Die verhoogde Christus sorg vir die vrye voortgang van die Evangelie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-05-25
Text: 
Markus 16 : 19 en 20
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA & PRETORIA, 25 Mei 2017
AD, 19:00 (Hemelvaart)

Votum

Seën

Sb 12:1

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 12:38-50

Ps 2:1,2

Skriflesing:
Markus 16:9-20

Ps 2:4,6

Teks: Markus
16:19-20

Preek

Ps 113:1-3

Gebed

Geloofsbelydenis:
Nicea

Sb 27:1-3

Kollekte

Ps 47:1-3

Seën

Preek: Markus 16:19-20

‘n Paar weke
gelede het die bekende evangelis Angus Buchan na bewering ‘n miljoen mense
bymekaar versamel op ‘n plaas êrens in die Vrystaat. Volgens sommiges het daar
daardie naweek wonders plaasgevind op daardie plaas.

Deur alle
jare en eeue heen het mense agter charismatiese persoonlikhede aangeloop. So
was daar redelik onlangs ‘n voorbeeld in Europa waar ‘n godsdienstige leier
beweer het dat êrens op die platteland van Spanje ‘n natuurwonder sou
plaasvind. Baie mense, waaronder ook siekes en gestremdes, het met hom
saamgereis na die betrokke plek, waar dit sou gebeur.

Die
voorspelde wonder het egter om een of ander rede nie plaasgevind nie.

Onwillekeurig
vra mens jouself dan af: wat is aan die hand? Was die voorspelling nie korrek
nie? Was die mense se geloof nie groot genoeg nie? Of het die Here Jesus, wat
nou aan die regterhand van die Vader sit, vir ‘n oomblik nie geluister en die
gebed verhoor nie? Is dit moontlik vir enige mens op aarde om ‘n wonder te
voorspel? Kan mens op bestelling ‘n wonder van God afbid? Miskien as jy met ‘n
miljoen mense bymekaar is?

Ek verkondig
u vanaand die Evangelie van Christus se hemelvaart:

Tema: Die verhoogde Christus sorg vir die
vrye voortgang van die Evangelie

  • die aanvanklike tekens en wonders

  • die blywende wonderteken

  • die aanvanklike tekens en wonders

    Nadat die
    Here Jesus uit die dood opgestaan het, het verskillende mense Hom ontmoet. Dit
    lees ons op verskeie plekke in die Nuwe Testament.

    Markus 16 is
    een van die hoofstukke. Die evangelis beskryf hoe Jesus eerste aan Maria
    Magdalena verskyn het. Sy was ‘n vrou uit wie Hy destyds sewe bose geeste
    gedryf het. Dit was een van sy baie genesingswonders. Maria Magdalena het toe
    vir onder andere die dissipels gaan vertel. Maar hulle kon haar net nie glo
    nie. Ook die twee Emmaüsgangers het probleme gehad om te glo. Hulle het die
    Here Jesus aanvanklik ook nie eers herken nie.

    Uiteindelik
    het die besef werklik tot hulle deurgedring. Hulle het toe ook aan die
    dissipels gaan vertel, maar weer kon hulle nog nie glo nie.

    Daarna het
    Jesus self na die dissipels toegegaan.

    Markus noem
    dat hulle op daardie oomblik met die maaltyd besig was. Toe Jesus aan hulle
    verskyn, het Hy, behalwe om hulle te seën, hulle ook bestraf. Hy het hulle
    indringend vermaan oor hulle kleingeloof. Oor hulle hardheid van hart.

    As daar
    mense was wat dit moes geweet het, dan was dit die disspels.

    Jesus het
    destyds self vir hulle gesê: Ek gaan na Jerusalem om gekruisig te word, maar op
    die derde dag sal Ek opstaan!

    Vervolgens
    beskryf Markus in hoofstuk 16 hoe Christus aan die dissipels die sendingsopdrag
    gee. Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Nou
    soos ons weet, lê daar ruim ‘n maand tussen Paasfees en Hemelvaart. Jesus was
    veertig dae op aarde, om aan sy dissipels hulle finale instruksies te gee. Hierdie
    veertig dae vat Markus in enkele verse saam, in totaal nie meer as 12 verse
    nie. Hy vermeld slegs die belangrikste uit hierdie veertig dae. En een van die
    belangrikste dinge was dus die sendingsbevel. Dit wat die wese van die
    Christelike kerk sou word. Naamlik om ‘n missionêre kerk te wees.

    Gaan die
    hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

    Hulle moet
    nie net self in die opstanding glo nie, maar hulle moet hierdie blye nuus ook
    verder dra. Hulle moet ook ander oproep om daarin te glo en hulle lewe om te
    keer, te bekeer, tot Hom, die opgestane Heiland.

    Verder wys
    Markus ook op die uitspraak van die Heiland, die uitspraak waarin Jesus die
    antitese aankondig, wat die hele toekoms sou gaan beheers:

    “Hy wat glo
    en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel
    word.” (vers 16)

    Die
    dissipels se prediking sou dus of seën of vloek bring. Wie gehoor gee aan hulle
    prediking en dit ook wys deur die feit om gedoop te wil word, sal gered word. Maar
    wie die prediking van die apostels van die hand wys, en hulle dus nie laat doop
    nie, sal in die laaste oordeel veroordeel word. Jesus het sy dissipels ook
    gewaarsku, dat hulle daarop moet reken dat hulle teenstand sal ondervind.

    Maar Hy het
    hulle ook sy besondere hulp beloof. Markus vermeld die besondere hulp van die
    Here Jesus, dinge wat God sal laat meewerk tot die uitbreing van die evangelie:
    Duiwels uitdryf, met nuwe tale spreek, immuniteit teen slange en teen dodelike
    gif, genesing van siekes deur handoplegging. Christus sal vir hierdie dinge
    sorg, sodat die Evangelie vinnig sal versprei.

    Hy, die
    verhoogde Heiland, sal daarvoor sorg.

    Dit is
    waaroor ons teks gaan: Jesus is opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die
    regterhand van God. En van daaruit het Hy die eerste jare na sy hemelvaart baie
    ekstra wondertekens laat plaasvind, deur die hande van die apostels.

    Met as doel
    om die voortgang van die evangelie te bespoedig.

    Veral in die
    eerste tyd, toe dit ‘n baie kwetsbare tyd was vir die kerk.

    Christus het
    daarvoor gesorg dat die ooggetuies hulle werk kon doen.

    Christus het
    daarvoor gesorg dat die aandag van sondige mense getrek is, deur die tekens wat
    die apostels gedoen het. Christus het gesorg dat hulle ontvanklik geraak het
    vir die Evangelie, dat ‘n vrugbare bodem in hulle hart voorberei is.

    In die boek
    Handelinge kan ons baie voorbeelde hiervan lees. Christus, wat plaasgeneem het
    op die hemelse troon, het sy beloftes waargemaak.

    Dink in die
    allereerste plek aan Pinkster, tien dae later. Die feit dat die apostels in
    staat was om die Evangelie te verkondig in al die tale van al die verskillende
    buitelandse besoekers, wat op daardie oomblik in Jerusalem was. Dink verder aan
    die wonderbaarlike genesing van die kreupel man by die tempelpoort, kort daarna
    deur die apostel Petrus (Hand 3). Dink aan die skielike oorlyde van Ananias en
    Saffira.  Dink aan die wonderbaarlike
    bevryding van die apostels deur ‘n engel wat in die nag die deure van die
    gevangenis vir hulle oopgemaak het. Dink aan die verblindende lig wat Saulus
    gesien het, toe Jesus vanaf sy troon persoonlik aan hom verskyn het. Dink aan
    die visioen wat Petrus ontvang het om na die Romeinse hoofman Cornelius toe te
    gaan. Dink aan die tweede bevryding van Petrus uit die gevangenis, weer deur ‘n
    engel – Handelinge 12.

    Dink aan die
    verlamde man, kreupel van sy geboorte af, wat Paulus in Listre genees het,
    waarna die bevolking van die stad aan hom wou begin offer asof hyself ‘n god
    was (Hand 14).

    Dink aan die
    bevryding van Paulus en Silas uit die tronk in Filippi danksy ‘n onverwagse
    aardbewing.

    Dink aan hoe
    Paulus die jongman Eutychus weer lewend gemaak het, na sy dodelike val uit die
    vensterbank van die derde verdieping af (Hand 20).

    Dink aan hoe
    Paulus op die eiland Malta deur ‘n slang gepik is, maar teen alle verwagting in
    ongedeerd gebly het. Hy het nie opgeswel nie. Hy het nie dood neergeval nie.

    Dink aan hoe
    Paulus op daardie selfde eiland die pa van die eiland se hoof Publius genees
    het, wat siek gelê het aan koors en buikloop (Hand 28:8).

    Hierdie is
    dus alles voorbeelde van buitengewone dinge, spektakulêre dinge, waarmee
    Christus in die eerste plek die belemmeringe vir die snelle verbreiding van die
    Evangelie weggeneem het, en waarmee Christus in die tweede plek die aandag
    getrek het na die boodskap wat die apostels kom bring het. Neem byvoorbeeld die
    geskiedenis van hoe Paulus as drenkeling op die eiland Malta aangekom het. Logies
    dat niemand van die inwoners van die eiland enige waarde sou heg aan wat
    hierdie man se storie was nie.

    ‘n
    Drenkeling, en boonop ‘n gevangene.

    En toe ‘n
    slang hom ook nog pik, het hulle vas geglo dat die gode hierdie man nie
    goedgesind was nie. Dat al het hy die skipbreuk oorleef, sy lot vasstaan, en
    die gode dus nou ‘n slang gestuur het om dit met hom te doen wat die storm en
    skipbreuk nie kon regkry nie, naamlik om hom dood te maak. MAAR, toe die
    inwoners van die eiland na ‘n rukkie agterkom dat niks met Paulus gebeur het
    nie, dat hy gesond en wel gebly het ondanks die giftige slangbyt, toe het hulle
    ineens wel alle ore gehad vir sy boodskap, en nie net hulle nie, ook die
    hooggeplaastes, die regeerders van die eiland, die Romeinse oorheersers.

    Ook hulle
    het met aandag geluister, veral nadat Paulus die pa van Publius genees het en
    ook nog verskeie ander wonderbaarlike genesings verrig het (Hand 28:9).

    Gemeente, en
    om nou weer terug by ons teks te kom. Uit al hierdie wonders kan ons verstaan
    wat ons teks bedoel. Christus het gaan sit aan die regterhand van God. Sit is
    nie ‘n aanduiding van passiwiteit nie. Dit is juis ‘n aanduiding van aktiwiteit.
    Hy het plaas geneem op die troon om te regeer. En dit was merkbaar, byvoorbeeld
    aan al die wonders wat die apostels verrig het. Dit was nog merkbaarder aan die
    die duisende mense wat tot geloof gekom het.

    In
    Jerusalem, Judea, Samaria, en nog veel verder. In Klein-Asië, op ontelbare
    Griekse eilande, soos wat hulle verstrooid lê in die Middellandse See.

    In Italië,
    tot in die hoofstad van die Romeinse Ryk, Rome toe.

    En so het
    dit verder gegaan: tot aan die uiteindes van die aarde. So wyd soos die wêreld.
    Hieruit blyk die heerskappy van die verhoogde Christus.

    Trouens, die
    wonders wat die apostels verrig het, moet u nie verwar met towery nie. Asof die
    apostels by wyse van spreke ‘n towerstaffie gehad het waarmee hulle kon doen
    wat hulle wou. Hierdie wonders, wat Christus hier in Markus 16 aankondig, was
    puur en alleen gerig op ‘n spoedige verspreiding van die Evangelie. As mens dit
    besef, verklaar dit ook die feit hoekom Paulus soms op ‘n wonderbaarlike wyse
    uit die gevangenis bevry is, en ander kere juis nie.

    Vir ‘n
    geruime tyd het Paulus byvoorbeeld vasgesit in die gevangenis van Cesarea, en
    het hy nie uitgekom met die hulp van ‘n aardbewing of ‘n engel nie.

    Uiteindelik
    is hy as ‘n gevangene na Rome verskeep. Hierdie keer was dit dus nie Christus
    se wil dat Paulus vry sou kom nie. Maar juis dat hy as ‘n gevangene na Rome
    moes reis. En dat hy deur heftige omstandighede op die eiland Malta tereg sou
    kom. Sodat hy uiteindelik vir meer as twee jaar in Rome die geleentheid sou kry
    om die Evangelie te verkondig. In Rome, die Romeinse hoofstad ja!

    ‘n Plek waar
    hy anders miskien nooit sou gekom het nie. Alle wondertekens het die verhoogde
    Christus dus ingespan ten dienste van die verspreiding van die Evangelie.

    Dink ook aan
    Stefanus. In teenstelling tot Paulus, wat ‘n steniging op ‘n wonderbaarlike
    wyse oorleef het, het Stefanus dit nie oorleef toe hy gestenig is nie. Maar hy
    het as die eerste martelaar van die Christelike kerk gesterf.

    Hoekom het
    Christus vanaf sy hemelse troon nie in Stefanus se geval ‘n wonder laat
    plaasvind nie? Dit kon Hy mos maklik gedoen het?

    Ook hier het
    dit in die eerste plek gegaan oor die verspreiding van die Evangelie.

    Dit was
    Christus se bedoeling dat die dood van Stefanus ‘n onuitwisbare indruk moes
    maak op die jong Saulus, wat daarby gestaan het. En so kan ons nog baie meer
    voorbeelde noem. Petrus is wonderbaarlik gered uit die kloue van Herodes, maar
    Jakobus, die broer van Johannes, is wel deur hierdie sluwe heerser om die lewe
    gebring. Hoekom?

    Ons kan nie
    vir alles ‘n verklaring vind nie. Daar bly altyd dinge wat ons aan Christus
    moet oorlaat. Hy regeer in regmatigheid. Koning Dawid het al geprofeteer oor
    die almag van Christus, wanneer Hy sal plaasneem aan God se regterhand. Die
    opstandige volke sal Hy verpletter met ‘n ysterstaf.

    Hy sal hulle
    stukkend slaan soos ‘n erdepot (Ps 2:9). En in Openbaring getuig Johannes
    dat  Christus met ‘n yster staf oor die
    heidene regeer (Openb 2:27).

    Daarom kan
    ons met ‘n geruste hart lewe. Christus sal alles laat meewerk ten dienste van
    die verspreiding van die Evangelie. Ten dienste van die koms van sy koninkryk. Ten
    goede van hulle wat Hom liefhet.

    Dit is ook
    waarmee die Markusevangelie afsluit.

    “hulle het
    uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig
    deur die tekens wat daarop gevolg het.” (vers 20)

    Sy sit aan
    God se regterhand beteken dat Hy deurgegaan het met sy werk.

    Nou nie meer
    self op aarde nie, maar nou vanuit ‘n baie invloedryker posisie.

    Op die troon
    in die hemel. Van daaruit het Hy die apostels aangevuur. Van daaruit het Hy sy
    Gees uitgestuur.

    Van daaruit
    vuur Hy ons vandag nog steeds aan.

    (Tema: Die
    verhoogde Christus sorg vir die vrye voortgang van die Evangelie

  • die aanvanklike tekens en wonders)

  • die blywende wonderteken

    Wil dit dan
    sê dat ons ook in staat moet wees om die wonders te verrig wat die apostels
    verrig het? Laat ek dit eers reg verwoord. Die apostels het nie self die
    wonders verrig nie. Die verhoogde Christus het dit deur hulle hande gedoen.

    Hy het die Evangelieprediking bevestig met tekens. Dit was nie ‘n
    ‘show-business’ van wonders nie. Dit mense wat dit daarvan wou maak, is danig
    afgestraf. Dink aan die seuns van Skeva waaroor ons in Handelinge 19(:14) lees.

    Christus het
    die wonders gegee, as Hy dit belangrik geag het.

    By die een
    steniging het Hy gesorg dat die persoon oorleef: Paulus.

    Baie die
    ander steniging het die persoon gesterf: Stefanus.

    By die een
    geleentheid het Hy ‘n engel gestuur om sy dienskengte uit die tronk te bevry,
    by die ander geleentheid juis nie. Die vraag is dus verkeerd, as ons vra:

    Moet ons ook
    as gelowiges vandag in staat wees om wonders te verrig net soos die apostels
    gedoen het? Niemand, ook nie die apostels nie, was uit hulleself daartoe in
    staat nie. As dit Christus behaag om ‘n wonder te laat plaasvind, sal Hy dit
    doen. Wanneer Hy dit nodig ag, en wanneer nie, ons kan Hom nie presies nareken
    nie. Wel is dit ‘n feit dat die verhoogde Christus aan die begin van die
    verspreiding van die Evangelie wonders laat plaasvind het met – om dit vir ‘n
    oomblik so te noem – ‘n groter frekwensie. Dit was ‘n baie kwesbare periode vir
    die kerk. Christus het dit opgevang deur ‘n hoë intensiteit van wonders.

    Gaandeweg
    het die wonders minder geword, toe die Evangelie wydverbreid bekendheid verwerf
    het. Hierdie proses van afnemende intensiteit van die hoeveelheid wonders is al
    in die Nuwe Testament self waarneembaar.

    Deesdae,
    word daar dikwels gesê, is daar ook meer wonders in sendingsgebiede, op plekke
    waar die Evangelie die eerste keer klink, of waar die posisie van die Evangelie
    nog baie kwesbaar is. Skynbaar kan ons tog hieruit iets aflei oor die werkwyse
    van ons verhoogde Christus.

    Wat moet ons
    dan verwag hier by ons, in ons gemeentes? Moet ons die Here Jesus spesifiek bid
    vir wonders, vir die vaardigheid om wonder te kan verrig?

    Ek dink dat
    mens dan die wa voor die perde span. Ons moet Christus bly bid vir geloof en
    bekering, dit gaan voorop. Ook vir terugkeer vir hulle wat van die geloof en
    van die kerk af weggedwaal het. Die verhoogde Christus roep ons op om te bid en
    werk. Met hoof, hart en hande.

    En as Hy ‘n
    wonder noodsaaklik ag, sal Hy dit ook laat plaasvind.

    Hy lewer nie
    wonders op bestelling nie. Destyds het die Jode – die gevestigde kerkmense van
    daardie tyd – van die Here Jesus ‘n wonder gevra, toe Hy op aarde was. Jesus
    het toe geantwoord.

    “'n Slegte en
    owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie,
    behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte
    in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en
    drie nagte in die hart van die aarde wees.” (Matth 12:39-40 & 16:4)

    Hierdie was
    die teken wat die Jode destyds ontvang het. Jesus se kruising en dood. Dit was
    die grootste teken van God se liefde vir ‘n slegte en owerspelige geslag. God
    se liefde ook vir ons, vir die hele wêreld. Christus self!

    God wil nie
    dat mense verlore gaan nie, maar dat hulle die Evangelie ontvang, dit glo en
    gered word. En dit is die teken van die Evangelie. Jesus Christus self.

    Hy is die
    blywende wonderteken. Hy wat gekruisig is, gesterf het, maar ook opgestaan het
    uit die dood. Hierdie Evangelie doen wonders aan sondaars se lewe. Daarvan mag
    ons ook getuig aan almal wie God op ons pad plaas.

    Christus sit
    nou aan die regterhand van God. Hy is almagtig, Hy kan alles.

    Hy doen
    daadwerklik ook alles wat sy koninkryk bevorder.

    Laat ons as
    mense Hom nie onder druk plaas, deur ‘n wonder van Hom te eis nie.

    Laat ons oog
    hou vir die wonders wat Hy daagliks doen, danksy die verkondiging van die
    Evangelie. In die kerkvader Augustinus se tyd het die mense hulle ook al
    afgevra hoekom die baie wonders van die apostoliese tyd opgehou het, hoekom die
    spreek van tale opgehou het. Augustinus het daarop geantwoord: die spreek in
    tale het plek gemaak vir die veelvoud aan tale in die eenheid van die kerk.

    Ja in sy
    tyd, en nog meer vandag, is daar wêreldwyd in alle moontlike tale die lieflike
    voete van hulle wat die Evangelie van vrede verkondig.

    Ook in ons
    land is die Evangelie vrylik toeganklik. Elke Suid-Afrikaner kan die hele Bybel
    teen ‘n minimale bedrag koop by ‘n boekwinkel, of selfs by die supermark. En
    die wat toegang tot internet het, kan dit gratis aflaai.

    Die
    volledige Bybel is beskikbaar in alle elf amptelike landstale. Laat ons ons
    seëninge tel, en daarmee woeker. Die Evangelie mag ook vandag, op Hemelvaart,
    vry klink.Laat ons ons wins daarmee doen.

    ‘n
    Ekstraordinêre genesingswonder lewer Christus nie op bestelling nie.

    Natuurlik
    laat Hy hulle nog steeds plaasvind, ook vandag. Hy weet wat Hy waar en wanneer
    nodig het. Ook in die 21e eeu gebeur daar nog wonderlike dinge.

    Is dit nie
    ‘n wonder dat tans, in die tweede dekade van 21e eeu, daar op ‘n Sondag meer
    Christene in China kerk toe gaan, as in alle Europese lande bymekaar getel nie!
    En ‘n paar dekades gelede het Christus Rusland, wat geruime tyd gesluit was vir
    die Evangelie, weer oopgemaak.

    ‘n
    Genesingswonder, of ‘n natuurwonder op bestelling afdwing vandag, dit is die wa
    voor die perde span. Laat ons ons oë oopmaak vir die eintlike wonderteken.

    Die teken
    van Jona.

    Dit is Jesus
    Christus, gesterf vir ons sondes, opgestaan uit die dood, opgevaar na die
    hemel, en nou gesete aan die regterhand van God.

    Dit is die
    grootste wonder.

    Dit is ‘n
    wonder dat ons vanaand ‘n erediens het ter ere van Hemelvaart.

    Dit is ‘n
    wonder as u vanaand die kerk verlaat met opnuut die besef: Christus regeer. Hy
    sal alle dinge laat meewerk ten goede van hulle wat Hom liefhet.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)