Glo in die Evangelie van Christus se bloed

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-04-14
Text: 
Levítikus 7 : 26 en 27
Preek Inhoud: 

PRETORIA & PRETORIA-MARANATA, 14 April
2017 AD, 9:30 (Goeie Vrydag)

Votum

Seën

Ps 22:1

Gebed

Skriflesing:
Levitikus 7:22-27 & Levitikus 17:10-14

Ps 50:3,4

Skriflesing:
Johannes 6:53-71

Sb 8:2

Skriflesing:
Handelinge 15:1-21

Sb 24:3

Teks:
Levitikus 7:26-27

Preek

Ps 118:13,14

Gebed

Geloofsbelydenis:
NGB 21 & 26

Sb 9:4,5

Kollekte

Ps 22:11

Seën

Preek: Levitikus 7:26-27

Die woord
bloed neem ‘n sentrale plek in, in die Bybel. So ook in die Belydenisgeskrifte.
So ook in die kerksang. Dink aan Psalm 50:4, om maar een van die baie
voorbeelde uit die Psalms te noem:

“Ek is jou God, my volk is jy!

Ek sal jou
geen verwyte maak

oor offers
aan My toegewy:

jou
offerbloed en offergeur

is voor My
altyd, altyddeur.”

Dink ook aan
die woorde wat ons nounet gesing het: “Die losprys was u bloed, wat U vir ons
gestort het, 

waardeur
ons, rein gewas,

'n
priestervolk geword het.” (Sb 8:2)

Of dink aan
Sb 24:3:

“Tot roem en
prys van Gods genade,

die grond van ons behoudenis,

sing ons nou van sy reddingsdade

in Hom wat die Geliefde is.

Uit Hom in wie ons nou weer vry is

van skuld, deur sy verlossingsbloed”

 

Die woord bloed loop soos ’n rooi draad deur die Bybel. En
vandag, op Goeie Vrydag, is dit ook wat ons aandag vra.

Ek verkondig u die Evangelie aangaande Christus se bloed
met hierdie tema:

Tema: Glo in
die Evangelie van Christus se bloed

  • die verbod op die nuttig van
    bloed in die OT

  • die verbod op die nuttig bloed in
    die NT

  • geloof in die Evangelie van
    Christus se bloed

    Die verbod op die nuttig van bloed in die OT

    Die verbod
    op bloed staan in Levitikus 7 in die konteks van die vredeoffer. Dit was die
    enigste soort offer waar die volk ook mog saameet. In Levitikus lees ons oor
    verskillende soorte offers: die brandoffer, spysoffer, dankoffer, sondoffer,
    skuldoffer, vredeoffer. Die vredeoffer was dus ‘n offermaaltyd. Die priester,
    en die persoon wat die offer gebring het asook sy gesin, het saamgeëet. Die
    priesters het die leiding gehad, en moes toesien dat die maaltyd goed verloop.

    In hierdie
    konteks staan die verbod op die drink van bloed.

    Tog is die
    verbod op bloed wyer as net daardie offermaaltyd.  Nie net as jy by die tempel is en ‘n
    offermaaltyd geniet het, nêrens mag jy bloed drink nie.

    In geeneen
    van julle woonplekke nie. Geen bloed van voëls of van vee nie.

    Nou kom die
    vraag op: hoekom was dit so streng verbode? Wat is daar fout met die eet of
    drink van bloed? Die HERE het selfs instruksies gegee dat die diere op ‘n
    spesifieke wyse geslag moes word, sodat al die bloed eers kon uitloop.

    Hierdie
    verbod op bloed word eers duidelik as mens besef dat in daardie tyd daar
    bygelowige waarde aan die drink van bloed geheg is. Dis die rede hoekom die
    HERE nie wou hê dat sy volk deelneem aan hierdie bygeloof nie. Algemeen was dit
    die opvatting dat ‘n dier se lewe in sy bloed was.  As ‘n dier of ‘n mens bly bloei, is dit mos
    so dat sy lewe uit hom uitvloei. Nou het die mense gedink: as jy daardie bloed
    van ‘n dier opdrink, veral as dit nog warm is, dan neem jy die lewenskrag van
    daardie dier in jou op. Dit het jou sterkter gemaak.

    Die heidene
    het selfs gedink dat die lewenskrag van die gode in bepaalde diere se bloed
    was. As jy die bloed van so ‘n godedier sou drink, het jy dus goddelike kragte
    ontvang.

    Opvallend is
    dat ons in Levitikus 19:26 weer die verbod op die drink van bloed vind, maar
    dan in kombinasie met ‘n verbod op waarsêery en towery. Dit skets die
    bygelowige konteks waarbinne die drink van bloed gefunksioneer het.

    Daarenteen
    het die HERE ‘n ander simboliek aan bloed verbind.  Die bloed van die diere wat gevloei het by
    die tempel, moes as plaasvervangende betaling gesien word vir die mens se eie
    bloed, wat eintlik moes gevloei het.

    Voorlopige
    genoegdoening, tot daar ‘n Middelaar sou kom wat met sy bloed werklik sou
    betaal.

    Nou leef ons
    vandag nie meer in die Ou Testament nie, maar in die Nuwe.

    Deur die
    bloedstorting van ons Here Jesus Christus is die Oud-Testamentiese
    offerwetgewing vervul. Die dierebloed met sy simboliek het ook sy vervulling
    gevind in Christus. Daarom het Petrus van God ‘n visioen ontvang (Handelinge
    10), dat onreine diere ook voortaan geëet mog word, en dat die offerwette nie
    meer gegeld het nie. Want  Christus se
    bloed het gevloei. Die bloed van geslagte diere hoef ons nie meer te herinner
    aan die bloed van ‘n Middelaar wat nog moet kom nie.  Want die Middelaar het gekom.

    Die verbod op die nuttig bloed in die NT

    Maar wat dan
    opvallend is, is dat ons tog ook weer in die Nuwe Testament die verbod op die
    drink van bloed terugvind. In Handelinge 15.

    Tydens sy
    sendingsreise het Paulus met baie heidene in aanraking gekom, wat tot geloof
    gekom het in Christus. In ooreenstemming met Petrus se visioen was dit nie
    nodig vir hierdie heidene om hulle aan Moses se voedselwette te hou nie.

    Tog het daar
    baie onduidelikheid bly bestaan, oor wat nou wel en wat nie vir hulle geoorloof
    was nie. Met die gevolg dat die verskil in lewenstyl tussen die
    heiden-Christene en die Joodse Christene ‘n bron van spanning in die kerk
    geword het. Daarom is daar ‘n spesiale vergadering in Jerusalem gehou om
    hierdie sake uit te klaar.

    Die apostel
    Jakobus het byvoorbeeld uitgespreek:

    “Daarom
    oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet
    bemoeilik nie.”

    Met
    bemoeilik word bedoel dat hulle al die Mosaïese voedsel- en reinheidswette ook
    moes nakom. Maar, vervolg Jakobus, “dat hulle hul moet onthou van die dinge wat
    deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed.”
    (Hand 15:19-20)

    Vier dinge
    word hier verbied. Oppervlakkig lyk dit of hierdie vier dinge niks met mekaar
    te make het nie. Maar hulle het. Hulle het naamlik al vier te make met die
    heidense offerkultus. Die offerkultuur wat normaal was in byvoorbeeld
    Klein-Asië, in al die stede en dorpe waar Paulus op sy sendingsreise was.

    Dink aan
    stede soos Ikonium, Listre, Derbe, dink aan Korinthe en Athene, dink aan die
    eiland Cyprus.

    Orals het
    die vraag opgekom: hoe moet die heidense bekeerlinge nou as Christene lewe? Moes
    hulle net soos die Jode begin lewe?  En,
    mog hulle bly deelneem aan die offertradisies van hulle stad? Oor hierdie vrae
    het daar verdeeldheid bly heers. Dit het tot hierdie belangrike vergadering in
    Jerusalem gelei, waarvan ons in Handelinge 15 lees. Daar het duidelikheid
    gekom. Die heiden-Christene was nie verplig om soos Jode te begin te lewe nie. Maar,
    wat betref die heidense offerkultus mog hulle hulle ou lewenstyl NIE voortsit
    nie.

    Hulle moes
    wegbly van alles wat deur die afgode besoedel is. Mens kan dink aan die
    offermaaltye. Die vleis wat op ‘n afgod se altaar gelê het. Daardie vleis is
    vervolgens by die afgodstempels verkoop. Die Christene moes hulle daarvan
    onthou. Dalk onthou u, maar in die kerk van Korinthe was daar juis op hierdie
    punt ook baie diskussie. Paulus skryf daaroor in 1 Korinthiërs 10.  Hy begin met die stelling: alles wat in die
    slaghuis verkoop word mag ek eet sonder om navraag te doen. Met navraag bedoel
    hy hier dat mense sou uitvind of dit vleis was wat eers aan die afgode geoffer
    was of nie. Ook, skryf Paulus, kon dit gebeur dat jy by mense gekuier het en
    hulle jou uitnooi om saam te eet. Ook in daardie geval weet jy nie of die vleis
    wat voorgesit word,miskien afgodsvleis is of nie.

    In sulke
    gevalle, skryf Paulus, kan jy maar eet sonder om navraag te doen.

    Immers, die
    aarde en alles wat daarop is behoort in elk geval aan die HERE – verwysing na
    Psalm 24. Maar, wanneer ‘n mede-gelowige jou daarop sou wys dat die vleis
    afkomstig is van ‘n afgodsaltaar, moenie eet nie. So gee jy jou mede-gelowige
    nie aanstoot nie, en behou jy ‘n skoon gewete.

    En dan, naas
    die vleis wat deur die afgode besoedel is, lees ons in Handelinge dat die
    Christene uit die heidendom tweedens opgeroep word om hulle te onthou van
    hoerery. Ook dit het verband gehou met die heidense offerkultus. Onderdeel van
    die offerkultuur was tempelprostitusie. Priesters het seksuele omgang gehad met
    hulle wat kom offer het. Daar was tempelprostitute en skandknape.

    Hierdie
    seksuele immoraliteit, oftewel hoerey, was normale praktyk by die heidense
    tempels in daardie dae. Die hele dorp het daaraan deelgeneem.

    Christene
    wat egter hulle uit die heidendom bekeer het, moes by die tempels wegbly, en
    dus ook by die losbandigheid wat by die tempels gehoort het.

    Die derde
    verbod sê dat hulle hulle moes onthou van wat verwurg was.

    Ook hierdie
    verwys na diere wat vir die afgode geoffer is. Verwurg beteken dat die bloed
    nog in die vleis was, wat ook weer met die heidense bygeloof te make gehad het.

    En dan
    vierdens moes hulle hulle onthou van bloed. Die bloed is algemeen deur die
    priesters en mense wat kom offer het, gedrink. Daar is geglo dat die lewenskrag
    in die bloed was. In die Romeinse wêreld het die swaardvegters, die gladiators,
    sodra hulle hulle opponent gedood het, sy warm bloed gedrink.  Om sodoende sy opponent se lewenskrag in
    homself op te neem. Afgodery met bloed was dit.

    Gemeente, daar
    bestaan ‘n baie ou verhaal, oor een van die martelaresse in die vroeë kerk. Dit
    was ‘n vrou met die naam Biblias, wat in Lyon, Frankryk gewoon het. In daardie
    tyd was daar baie verhale en misverstande in omloop oor wat die Christene
    gedoen het. Daar het ‘n persepsie geheers dat Christene aan die nagmaal die
    bloed van kinders gedrink het. Maar Biblias het baie verontwaardig op hierdie
    valse aantyging gereageer.  ‘Hoe sou ons
    kinders eet, as dit vir ons as Christene selfs nie eers geoorloof is om die bloed
    van diere te drink nie?’ (Eusebius, Kerkgeskiedenis
    5,1,25).

    Uit hierdie
    opmerking blyk dat Biblias op die hoogte was van hierdie verbod uit Handelinge
    15. Christene moes hulle onthou van bloed.

     

    Hierdie vier
    opdragte in Handelinge 15:20 het dus almal te make met die kern van die
    Evangelie. Ons is van God alleen afhanklik. Ons kan nie ons eie lewe verleng
    deur ander diere of mense se bloed te drink nie. Dit is afgodery. Nuwe
    lewenskrag ontvang ons slegs deur Christus se plaasvervangende bloedstorting.

    Ja danksy sy
    bloedstorting aan die kruis ontvang ons selfs die ewige lewe!

(Tema: Glo in die Evangelie van Christus se bloed)

  • die verbod op die nuttig van bloed in die OT

  • die verbod op die nuttig bloed in die NT

    Geloof in die Evangelie van Christus se bloed

    Glo in
    Christus en in sy Middelaarswerk! So was dus die heidense en die Joodse
    Christene aan mekaar verbonde: een in hulle vertroue op Christus se
    Middelaarswerk alleen! Die Joodse Christene was besny, die heiden-Christene
    nie. Die Joodse Christene het nie varkvleis geëet nie, die heiden-Christene
    wel.

    Maar in
    Jesus Christus, in die vertroue op sy Middelaarswerk was hulle een!

    Ons gaan nou
    terug na die verbod in Levitikus. Dit is inmiddels duidelik hoekom die HERE die
    drink of eet van bloed so streng verbied het. Dit was omdat dit ‘n afgodery
    was.  Dit was ‘n oortreding van die
    eerste gebod: Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Die HERE kon
    hierdie bygeloof nie voor sy oë verdra nie. In sy offerwette het die HERE sy
    volk die waarheid voorgehou. Met die drink van bloed kan jy nie jou lewe
    verleng nie. Met die offerdier se bloed het die HERE sy volk daarom in ‘n heel
    ander rigting gewys. Die offerdier was ‘n tydelike plaasvervanging.  Die offerdier se bloed het gevloei, dws sy
    lewe is geneem, pleks van die mens s’n. Soos die HERE in Levitikus 17:11 sê:
    “Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te
    doen, want die bloed bewerk versoening”.

    Die bloed
    moes nie gedrink word nie, maar die bloed moes vloei ter herinnering.

    Eintlik het
    jy die doodstraf verdien, nie hierdie dier nie. Maar God stel jou straf uit. Dit
    was nie ‘n werklike betaling nie. Dit was ‘n simboliese, kultiese herinnering
    aan die feit dat ‘n ware Middelaar nog moes kom.

    Gemeente,
    sien u die verskil tussen die heidense gebruik van bloed en wat God se volk
    daarmee moes doen? Die heidene sou sê oor die offerkultus by die tempel in
    Jerusalem: sonde van al die dierebloed wat vloei, al die kragte daarin word
    gemors! Mens sou dit moes opdrink! Dit sal jou soveel lewenskrag gee!

    Maar God se
    volk mog die werklike stand van sake leer besef: Dierebloed help jou nie ‘n
    meter verder nie. Dit is pure afgodery.

    En afgode
    bestaan nie, hulle is leweloos.

    Broers en
    susters, ons vier vandag Goeie Vrydag.

    Ons herdenk
    dat die vloei van dierebloed nie meer hoef plaas te vind nie.

    Christus het
    die bloedstroom by die tempel tot stilstand gebring. Sy lewe is geneem, as
    betaling vir ons sondes. Nou mag ons in vryheid lewe, met die dankbare
    voortuitsig selfs van die ewige lewe, danksy Christus se bloed!

     

    Hieraan dink
    ons dankbaar terug op Goeie Vrydag. Hieraan dink ons dankbaar terug, elke keer
    as ons nagmaal vier. As ons wyn drink, ter gedagtenis aan die bloed van
    Christus. Dan drink ons sy bloed, sakramenteel gesproke, om daardeur nuwe
    lewenskrag te kry, geestelik gevoed, versadig en verkwik te word, ja selfs tot
    die ewige lewe.

    Net vir die
    duidelikheid: dit bedoel ek nie as afgodery nie. As Christus sê in Johannes
    6:54: “Hy wat my vlees
    eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste
    dag.” – dan bedoel Jesus dit nie op die heidense manier nie. Geen afgodery,
    geen towery, geen magie met bloed nie, geen letterlik bloed drink nie! Christus
    bedoel dit simbolies, sakramenteel. Nuwe lewenskrag, die ewige lewe, ontvang jy
    deur in Christus se glo! Deur dankbaar te besef en te aanvaar dat Hy gekruisig
    is, terwyl jy daar moes gehang het. Dat Hy deur God opgewek is uit die dood. Dat
    jy ook deur God opgewek sal word uit die dood, as jy in Christus glo.

    So ontsluit Christus
    se bloed vir u die toekoms.  Op Goeie
    Vrydag mag ons daarby stilstaan en dit herdenk. Hierdie dag waarop dit pikdonker geword het,
    noem ons ‘n goeie dag. Dit was ‘n pikswart dag vir Christus, dit was die
    absolute dieptepunt van sy lewe. Maar tog noem ons dit goed. En dit maak sin as
    mens besef dat wat op daardie dag gebeur het, plaasvervangend was.

    Dit was
    Middelaarswerk!

    So het Hy al
    die offers van die Ou Testament vervul.

    Daar word
    soms gevra, Christus se offer aan die kruis, watter soort offer was dit?

    Was dit ‘n
    brandoffer, spysoffer, dankoffer, sondoffer, skuldoffer, of vredeoffer?

    Mens kan sê
    dat in Christus se kruisoffer al hierdie offers vervul is. Christus se
    kruisoffer het almal voortaan oorbodig gemaak. 
    Die brandoffer moes die volk se totale toewyding aan God simboliseer, en
    die volk se ononderbroke gebedslewe.

    Die
    spysoffer het gedien as dank aan God vir die hele oes wat Hy geskenk het.

    Die
    dankoffer moes dien as die dankbare vervulling van ‘n spesifieke gelofte.

    Die
    sondoffer moes versoening bring vir sondes wat onbedoeld plaasgevind het, vir
    al ons gebreke, onreinheid, selfs siektes. En die skuldoffer moes versoening
    bring vir sondes wat met opset gepleeg is. Al hierdie offers is in Christus
    vervul.

    So het sy
    kruisoffer vrede bewerkstelling tussen God en sy volk.

    Permanente
    vrede. Ja dit was die ultieme vredeoffer.

    In vandag se
    lewe is daar baie van ons wat nie meer elke dag met bloed in aanraking kom nie.
    Baie mense gril daarvan net om bloed te sien, laat staan om dit te drink. Tog
    bly die werklikheid vandag nog net soos in die verlede, en alle dokters,
    verpleegsters en paramedici sal dit dadelik beaam:

    as jou bloed
    uit jou vloei, vloei jou lewe uit jou uit. Daarom staan bloed tereg simbool vir
    jou lewe. As Christene heg ons egter nie bygelowige waarde aan bloed nie.

    Maar ons
    besef des te meer dat die feit dat Christus se bloed gevloei het aan die kruis,
    dus die feit dat sy lewe geneem is, uit Hom uitgevloei het, dat dit sy
    Middelaarswerk vir ons was!  Wat ‘n
    voorreg om so die diepe en ryke betekenis van die Evangelie te besef. Wat op
    Golgota gebeur het, was iets wat ‘n ewigdurende impak het op almal wat in
    Christus glo.

    Daarom vier
    ons hierdie Goeie Vrydag elke jaar weer. Tussen hakies, daar is mense wat
    beweer dat Christus eintlik op ‘n Donderdag gekruisig is.  Dan sou die Bybelse uispraak dat Hy drie dae
    en drie nagte in die graf was, meer sin maak.

    Dit voer te
    ver om nou hieraan aandag te skenk.

    Feit bly dat
    Hy gekruisig is, en dat dit ‘n oneindige goeie dag vir ons was.

    Oor sy kruisoffer
    sal ons daarom bly sing.

    Eerstens met
    die woorde van die Psalms, wat profeties na Golgota toegewys het.

    Dink
    byvoorbeeld aan Psalm 118:13, wat profeteer oor ons Messias:

    Geseënd is die grote Koning

    wat aankom in die HEER se Naam;

    geseënd uit die HEER se woning

    is volk en Koning altesaam.

    Die HEER, die God van ons betroue,

    Hy kom ons met sy ligglans teen;

    bind dan die offerdier met toue

    en lei dit na die altaar heen.

    Profeties
    wys hierdie offerdier op Christus.

    En tweedens
    sing ons ook met nuwe liedere, soos hierdie een:

    In die kruis sal’k ewig roem,

    En geen wet sal my verdoem.

    Christus het die vloek gedra vir my,

    Christus het vir my gesterf,

    Het genade vir my verwerf,

    Ek is van dood en sonde vry.

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)