Psalm 129

Psalm 129

1.  Al van my jeug af was ek martelaar!
Laat Israel dus klaag sy lewensklagte.
Al van my jeug af was ek martelaar! -
Oorweldig deur 'n vloed van meerd're kragte.

2.  Soos met 'n ploeg wat gaan oor akkerland,
het hul my rug geploeg met diepe vore;
hul het die skaar gedryf met strawwe hand,
maar nooit, nooit was my saak by God verlore.

3.  Wat is 't 'n troos dat God die onreg wreek!
Hy wat regverdig oor my lot gewaak het,
Hy het die ploegtou met een slag verbreek
waarmee die mens sy vore lank gemaak het.

4.  Laat hul wat Sion haat, veragt'lik wyk
en wees soos saad wat winde uitgesaai het
op hoë dak, wat gou met spruite pryk,
maar gou verdor as skroeiwind dit bewaai het;

5.  waarin die maaier nooit sy hand sal slaan
om handevol sy goue graan te maai nie;
waar nooit die gerwebinder langs sal gaan
om arremsvol sy koring op te laai nie;

6.  waar wie verbygaan nooit met handgebaar
en oestydsgroet die maaier sal bejeën,
en sê: "Mag God jul arbeid seën daar!"
waar niemand roep: "Wees in Gods Naam geseën!"