
as skatte waar die bose op teer:
God breek die arms waar hul op leun,
maar vromes sal Hy ondersteun

11.  en welgevallig gadeslaan,
hul erfdeel nooit hul laat ontgaan;
ook in die dag van hongersnood
versadig Hy sy volk met brood.

12.  Maar goddeloses sal vergaan
soos gras wat op die weiveld staan;
Gods vyande, hoe skoon van skyn,
sal soos 'n rookwolk gou verdwyn.

13.  Die bose leen - en het te min,
Gods volk deel uit en - daar's gewin;
want sy geseendes sal hier bloei;
wie Hy vervloek, word uitgeroei.

14.  'n Man se stap is vas en hegg
as God behae 't in sy weg;
en as hy val, dan bied Gods hand
hom hulp en wisse onderstand.

15.  Ek was aanskouer van veel kwaad,
maar nooit dat God sy volk verlaat,
dat hul geslag, hoeseer geplaag,
ooit aan die bedelbrood moes knaag.

16.  Veeleer skenk hy genadebrood
aan wie al wankel in hul nood.
Sy nageslag strooi om hul heen,
en op hul spoor ontspruit 'n seen.

17.  Verlaat die pad wat God verlaat.
Die HEER bemin die regte daad.
En in 'n erfdeel, wonderskoon,
daar sal jy voor die HERE woon.

18.  Die HEER sal vir sy gunsgenoot
'n skut wees selfs tot in die dood.
Die sondaar hou voor Hom nie stand;
regverdiges beërf die land.

19.  Hul mond is ons 'n wysheids-wel
en reg is wat hul tong vertel.
Gods wet is in hul hart geplant,
en deur sy krag hou hulle stand.

20.  En as die bose op hul loer,
sal God hul aan die strik ontvoer.
Hy voer hul reg deur sy besluti
voor sy gereg regverdig uit.

21.  Gaan voort met onvertraagde stap
en hoop op God in vreem'lingskap,
totdat die aard' jou erfdeel word,
die bose voor jou neer moet stort.

22.  Die goddelose sal vergaan,
al sien 'k hom nou as pragboom staan;
'n wyle nog, dan soek ek weer,
maar hy staan op sy plek nie meer.

23.  Let op die vrome wat opreg
met God verkeer in woord en weg;
merk op die mans wat God hier vrees:
sy lewenseind' sal vrede wees.

24.  Oortreders word tesaam verdelg,
van hul vergaan èn stam èn telg.
Die HEER 's 'n helper groot van mag
vir die regverdige geslag.

25.  Hy is 'n toevlug in die nood,
Hy is 'n hulp oneindig groot.
Hy maak hul van die vyand vry,
hul skuil by Hom, Hy 's hul naby.