Psalm 16

Psalm 16

1.  Bewaar my tog, o God, op wie 'k vertrou!
Ek skuil by U, my toevlug in die lewe.
Daar is vir my, in wat die oog aanskou,
geen goed bo U, so eind'loos hoog verhewe.
En wie op aarde-U ken en vrees, o HERE,
húl noem ek groot, hul is my roem en ere.

2.  Wie hier 'n ander god met gawes eer,
dié sal homself met baie smarte pynig.
Ek sal sy offers uitgiet nòg begeer;
sy afgodsnaam sal nie my mond ontreinig.
My erfdeel is die HEER, my vreugdebeker,
my lot is in sy hand vir ewig seker.

3.  My erfdeel is op aarde skoon vir my;
die meetsnoer val in plekke lief en lustig.
Ek loof die HEER wat deur sy raad my lei;
selfs in die nag as alles sluimer rustig,
dan wek opnuut my niere die verlange
om God te dank in stille lofgesange.

4.  'n Yd'le vrees beklem my nou nie meer:
ek stel die HEER gedurig my voor oë.
My hart is bly, en juigend meld my eer:
"Sy regterhand sal nooit my val gedoë."
Ook sal my vlees, as hier my stryd gestry is,
nog veilig woon, omdat die HEER naby is.

5.  U sal my siel nie oorgee in die dood,
my pad buig op langs skone heuwelrye.
U sal nie toelaat dat u gunsgenoot
verderwing sien in donker doodsvalleie.
By U is ewig vreugde-en volle vrede,
en in u hand 'n snoer van lieflikhede.