Die wonder van die wedergeboorte uit die Heilige Gees

Text: 
Johannes 3 : 8
Date: 
2017-06-04
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 4 Junie 2017 AD, 17:30
(Pinkster)

Votum

Seën

Ps 111:1,2

Gebed

Skriflesing: Johannes 3:1-21

Ps 31:3-5

Teks: Johannes 3:8

Preek

Ps 135:2-4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën

Preek: Johannes 3:8

In ons teks
vergelyk die Here Jesus sy Heilige Gees met die wind.

Die wind het
die eienskap dat dit baie kragtig kan wees, maar steeds onsigbaar bly. Al sien
mens die wind nie, tog sien mens wel die uitwerking van die wind.

Bome se takke
wat heen en weer beweeg, hare wat deurmekaar waai, ensovoorts. Dis nie net in
ons teks nie, maar ook op ander plekke in die Bybel wat die Heilige Gees met
die wind vergelyk word. Dink aan die tekens wat Christus gegee het op
Pinksterdag, toe die Heilige Gees uitgestort is. Daar het skielik uit die hemel
‘n geluid soos van ‘n geweldige ruikwind gekom (Hand 2:2).

Die geluid
het die menigte laat saamstroom na die huis waar die apostels was.

Ons vier
vandag Pinksterdag, en ons fokus op die Heilige Gees en sy werk op aarde. Toe
Jesus self op aarde was, was Hy liggaamlik sigbaar. Na sy hemelvaart het Hy sy
Gees gestuur, onsigbaar, maar daarom nie minder kragtig nie.

In God se
raadsplan is dit die beste situasie vir die kerk van die Nuwe Testament: Christus
wat regeer op die hemelse troon. En sy Gees wat op aarde is, soos ‘n kragtige
wind, wat waai waarheen Hy wil en veel effek het.

Tema: Die wonder van
die wedergeboorte uit die Heilige Gees

1 Christus se onderrig aan Nikodemus

2 Christus se onderrig aan alle Nikodemiete

1 Christus se onderrig aan Nikodemus

Nikodemus
was ‘n stille bewonderaar van Jesus. Hy was lid van die ortodoks-Joodse party
van die Fariseërs. Hy was ‘n leraar in Israel, ons sou vandag sê, ‘n professor.
Hy was iemand met gesag. Hy was ook lid van die sanhedrin.  Dit was die Joodse godsdienstige raad. Hy was
‘n hooggekwalifiseerde teoloog.

In die
koelte van die nag het hy sy kans gevat om rustig maar veral ook onopvallend
met Jesus deur te praat.

 

Nikodemus
het naamlik goddelike waarmerke raakgesien in die optrede van Jesus. Al die
wonders wat Hy gedoen het. As God nie met Hom was nie, sou Hy nooit sulke dinge
kon gedoen het nie. Daarom het Nikodemus Hom ook aangespreek as ‘n hoogeerwaarde
kollega. Al vanaf die begin van die gesprek gee Nikodemus blyk van sy simpatie.
En asof hy namens ‘n groot groep simpatiseerders praat, het hy gesê: Rabbi, ons
weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens
doen wat U doen as God nie met Hom is nie (vers 2).

In sy
reaksie laat Jesus egter merk dat hy nie geïntimideer is deur al Nikodemus se
titels nie. Jesus begin sy antwoord aan Nikodemus nie met: hoogedelagbare, of
hoogeerwaarde, of hoe hulle dit ook gewoond was nie. Nee, Jesus begin met:

Voorwaar,
voorwaar Ek sê vir jou (vers 5).

In die
Grieks: Amen, amen!

Niemand kan
so stellig wees oor sy eie woorde, en dit nog voordat hulle uitgespreek is, as
slegs iemand wat self uit die hemel kom. Voorwaar, voorwaar, niemand kan die
koninkryk van God ingaan nie, as hy nie weergebore, vir die tweede keer gebore,
word nie. Jesus se bedoeling met hierdie uitspraak was:

Niemand het
reg op toegang in die koninkryk van God bloot op grond van sy eerste geboorte
nie. Hierdie op sig is alreeds ‘n verregaande teologiese stelling.

Want daarmee
plaas Jesus die identiteit van die hele Joodse volk op los skroewe.

Die lid wees
van ‘n volk op sig, kerklid wees op sig, is nie ‘n waarborg vir die hemel nie. Om
die koninkryk van God te mag beërf, moet mens van bo af verwek word. Jesus
sluit hier aan by die prediking van Johannes die Doper.

Gebore Jode
is nie outomaties burgers van God se koninkryk nie. God kan desnoods uit klippe
geloofskinders vir Abraham verwek.

Dis net God
se Gees wat geloofskinders voortbring.

Nikodemus
was egter nog nie heeltemal op dieselfde golflengte nie. Hy vra: ‘n mens wat al
volwasse is, kan mos nie vir die tweede keer in die moederskoot ingaan en weer
gebore word nie? Vervolgens herhaal Jesus, nou in ander woorde, sy verklaring
oor die toegang tot God se koninkryk. Iemand kan nie die koninkryk binnegaan
nie, of hy moet gebore word uit water en Gees. Gebore uit water en Gees – dit
is dus sinoniem aan wat Hy eerder gesê het, naamlik: gebore of verwek van bo
af. Hierdie nuwe lewe kom dus tot stand uit reinigende water en die lewewekkende
Gees. Ook met hierdie opmerking het Jesus aangesluit by Johannes die Doper. Johannes
het met water gedoop, en het verwys na Iemand wat na hom sou kom en wat met die
Heilige Gees sou doop. Deur die reinigende water word die ou sondige lewe afgesweer.
En deur die lewewekkende Gees ontstaan ‘n nuwe lewe. ‘n Mens gebore uit die
Gees ontvang die geloof van bo af.

As Jesus dit
hier noem – gebore word uit water en Gees – dan ignoreer Hy doelbewus die
geboorte uit Abraham. Want dit was nou juis waarop die Jode so trots was! As
dit gegaan het oor wie die koninkryk van God sal beërf, dan het die Jode hulle
antwoord gereed gehad: natuurlik net hulle wat uit Abraham gebore is! Nee, maak
Jesus duidelik, nie outomaties hulle wat uit Abraham gebore is nie.

Maar: hulle
wat uit water en Gees gebore is. Dit is nie iets wat jy van geboorte – van jou
eerste geboorte af – op sak kan hê nie. Dit is iets wat jy van bo af moet
ontvang. Dit verkry jy nie met menslike kragte nie. Dit moet jou gegee word.

Maar kan iemand
dit dan ontvang? Kan iemand ooit gered word?

Gemeente,
dink aan die keer toe die Here Jesus vir sy dissipels gesê het dat dit vir ‘n
kameel makliker is om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in
die koninkryk van God in te gaan (Matt 19:24). Maar wie kan dan nog gered word,
het die dissipels toe radeloos gevra. Waarop Jesus geantwoord het, toe Hy sien
hoe verslae hulle was: By mense is dit onmoontlik, maar by God is geen ding
onmoontlik nie. Wat het Jesus hiermee bedoel?

Dit: dat
mense, ook ryk mense, na bo moet kyk, en alles van God verwag. Die geloof, die
tweede geboorte, ontvang elke mens uit die hemel. Jy kan dit nie self laat
ontstaan nie. Jy moet jouself oopstel vir God, omhoog kyk, jou hart verhef, dit
van Hom verwag.

In ons teks
vergelyk Jesus die effek van die Gees met die waai van die wind.

Trouens, ons
teks laat ‘n pragtige woordspeling sien. Omdat in die oorspronklike Griekse
taal die woord vir wind en die woord vir Gees dieselfde woord is: Pneuma. In
taalkunde noem ons dit ‘n homoniem.

Jesus kies
hier bewus ‘n woord vir die wind wat identies is as die woord vir Gees.

En met
hierdie woordspeling het Hy ‘n bedoeling. Die Gees is soos die wind.

Hy waai waar
Hy wil. Jy hoor Hom waai, maar jy weet nie waar Hy vandaan kom en waar Hy
heengaan nie. So is dit ook met elkeen wat uit die Gees gebore is. Die effek
van die Gees is dus vergelykbaar met die waai van die wind. Die wind is vry om
te gaan waar dit wil. Jy kan dit hoor suis, of bulder. Al is die wind is
onsigbaar, tog is dit deeglik daar. In jou huis agter die venster voel jy dit
dalk nie.

Maar in die
herfstyd sien jy dit, as die blare deur die lug waai. Dus die wind sien jy nie,
maar jy sien wel die effekte van die wind. Bome wat beweeg. Blare wat van die
takke afwaai. Blare wat weer van die grond af opgewaai word deur die wind. Waar
kom die wind vandaan, en waar gaan dit heen? Dit is onsigbaar.

Hierna
verwys die Here Jesus dus as Hy die Heilige Gees met die wind vergelyk.

Jy kan die
wind nie beetpak en opsluit nie. Jy kan die wind nie van rigting laat verander
nie. Jy kan die wind nie tot stilstand bring nie. Daar is slegs Een wat dit kan
doen. Wie is Hy tog, dat ook die wind en die see Hom gehoorsaam is? – het sy
dissipels hulle verbaas afgevra na die storm op die meer (Mark 4:41).

Hy, wat die
sleutel het van die stoorkamers van die wind (Job 37:9; Ps 135:7; Jer 10:13;
Jer 51:16). Hierdie besef wil Jesus by Nikodemus tuisbring.

So is dit
met elkeen wat uit die Gees gebore is. Sy lewe ontspring in ‘n ander wêreld. Bowendien
is so iemand op pad na ‘n ander wêreld. Oorsprong en eindbestemming is
onsigbaar. Tog is die effek van die Gees se werk in hierdie lewe wel sigbaar. God
se kinders is altyd herkenbaar in hierdie wêreld.

Soos Jesus
se lewe op aarde ‘n werklikheid was, terwyl Hy op ‘n wonderlike manier uit die
Gees ontvang is – dink aan sy maagdelike geboorte.

Die ware
toedrag bly God se geheim, maar dit is ‘n realiteit.

Nikodemus is
nog steeds nie heeltemal op dieselfde golflengte nie. Dit lees ons in die vers
na ons teks:

“Hoe kan
hierdie dinge gebeur?” vra hy.

Jesus
antwoord dan bietjie verwytend: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie
dinge nie? Nikodemus behoort mos op die hoogte te wees van die profesieë in die
Bybel? Dat daar uit die hemel ‘n Geestelike vernuwing vir Israel sou kom! Dat
God se Gees die harte van ‘n hardnekkige volk moes sagmaak en verander! Dink
aan die profeet Joël, wat met soveel woorde oor die uitstorting van die Heilige
Gees op Pinksterdag geprofeteer het.

Dit is dalk
goed dat ons spesifiek nou die vraag vra: Hoekom praat die Here Jesus eintlik
met Nikodemus oor die Heilige Gees? Is dit pure toeval?

Wel, soos
ons reeds gesien het, Nikodemus het nie toevallig die Here Jesus ontmoet en ‘n
gesprek begin nie. Dit was nie ‘n gesprek oor koeitjies en kalfies, of maar net
oor die weer en oor die wind wat waai nie. Nee, Nikodemus het bewus vir die
Here Jesus opgesoek, en dit in die nag. Hy het ‘n duidelike doel gehad. Hy wou
sy simpatie aan die Here Jesus betuig, maar wel onopvallend in die donker. Ons Here
Jesus, wat van alles bewus is, ook van Nikodemus se beweegredes, stuur die
gesprek bewus in ‘n bepaalde rigting. Dis nie net toevallig dat die Heilige
Gees ter sprake gekom het nie. Skynbaar het die Here Jesus dit juis in
Nikodemus se geval van groot belang geag. Hy wou juis dit met hom bespreek. Nikodemus,
wat die Here Jesus graag so onopvallend moontlik wou gespreek het. Wat eintlik
skaam daarvoor was.

Wat nie wou
hê ander mense sien dat hy met Christus in gesprek is nie.

(Tema: Die
wonder van die wedergeboorte uit die Heilige Gees

1 Christus
se onderrig aan Nikodemus)

2 Christus se onderrig aan alle Nikodemiete

Broer,
suster, is u ook ‘n Nikodemiet?

Hoeso? ‘n
Nikodemiet is iemand wat wel in sy hart glo, maar niks daarvan laat blyk nie. Deur
die geskiedenis heen was daar sulke mense. Ook in die tyd van die Reformasie
was daar baie Nikodemiete. Mense wat wel saamgestem het met dit wat Luther en
Calvyn geskryf het, mense wat ingesien het dat baie verkeerd was in die kerk,
maar mense wat nie gedurf het om openlik daarvoor uit te kom nie.

Want dit kon
hulle lewe kos. Hierdie aanduiding – ‘n Nikodemiet – is uiteraard afgelei van
die naam Nikodemus. Want by hierdie man in ons teks sien ons dieselfde. Hy wil
baie graag ‘n gesprek met die Here Jesus voer, maar dit moes in die nag gebeur.
Sodat niemand hom kon sien nie. Hy was skaam om openlik met Jesus te praat. Sy kollega’s sou hom verag, of dalk nog erger: buitesluit. So was
Nikodemus.

Hy het wel
in sy hart geglo, maar hy wou dit nie in sy lewe laat uitkom nie.

Is jy ook so? Dat dit ‘n berekende keuse van jou is, wie om te
vertel, en vir wie om nie te vertel dat jy ‘n Christen en ‘n kerklid is nie?

Want, as jy
dit laat uitkom, kan dit ‘n nadelige effek hê. Vir sommiges by hulle werk. Vir
ander by die huis, of in familieverband. In die tyd van die Reformasie was daar
ook Nikodemiete. Hulle het saamgestem met Luther en Calvyn.

Byvoorbeeld
dat die pous nie die hoof van die kerk op aarde is nie. En dat daar geen
vaevuur bestaan nie. En dat dit toelaatbaar is volgens die Bybel vir priesters
om te trou. Ensovoorts.

Maar tog wou
hulle nie openlik daarvoor uitkom nie. Calvyn het baie briewe ontvang van sulke
mense, wat hulle simpatie betuig het met sy opvattings, maar mense wat verder
anoniem wou bly, en daar waar hulle gewoon en gelewe het, wou hulle nie vir
hulle oortuiging uitkom nie.

Nikodemus
kon  heelwat verloor. Hy het die reputasie
van ‘n groot geleerde gehad. Hy het ‘n eerbare posisie gehad. En weet u wat? Nikodemus
wou die Heilige Gees in bedwang hou. Hy wou die Heilige Gees in die bane lei
wat hom die beste uitgekom het. As
die Heilige Gees te hard begin waai, wou hy Hom weer opsluit in sy stoorkamer. Omdat
dit op daardie oomblik nie vir hom goed uitgekom het nie! Gemeente, verstaan u
hoekom die Here Jesus juis oor die Heilige Gees met Nikodemus wou praat? Hoogeerwaarde
Nikodemus, u moet leer dat die Heilige Gees nie vasgevang kan word nie. Jy weet
nie van waar Hy kom en waarheen Hy gaan nie. Jy sal jouself moet laat saamvat
op die vleuels van die wind. Die Gees is vry, Hy laat Homself nie opsluit of
kanaliseer nie.

Verstaan u
nou die doel van hierdie gespreksonderwerp? Jesus het – om dit vir ‘n oomblik
so te omskryf – Jesus het Nikodemus aangespreek op die feit dat hy ‘n
Nikodemiet was! Nikodemus het goed besef dat Jesus van God gekom het, dat Hy
die beloofde Messias was, maar Hy wou nie daarvoor uitkom nie. Daarom, een van
beide, het Jesus gemaan: òf jy is wel ‘n tweede keer gebore, òf nie. Jy kan nie
‘n draadsitter wees nie. Jy het dit nie in eie beheer nie.

As die
Heilige Gees in jou lewe kom, doen Hy dit op sy inisiatief. En dan trek Hy jou
saam in sy suigkrag.En wee diegene wat Hom dan teenwerk!

Hoeveel
swaarder straf sal hy verdien wat die Gees van genade gesmaad het? (Hebr 10:29)

Christus
roep Nikodemus op: luister Nikodemus, die LIG van die wêreld het in die wêreld
gekom. Jy sien self die lig. Bly jy die duisternis verkies?

Jy erken dat
Ek die Seun van God is. Maar bely jy My dan ook voor die mense?

Wat verwag
die Here Jesus van Nikodemus? Hy wil vir hom duidelik maak: as die Gees jou
beetgepak het, kan jy nie meer kies nie. Jy kan nie meer ‘n afweging maak, soos
van: ek verkies om die Messias net in die nag op te soek nie.

Die Heilige
Gees neem jou beet in sy krag en Hy bring jou waar Hy jou wil hê.

Jy kan nie
kies nie. Nou hoe pas ons hierdie boodskap vandag toe, gemeente?

Beteken dit
dat ons soos die Pinkstergemeentes en Charismatiese groeperings moet word, wat
die heeltyd fokus op die Gees? Moet ons ruimte toelaat vir tongetaal en vir
genesing deur handoplegging? Opvallend is dat Jesus nie vir Nikodemus oproep om
in tongetaal te begin praat of soiets nie. Jesus se bevel aan Nikodemus is: as
jy vir My kom sê dat Ek die Messias is, gaan sê dit ook vir jou kollega’s! Moenie
meer ‘n Nikodemiet wees nie!

Ons weet dat
juis dit vir Nikodemus die moeilikste was.

Gelukkig het
God geduld met Hom gehad, en sien mens hoe die Heilige Gees steeds verder veld
gewen het in sy lewe. So lees ons byvoorbeeld ‘n paar hoofstukke verder, in
Johannes 7, dat Nikodemus ‘n tyd later wel opgekom het vir Jesus in die kring
van sy kollega’s, die vooraanstaande Fariseërs.

Johannes
7:51 waarsku hy sy kollega’s: “Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te
hoor en te weet wat hy doen?”

Dis nie dat
Nikodemus hier eksplisiet vir Jesus kant gekies het nie. Maar hy het wel
gepleit vir ‘n onbevooroordeelde houding. Maar selfs dit was al te veel.

Want sy
kollega’s het hom toegesnou: Is jy soms ook ‘n Galileër?

Nog ‘n keer
ontmoet ons Nikodemus in die Bybel. In Johannes 19:39.

Nadat Jesus
gekruisig is en in ‘n graf neergelê is, lees ons:

“En
Nikodemus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom
met ‘n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig.”

Die Heilige
Gees het Nikodemus nie losgelaat nie.

Dit bring my
by die oproep aan u vandag. ‘n Oproep vanuit hierdie gerusstelling:

Die Heilige
Gees laat jou nie sommer los nie. Hy bly besig met jou. Moenie Hom bedroef nie,
moenie Hom teenwerk nie. Om volhardend, oor en oor, die werk van die Gees teen
te werk, dit is sonde teen die Heilige Gees. Die ergste sonde wat daar is. Die
oproep aan ons is:

Moenie ‘n
Nikodemiet wees nie. Nie op Sondag, nie deur die week nie. Miskien is dit een
van die hoofredes hoekom kerke in ons land so agteruit gaan. Dit feit dat so
baie Christene Nikodemiete geword het. Dat dit wat hulle sê en dit wat hulle
doen nie meer ooreenstem nie. Dat hulle hulle geloof nie laat deurwerk in die
lewe van elke dag nie. Laat die wind van die Gees waai deur heel jou lewe.

Gedra jou op
jou werk soos ‘n kind van God, iemand wat van bo gebore is, wedergebore. Wees
oop en eerlik oor jou geloof en lewenswyse. So wil ek lewe, en ek skaam my nie
daarvoor nie. Die Heilige Gees beheers my lewe. Laat jou meeneem deur die krag
van die Gees. Jy voel mos hoe Hy jou lewe wil verander, wil toewy. Gaan saam
met daardie krag, moenie weerstand bied nie.

Jy kan die
Gees nie sien nie, maar jy sien wel die vrugte van sy werk in jou en in ander
mense. Mense wat endemies oneerlik was, begin dit meer en meer te ontgroei. Mense
wat nooit kon erken as hulle verkeerd was, begin sagter raak.

Mense wat
kompulsief ontrou was, begin stappie vir stappie hulle lewe verander. Dit is
tekens van die wedergeboorte. Moenie jou daarteen verset nie, vanuit die vrees
dat jy jou eie lewe dan nie meer in beheer het nie.

Dit hoort
daarby. So is iemand wat uit die Gees gebore is.

Gehoorsaam
laat ons ons saamneem na waar Hy ons wil hê, wat Hy met ons wil doen. Vir
Nikodemus het dit beteken dat hy sy posisie sou verloor, dis die risiko wat bo
sy hoof gehang het. Vir ander het dit beteken dat hulle moes vlug vir hulle
geloof. Dis die risiko wat baie van die drie duisend gelowiges, wat op hierdie
Pinksterdag tot die kerk toegevoeg is, bo die hoof gehang het. Nie lank na
hierdie dag is hulle verstrooi uit Jerusalem, alle kante op. In die tyd van die
Reformasie was daar ook heelwat van ons geloofsgenote wat op die vlug moes
slaan.

 

Hierdie is
ekstreme voorbeelde. Ons verkeer wat dit betref in rustiger vaarwaters. Maar
rustige vaarwaters kan ook gevaarlik wees.

Die gevaar
van wêreldgelykvormigheid, dat die suiwerende werking van die Gees daardeur
geblokkeer word.

Laat ons op
hierdie Pinksterdag opnuut die verbond vernuwe, van ons kant ons opnuut toewy. Die
verbond wat God met ons en ons kinders gesluit het.

Die belofte
van die Gees het ons ook ontvang. Laat jou lei deur die Gees.

Laat Hy jou
lewe bestuur. Die Gees waai waar Hy wil, en Hy neem jou saam.

Wat ‘n
voorreg!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata