Psalm 22

Psalm 22

1.  My God, my God, waarom verlaat U my,
terwyl'k alleen my sware stryd moet stry,
alleen moet kerm wanneer 'k my lyde ly?
Op al my vrae
kan ek van U, deur al my lydensdae,
geen antwoord kry; deur donker lydensnagte
bly ek nie stil; maar daar's geen heil te wagte,
geen woord vir my.

2.  Tog sprei U, HEER, u reddingsglans ten toon
waar U, die Heil'ge, by u volk wil woon
en op die vleuels van hul lofsang troon.
Die jammerklagte
het U gehoor van verre voorgeslagte;
hul is gered! In stille Godsbetroue
het hul ontvlug, gehandhaaf en behoue
op hul gebed.

3.  Maar ek, ek is 'n wurm - 'n man nie meer,
'n smaad van wie deur spotsug my onteer.
"Laat dit maar oor, " so roep hul, "aan sy HEER!"
my heilsverwagting 
krenk hul met hoofgeskud en diep veragting
van lipgebaar. "Wat klaag hy so verslae?
Laat God hom red. Hy 't mos in hom behae.
Vertrou Hom maar!"

4.  Die lewenslig het U my laat aanskou;
aan moedersbors het U my laat vertrou,
verwagtingsvol die oog op U laat hou.
My ganse lewe
was aan u sorg blymoedig oorgegewe;
daar was by my, as suigling by my moeder,
geen vrees, want U, my helper en behoeder,
was my naby.

5.  Wees dan my hulp, hou U nie ver van my!
My knel die nood, benoudheid is naby;
daar's buiten U, terwyl 'k so bitter ly,
geen hulp te wagte.
Die Basanstiere met hul reusekragte
omsingel my. Hoe wild en ongebonde
dring hul soos leeus met oopgespalkte monde
al naderby!

6.  Ek 's uitgestort en vloei soos water weg;
daar is geen been wat aan sy been meer heg;
my hart, al klein, smelt uit my binnest' weg.
My krag versterwe
soos glans en kleur verdwyn uit erdeskerwe
al droog en dof. My tong verstom en klewe
was aan my mond; U lê my, uitgelewe,
dood in die stof.

7.  Om my staan honde wat my wil bespring:
'n bende skenders staan om my 'n kring.
Hul staal het my deur hand en voet gedring.
Met welgevalle
sien hul die skouspel aan wat, gans vervalle,
my vlees hul bied. My klere die verdeel hul;
oor my gewaad werp hul die lot; so speel hul
met my verdriet.

8.  Maar U, o HEER, wees U nie ver van my!
U is my krag, kom tot my hulp naby,
en maak my siel, my enigste, weer vry
van kloue-en tande,
van oorlogswaard en greep van moord'naarshande
Tog is dit goed met my; in die beklemming
van buffelshorings ruis die reddingstemming
deur my gemoed.

9.  Ek wil, o HEER, u Naam my loflied wy,
in broederkring verkondig en bely
hoe goed U my gewees het, hoe naby.
Nakomelinge
van Jakob, volk van soveel seëninge,
en Israel, geslag van gunstelinge -
laat wie God vrees uit altyd wyer kringe
sy lof vertel.

10.  Die HEER het nooit in die bekommernis
verag, verfoei hom wat ellendig is:
toe hy geroep het, was sy antwoord wis.
HEER, álle dinge -
my liefde, lof en soetste mymeringe,
uit U is 't ál. Al my geloftes bring ek,
en waar u volk vergader is, daar sing ek
met lofgeskal.

11.  Sagmoediges sal aansit saam met my;
dié wat God soek, sal dan sy Naam bely.
Vir hul sal God áltyd sy dis berei.
Versprei die tyding:
"Die volke sal, in altyd voller wyding,
tot God hul keer; hul kom, die mensgeslagte
en konings met hul koninklike wagte,
om Hom te eer."

12.  Die wêreldgrotes eet hul offermaal,
bid saam met hul wat in die stof moet daal,
met wie, verswak, nog nouliks asemhaal,
so klein van kragte;
wat leef en nog sál leef, 'n reeks geslagte,
húl kondig aan: "Groot is Gods reddingsdade.
Die HEER alleen, wat groot is van genade,
het dit gedaan!"