Psalm 27

Psalm 27

1.  God is my lig, my heil; ek sal nie vrees nie;
Hy is die HEER wat hulp verskaf in nood;
my lewenskrag, 'k hoef nie vervaard te wees nie,
want by die HEER is uitkoms teen die dood.
As bendes my omring, 'n wilde hoop
in woeste vaart op my kom aangeloop,
dan struikel hulle wat my vlees wou eet,
en stort terneer omdat hul God vergeet.

2.  Al bou 'n leër om my heen sy walle
om my te vang, alreeds ten dood gewy;
al kom 'n oorlog met sy duisendtalle,
ek sal nie vrees; op God verlaat ek my.
Een ding, dit het ek allermees begeer:
om in u huis so lank ek leef, o HEER,
te woon, en daar in stilheid wag te hou,
te peins waar ek u lieflikheid aanskou.

3.  In tyd van onspoed is U my bevryder;
U berg my in die skuilplek van u tent.
Hoog, op 'n rots, staan ek bo my bestryder,
U het my pad deur dieptes heen gewend.
Dus bring ek U my offers van geklank,
en sing, o HEER, u Naam 'n psalm van dank.
O hoor my stem wanneer ek tot U skrei,
wees my genadig tog en antwoord my!

4.  My hart sê my, omring deur donkerhede:
"O soek die HEER, die bron van lig en krag." 
Ek soek u aangesig in my gebede;
verberg dit nie wanneer ek op U wag.
Wys tog u kneg nie af, dat ek, o HEER,
die glans van u genade nooit ontbeer.
U is my hulp, die God van heil op wie
ek vas vertrou - begeef, verlaat my nie!

5.  Verlate 's ek van vader en van moeder;
tog weet ek dit: die HERE neem my aan.
U is, o HEER, my Vader en Behoeder,
wat my wil leer om op u weg te gaan.
Wil my dan langs die regte paaie voer,
omdat verspieders op my gange loer.
Verlos my van 'n wrede teenparty,
en wil my van die valse tong bevry.

6.  As ek op aard, deur soveel smart omgewe,
omring deur droefenis en dood en rou,
nie meer sou glo dat ek in hierdie lewe
die goeie van Gods hand nog sal aanskou-
dan het ek lankal in my druk versmag.
Wees sterk, my siel, wees altyd sterk en wag!
Die HEER sal hoor en op jou roepstem merk,
Hy sal jou weer met nuwe krag versterk.