Psalm 25

Psalm 25

1.  Tot U hef ek hart en hande;
op U, HEER, verlaat ek my;
laat die vyand oor my skande,
oor my val, hom nooit verbly.
Ja, U sal hul nooit verlaat
wat in u vertroue wandel,
maar U dek hul met u smaad
wat hier trouelooslik handel.

2.  Leer my, HEER, u regte weë,
wys die regte pad my aan;
maak my hart daartoe geneë,
om met lus daarop te gaan.
Wil my deur u waarheid leer,
lei my dwalende gedagte;
want u is my heil, o HEER!
U is ek altyd te wagte.

3.  Dink aan my in mededoë
as ek biddend voor u pleit;
milde hande, vriend'like-oë
is by U van ewigheid.
Dink nie aan die sondes meer
van 'n yd'le jonkheidslewe;
wil tog, om u goedheid, HEER,
ál my sondes my vergewe!

4.  God is goed in al sy handel,
en sy pad is enkel reg;
daarom laat Hy sondaars wandel
in die waarheid van sy weg.
Hy sal met sy hand hul lei
wat verdwaal was en verlore;
wie sagmoedig is, laat Hy
wandel op sy regte spore.

5.  Ja, Gods weg is goedheid, klaarheid,
en sy weg altyd getrou
vir wie wandel in sy waarheid
en op sy beloftes bou.
Wil my dan, u Naam ter eer,
al my sondeskuld vergewe;
want ek het teen U, o HEER,
swaar en menigmaal misdrewe!

6.  Wie's die man wat hier benede
in Gods vrees sy weg wil gaan?
God sal self sy wank'le skrede
voortlei in die regte baan.
Al wat goed is, sal Gods hand
hom in stilheid laat verwerwe;
en die lank beloofde land
sal sy nageslag beërwe.

7.  Gods geheim'nis is die lewe
vir wie wandel in sy vrees;
en Hy 't sy verbond gegewe
om vir hul 'n lig te wees.
'k Hou my oë op die HEER
wat my so getrou gelei het,
want Hy voer my voete weer
uit die net wat hul gesprei het.

8.  O my God, ontferm U oor my
in my diepe ongeluk;
eensaam is ek - o verhoor my! -
gans ellendig en in druk.
Om my heen, aan alle kant,
is die skrik van duisend dode;
laat dan, HEER, u regterhand
my verlos uit al my node.

9.  Slaan op my ellende u oë,
hoor my, HEER, uit medely;
neem my sondes uit meedoë
almal weg, vergeef dit my!
HEER, aanskou die leërmag
wat om my vermenigvuldig,
want hul lê op my en wag -
vol van haat en ongeduldig.

10.  Red my van geweldenare;
'k steun op U in teëspoed.
Laat opregtheid in gevare,
met die onskuld, my behoed.
Red u volk, o troue HEER,
uit die hand van sy bestryder,
en wees Isr'el immermeer 'n genadige bevryder!