Psalm 118

Psalm 118

1.  Loof, loof die HEER met lofgesange!
O Isr'el, wees in God verblyd.
Sy goedheid volg Hom in sy gange,
sy goedheid duur in ewigheid.
Loof, Arons huis, met jubelsange!
Gods goedheid ken geen grens of tyd,
geen hede, toekoms of vergange,
sy goedheid duur in ewigheid!

2.  Loof, loof die God van ons verlange,
o almal wat die HERE vrees!
Sing voor die HEER jul lofgesange,
en laat Gods volk nou vrolik wees!
Loof almal saam met jubelsange!
Gods goedheid ken geen grens of tyd,
geen hede, toekoms of vergange,
sy goedheid duur in ewigheid!

3.  Toe ek, omring van alle sye,
die vyand rondom my sien staan,
het God my stem gehoor uit lye,
en my weer veilig uit laat gaan.
Ek sal nie langer hulp'loos wees nie,
of wanhoop selfs in doodsgevaar:
ek sal die mens nie langer vrees nie,
wat magt'loos is as God bewaar.

4.  Die HEER, die Hoof van duisendtalle,
sal in die stryd my hulp verskaf.
Dan kyk my oog met welgevalle
op my verwoede haters af.
Dis beter by ons bidde en wense
dat ons vertrou op God se mag,
as dat ons ooit vertrou op mense,
of selfs van prinse hulp verwag.

5.  Toe al die heid'ne my omring het,
hul laers om my opgeslaan,
en hul op my al aan kom dring het,
het ek hul in Gods Naam weerstaan.
Ja, toe die volke my omring het,
met leërs teen my opgestaan,
toe hul ter dood toe my bespring het,
het ek hul in Gods Naam verslaan.

6.  Hul het my wel omswerm soos bye,
maar het soos doringvuur vergaan;
hul het gekom in breë rye,
maar 'k het hul in Gods Naam verslaan.
O vyand, jy 't met harde stote
tot vallens toe my weggedruk;
die HEER bewaar sy gunsgenote,
die HEER het self my uitgeruk.

7.  Dit is die HEER wat my gesterk het.
Hy is my lied, my psalmgesang;
Hy was dit wat my heil bewerk het,
dus loof ek Hom my lewe lang.
Ek hoor alom die blye galme
van vromes na die lydensnag;
hul tent weerklink van dankb're psalme:
Gods regterhand doen grote krag.

8.  Gods regterhand is hoog verhewe,
sy regterhand is groot van daad;
dit laat van skrik die wêreld bewe,
maar hef sy volk uit lyde en smaad.
Ek sal nie kwyn in slawebande
wat my ter dood toe wil omknel;
ek sal nie sterf deur vyandshande,
maar al Gods werke bly vertel.

9.  Die HEER het my met sware slae
getugtig, maar nie tot die dood;
Hy 't my gehoor in donker dae
en my gered uit alle nood.
Ontsluit dan voor my pelgrimskrede
die poort van sy geregtigheid,
om God te loof wat my gebede
verhoor het in die dag van stryd.

10.  Dit is die poort van Isr'els HERE,
wat voor sy huis as wagter staan;
die poort wat meld van heil en ere,
waardeur sy gunsvolk in mag gaan.
Daar sal ek, HEER, met dankgebede
U groot maak op die dag van fees,
want U was in my angsverlede
vir my tot hulp en heil gewees.

11.  Die steen waaraan die tempelbouers
veragt'lik het 'n plek ontsê,
is voor die oog van die beskouers
deur God as hoeksteen neergelê.
Die werk van godd'like alvermoë
is van God self geskied, deur wie
die wonder oprys voor ons oë;
ons sien dit, maar deurgrond dit nie.

12.  Dit is die dag deur God verkore,
die feesdag aan Hom toegewy.
Laat ons, met psalms uit vreug gebore,
ons in die God van heil verbly.
Ag, HEER, gee nou u seëninge;
gee voorspoed, HEER, op hierdie dag -
dit is die dag van grote dinge,
die glorieteken van u mag.

13.  Geseënd is die grote Koning
wat aankom in die HEER se Naam;
geseënd uit die HEER se woning
is volk en Koning altesaam.
Die HEER, die God van ons betroue,
Hy kom ons met sy ligglans teen;
bind dan die offerdier met toue
en lei dit na die altaar heen.

14.  U is my God, al my verlange;
U prys ek om u majesteit.
My God, U loof my lofgesange
van nou af tot in ewigheid.
Loof almal saam met jubelsange!
Gods goedheid ken geen grens of tyd;
geen hede, toekoms of vergange,
sy goedheid duur in ewigheid!