Psalm 136

Psalm 136

1.  Loof die HEER met blye klank,
loof sy Naam, bewys Hom dank;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

2.  Loof die hoogste God en HEER,
wat alle aardse mag regeer;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

3.  Loof die God wat onbeperk
wonders in sy almag werk;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

4.  Hy 't alwys die eewge blou
van die hemele gebou;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

5.  En die aarde, omlaag, het Hy
oor die seevlak uitgebrei;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

6.  Loof God! Ligte, groot van glans,
stel Hy aan die hemeltrans;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

7.  Aan die son gee Hy gesag,
opperheerskappy by dag;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

8.  Maan en sterre, in minder prag,
lig en vonkel deur die nag;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

9.  Hy 't Egipte swaar getref;
teen hul kroos sy hand gehef;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

10.  En sy Isr'el uitgelei
uit Egiptes slawerny;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

11.  Sterk van hand, sy arm gestrek,
het Hy hul van daar laat trek;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

12.  Hy 't die Skelfsee deurgesny
en hul middeldeur gelei;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

13.  Faro met sy leër word
in die diepte neergestort;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

14.  En hy het sy volk gelei
deur die wilde woesteny;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

15.  Hy het koninge gedood
wat geweldig was en groot;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

16.  Hy het voor sy volk gegaan -
Og en Sihon neergeslaan;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

17.  En hul land is toe geheel
aan sy Isr'el toegedeel;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

18.  Hy 't aan ons gedink in druk;
aan ons vyand ons ontruk;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

19.  Loof die HEER wat ewig leef,
mens en dier hul spyse geef;
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!

20.  Loof die God, die Hemelheer,
allerhoogste in mag en eer; 
want sy goedertierenheid
sal bestaan in ewigheid!