Psalm 3

Psalm 3

1.  Hoe groei my teenparty!
Hoe dring hul naderby!
Ek hoor al hoe hul laster:
"Hy het geen heil by God."
Hul hoon my met hul spot
en keer my altyd vaster.
Maar U sal hulle stuit;
U voer die oorlog uit,
my God, my skild, my ere!
U hef, trots hul gerug,
my hoof weer in die lug,
want U verhoor my, HERE!

2.  Van God se trou bewus,
was slaap my veil'ge rus
tot ek versterk ontwaak het.
Ek sal hul nou nie vrees,
hoe sterk hul ook mag wees
wat my rondom genaak het.
Staan op, verlos my, HEER!
Verbreek hul tande weer!
U tem die oorlogsvolke!
Aan U die heil alleen!
Stort op u erf 'n seen
soos druppels uit die wolke.