Psalm 31

Psalm 31

1.  Net soos 'n rots, gesterk, gestewig
teen storm en ongety,
is U, o HEER, vir my.
Maak my tog nie beskaamd vir ewig.
Bevry my, hoor my bede
na u geregtighede.

2.  O neig u oor en red 'n lyder,
wees my by stormgerug
'n rots om in te vlug!
Wees my 'n vesting, o bevryder,
wat op 'n berg verhewe,
my veiligheid kan gewe!

3.  U is my eewge rots, o HERE!
Diep in u veil'ge sy
sal ek genestel bly.
U sal my lei, u Naam ter ere,
tot ek die net verby is
wat voor my voet gesprei is.

4.  Ek gee my gees oor in u hande,
my Redder, wat my trou
in veil'ge hoede hou.
Ek haat hul wat met offerbrande
hul neerbuig voor die gode.
Ek steun op God in node.

5.  In U, my God, wil ek weer bly wees;
die guns wat U my bied,
wil 'k lofsing in my lied.
U was dit wat my wou naby wees,
wat my in guns aanskou het
toe ek op U gebou het

6.  U het my nimmer oorgegewe
aan vyande wat wreed
getrag het na my leed.
Deur U, bevryder van my lewe,
kan ek met vrye skrede
nou wandel in u vrede.

7.  Toon tans, o HEER, u mededoë,
verhoed my ondergang;
ek is beklemd en bang!
'n Swaar verdriet deurknaag my oë,
my siel is mat van klagte,
my liggaam sonder kragte.

8.  'n Bitter smart verteer my lewe;
my tyd word deur geklag
verslyt die ganse dag.
Ek voel my kragte my begewe.
My ongeregtighede
deurwoel my kranke lede.

9.  Ek word bespot, beskimp vanweë
my haters; van my smaad
hoor ek die bure praat.
Selfs vriende is my ongeneë;
my, reeds in smart verlate,
ontvlug hul op die strate!

10.  Ek is vergeet soos een wat dood is;
ek is - wie dink daaraan? -
soos iets wat al vergaan.
Hul skinder nou dat ek in nood is,
en daar is geen verkwikking,
maar onrus en verskrikking.

11.  Terwyl hul raad hou teen my lewe
en teen my samespan
met heimelike plan,
het ek my aan U oorgegewe.
Op U alleen staan my verwagting
by smaadtaal en veragting.

12.  HEER, in u hande is my tye; ek steun in al my leed
op U alleen wat weet
die maat en einde van my lye.
Red my, o sielsverblyder,
van vyand en bestryder.

13.  Onthou my nie u wonderlig nie:
blik in u goedheid neer,
en red my tog, o HEER!
Laat my nie voor my haters swig nie.
Laat nooit verleë sug nie
wie biddend tot U vlug nie.

14.  Beskaam, verskrik die goddelose,
laat hul in skande kom.
Laat in die dood verstom
die valse lippe van die bose,
hul wat my heilsverwagting
bespot het met veragting.

15.  Hoe groot is, HEER, u seënstrome
vir wie opreg van gees
wil wandel in u vrees!
Hoe groot die vreugde van die vrome,
as almal klaar bemerk het
die heil wat U bewerk het.

16.  U steek hul weg, al u vereerders;
daar's berging in die lig
van God se aangesig.
U steek hul weg vir samesweerders,
en hoed u gunstelinge
vir tong- en twisgedinge.

17.  Geloofd sy God vir sy genade,
so wonderbaar en groot
aan my, sy gunsgenoot.
Sy oog slaan my in liefde gade;
Hy lei my na 'n veste
in veiliger geweste.

18.  In moedeloosheid neergeboë,
het ek, deur vrees gejaag,
weleer te gou geklaag:
"Ek het verdwyn, wég van u oë."
Ook dan is voor u ore
my roepstem nie verlore.

19.  Bemin die HEER. sy gunstelinge!
Hy sal jul nooit verlaat,
maar straf die trotse daad
deur goddelike regsgedinge.
Wees sterk dan, en behoue,
in stille Godsbetroue.