MISKIEN is daar behoud, na dadelike en diepgaande verootmoediging

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2017-01-29
Text: 
Sefánja 2
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 29 Januarie 2017 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 138:1,2

Wet

Ps 119:48

Gebed

Skriflesing: Sefanja 2

Ps 89:13-15

Teks: Sefanja 2

Preek

Ps 89:16-18

Gebed

Kollekte

Sb 16:1-6

Seën

Preek: Sefanja 2

Soms vra my kinders by
die huis of hulle iets lekkers mag doen. En dan antwoord my vrou: Miskien, maar dan wil ek van nou af hê
dat julle almal mooi saamhelp en nie baklei nie. Vir die kinders is dit
duidelik. Daardie woordjie miskien
het vir hulle die klank van: Ja, dit mag. Hoewel hulle ook besef dat ‘n
voorwaarde daaraan verbonde is.

Hierdie woordjie miskien speel in Sefanja 2 ‘n belangrike
rol (Sef 2:3). Dit is soos ‘n ligstraaltjie aan die einde van ‘n donker tonnel.
Dit is daarom ook vanselfsprekend dat hierdie woordjie ‘n belangrik plek in
hierdie preek sal inneem.

Tema: MISKIEN is daar behoud, na dadelike en diepgaande verootmoediging

  1. Dit is ‘n
    laaste oproep aan mense van alle winstreke (verse 4-15)

  2. Dit is ‘n
    laaste oproep aan God se eie volk (verse 1-3)

  1. Dit is ‘n
    laaste oproep aan mense van alle winstreke (verse 4-15)

    Sefanja 2 bestaan vir
    die grootste deel uit profesië gerig tot die buurstate van die Jode. In
    hoofstuk 1 het ons laasweek gesien dat die dag van die HERE, sy oordeelsdag, by
    sy eie volk sal begin. Maar daarna sal op hierdie dag die reg ook herstel word
    tot ver oor die grense van Israel. En daarom sien God die volke wat goddeloos
    lewe en sy volk verneder het, nie deur die vingers nie. Kom ons kyk oor watter
    volke dit gaan.

    Vanaf verse 4-15 vind
    ons profesië teen die buurvolke van Israel, beginnende by die Weste, dan na die
    Ooste, dan na die Suide en laastens na die Noorde. Om te begin by die Weste,
    was daar die Filistyne.

    Hulle het Israel
    mateloos gekwel. Dit weet ons wel uit die res van die Ou Testament. Verskillende
    profete het die Filistyne gewaarsku vir God se oordeel. Profete soos Jesaja,
    Jeremia, Esegiël, Amos. Sefanja noem hier die vier belangrikste stede van die
    Filistyne: Gasa, Askelon, Asdod en Ekron.

    Wie was die Filistyne
    eintlik? Hulle was oorspronklik afkomstig van eilande in die Middellandse See,
    soos Kreta. In Esegiël word hulle daarom die Kretense genoem. Hulle was ‘n volk
    wat van oor die see gekom het. Uit Amos weet ons dat die Filistyne, omdat hulle
    ‘n seevarende volk was, hulle ook met mensehandel, slawehandel, besig gehou
    het. Hoewel Sefanja dit nie eksplisiet vermeld nie, laat die straf wat hy
    aankondig mens wel in daardie rigting dink – sien vers 4. Hulle wat ander volke
    ontvoer en ontwortel het, hulle sal nou self deur die HERE ontwortel word. Hulle
    sal verdryf word uit die land wat hulle buitgemaak het. Die stad Asdod sal
    onverwags op die middag, terwyl almal met hulle middagslapie besig is, oorval
    word. Sonder slag of stoot sal Asdod ingeneem word en die mense ontvoer word. Die
    hele Filistea sal ontvolk word. En die kus sal in die hande kom van die Jode. Eintlik
    moet ek dit anders sê, soos daar in vers 7 staan: die kus sal ten deel val aan
    die oorblyfsel van die huis van Juda.
    Daar is geen Joods-nasionalisme in hierdie profesie nie. Sefanja plaas die Jode
    nie bo almal nie.

    Nee, slegs die oorblyfsels van die huis van Juda, dit
    is: slegs hulle wat nederig voor God se aangesig lewe. Hulle wat gehoor gegee
    het aan God se oproep tot bekering. Hulle wat daardie woordjie miskien ter harte geneem het. Hieruit
    blyk dus nou dat God sy woord waarmaak – daardie klein woordjie miskien. God hou Hom aan sy belofte. Die
    oorblyfsel, die ootmoediges (tussen hakies, ootmoediges dis hulle wat hulleself
    verootmoedig het). Want al die inwoners van Juda gaan welda in ballingskap. Maar
    ‘n res sal God bewaar. ‘n Res sal terugkeer uit ballingskap. Hulle kry van God
    die land van die Filistyne. So staan dit hier.

    Die oorblyfsel, die
    ootmoediges. Dit laat mens dink aan wat Jesus sê in Mattheüs 5:5: “Salig is die
    sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”

    Dit is baie troosvol om
    te besef: te midde van hierdie oordeelsprofesië bly God na sy volk omsien. Sy
    volk is dan nie Juda as geheel nie, maar sy volk is die ootmoediges. Juis deur
    die oordeel verskaf God aan hulle weer ruimte, kry hulle genade. So werk dit
    vandag nog steeds. Wanneer God se oordeel die aarde tref, wil dit nie sê dat sy
    liefde en genade afwesig is nie.

    Maar elkeen wat die
    woordie miskien nie ter harte neem
    nie, vir hulle is dit te laat. Dit geld vir God se eie volk, en dit geld ook
    vir die Filistyne. Hierdie Westerbure word dus gestraf met ontvolking van die
    land.

    Ons kom nou by die
    Oosterbure. Ook hulle sal nie die gerig ontkom nie. By die Oosterbure moet u
    veral dink aan Moab en Ammon (verse 8-11). Hulle sal gestraf word vir hoe hulle
    Juda gespot het. Daar klink ‘n dreiging van vernietiging, net soos Sodom en
    Gomorra destyds.

    Die vyandige gesindheid
    van Moab en Ammon teenoor God se volk is algemeen bekend uit die Ou Testament. Dink
    aan die geskiedenis van Bileam. Dink aan die Rigtertyd. ‘n Algehele verwoesting
    net soos Sodom en Gomorra hang nou bo hulle koppe. Sodom en Gomorra het in
    dieselfde landstreek gelê as waar die Moabiete en Ammoniete gewoon het. Dis
    waar tot vandag toe die Dooie See geleë is. En ten ooste en noordooste van
    hierdie see het Moab en Ammon gewoon. God sal hulle woonplekke omkeer. Dit sal
    ‘n veld vol brandnetels en soutpanne word. Sout is beeld vir onvrugbaarheid,
    maar ook vir reiniging. En ook hier, net soos by die profesie teen die volke in
    die weste, geld ook hier dat God hierdie gebiede ten ooste van Juda beskikbaar
    sal stel vir die oorblyfsel, die res, wat hulle wel betyds bekeer het. Ja ook
    die Oosterbure staan ‘n sware straf te wagte.

    Hulle het dit te wyte
    aan hulle arrogansie teenoor God se volk, ja teenoor die HERE self. Is dit nie
    vandag ook nog so nie? Mens ontmoet soms mense wat nie ‘n goeie woord oor het
    vir die kerk nie. Wat heeltyd lelike dinge oor kerkmense kwyt raak. Maar as
    mens bietjie dieper gaan, skuil daaragter ‘n houding van opstand teenoor die
    HERE self. ‘n Wrewel, ‘n wrok, omdat die HERE die kerk seën en voorspoedig
    maak. So ‘n houding het Moab en Ammon dus gehad. Hulle het deurlopend vir Israel
    verkleineer. Hulle kritiek was nie soseer gerig teen Israel se sondes en
    wêreldgelykvormigheid nie – dan sou dit tereg gewees het! Maar hulle het Israel
    gehaat vanweë Israel se konneksie, sy verbond met die HERE God!

    Juis die feit dat die
    Skepper van hemel en aarde ‘n verbond met Israel gesluit het, juis daardie feit
    moes gesorg het dat Ammon en Moab bietjie respek vir Israel moes gehad het. Want
    daar is maar EEN God, EEN Skepper van hemel en aarde. Alle ander gode is
    bedenksels van mense. Uiteindelik sal alle mense voor hierdie God moet buig. Al
    die kuslande van die nasies (vers 11). Hiermee bedoel Sefanja alle nasies, dus ook
    Moab en Ammon.

    Ons wend nou ons blik na
    die suide. Die Kusiete, staan daar in vers 11. Die woord Kus, oftewel die
    Kusiete, word in die Bybel afwisselend gebruik vir sowel Ethiopië as Egipte. Ons
    moet hier dink aan die mense wat aan die oewers van die Nylrivier gewoon het. Die
    Nyl wat duisende kilometers diep in Afrika ontspring, en uiteindelik uitmond in
    die Middellandse See. Langs die Nylrivier was daar al vir eeue lank ‘n
    bloeiende en stabiele ekonomie.

    Maar ook aan hulle adres
    is daar ‘n oordeelsprofesie. Julle sal met my swaard deurboor word. Dit sê die
    HERE, wat ook die Skepper van die Nylrivier is. Hulle ongeregtighede sal God
    nie vir altyd laat voortduur nie.

    Hierdie volke sal deur
    die swaard ten onder gaan. Beteken dit dat daar vir Ethiopiërs en Egiptenare
    geen moontlikheid is om salig te word nie?

    Gemeente, ook vir hulle
    geld die woord: miskien. Dit wil sê,
    vir die oorblyfsel wat hulle bekeer, wat nederig voor God lewe, ook vir hulle
    is daar ‘n toekoms. Dink byvoorbeeld aan die Ethiopiese minister, die hofdienaar,
    waaroor ons in Handelinge 8 lees. Hy het tot geloof in Jesus Christus gekom! Dink
    ook aan die feit dat daar vandag ook Christene, geloofsgenote, in Egipte en
    Ethiopië is.

    Ons het nou al na die
    weste, ooste en suide gekyk, al die volke rondom Juda.

    Laastens kyk ons nog na
    die noorde. Daar was veral Assirië, met die hoofstad Ninevé. Hierdie ryk word
    gestraf vir sy trots en hoogmoed.

    Sien die uitspraak in
    vers 15: “Dit is ek, en niemand anders nie!”

    Hierdie stad weier om
    aan God die eer te gee, maar vereer homself. Hierdie plek, sê Sefanja, sal ‘n
    wildernis, ‘n woestyn, word. As mens die naam van hierdie stad hoor – Ninevé –
    dan dink ons dalk dadelik aan Jona. Die profeet Jona moes in Ninevé gaan preek
    en die mense oproep tot bekering. Nou is dit so dat Jona meer as honderd jaar vóór
    Sefanja gelewe het. Ook toe was Assirië al ‘n wêreldmag. Jona moes die hoofstad
    Ninevé oproep tot  bekering. Soos ons
    weet, het die mense toe gehoor gegee
    aan sy prediking.

    God het sy oordeel toe afgewend, al was Jona baie omgekrap
    daaroor.

    Maar, gemeente, nou in
    die tyd van Sefanja, nou is dit al weer honderd jaar later. En in die dae van
    Sefanja het Ninevé dus verskriklik arrogant geword.

    Hulle het die wêreld
    oorheers en het oor hulleself gesê: “Dit is ek, en niemand anders nie!” Maar
    sulke hoogmoed duld God nie. Sefanja kondig God se oordeel oor hierdie groot
    stad aan. En gemeente, daardie oordeel het ook plaasgevind. Ons weet uit
    historiese bronne dat Ninevé in die jaar 612 vC verwoes is. Dit was omtrent
    twee dekades na Sefanja se prediking.

    Hierdie groot, ryk,
    luukse stad, waar die mense die houding gehad het van ‘ons is die beste’,
    hierdie stad het ‘n wildernis geword. Ons lees byvoorbeeld in vers 14: Allerhande
    gediertes, pelikane, krimpvarkies het hulle daar tuisgemaak. Die diere het
    hulle intrek geneem waar vroeër ryk mense in luukse huise gewoon het. Dit is
    nie presies duidelik watter spesies met die Hebreeuse woorde bedoel is nie. Die
    Hebreeuse woord wat hier met pelikaan vertaal is, moet dalk eerder met uil vertaal word. En die woord wat met
    krimpvarkie vertaal is, eerder met kraai.
    Uile en kraaie, dit laat mens dink aan ‘n stad wat ‘n ruïne geword word. Dit
    is tipies die soorte voëls wat mens in ‘n spookdorp sal verwag. Tragies, dat
    daar waar duisende mense ‘n welvarende lewe gelei het, dat die diere nou hulle
    intrek geneem het. So word hier Ninevé se lot geskets, die stad wat so ingenome
    met homself was.

    (Tema: MISKIEN is daar
    behoud, na dadelike en diepgaande verootmoediging

    1 Dit is ‘n laaste
    oproep aan mense van alle winstreke (verse 4-15)

  2. Dit is ‘n
    laaste oproep aan God se eie volk (verse 1-3)

    Wat was eintlik die doel
    van al hierdie profesieë van Sefanja teen die heidenvolke? U onthou dat ons
    laasweek aandag geskenk het aan die dag van die HERE, wat in hoofstuk 1
    aangekondig is.

    Dit was ‘n
    strafaankondiging gerig tot God se volk, spesifiek Juda en Jerusalem. Hulle was
    eerste aan die beurt. Maar u onthou miskien ook nog uit hoofstuk 1 dat die
    oordeelsaankondiging daar beskryf is in kosmiese terme. God sal die hele aarde
    tot verantwoording roep. En gemeente, dit kan ons as die doel van hoofstuk 2
    sien. Dit is ‘n bewys dat God honderd persent regverdig is. Elkeen word ter
    verantwoording geroep. Elkeen, uit die noorde, ooste, suide en weste. Wat wel
    opmerklik is, is dat die oordeelsaankondiging begin by Jerusalem. By God se
    volk – by die kerk.

    Dit is opmerklik, of
    laat ek eerder sê: dis die skokkende van Sefanja se profesie. Want soos God se
    volk destys was, so is die kerk vandag ook dikwels. Ons praat maklik oor die
    goddeloosheid van hulle wat buite die kerk is. Maar die skokkende is nou juis
    dat God se oordeel by die kerk begin. Vervolgens gaan God dan ook verder, na
    alle winrigtings toe herstel Hy reg en vrede op aarde. Dit kan ons uit hierdie
    profesie leer.

    Maar in die tweede plek
    is daar nog iets.

    En dit het veral te make
    met die woordjie miskien, soos dit
    ook in die tema staan. Deur onmiddellike en diepgaande verootmoediging is daar
    MISKIEN behoud. Sefanja verkondig nie ‘n onverbiddelike God nie. Asof sy
    oordeel soos ‘n lawine is wat nie gekeer kan word nie. In vers 3 staan daar:

    “Soek die HERE”, want
    “miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.” Hierdie
    miskien geld dus vir die wat hulle
    bekeer, wat luister na dit wat die HERE vra. Vir hulle bied God ‘n
    ontsnappingskans. Vir hulle, of hulle deel van God se volk is, of dat hulle
    deel is van die heidenvolke, na die ooste, weste, noorde of suide. “Soek die
    HERE, o alle ootmoediges van die land”, staan daar in vers 3. Dalk onthou u dat
    ek verlede week verduidelik het dat die woordjie vir “land” ook vertaal kan
    word as “aarde”. Mens kan hier dus ook vertaal: Soek die HERE, o alle
    ootmoediges op aarde.

    Ja hierdie is ‘n
    ontsnappingskans. Vir Jood en nie-Jood, vir elkeen wat voor die HERE kniel. Dink
    byvoorbeeld aan toe die stad Jerigo verwoes is.

    Enkele mense het dit toe
    oorleef. Dink ook aan die tyd toe in die Nuwe Testament die stad Jerusalem
    verwoes is. Jesus het sy dissipels al voor die tyd gewaarsku. Wanneer julle gerugte
    hoor dat die Romeine in aantog is teen Jerusalem, dan moet julle die stad
    verlaat. Die dissipels en die vroeë Christene het toe hierdie instruksie van
    hulle Heiland opgevolg, en so het hulle aan die oordeel ontsnap. God het die
    geskiedenis eintlik reeds eerder so gelei dat sy kerk behoue gebly het. Want
    nog voordat die Romeine gekom het om Jerusalem te omsingel, het daar ‘n vervolging
    uitgebreek in Jerusalem teen die Christene. Saulus, Paulus het destyds daaraan
    deelgeneem. Die gevolg van hierdie vervolging was dat die meeste Christene
    Jerusalem nog lank voordat die Romeine gekom het, al verlaat het. Die Christene
    moes op daardie oomblik vlug, maar daardeur is hulle gespaar vir die oordeel
    wat later sou kom. So sien mens hoe God met sy vooruitsiende blik sy kerk, die
    lewe van sy bemindes, bewaar, en alles, ja selfs vervolgings, laat meewerk ten
    goede.

    Terug na Sefanja.

    In Sefanja 1 het ons die
    aankondiging van die dag van die HERE gelees.

    Daar is gewaarsku vir ‘n
    werklike straf wat op koms was. Maar soos ek genoem het, die HERE is nie
    onverbiddelik nie. Wie hom opreg bekeer, vind genade. Daaroor gaan verse 1-3
    van hoofstuk 2. Kom tot julleself, ja kom tot inkeer! O nasie wat nie skaam
    word nie! Voordat die besluit van God uitgevoer word. Kom vinnig tot inkeer,
    want voor jy weet is dit te laat.

    Soek die HERE, dit wil
    sê, gaan na Hom toe. Gaan na sy tempel toe. So is dit ook vandag: alle mense
    weet wel waar die kerk staan. Maar lank nie almal kom Sondag kerk toe nie. Dis
    wat Sefanja bedoel, as hy sê: soek die HERE.

    Gaan na sy huis, bid tot
    Hom, bely jou sondes, verander jou lewe. Miskien sal jy verborge bly op die dag
    van die toorn van die HERE. In hierdie woordjie miskien skuil die Evangelie. God is nie onverbiddelik nie. Laat ons
    dit goed besef, want dit het ook ‘n impak op ons houding. Ook ons mag nie
    onverbiddelik teenoor ander mense wees nie, al kom hulle nie, of nog nie, kerk
    toe nie. Ook in ons houding moet mense daardie miskien kan sien. Hulle wat op die knieë gaan, vir hulle sal God ‘n
    spesiale reëling tref op daardie dag van die oordeel. Daarom, soek
    geregtigheid, soek ootmoed.

    Miskien sal jy verborge
    bly. Dit is die enigste hoopgewende woorde in hierdie hoofstuk. Die laaste
    houvas. Miskien. Dit wil sê: daar is
    hoop vir wie hulle bekeer. En as kerkmense behoort ons onsself nie beter te ag
    nie.

    Soos Sefanja ons leer,
    die oordeel begin by God se huis. Dieselfde miskien,
    dieselfde ontsnappingskans wat vir die goddeloses geld, dieselfde miskien geld ook vir ons.  God se oordele is altyd in voorwaardelik vorm.
    Ja ons Verbondsgod is barmhartig, juis ook te midde van sy regverdigheid. En
    gemeente, in Christus word die miskien
    van Sefanja 2 ja en amen!

    Dit wil sê: gewis en
    seker!

    Sorg daarom dat jy by
    Christus skuil, dat jou lewe verborge is, veilig is, in Christus. Dat jy in sy
    huis kom skuil.

    Wat ‘n voorreg, om in sy
    huis te mag wees.

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)