Bly staande in die geestelike stryd

Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52 vraag en antwoord 127
Date: 
2017-06-25
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
25 Junie 2017 AD, 17:30

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 28:6,7,8

Gebed

Skriflesing: 1 Korinthiërs 10

Ps 30:1,3,8

Teks: Heidelbergse Kategismus  Sondag 52,127

Preek

Ps 18:3,9,11,16

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Sb 28:4

Kollekte

Ps 34:1,5,6

Seën

Preek:
Heidelbergse Kategismus Sondag 52, vraag en antwoord 127.

Daar is mense wat dit onnodig vind om jouself
te verseker. Verseker teen brand, of teen diefstal, of teen siekte. Dikwels is
jongmense geneig om so te dink. ‘n Jongman wat die huis verlaat en vir homself
moet begin sorg. Wat onlangs ‘n salaris begin verdien het. Wat baie planne vir
die toekoms het. Vir so ‘n jongman is dit nie aantreklik dat ‘n groot deel van
sy salaris elke maand afgetrek word om premies te betaal vir dinge soos mediese
fonds, motorversekering, diefstal, brandversekering, ensovoorts nie. Elke maand
‘n klomp geld wat van jou rekening afgetrek word, wat jy nie weer sal terugsien
nie. Dit maak mens net armer. Jongmense is geneig om te dink: ek is nooit siek
nie, en ek sal op ‘n ander manier wel sorg dat daar nie by my ingebreek word
nie. Tog is dit jongmense wat dikwels in ‘n motorongeluk betrokke is. En ook as
jy nog jonk is, kan onverwags ‘n erge siekte by jou gediagnoseer word. En wie
gaan dit betaal, as jy nie verseker is nie? As daar spesialiste besoek moet
word, en ‘n operasie moet plaasvind? Moet pa en ma dan maar opdok? Moet die
familie of die kerk hulle maar oor die persoon ontferm? Ek dink dat in die
praktyk dit meestal die geval sal wees.

Nou dink u miskien:

Ek is nie so ‘n onverantwoordelike mens nie,
dus sal die preek vandag nie oor my gaan nie. Maar voordat u so meen, kyk nog
‘n keer na antwoord 127.

Ek verkondig die Evangelie vanaand en roep u,
persoonlik, en ons as gemeente – Maranata – op:

Tema: Bly
staande in die geestelike stryd

Met die
sesde bede leer Christus ons:

1 hoe jy
staande bly

2 wie jou
doodsvyande is
 

 

1 Hoe jy
staande bly

Gemeente, ons dink dalk te maklik dat ons
staande sal bly. As mens oppervlakkig na ons kerk kyk, dat ons wel staande sal
bly. Ons bestaan nou al twintig jaar.

Elke Sondag word daar twee eredienste gehou. Elke
Sondag is daar wel ‘n predikant, of predikante, of preeklesers. Elke Sondag
word die kerkgebou op die regte temperatuur gebring. Elke Sondag, amper elke
Sondag, sit daar iemand agter die orrel. Elke tweede Sondag lê daar ‘n Kerkblad
in u posvakkie.

So gaan die kerklike lewe deur, 52 Sondae per
jaar, nou al twintig jaar lank.

En as u nie daar is nie, as gevolg van
siekte, of omdat u ‘n naweek wegbreek, dan draai alles nog steeds deur. En so
kan ons nog ‘n klomp dinge noem.

Die kerklike lewe gaan gewoon aan.

Dieselfde idee kan jy miskien ook oor jouself
hê. Oor jou geloofslewe.

Jy bid elke dag, jy lees ‘n stukkie uit die
Bybel. Jy gaan kerk toe. Jy gaan Bybelstudie toe. En jy dink by jouself: Ek is
nog net so gelowig soos tien jaar gelede. En oor tien jaar sal dit ook nog wel
so wees.

Solank mens maar al die dinge doen wat daar
van jou verwag word.

Maar gemeente, juis op hierdie punt is dit
goed dat ons wakkergeskud word, nou na twintig jaar. Want die geloofslewe
bestaan nie net uit ‘n aantal verpligtinge nie. Die geloofslewe, dit is HEEL
jou lewe. Ook alles wat jy dink, doen en sê buite die verpligtinge om. Ook dit
wat jy doen as die res van Maranata nie daarby is nie. Dan is dit belangrik dat
ons onsself afvra: Wat hou my geloofslewe eintlik in?

Wat hou my kerklike lewe eintlik in? Is dit
die nakom van ‘n aantal verpligtinge?

Of is dit HEEL MY LEWE? Het die Bybel heel my
lewe verander?

Of is ek, buite die verpligte nommers om,
eintlik nog wêreldgelykvormig?

As dit gaan oor sake soos eerlikheid in
finansies, seksualiteit, taalgebruik, omgaan met konflikte, rassisme,
tydsbesteding, ensovoorts?

Dan dink ek vir ‘n oomblik terug aan die
jongman uit die inleiding nounet.

‘n Jongman wat op sy eie krag en gesondheid
vertrou. So iemand kan onverwags onaangenaam verras word. So kan ons ook soms
onaangenaam verras word.

As individu, of as kerkgemeenskap.

In hierdie verband klink die oproep van
Paulus in 1 Korinthiërs 10:12:

“Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas
dat hy nie val nie.”

‘n Gemeente kan begin as hegte eenheid, met
baie entoesiasme, met veel oorgawe, met veel talent. Maar na ‘n aantal jare, en
dit is nog dieselfde mense, kan die prentjie tog anders lyk. En daarom is die
apostel Paulus genoodsaak om, wat betref die gemeente in Korinthe, ‘n
vergelyking te maak met die volk Israel destyds. Ons het dit gelees uit 1
Korinthiërs 10.

“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie
sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see
deurgegaan het ... en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal
dieselfde geestelike drank gedrink het” (vers 1-4) - manna en water uit die
rots.

Kortom, hierdie Israeliete was almal
persoonlik getuies van hierdie wonders.

Hulle het die wonders self ervaar. Maar tog,
skryf Paulus, tog het die meerendeel van hulle in die woestyn gesterf. Weens
gebrek aan vertroue wou hulle en kon hulle die beloofde land nie binnegaan nie.
Dit was dieselfde mense.

Ooit het hulle uitbundig gejuig na die
deurtog deur die Rooi See. Maar later het hulle sonder ophou gekla en gekerm
teenoor Moses en die HERE. En dan skryf Paulus in vers 6: Hierdie dinge was
voorbeelde vir ons.

Dus, met ander woorde – let op – u is presies
dieselfde tipes mense as wat die Israeliete destyds was. En dan noem Paulus in hierdie
hoofstuk ‘n paar voorbeelde spesiaal toegespits op die gemeente van Korinthe.

Voorbeelde wat strek van los seksuele kontakte
(hoerery – sien vers 8) tot afgodediens. Voorbeelde uit die lewe van die
gemeentelede in Korinthe.

Kyk maar in hoofstukke 5-8 in hierdie brief,
oor byvoorbeeld ‘n los seksuele lewensstyl wat op gespanne voet met die Bybel
gestaan het; en byvoorbeeld oor broers en susters wat mekaar voor die regter
gesleep het om gelyk te kry.

Laat ons die HERE nie versoek nie, skryf
Paulus. Daarmee bedoel hy, wie willens en wetens sondig, oftewel, wie in teorie
weet hoe dit moet, maar in die praktyk tog anders doen, hy versoek die HERE. Jy
ken sy gebooie, maar jy doen tog anders. Dit is ‘n ope uitnodiging dat die Here
jou met sy straf kom besoek.

So het Israel destyds in die woestyn ervaar. Hulle
het net aanhou kla, teen beter wete in. Teen hierdie agtergrond skryf Paulus:
wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

Nou net soos Paulus die geskiedenis van die
volk Israel gebruik het om vir die kerk in Korinthe iets te leer, so kan ons
die geskiedenis van die Korinthiërs ter lering vir vandag gebruik. Dit is die
rede, die doel waarom die Heilige Gees hierdie Korinthiërbrief in die Bybel
laat opneem het. Sodat alle kerke in die Nuwe Testamentiese tyd daaruit lering
kan trek. Die HERE bly dieselfde, en hoe Hy in sy verbond met sy kinders
omgaan, dit bly deur die eeue ook dieselfde.

Hoe Hy die Israeliete in die woestyn behandel
het, hoe Hy die Korinthiërs behandel het, so behandel Hy nog steeds sy
bondsvolk vandag.

En dan op ons toegepas:

Dink nie jou geloofslewe sal op standaard
bly, as jou hart nie daarby is nie.

Dink nie ons kerk sal vanself deurdraai nie. Dink
nie dit sal vanself ‘n Vrye Gereformeerde Kerk bly nie. Met as betekenis: vry om slegs die Here te dien.

Vry van jou drie grootste vyande,
die doodsvyande wat Sondag 52 hier noem:

  • die duiwel

  • die wêreld

  • ons eie sondige natuur.

    Vry om volgens die Skrif alleen te
    lewe, persoonlik, en as kerkgemeenskap.

    Vry van elke dwaling in leer en
    lewe.

    Hierdie vryheid is ‘n ontsettend kosbare
    geskenk. Dit kan ons ook nie uit eie krag vashou nie. Hierdie vryheid, hierdie
    rykdom, moet ons elke dag opnuut verwerf, persoonlik en as gemeente. Deur elke
    dag opnuut jou ou sondige natuur te kruisig. Deur elke dag op te staan en
    vanuit jou nuwe mens in Christus te lewe.

    Om vry te wees is ‘n kosbare geskenk.  Vryheid beteken egter nie jy kan alles doen
    wat jy wil nie. Daarvoor waarsku Paulus die Korinthiërs.

    Jy mag dalk geen probleem hê met die eet van
    offervleis nie, maar van jou broeder? Kortom, in die gemeente gebruik ons ons
    vryheid so dat die gemeente opgebou word, en nie afgebreek nie. As ons as
    gemeentelede vir mekaar belangrik genoeg is, as daar onderlinge liefde is, dan
    sal ons ons vryheid versigtig gebruik. Wie op sy vryheidsregte staan en nie
    rekening hou met die gevoelens van ander nie, bou nie op nie, maar breek af. In
    hierdie verband gee Paulus aan die Korinthiërs die waarskuwing:

    Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie
    val nie.

    Gemeente, laat hierdie besef ook by ons
    aanwesig wees. Alles draai nie net vanself verder nie. As ons twintig jaar
    gelede ‘n gesonde gemeente was, is ons dit nie outomaties vandag nog steeds
    nie. Toe Paulus hierdie brief geskryf het, was die gemeente in Korinthe
    moontlik nog nie eers twintig jaar oud nie. Maar tog moes hulle indringend
    daarop gewys word:

    Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie
    val nie.

    Geliefde gemeente, hierdie indringende
    boodskap is uiteraard nie bedoel om u en my depressief te maak nie. Dit was ook
    nie die apostel Paulus se bedoeling toe hy destyds vir die Korinthiërs geskryf
    het nie. Maar dit onderstreep net weer dat ons die noodsaak van die sesde bede
    bly insien. Ja ook ons, Maranata, twintig jaar oud, word gewaarsku: wie meen
    dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

    Hoekom het die Heilige Gees hierdie laat
    opskrywe aan die adres van die Korinthiërs? Sy beoogde reaksie met hierdie
    waarskuwing was juis dat hulle in versnelde tempo, en opnuut met ‘n nederige en
    ootmoedige houding, die sesde bede weer indringend sou bid. Ons bid U, wil u
    ons staande hou en versterk deur die krag van u Heilige Gees, sodat ons in
    hierdie geestelike stryd nie die onderspit delf nie, maar kragtig weerstand sal
    bied.

    Kortom, ook vir die toekoms, vir die jare wat
    nou gaan volg, dat ons aanhou bid:

    O HERE, lei ons tog nie in versoeking nie,
    maar verlos ons van die Bose!

    Dit is die boodskap van die eerste punt van
    hierdie preek. Hoe bly jy staande?

    Vanself bly ons nie staande nie. Nie as jy
    oorgerus is nie.

    Maar as jy die noodsaak van die sesde bede
    bly besef, en hierdie bede bly bid.

    As ons dit nie besef nie, lyk ons soos die
    jongmense wat versekering oorbodig geag het. Dink jy, dat jy sonder die sesde
    bede wel staande sal bly?

    Sondag 52 skud ons wakker, en tereg, op ons
    20e verjaarsdag as gemeente:

    Ons is in onsself so swak dat ons nie een
    oomblik staande kan bly nie.

    Daarom bid ons daagliks: Wil U ons staande
    hou.

    Wil U ons versterk deur die Heilige Gees.

    Sodat ons in die geestelike stryd nie die
    onderspit delf nie. Met die sesde bede bid ons vir krag van bo. Sodat ons elke
    dag opnuut kan weerstand bied.

    Sodat ons vol kan hou. Totdat ons uiteindelik
    die oorwinning volkome behaal.

    Dit sal nie gebeur voor ons sterfdag nie. Tensy
    Christus eerder terugkom, laat ons daarop hoop – Maranata!

    Ons gaan nou in die tweede punt meer
    spesifiek aandag skenk aan die drie vernaamste doodsvyande.

    (Tema: Bly staande in die geestelike stryd

    Met die sesde bede leer Christus ons

    1 hoe jy staande bly)

    2 Wie jou
    doodsvyande is

    Die Kategismus sonder die drie grootstes uit:

    Die duiwel, die wêreld, en jou eie sondige
    natuur.

    As ons bid, lei ons nie in versoeking nie,
    maar verlos ons van die Bose – dan moet ons by die woord ‘Bose’ dus dink aan
    hierdie drie vyande. Neem die duiwel as eerste. Ons lewe in ‘n tyd waarin baie
    mense dink dat God nie bestaan nie, en net so min die duiwel. Vanuit God se
    oogpunt is dit tragies, want vir die mense wat so dink betekend dit dat hulle
    vir ewig verlore sal gaan. Maar vanuit die duiwel se oogpunt is dit natuurlik
    die mooiste wat hy kan wens - dat mense dink dat hy nie bestaan nie. Mens kan
    die duiwel met ‘n terroris vergelyk.

    As ‘n terroris skade wil aanrig, gaan hy die
    meeste regkry waar daar geen sekuriteit of enige maatreëls is nie. Dan sal hy
    sonder probleme in ‘n vliegtuig kan kom, omdat daar geen doeane is nie.  9/11 het plaasgevind omdat mense in die Weste
    vir jare die houding gehad het dat daar geen bedreiging meer bestaan nie. En
    wat dink u van die duiwel? Juis in daardie lande waar die mense dink hy bestaan
    nie, is hy besig om ‘n groot slagting aan te rig. Moenie jou dus laat wysmaak
    dat die duiwel nie bestaan nie. Luister liewerste na wat die Bybel sê:

    Hy is jou grootste doodsvyand. Hy gaan rond
    soos ‘n brullende leeu.

    Dan is die tweede doodsvyand die wêreld.

    Die Kategismus bedoel hier spesifiek: Daardie
    deel van die mensheid wat afvallig geraak het van God en die diens aan Hom. Maar
    solank as jy vir God en sy diens kies, sal daar ‘n onoplosbare spanning bly
    tussen jou en die wêreld. Hierdie spanningsveld noem ons ook wel die antitese. Wie
    die antitese wil ophef, kapituleer vir hierdie doodsvyand. Ook daarom moet ons
    elke dag bid:

    Lei ons nie in versoeling nie! Verlos my ook
    van hierdie doodsvyand!

    Leer my om elke dag te kies vir ‘n lewenswyse
    volgens die Bybel in diens van God. En gee my ook die krag om dit te kan doen. Want
    uit myself bly ek nie staande nie. En wanneer ons dit so sê – uit myself bly ek
    nie staande nie – dan praat ons ook al oor die derde doodsvyand.

    Myself.

    Jou eie ou sondige aard, of natuur, of vlees.
    Dit gaan hier dus nie oor jou nuwe mens, dit wat jy steeds meer besig is om te
    word danksy jou wedergeboorte nie.

    Jou ou sondige ek, wat jou sal agtervolg
    solank jy lewe. Moenie jou daaroor misgis nie.

    Koning Dawid was ‘n diep gelowige mens. Hy
    het miskien gedink, ek sal nooit uitgly nie. Ek is te gelowig, of in vandag se
    terme, ek is te gereformeerd om owerspel te pleeg, en om iemand te vermoor. Maar
    dit het tog gebeur.

    Daarom, bid elke dag weer: O Here, lei ons
    nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose! Alleen met hierdie gebed,
    alleen op die knieë, bly ons staande in die geestelike stryd.

    Hierdie stryd sal ons moeg maak. Ons as mense
    raak moeg gestry, moeg vir kerkstryd, moeg vir persoonlike stryd. Maar moenie
    dink dat daar in hierdie stryd ruimte vir aftrede is nie.

    In die woordjie ‘eindelik’ – sien die laaste
    sin van v/a 127, klink die besef dat dit moontlik nog ‘n rukkie kan duur. Maar
    tot dit sover is, het ons elke dag krag van bo nodig. Sodat in die versoekings
    wat op jou afkom, jy staande sal bly. Want die doodsvyande sal aanhou, tot die
    einde. Ek sê dit nie om almal moedeloos te maak nie.  In hierdie verband vra ek u aandag vir ‘n
    klein detail.

    Iets wat baie gerusstellend is. Dit is die
    laaste sin van antwoord 127, waar daar staan: totdat ons eindelik die
    oorwinning volkome behaal.

    Hierdie sin is so geformuleer om duidelik te
    maak: Ons het die oorwinning al behaal, net nog nie volkome nie. Mens
    kan dit vergelyk met ‘n sokkerwedstryd, waar die telling 10 – 0 is in ons guns,
    en al wat oorbly is beseringstyd.

    Jy weet alreeds seker dat jou span gewen het,
    desnietemin moet jy die laaste minute wat oorbly nog steeds oplet. Die teenparty
    kan nog ‘n teenaanval loods.

    En al kan hulle nie meer wen nie, kan hulle
    dalk uit frustrasie een van die spelers iets aandoen – vuilspel. Bly dus oplet,
    sodat jy nie, al het jou span gewen, sodat jy of een van jou spanmaats nie dalk
    die veld met ‘n besering moet verlaat nie.

    Dus, aan die een kant, die oorwinning is
    reeds ‘n feit. Maar aan die ander kant, jou doodsvyande doen nog alles daaraan
    dat jy nie die fees sal beleef nie. Om jou op die laaste nippertjie nog mee te
    sleur in hulle verlies.

    Moenie te vroeg te gerus wees nie.

    Ek sluit af: mag die HERE nog baie jare aan
    ons gemeente toevoeg. Mag die HERE ons as gemeente veral waaksaam maak, elke
    lidmaat. Waaksaam in jou eie geloofslewe. Waaksaam in die gemeentelewe. Mag die
    HERE se seën so op ons rus. Hy het reeds die oorwinning gegee. Laat ons vasbyt.

    Ons verlang na die volkome verwerkliking
    daarvan.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata