Geen misbruik nie, maar eerbied vir die HERE en sy Naam

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-01-29
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 36 en 37
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 29 Januarie 2017 AD, 17:30

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 145:1,5,6,7

Gebed

Skriflesing: Amos
5:21-27; 1 Petrus 3:8-17

Ps 10:7,8,9

Teks: Heidelbergse
Kategismus Sondag 36 & 37

Preek

Ps 15:1-5

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 8:1,3,4,7

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 36-37

Jy mag die naam van die
HERE nie ydelik gebruik nie. Ons as mense is uit onsself geneig om te sê: is
dit regtig so erg? As iemand vloek, is dit tog net woorde? Moet mens dit so
ernstig opvat? Per slot van rekening, God is tog nie afhanklik van ons mening
nie. Hy is tog nie ‘n mens nie. ‘n Mens kan soms daaronder gebuk gaan, of in
die nag wakker lê, as iemand anders jou belaster. Maar God staan mos daarbo? Gemeente,
as mense kan ons die neiging hê om die erns van hierdie gebod nie te besef nie.
Dit is daarom ook nie toevallig dat God eksplisiet aan hierdie gebod toevoeg:
die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. Sê
die HERE dit omdat Hy nie ‘n gesonde en stabiele selfbeeld het nie? Sê die HERE
dit omdat Hy baie afhanklik is van ons gevoelens? Nee, die HERE sê dit ter
wille van ons. Omdat Hy ons liefhet en ons wil beskerm teen gevaar. Want God
weet, sondes begin nooit met ‘n daad nie, sondes begin altyd met ‘n gedagte, en
daarna ‘n woord, en eers daarna kom die daad. Neem ‘n ander gebod, net as
vergelyking. As iemand owerspel pleeg, is dit ‘n daad waaraan baie woorde en
gedagtes vooraf gegaan het. Dit is net soos ‘n plant wat, as hy uit die grond
uitkom, alreeds ‘n lang wortel het. Gedagtes word woorde, en woorde word op die
ou einde dade. Wie verkeerde gedagtes of woorde nie betyds stop nie, sal vroeg
of laat oorgaan ook tot verkeerde dade. En dit is presies wat die HERE God ons
met die derde gebod duidelik wil maak. Om ondeurdag, of onsorgvuldig, of
oneerbiedig sy Naam te gebruik, is nie iets wat onskuldig is nie. Dis nie iets
wat net op homself staan nie. Dit is die begin van iets wat verder sal gaan. Daarom
is die Bybel se boodskap radikaal: vir God is sondes in jou gedagtes, of met jou
woorde, net so erg as sondes met die daad. Wie nie baas is oor sy eie tong nie,
en dus die derde gebod oortree, hy loop die risiko dat dit ook oorgaan tot die
oortreding van die tweede gebod, en selfs die eerste gebod. Dit wil sê, dat nie
net die Naam van God vir jou ydellik word – dit beteken leeg of betekenisloos –
nie.

Maar dat ook die Persoon
van God vir jou niksseggend en inhoudloos word.

Daarom sê die HERE vir
ons: Misbruik van my Naam is nie ‘n kleinigheid nie. Jy kan my Naam nie
ongestraf misbruik nie.

Gemeente, verstaan u nou
hoekom God juis goed vir ons is, deurdat Hy aan ons hierdie gebod gegee het?  Hierdie gebod is net so belangrik as die
eerste gebod. Om te vloek (3e gebod), of om ‘n afgod te aanbid (1e gebod), die
eerste is nie minder erg as die laaste nie.

Tema: Geen misbruik nie, maar eerbied vir die HERE en sy Naam

  1. Misbruik met
    opset

  2. Misbruik
    sonder opset

  3. ‘n Eed sweer

  1. Misbruik met
    opset

    ‘n Naam en die persoon
    daaragter kan nie van mekaar geskei word nie.

    Dit geld vir God, dit
    geld ook vir mense. Elke mens ervaar sy eienaam as iets wat spesiaal is. As
    iemand jou naam ken, is dit ‘n teken van verbondenheid.

    Jy is nie net ‘n nommer
    nie. Om God se Naam ydel te gebruik, beteken dat jy Homself tekort doen. Positief
    gesê: as jy op sy Naam vertrou, dan vertrou jy op God self. In Spreuke 18(:10)
    word gesê dat God se Naam ‘n sterk toring is. God self is vir jou ‘n skuilplek,
    soos ‘n sterk toring waar jy veilig is.

    As God dit vir ‘n mens
    is, wil wees, dan is dit eintlik verdrietig as mense nie by Hom wil skuil nie. As
    hulle Hom selfs laster. Hierdie laster sluit dikwels ook in dat hulle wat wel
    by God wil skuil, ook gelaster word. Die feit dat jy ‘n Christen is, die feit
    dat jy kerk toe gaan, dit word ook gelaster. Mens wonder soms, wat sit
    daaragter, dat mense soms so giftig kan wees teenoor kerkmense. Waaraan het ek
    dit verdien, net omdat ek kerk toe gaan?

    Gemeente, die feit dat
    soiets gebeur is bewys daarvoor dat daar ‘n geestelike stryd op aarde heers. Mense
    het ‘n antipatie teen jou, net omdat jy kerk toe gaan. En vir ons is dit ‘n
    opgawe om daardie koue houding nie self ook met vyandskap te beantwoord nie. Maar,
    ten spyte daarvan, tog ander mense lief te hê. Soos Christus ons beveel het, om
    selfs ons vyande lief te hê. Maar agter antipatie teenoor kerkmense skuil
    dikwels gevoelens teenoor God. En as daar nie gekommunikeer word nie, is dit so
    maklik om ‘n karikatuur te vorm. Wie nie met sy medemens praat nie, kan maklik
    ‘n verkeerde beeld van hom vorm. Wie nie na God se Woord luister nie, kan ook
    maklik ‘n karikatuur van God ontwikkel. Maar wees dus nie verras as jy dit
    ervaar nie. Dalk onder kollega’s, dalk bure, en veral dikwels op TV en in
    films. Die laster van die Naam van die HERE. En in die kielsog daarvan, die
    laster van die naam van die kerk van die HERE, want die kerk verteenwoordig die
    HERE se Naam op aarde. Wees nie verras, daar is ‘n geestelike stryd op aarde. En daar is dus mense wat doelbewus laster.

    Moenie dat dit jou
    onkant vang nie. Maar probeer self gewoon ‘n soutende sout te bly. Bly trou,
    soos God dit van jou verwag. En as die geleentheid hom voordoen, waarsku mense.
    Want die derde gebod is waar, wie nie ophou nie, sal met God se straf te make
    kry. Dink aan wat daar in Openbaring 16 staan. Dis nie aangename woorde nie,
    maar later sal mense vir julle dankie sê, as julle hulle betyds gewaarsku het. In
    Openbaring 16 gaan dit oor mense vir wie dit te laat was. Openbaring 16:9: “En
    die mense is geskroei met ‘n groot hitte, en hulle het die Naam van God
    gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom
    heerlikheid te gee nie.”

    Daarteenoor, is dit ‘n
    verademing (vertroosting) as iemand, byvoorbeeld deur kollegiale kontakte, ‘n
    Christen werklik persoonlik leer ken. Want dis die beste medisyne om
    vooroordele weg te neem. Laat ons, Christene, opkom vir die heilige Naam van
    God. Dit doen jy deur jouself te wees, standvastig, goed vir ander mense. Ek
    noem dit veral ook, want opkom vir die Naam van God is meer as net ander daarop
    aanspreek as hulle vloek.

    Jy is ‘n instrument in
    God se hand, deur jou woorde en dade
    word ander mense sover gebring om God se Naam te heilig. Of in elk geval om sy
    Naam nie meer te laster nie. Omdat hulle jou persoonlik leer waardeer het,
    omdat hulle jou in elk geval nie wil kwets nie.

    Dit is wat die apostel
    Petrus bedoel wanneer hy skryf (ons het dit gelees):

    Wanneer mense oor jou
    kwaadspreek, spesifiek wat betref jou geloofslewe, dan sal jou houding hulle
    laat skaam kry. Jou houding is van so ‘n aard dat jy, soos die Bybel sê, vurige
    kole op hulle hoof ophoop (Rom 12:20). Soos daar in Romeine 12 staan: “As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te
    eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof
    vurige kole ophoop.”
    Dit is ‘n ou uitdrukking wat beteken: jy maak hom rooi van skaamte. Dit sal
    hom begin pla dat hy so ‘n lelike houding teenoor jou het, terwyl jy net aanhou
    om vir hom goed te doen. Daarom, moenie jou vir jou lewenswyse skaam nie. Moenie
    jou vir God se Naam skaam nie. Juis so verwerf jy respek en agting by
    ongelowige mense.

    ‘n Pragtige voorbeeld
    uit die bybel is hoe Daniël in die heidense Babel, deur sy Godvresende lewe die
    koning so ver gekry het om nie meer die Naam van God te laster nie, maar te
    eer. Waar Nebukadnesar weinig van die God van die Jode gedink het, weinig
    respek vir Hom gehad het, het deur Daniël se lewenswyse die HERE eerbied vir sy
    Naam afgedwing.

    (Tema: Geen misbruik
    nie, maar eerbied vir die HERE en sy Naam

    1Misbruik met opset)

  2. Misbruik
    sonder opset

    Maar misbruik van God se
    Naam kan ook sonder opset plaasvind. In v/a 99 van die Kategismus word, behalwe
    vir die woord laster, ook ander terme
    genoem: misbruik, stilbly, toelaat. Ook
    hierdeur kan jy skuldig word aan die oortreding van die derde gebod. Hierdie
    woorde kan soos volg saamgevat word: as jy oppervlakkig met die HERE lewe. ‘n
    Sinoniem vir oppervlakkig is: ydel. ‘n Voorbeeld hiervan het ons in die Bybel
    gelees.

    Amos spreek as profeet
    die Israeliete aan, omdat hulle in hulle alledaagse lewe ver van die HERE af
    lewe. Die armes word uitgebuit. God se gebooie word nie gehou nie. Maar tog kom
    die volk gereeld in die tempel om te offer en te sing. En dan lees ons in Amons
    5:23: “Verwyder van My die geraas van jou liedere!” Dit klink soos gevloek in
    God se ore. Al sing hulle heel keurig geestelike liedere, al noem hulle sy
    Naam, dis nie vir die HERE aangenaam nie. Hierin lê ook vir ons ‘n boodskap.

    As ons die HERE se wil
    aanpas by die praktyk, as daar geen brandende liefde in jou hart vir die HERE is
    nie, maar net ‘n oppervlakkig  Christenlewe,
    al kom jy dan kerk toe en al sing jy in die kerk, ook dan is dit misbruik van
    God se naam. Wat beteken dit vir God as jy sing op Sondag, maar in die week
    volg jy jou eie pad? Om Christen te wees maar nie so te lewe nie, dit bring net
    soveel skade vir God se naam, as ‘n heiden wat God se naam hardop vloek. Laat
    ons onsself eerlik vra, laat ons eerlik na ons lewenswyse kyk. Is dit so dat
    die Naam van die HERE mede deur ons lewenstyl gelaster word? Het die sout dalk
    laf geword? Hierdie vrae is nie bedoel om net kritiek te wil lewer nie. Maar om
    onsself ‘n spieël voor te hou, is goed. Dit het die profeet Amos ook gedoen rigting
    God se volk.

    Laat ons onsself inspan
    om werklik sout te wees, wat smaak verleen.

    Dan word God se Naam
    geëer. Dus, laat ons daarvan bewus wees dat ook sonder opset God se Naam
    misbruik kan word.

    (Tema: Geen misbruik
    nie, maar eerbied vir die HERE en sy Naam

    1Misbruik met opset

    2Misbruik sonder opset)

  3. ‘n Eed sweer

    Ons kom nou by ‘n eed
    sweer. In hierdie punt sal ons sien dat die feit dat daar ‘n eed bestaan, dat
    dit ‘n pragtige voorbeeld is van hoe die Naam van die HERE, ook deur ons
    gebruik, die samelewing ten goede kan kom. Die feit dat daar soiets soos ‘n eed
    bestaan, kortliks, die feit dat iemand God as getuie aanroep vir die waarheid
    wat hy praat, die feit dat daar soiets bestaan, is ‘n illustrasie van ‘n baie
    belangrike Bybelse beginsel, naamlik:

    misbruik hef die goeie
    gebruik nie op nie. Dit is ‘n valkuil waarin ernstige Christene soms kan val. Laat
    ek dit verduidelik met ‘n voorbeeld uit ‘n ander gebod. In die tyd van die vroeg-Christelike
    Kerk was die Romeinse Ryk baie pervers en losbandig. In seksuele opsig was die
    mense soms nog erger as diere. Maar in reaksie daarop het baie Christene in die
    vroeë kerk seksualiteit as sulks as sondig begin beskou. Dit is die rede hoekom
    daar kloosters vir manne en vir vroue gestig is.

    Dit was ‘n reaksie. Iemand
    wat God ernstig wou dien, kon nie seksueel aktief wees nie. Daarom dat
    predikers en priesters, almal wat in diens van die kerk was, nie mog trou nie. In
    die tyd van die Reformasie het die reformatore die sogenaamde selibaatsgelofte
    egter afgeskaf. Hulle het die Bybelse beginsel besef: misbruik hef die goeie
    gebruik nie op nie. En so het dit toe gebeur dat priesters wat na die
    Reformasie oorgegaan het, weer begin trou het, die huwelikslewe nie meer as
    sondig beskou het nie. Hulle het ook uit ervaring besef, dat kloosters nie die
    probleem van losbandigheid opgelos het nie. Want in die kloosters het die
    losbandigheid dikwels voortgeduur, veral ook homoseksuele losbandigheid.

    Nou wat die derde gebod
    betref. Ons mag deur ons spreke en optrede vir die wêreld laat sien dat ons God
    se Naam eerbiedig. Dit begin by heel gewone dinge. Soos die Here Jesus ons
    geleer het, naamlik dat jou ja, ja moet wees en jou nee, nee. Dis dikwels
    makliker gesê as gedaan. In ons land het die gewoonte ontstaan om ja-nee te sê.
    Op sig ‘n onskuldige uitdrukking, maar dit gee wel iets aan van ‘n samelewing
    wat sukkel om eerlik ja, of eerlik nee te kan sê. Laat ons as kerkmense
    transparant, eerlik wees. Eerlik in jou woorde, eerlik in jou dade, eerlik met
    geld. So heilig jy God se Naam die meeste. Ook al was sy Naam nog nie eers
    eksplisiet ter sprake nie. Die feit dat jou ja ja moet wees en jou nee nee,
    beteken egter nie dat ons die eed oorbodig vind nie. Nie dat dit so moet wees
    dat ‘n eed ‘n Christen meer die waarheid moet laat praat as wat hy andersins
    sou doen nie. As dit goed is, behoort daar geen enkele verskil te wees nie. As
    jy ja sê, is jy net so eerlik as
    wanneer jy ‘n eed moet aflê. Maar die eed sorg wel in ‘n sondige wêreld dat die
    waarheid nog enigsins bo water kom. Al moet ons in ons land konstateer, tot
    droefheid, dat vir baie die eed ‘n leë belofte geword het. Mag God ons land wat
    dit betref genadig wees. En ook ander lande.

    Onlangs het ons die nuwe
    Amerikaanse president, Donald Trump, die eed hoor, sien aflê. Sy linkerhand op
    die Bybel, sy regterhand omhoog. ‘So help me God’. Mag God Amerika genadig
    wees, mag Hy dit so lei dat in die komende jare sal blyk dat hierdie eed vir
    president Trump nie net ‘n leë belofte was nie.

    Want deur ‘n geskonde
    eed word ‘n oordeel oor ‘n land uitgeroep.  Laat ons daarom as kerkmense des te meer ‘n
    soutende sout wees. Laat ons in die wêreld, in die samelewing daarvoor bekend
    staan dat ons ja ja is, en ons nee nee. En as ons moet sweer, dat ons dit met
    vrees vir God doen. Selfs as dit in jou nadeel is. Ek dink aan die woorde wat
    ons uit Psalm 15 gaan sing:

    die wat in sy eed nie
    valslik sweer, of aan sy woord ontrou wil wees nie.

    Die wat, opreg in sy
    gemoed, na Gods verhewe eis wil handel,

    hom vir bedrog en leuen
    hoed; en , is dit voor-of teëspoed,

    die waarheid spreek in
    hart en wandel.

    ‘n Soutende sout.

    Sout maak ‘n maaltyd
    smaaklik. ‘n Bietjie sout is genoeg om jou hele bord kos smaaklik te maak. Aantalle
    is nie belangrik nie.

    Kom ons leef dit, dat
    mense dit van ons lewens kan aflees,

    Soos ons in Psalm 8
    sing:

    “o HERE, ons Here, hoe
    heerlik is u Naam op die ganse aarde!” (Ps 8:10)

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)