Petrus se hartstogtelike pleidooi

Text: 
II Petrus 1 : 15-2 : 3
Date: 
2017-04-30
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 30 April 2017 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 146:1,4

Wet

Ps 31:17,19

Gebed

Skriflesing:
2 Petrus 1-2

Sb
40:1,3,4,5

Teks: 2
Petrus 1:15-2:3

Preek

Ps 2:3,6

Gebed

Kollekte

Ps 40;6,7

Seën

Preek: 2 Petrus 1:15-2:3

Vandag se
teks het my laat dink aan ‘n vakansieplek wat so indrukwekkend is, dat een
besoek daaraan nie voldoende is nie. Hierdie teks is so ryk, dat een preek nie
voldoende is nie. Mens sou kon kies om die teks slegs uit hoofstuk 1 te neem.

Tog is dit
so dat hoofstuk 1 en 2 baie met mekaar te make het, en dat mens hoofstuk 1
slegs goed kan verstaan met die konteks van hoofstuk 2 in gedagte.

Dus ja, ‘n
geweldige ryk brief hierdie, waaroor mens baie preke sou kon maak.

Hierdie
tweede brief het Petrus kort voor sy dood geskryf. En die presiese rede hoekom
Petrus, so naby aan die einde van sy lewe, weer die pen opgetel het om nog ‘n
brief te skryf, daardie rede vind ons veral in hoofstuk 2. So te sien het
Petrus geen rustige emeritaat kon geniet nie. Op hoë ouderdom word hy geroep om
vir die waarheid in te staan, teenoor die valse leraars.

Tema: Petrus se hartstogtelike pleidooi

1 Hy waarsku sy medegelowiges teen die valse
leraars

2 Hy veranker hulle geloof weereens in die
betroubae profetiese woord

1 Hy waarsku sy medegelowiges teen die valse
leraars

Dit is dan
ook die primêre rede vir hierdie tweede brief. Petrus waarsku die gelowiges teen
hierdie dwaalleraars. En hy maak gebruik van dit wat God in die verlede gedoen
het, juis om ook die valse leraars te waarsku. God se oordeel oor hulle sal
kom, moenie ‘n fout maak nie. Moenie dink God praat net, maar dat niks sal
gebeur nie! Dink aan die engele wat gesondig het. Hulle is nie deur God gespaar
nie. Dink aan hoe God die ou wêreld nie gespaar het nie, maar met die sondvloed
gestraf het. Net Noag en sewe ander is gered. En dink aan hoe God die stede
Sodom en Gomorra tot as verbrand het. Hy het hulle tot ‘n voorbeeld gestel, vir
almal wat hulle in die toekoms goddeloos sou gedra.

Net die
regverdige Lot is gered.

Die gevolgtrekking
– dit is ‘n vertroosting en terselfdertyd ‘n vermaning aan die lesers van
Petrus se brief: die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos. Terselfdertyd
word die onregverdiges vir die dag van oordeel bewaar, om dan gestraf te word. En
hierdie drie voorbeelde uit die Ou Testament beklemtoon dat die bedreiging van
oordeel nie net leë praatjies is nie!

Petrus
gebruik in hierdie tweede brief van hom geweldige sterk woorde teen die valse
leraars: Redelose diere. Gebore om gevang en vernietig te word.

Hulle is
skandvlekkke en smette. Hulle oë is vol van owerspel. Hulle hou nie op om te
sondig nie. Hulle verlok onvaste siele. Hulle hart is geoefen in hebsug.

Hulle is kinders
van die vervloeking. Hulle het die regte pad verlaat.

Hulle het verdwaal.
Hulle het die weg gevolg van Bileam. Hulle is waterlose fonteine. Hulle is miswolke
voortgedrywe deur ‘n stormwind; Sjoe!

Petrus spoeg
gal oor hierdie valse leraars, dit is baie duidelik.

En Petrus
waarsku hulle dan, en ook elke gelowige wat hulle navolg:

As iemand,
nadat hy die kennis van die Saligmaker ontvang het, en as hy die besmettinge
van die wêreld ontvlug het, as hy nou tog weer teruggaan, en homself laat
verstrik, dan is die laaste erger as die eerste (2:20). Dit sou vir hom beter
gewees het as hy nooit die Evangelie in eerste instansie gehoor het nie.

Petrus
vergelyk dit met ‘n hond wat omdraai na sy eie uitbraaksel. ‘n Gewaste vark wat
terugkeer om in die modder te rol. Sjoe!

Nou in die
verlede is by die uitleg van Petrus se briewe veral daarvan uitgegaan dat die
apostel gewaarsku het teen die gnostiek. Die valse leraars sou dus gnostieke
denkers gewees het. Tog het historiese navorsing uitgewys dat dit nie werklik
die gnostiek was waarteen Petrus hier waarsku nie. Gnostiek was ‘n dwaling wat eers
in die 2e eeu na Christus begin opgang maak het in die kerk.

Gnostiek kom
van die Griekse woord vir kennis, en
het die liggaamlike as minderwaardig beskou. Ons sou vandag sê: dit was ‘n
oordrewe vroomheid wat die liggaamlike nie meer as ‘n skeppingsgawe van God
gesien het nie.

Die
kloosterlewe in die Roomse kerk, veragting van die huwelik deur monnike en
nonne, dit was ‘n latere uitvloeisel van die dwaling van die gnostiek.

Maar dit wat
Petrus hier skryf oor die valse leraars wys eintlik in ‘n ander rigting. Ons
sal meer moet dink in die rigting van dit wat ons ook in die briewe aan die
sewe gemeentes in Openbaring vind. Onthou, Petrus het sy twee briewe geskryf
aan die gelowiges in Klein-Asië, sien 1 Petr 1:1: die gelowiges in Pontus,
Galasië, Kappadocië, Asië en Bithinië.

Hierdie is
name van provinsies of landstreke in Klein-Asië.

En dit was
juis daar waar die sewe gemeentes geleë was aan wie Johannes in Openbaring
skryf: Efese, Smirna, Pergamum, Thiatire, Sardis, Filadelfia en Laodicea. So
dan maak dit ook sin dat die dwalinge en valse leraars waarteen Johannes in sy
briewe aan hierdie gemeentes in Openbaring waarsku, dat dit dieselfde dwalinge was
as waarteen Petrus waarsku.

 

As mens die
sewe briewe lees, en hulle vergelyk met wat Petrus skryf, dan lyk dit of die
eintlike probleem was die reële verleiding uit die heidendom wat nog elke dag
die gelowiges beïnvloed het. Die gevaar was dan ook meer eties van aard as
soseer dogmaties. Daarmee bedoel ek, nie in die eerste plek ‘n valse leer soos
bv. die gnostiek nie. Maar veral ‘n wêreldgelykvormige lewensstyl.

En die valse
leraars was hulle wat geen probleem hiermee gehad het nie. Geen probleem met
die losbandigheid nie. Ons sou dit vandag sekularisasie noem.

Dat daar
geen verskil meer sigbaar was tussen ‘n gelowige se lewe en ‘n wêreldse lewe
nie.

Nou hierdie
gevaar, waarvoor Petrus waarsku, was alreeds ‘n probleem by die eerste
generasie Christene in stede soos Efese, Smirna, Sardis ens.

Reeds vanaf
die begin was die kombinasie tussen die Christelike geloof aan die een kant en
‘n heidense lewe aan die ander kant vir baie ‘n aantreklike opsie.

Vir die
Christene was dit maar moeilik om radikaal te breek met die gewoontes van die
mense rondom hulle. Steeds het die gevaar gedreig van terugval in die
heidendom. Reeds die apostel Paulus het destyds, by sy vertrek uit Efese, die
oudstes gewaarsku vir die opkoms van dwaalleraars na sy vertrek (Hand 20:30).

En Petrus
waarsku dus veral teen leraars wat die verwêreldliking gelate, oogluikend
toestaan, ja dit in sommige gevalle selfs met soveel woorde goedpraat.

In Pergamum
het byvoorbeeld by sommiges losbandigheid voortgekom. Die apostel Johannes
verwys daarna as die ‘leer van Bileam’. Spesifiek die feit dat Bileam, toe hy
dit nie kon regkry om die verbondsvolk te vervloek nie, ‘n meer subtiele metode
gebruik het. Bileam, skryf die apostel Johannes, het Balak geadviseer om ‘n
struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te
eet en te hoereer (Openb 2:14). Verder was daar in Pergamus mense wat vasgehou
het aan die leer van die Nikolaïete. In die brief aan Efese verwys die apostel
Johannes ook na die werke van die Nikolaïete (Op 2:7).

Die leer van die Nikolaïete word vergelyk met die leer van
Bileam, wat Balak aangespoor het om die volk van die Here te verlei tot die eet
van afgodsoffers en om ontug te bedryf. Die sekte van die Nikolaïete het beweer
dat hulle afkomstig was van Nikolaüs, een van die eerste sewe diakens
(Handelinge 6:5).

Nikolaüs sou skynbaar gesê het: ‘n mens moet die
vlees minag.  Die sekte het hierdie
uitspraak uitgelê in dié sin dat mens die vlees moet misbruik.  Die vlees het tog geen ewigheidswaarde nie,
dus jy kan maar doen daarmee wat jy wil.

So het hulle dus seksuele losbandigheid
goedgepraat. Die kerkvader Clemens van Alexandrië skryf egter dat die
Nikolaïete Nikolaüs se uitspraak misbruik het.

Toe Nikolaüs gesê het dat mens die vlees moet
minag, het hy naamlik heeltemal iets anders bedoel. Nikolaüs het volgens
oorlewering naamlik ‘n baie mooi vrou gehad. En hy het op ‘n stadium die
kerkmense aangespreek op hulle jaloesie en hulle vermaan dat hulle haar moes
uitlos. Met sy uitspraak dat mens die vlees moet minag het hy totaal iets
anders bedoel as wat die Nikolaïete daarvan gemaak het. Hy het naamlik bedoel dat
mens sondige seksuele lusgevoelens geen ruimte moet gee nie, jy moet die baas
wees daaroor.

So word dit nou duidelik, teen watter dwaling en teen watter valse leraars
Petrus so ernstig waarsku. Dit is hulle wat ‘n kompromis getref het tussen
Christen wees, maar tog nog ‘n wêreldse lewensstyl wou handhaaf. Dit is iets
wat dikwels dreig, en dan praat ons nie net oor die verlede nie, maar oor alle
eeue, ook vandag. So ‘n lewenshouding word meestal eers heimlik ingevoer.

As iemand op ‘n punt wêrelds begin te lewe, sal hy dit nie by wyse van
spreke in die Kerkblad skryf nie. Maar subtiel sal hy probeer om ruimte te
begin bepleit vir so ‘n lewenswyse. En aan die einde van die dag gaan dit vir
sulke mense dan nie meer oor die Evangelie nie, maar hulle eie lewe hier en
nou.

Ook vandag,
al leef ons twee duisend jaar later, is dinge tog maar min of meer dieselfde. Die
wêreld en sy verlokkinge bly hulle aantrekkingskrag uitoefen, ook op gelowiges.
Dit gebeur so maklik dat gelowiges wêreldse gewoontes oorneem.

Soos om te
veel te drink. Of om vuil grappies te maak. Om die Sondagsrus te kompromiteer. Om
sondige films te kyk. Om pornografie te kyk. Om te dans.

Nou weet ek,
nie elke dans is sondig nie. Tog is in ons Westerse kultuur die lyn tussen dans
en losbandigheid dikwels moeilik om te onderskei. So laat ons onsself eerlik
afvra: is ons prioriteite nog reg? Om ‘n voorbeeld te noem: ervaar  jy die dans op die troufees belangriker as
die kerkdiens? Spandeer ons meer tyd om vir die dans voor te berei as vir die
kerkdiens?

Dit is nie
moeilik om jou in te dink, dat die weg van die waarheid gelaster sal word, as
die gelowiges self ontrou geword het. As die sout laf geword het.

Die weg van
die waarheid – dit is ‘n uitdrukking vir die kerk van Christus.

As die kerk
soos twee druppels water op die wêreld begin lyk.

As daar nie
meer ‘n ooglopende, ‘n opvallende verskil is, tussen hoe die wêreld lewe, en
hoe die gelowiges lewe nie. Petrus waarsku teen ‘n wêreldse lewensstyl.

Hy waarsku
sy medegelowiges teen hulle wat, eers heimlik, en op den duur openlik, ‘n
wêreldse lewensstyl probeer verdedig.

Hy draai nie
doekies om nie: sulke mense is valse leraars!

(Tema:
Petrus se hartstogtelike pleidooi

1 Hy waarsku
sy medegelowiges teen die valse leraars)

2 Hy veranker hulle geloof weereens in die
betroubare profetiese woord

Petrus,
ondertussen ‘n ou man, skud sy mede-gelowiges wakker. Moenie verblind raak,
moenie verdoof raak deur al die aanloklikhede van hierdie wêreld nie. Dis tyd
om weer te besef hoekom jy lewe. Dis tyd om weer na te dink waarheen jou lewe
op pad is!

Petrus
verwys self na die aflegging van sy tentwoning (1 Petr 1:14). Hierdie is ‘n
baie mooi beeld. Tentwoning dui naamlik nie net op die broosheid van ons
liggaamlike bestaan nie. Tipies vir ‘n tent is naamlik dat dit op verskillende
plekke opgeslaan kan word. En daardie verwysing sit ook hierin.

As jou
tentwoning hier afgebreek word, dan gaan die eienaar van die tent hom weer op
‘n ander plek opslaan. Petrus vertrou dat sy Heiland Hom nie sal verlaat nie, dat
Hy sy tentwoning weer elders sal opslaan. Dat hy die ewige lewe sal beërwe.

Maar om die
ewige lewe nie mis te loop nie, word daar wel bekering gevra, en voortgaande lewensheiliging.
Die mense aan wie hy nou skryf het deelgenote geword van die goddelike natuur (1
Pt 1:4)

Hy verwys
hier na die natuur, oftewel karakter, oftewel geaardheid, wat Christus in ons
werk deur sy Heilige Gees: deug, kennis, selfbeheersing, lydsaamheid, godsvrug,
broederliefde, naasteliefde. Hierdie vrugte van Christus se Gees se werk, skryf
Petrus, is nie opsionele ekstras, nadat ons gered, geregverdig is nie.

Dit is
noodsaaklikhede waarvoor ons ons moet inspan. Dis nie genoeg, skryf Petrus, dat
julle ‘n paar dekades gelede bekeer is, Christus aangeneem het, deelgeword het
van die kerk nie. En nou lewe julle maar weer aan, wêreldgelykvormig in baie
opsigte.

Deelgenote
van die goddelike natuur wil sê dat ons al hoe meer die karakter, die
geaardheid van Christus moet begin vertoon. Petrus skryf: julle moet julle beywer om julle roeping en verkiesing
vas te maak. As hierdie vrugte naamlik nie by ‘n verloste persoon aanwesig is
nie, dan (1 Petr 1:9) is die persoon blind en kortsigtig, daai persoon het
teruggeval, hy het die reiniging van sy vorige sondes vergeet. Iemand wat
aanhou om wêrelds te lewe, om losbandig te lewe, sal nie die koninkryk beërwe
nie.

Sonder
heiliging sal niemand ingang in die ewige koninkryk van ons Saligmaker kry nie.
Dit klink miskien onlogies, maar ons moet hierdie dinge goed onderskei.

Die ingang
in die koninkryk is nie te danke aan ons heiliging, aan ons goeie werke nie. Dis
te danke aan Chrsitus se regverdiging, sy soenverdienste.

Maar, al het
Hy vir ons die ingang verdien, terselfdertyd geld dat sonder heiliging die deur
weer gesluit sal word. Dit is hierdie ernstige realiteit wat Petrus sy lesers
voor oë hou.

Die tydstip
waarop Petrus hierdie brief geskryf het, was waarskynlik teen die einde van sy
lewe. Hy skryf naamlik (1 Pt 1:14) dat die aflegging van sy tentwoning op hande
is. Al het die tweede brief in sy aanhef geen aanduiding aan wie die lesers is
nie, weet ons wel dat Petrus hierdie tweede brief aan dieselfde mense skryf as
aan wie hy sy eerste brief geskryf het.

Ons lees dit
naamlik in 2 Pt 3:1: “Dit is reeds die tweede brief, geliefdes, wat ek aan
julle skrywe.” Vir baie van die gelowiges aan wie hy skryf, het gegeld: dit was
nou al weer lank gelede dat hulle tot geloof gekom het, dalk al weer dekades
gelede. Daar het al weer so baie gebeur sedertdien. Die lewe het sy verdere
verloop geneem. Die eerste entoesiasme oor die Evangelie, het rustiger geword.

Die
geweldige toewyding en ywer vir Christus en sy kerk, wat het daarvan oorgebly? Ja,
vir sommiges het gegeld dat die tyd, die jare, die entoesiasme laat taan het. Die
gewilligheid om te stry teen slegte gewoontes, teen wêreldgelykvormigheid, teen
‘n verkeerde lewenstyd, het afgeneem. Die bereidwilligheid om vordering te maak
in ‘n lewe van toewyding en heiliging.

En wat
Petrus veral nou doen, in opdrag van die Gees, is om die Evangelie weer af te
stof. Om opnuut te beklemtoon hoe kosbaar die Evangelie is! Ja, skryf hy in
vers 16: ons het nie maar net kunstig verdigte fabels nagevolg nie.

Ons was
aanskouers van Christus se majesteit!!! Dit wat ons vir julle deurgegee het,
het ons nie van hoorsê ontvang nie.  Nee,
ons was self getuies. Ons vertel feite, nie fabels nie. Petrus beklemtoon: wat
ek met julle gedeel het, was nie my eie insigte nie. Dit was nie my eie
uitlegging, my eie interpretasie nie.

Geen
profesie van die Skrif is ‘n saak van eie uitlegging nie.

Maar deur
die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

Christus het
van God die Vader eer en heerlikheid ontvang. En Petrus was self daarby, hy was
‘n oog- en oorgetuie toe God die Vader self persoonlik uit die hemel gepraat
het! Petrus, nou ‘n ou man, getuig duidelik en sonder misverstand. Ja ek was
getuie: hierdie stem het ons uit die hemel gehoor!

Die Vader
het uit die hemel gespreek, ek het dit persoonlik gehoor!!!

“Dit is my
geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” Petrus dubbel onderstreep na dekades
weer, dit wat hy as ooggetuige meegemaak het.

Dit is die
waarheid! Dit is nie kunstig verdigte fabels van onsself nie.

Allermins. Hierdie
stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg
was (1 Pt 1:18). Ja die Vader het meer as een keer direk tot die dissipels
gespreek. U onthou moontlik die eerste keer, dit was toe Jesus gedoop is. Toe
het die Gees soos ‘n duif uit die hemel neergedaal.

En toe het
die Vader gespreek, Matt 3:17: “En daar kom ‘n stem uit die hemele wat sê: Dit
is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.”

Maar daar
was nog ‘n keer wat die Vader direk uit die hemel gepraat het.

Toe was
Jesus saam met drie van sy dissipels, Petrus, Johannes en Jakobus, op die berg,
en daar het Moses en Elia verskyn en in gesprek gegaan met die Messias. Toe is
die Here Jesus verheerlik voor hulle oë.

Matt 17:5:
“Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n
stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister
na Hom!”

Dit was ‘n
baie beangstigende ervaring vir iemand soos Petrus.  Hy het dit nooit weer vergeet nie. En nou,
naby die einde van sy lewe, staan dit hom nog helder voor oë. En daar is geen
enkele, ja geen millimeter twyfel by Hom oor die waarheid van die Evangelie
nie. Hy skryf: “ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog
moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek
en die môrester opgaan in julle harte.”

Hierdie
profetiese woord profeteer veral oor die wederkoms van Christus.

Petrus was
aanskouer van Christus se majesteit. Soos die Ou Testament geprofeteer het van
die Messias se koms, dink aan Psalm 2.

Die Ou
Testament was soos ‘n lamp in die donkerte.

Maar toe die
Messias gekom het, was dit die môrester wat sy opwagting gemaak het. Op
dieselfde manier gaan ons nou deur die bedeling van die Nuwe Testament, met die
seker wete dat Christus sal weerkom. Christus is die môrester. Dit was toe die
gebruiklike naam vir die planeet Venus, wat kort voor sonopkoms sigbaar word. As
die môrester verskyn, beteken dit dat die dag amper gaan aanbreek.

Petrus, wat
Christus se heerlikheid aanskou het, besef des te meer wat ons te wagte staan
by die wederkoms. As Petrus in vers 16 skryf: ons het nie kunstige verdigte
fabels nagevolg, toe ons julle die koms van ons Here Jesus Christus bekend
gemaak het nie, dan dui Petrus hier spesifiek op sy wederkoms!

“krag en
koms”, vers 16, kan eerder vertaal word as: kragtige koms, indrukwekkende koms,
wat ons te wagte staan. As jy dit besef, dat jy oog in oog te staan gaan kom
met sy majesteit en heerlikheid, dan sal jy twee keer dink om nou in die hede
oor te gaan tot ‘n wêreldse lewenstyl!

Geliefde
gemeente, kom ons neem hierdie hartstogtelike pleidooi van die apostel Petrus
ter harte. Deur die Heilige Gees gedrywe, het Hy dit neergeskryf, kort voor sy
sterwe. Dit was uit liefde vir die kerk van Christus dat hy weer die pen
opgeneem het. Omdat hy gesien het sommiges van hulle begin afgly in
wêreldgelykvormigheid.

Petrus trek
sy lesers terug na die ware godsdiens, die opregte toewyding van hulle lewe. Sien
Christus. Sien Hom in sy Woord, soos die apsotels, wat ooggetuies was en van
Hom getuig het.

En kyk veral
vooruit, verwag Hom op die wolke!

As sy
wederkoms vir jou ‘n realiteit is, sal dit jou op die regte spoor hou.

Is Sy
wederkoms vir jou ‘n realiteit?

Dit sal keer
dat jy wêreldgelykvormig raak.

Dit sal sorg
dat die dag as jou tentwoning
afgebreek word, dat jou lewe verplaas sal word na jou ewige woning, by jou
Verlosser en Koning.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata