Psalm 23

Psalm 23 (beryming 1)

1.  Net soos 'n herder uittrek met sy skape
en hul laat neerlê in die veld van milde groen,
met sagte hand hul lei langs stille waters -
so is die HEER, so het Hy ook aan my gedoen:
Hy laaf my siel en lei my swakke skrede
in vaste spoor van sy geregtighede.

2.  En is ek soos 'n skaap in doodsgevare,
wat in die velde as 'n prooi vn wolwe gaan,
en moet ek in die doodsdal, diep n donker,
van alle hulp ontbloot, in my alleenheid staan -
dan nog ken ek geen doodsvrees of verskrikking
omdat u staf my troos is en verkwikking.

3.  U bring vir my die tafel in gereedheid,
my hoof druip olie en my beker vloei van wyn,
'n bron van goedheid stroom vir my gedurig;
dit is my gees 'n vreug, my vyande 'n pyn;
dit kroon my lewe met u welbehae;
en in u huis, daar bly ek al my dae.

Psalm 23 (beryming 2)

1.  Die HERE is my herder, Hy behoed my;
niks sal m'ontbreek, sy ryke volheid voed my.
So sag en soet is sy alwyse leiding
langs frisse waterstroom en groene weiding.
Hy sterk my siel en plant my swakke skrede
op vaste voet in sy geregtighede.

2.  Ek vrees geen kwaad, al kom die skadu's nader,
wat in die doodsvallei om my vergader;
U bly in al my teëspoede by my,
u stok en staf vertroos altyd en lei my.
Waar haters loer, stel U tot my beskikking
'n tafel tot versading en verkwikking.

3.  U salf my hoof, U maak my hart blymoedig
en vul my beker met u heil oorvloedig.
U goedheid, so onfeilbaar en weldadig,
omring my op my lewenspad gestadig
totdat ek eenmaal in Gods heil'ge woning
die troue Herder ewig eer as Koning.