Psalm 36

Psalm 36

1.  Die boosheid van die bose man -
my diepste hart getuig daarvan:
"Gods vrees is uit sy oë."
Hy vlei homself, in kwaad verstyf,
Dat God sy snode wanbedryf
vir altyd sal gedoë.
Bedrog en onreg is sy woord.
Hy gaan in sy onwysheid voort
en vrees geen bose handel.
Hy maak by nag sy planne reg,
en kom dan op die sondaarsweg
om in sy kwaad te wandel.

2.  U goedheid, HEER, is hemelhoog;
u waarheid tot die wolkeboog;
u reg sal nooit begewe,
maar staan soos berge, vas van voet;
u oordeel is 'n diepe vloed;
U sorg vir al wat lewe.
Hoe kost'lik is u guns, o God!
Hoe vlug die mensekinders tot
u vleuels vir beskerming!
Hul smaak die vette van u huis;
U laaf hul uit 'n stroom wat bruis
uit dieptes van ontferming.

3.  Van al wat leef, is U die bron;
van alle lig, die eewge son 
wat afstraal in ons oë.
HEER, laat u reg en goedheid wees
oor wie opreg u ken en vrees
en steun op u vermoë:
laat trotse voet my nooit vertrap,
nòg bose hand in ballingskap
my dwing om rond te swerwe!
Daar val die werkers van die kwaad
vir altyd in 'n jammerstaat
waarin hul magt'loos sterwe.