Bekering is en bly bitter noodsaaklik

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-12-04
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
4 Desember 2016 AD, 17:30 (Nagmaal)

Votum

Seën

Ps 51:6

Gebed

Nagmaalsformulier (p.23)

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Sb 43:2

1e tafel: Skriflesing: Lukas 3:1-20 &
Romeine 6:1-14; Ps 131:1-3

Lofverheffing & Gebed

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 33

Preek

Ps 19:4

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 43:5,6

Seën

Preek:
Heidelbergse Kategismus Sondag 33

Aan die einde van ‘n nagmaalsondag is dit
tradisie om ‘n nabetragtingspreek te hou. Maar bied Sondag 33 wel ‘n geskikte
onderwerp vir ‘n nabetragtingspreek? Is dit nie die bedoeling dat mens ‘n
bietjie tot rus kom, veral met nabetragting, en nie voortdurend opgejaag word
met net nog ‘n oproep tot bekering nie?  Sondag
33 handel naamlik oor die ware bekering van die mens, en oor wat goeie werke
is.

Is dit wel geskik so aan die einde van ‘n
Nagmaalssondag?

Geliefde gemeente, ek kan u gerusstel. Ja,
dit is geskik, dit is toepaslik.

Maar dit is wel belangrik dat ons die regte
sig het op hierdie onderwerpe.

En veral ook op die nagmaal. Ons vier mos nie
nagmaal om te kenne te gee dat ons in onsself volmaak is nie. Ons
nagmaalsviering is juis die geestelike voedsel wat ons aanspoor en energie gee
om in ‘n nuwe lewe goeie werke te doen. Die Kategismus bespreek die bekering
ook nie toevallig in die derde deel nie. Die derde deel wat handel oor ons
dankbaarheidslewe.

Bekering is iets wat positief is, en wat
voortkom uit dankbaarheid. So mag ons dan vanaand, in hierdie nabetragtingspreek,
uit dankbaarheid aandag skenk aan bekering en goeie werke. Ons is mos gevoed
vandag. Ons is mos lus om nou vir die HERE te lewe. Luister dan vanaand hoe ons
dit behoort te doen.

Tema:
Bekering is en bly bitter noodsaaklik.

  1. Die noodsaak van bekering vir
    gelowige en ongelowige

  2. Die twee dele waaruit bekering
    bestaan

     

     

  1. Die noodsaak van bekering vir
    gelowige en ongelowige

    Dit is duidelik dat geen mens gebore word as
    ‘n bekeerde mens nie.

    Elke mens word, soos die Doopsformulier sê,
    in sonde ontvang en gebore.

    Bekering en wedergeboorte is iets wat tydens jou
    lewe moet plaasvind.

    In hierdie verband is dit belangrik om te
    besef dat die Bybel die woord bekering in ‘n breër sin gebruik as waaraan ons
    deesdae gewoond is.

    Deesdae verwys baie mens na bekering as slegs
    ‘n enkelmalige gebeurtenis.

    In die Bybel lees ons nie slegs oor bekering
    as ‘n eerste bewuste ommekeer na God toe nie. Bekering is iets wat vanaf die
    eerste ommekeer voortgaan in die vernuwing van jou hart, die vernuwing van jou
    lewe, wat betref allerlei konkrete sake. Ek noem ‘n paar tekste uit die Bybel
    in hierdie verband. Ons begin in die Ou Testament.

    Nehemia 1:9: “maar as julle jul tot My bekeer
    en my gebooie onderhou en dit doen – al was julle verjaagdes aan die einde van
    die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat
    Ek verkies het om my Naam daar te laat woon.”

    Die HERE praat hier met sy volk. Ek noem dit
    eksplisiet, want dit bewys dat bekering nie net iets is wat van toepassing is
    op heidene of ongelowiges nie. Ook kinders van die verbond, ook kerkmense, word
    opgeroep tot bekering.

    Dieselfde boodskap vind ons in die Nuwe
    Testament. Ek dink aan Openbaring 2:5. Daar sê Christus aan die kerk in Efese:

     “Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en
    bekeer jou en doen die eerste werke.”

    Ook hierdie oproep tot bekering is aan die
    adres van kerkmense.

    Ek noem nog ‘n teks uit die Ou Testament.

    1 Konings 8:33-34: “As u volk Israel verslaan
    word voor ‘n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul tot U bekeer
    en u Naam bely en tot U bid en smeek in hierdie huis, wil U dan hoor in die
    hemel en die sonde van u volk Israel vergewe”.

    Salomo bid hier vir die volk by die inwyding
    van die tempel. Hieruit leer ons dat bekering vir ‘n kind van God inhou dat hy
    homself telkens weer omkeer, terugkeer na God toe, terugkeer na God se wil in
    sy lewe.

    Ons gaan weer na die Nuwe Testament.

    Lukas 3:8: “Dra dan vrugte wat by die
    bekering pas”.

    Johannes die Doper sê dit vir die Jode. Hy
    het die doop van bekering bedien.

    Ook dit is weer noodsaaklik vir kinders van
    God. Die Jode het in daardie dae al die sogenaamde proselietedoop geken. Dit
    was bedoel vir heidene wat hulle by die Joodse volk gevoeg het. Hulle is met
    hierdie doop gedoop.

    Maar die doop van Johannes was veral bedoel vir
    die Jode, wat alreeds die besnydenis ontvang het.

    Aan hulle klink die oproep: bring vrugte
    voort, dit wil sê: leef so dat uit jou dade te sien is dat jy bekeerd is. ‘n
    Paar hoofstukke verder sê Jesus in Lukas 5:32:  “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie,
    maar sondaars tot bekering.”

    Hy het dit gesê na aanleiding van die klag
    van die Fariseërs en Skrifgeleerdes dat hy met tollenaars gemeng het,
    byvoorbeeld met ‘n tollenaar genaamd Levi. Ook hier leer ons dat bekering
    bitter noodsaaklik is, vir sowel ongelowiges en gelowiges.

    En bekering is nie sommer net iets nie. Dit
    is diep ingrypend.

    Oor hoe indrukwekkend dit is, watter groot
    gebeurtenis dit is as iemand hom bekeer, lees ons in Lukas 15:7, waar Jesus
    opmerk: “Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een
    sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die
    bekering nie nodig het nie.”

    Ja elke mens het ‘n geestelike stryd op
    aarde. Neutraliteit bestaan nie. Elke mens het sy oorloë. En wanneer iemand hom
    bekeer, of dit die allereerste keer is of die soveelste keer, elke keer is daar
    gejuig in die hemel. Oor die hemel gepraat, ons lees in Lukas 16:30 oor Abraham
    in die hemel, en dat die ryk man in die hel hom probeer oortuig om ‘n boodskap
    na sy broers op aarde te stuur. Die ryk man het gesoebat: “Nee, vader Abraham,
    maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.” Waarop
    Abraham geantwoord het: “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal
    hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (vers 31)

    Gemeente, ons as mense kan 101 verskonings
    uitdink om die daad van bekering voor ons uit te skuif. Maar laat ons hierdie
    opmerking ter harte neem. As Moses en die profete – dit is hoe die Bybel
    destyds genoem is in Jesus se dae. Dus, as die Bybel jou nie sover bring dat jy
    jou bekeer nie, moenie dink dat dit wel sal gebeur, as daar ineens ‘n dooie uit
    die graf opstaan en in lewende lywe voor jou staan nie!

    God se Woord werk bekering, niks anders nie.

    Ek gaan verder met nog ‘n Bybelteks.

    In Handelinge 11:18 lees ons dat dit God se
    hartlike wens is dat ook die heidene daadwerklik tot bekering kom.

    Dit gaan hier oor die feit dat die voormalige
    heiden Cornelius met sy huisgesin gedoop word. Paulus het hierdie daad – naamlik
    die doop van ‘n heiden – verdedig teenoor die Jode-Christene deur daarop te wys
    dat Cornelius en sy mense op presies dieselfde manier tot geloof gekom het.

    Naamlik deur die verkondiging van die Woord. Dit
    was die instrument waardeur die Heilige Gees bekering gewerk het.

    So het hulle die gawe van die Gees ontvang.

    En dan lees ons in Handelinge 11:18: “En toe
    hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook
    aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.”

    Op sy sendingsreise het die apostel Paulus
    aangedring op bekering, sowel by Jode as heidene. Sien byvoorbeeld Handelinge
    26:20, waar Paulus verantwoording aflê van sy optrede teenoor Agrippa:

    “ek het eers aan die mense in Damaskus en in
    Jerusalem en in die hele land van Judea en aan die heidene verkondig dat hulle
    tot inkeer moet kom en hulle tot God bekeer deur werke te doen wat by die
    bekering pas.”

    Paulus se verkondiging van die Evangelie was
    nie ‘n suksesboodskap nie.

    Dit was nie ‘n boodskap dat almal wat dit
    aanneem in alle omstandighede vrolik sal wees nie. Soms was die uitwerking van
    die prediking ook anders.

    Dink byvoorbeeld aan 2 Korinthiërs 7:9: “Nou
    is ek bly” skryf Paulus, “nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle
    bedroef was tot bekering, wat julle was bedroef volgens die wil van God”. Bekering
    bring nie net blydskap nie, dit bring ook droefheid.  Soos v/a 89 sê: Naas ‘n hartlike vreugde,
    veroorsaak dit ook ‘n hartlike berou.

    Juis hulle wat tot God bekeer is, kom agter
    hoe eiesinnig jou eie hart is. Hoe jou ou mens hom blywend teen vernuwing
    verset. Met die stryd teen jou ou mens is jy nooit klaar nie. Tot op jou
    sterfdag sal jy moet bly binne die kragteveld van die Gees, naamlik daar waar
    die Woord verkondig word. As jy dit nie doen nie, gaan jou ou mens jou nuwe
    mens se nek weer omdraai.

    Maar waar die Gees bly werk, deur die Woord,
    hou die nuwe mens die oorhand. Dus aan die een kant kom jy nooit tot rus nie. Die
    geestelike stryd duur voort, ook na afloop van ‘n Nagmaalssondag. Maar aan die
    ander kant hoef ons nie wanhopig te wees nie. Want ons redding lê vas in
    Christus.

    So bly bekering elke dag ‘n geestelike stryd.
    Maar dit is ‘n positiewe stryd.

    Jy kan dit vergelyk met die pyn wat jy voel
    as ‘n doring uit jou voet uitgetrek word. Dit moet gebeur, en dit is pynlik. Maar
    daarna is die pyn weg. En noudat die doring uit is, sal dit nie begin sweer
    nie. Dit is, hoewel pynlik, ‘n dankbare ding. Bekering is ‘n dankbare gawe en opgawe om werklik as ‘n nuwe mens te
    lewe.

    (Tema: Bekering is en bly bitter noodsaaklik.

  1. Die noodsaak van bekering vir
    gelowige en ongelowige)

  2. Die twee dele waaruit bekering bestaan

    Oor bekering moet mens altyd met twee woorde
    praat. Afsterf en opstaan.

    Twee woorde, wat ontleen is aan die apostel
    Paulus. Onder die ou mens verstaan
    Paulus die mens wat leef met sy rug na God toe. Geestelik dood in sonde,
    verduister in sy verstand, in opstand teen God. Maar die nuwe mens is die mens wat deur die geloof saam met Christus
    opgestaan het. In Romeine 6 verduidelik Paulus dit, aan die hand van die doop.  Die doop beeld uit dat ons verdrink in die
    water.

    Maar daarna word ons uit die water opgetrek
    deur Christus, en staan op in ‘n nuwe lewe. Ons lees: “As ons dan saam met
    Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, omdat ons weet
    dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood
    heers oor Hom nie meer nie.” (Rom 6:8-9)

    Hieruit volg die indringende oproep: “So moet
    julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir  God in Christus Jesus, onse Here.” (Rom 6:11)

    Ons is reeds regtens vry van die sonde, deur
    die dood van Christus, dus laat ons in ons lewe nou uitstraal dat ons ook werklik vry is van die sonde.

    Paulus gebruik hier die beeld van ‘n vrou wat
    getroud was, maar wie se man gesterf het. Met die afsterwe het die huwelik
    geëindig, en die vrou is regtens vry van die gestorwe man. Hierdie vergelyking
    word gebruik om te verduidelik dat, omdat Christus gesterf het –
    plaasvervangend in ons plek – ons nou nie meer met die sonde getroud is nie. Ons
    is regtens nou vry van die sonde. Die ou mens is regtens dood en begrawe. Niks
    staan ons nou meer in die weg om ons lewe in diens van God te stel nie. Die ou
    mens gekruisig, die nuwe mens opgestaan.

    Kom ons fokus nog vir ‘n oomblik, soos Sondag
    33 doen, op die beide kante van bekering. Ten eerste: afsterwe.

    As jy Christus leer ken het, leer jy wat dit
    is om berou te hê. Jy begin iets begryp van die teregte toorn van God oor jou
    lewe. Jy wens daarom ook self dat jou ou mens gedood moet word. Jy begin ook
    self die sonde te haat. Jy kry self ook ‘n afkeer van alles wat ruik na jou ou
    mens. En ook al is jy wedergebore, jy onderskat nie die krag van die sonde nie.
    Daarom is dit lewenslank ‘n opdrag om vir die sonde weg te vlug. Dit klink dalk
    nie so dapper nie, maar dit getuig van realisme. Jy oorskat jouself nie. Laat
    liewerste die sonde jou rug sien. Elkeen van ons is swak, en as dit goed is,
    ken jy dit punte in jou lewe waar jy swak is. Moenie die sonde uitdaag nie.

    Maar dan, die ander kant van bekering is die
    opstaan van die nuwe mens.

    In Christus se opstanding is die mag van
    sonde en dood oorwin. Dit laat ons nie onberoerd nie. ‘n Hartlike blydskap in
    God vervul ons hart. Ons is nie meer wanhopig nie.  Ons weet dinge sal goed eindig. En daarom is
    dit vir ons ‘n lus en liefde om te strewe na goeie werke. Nie om iets by God te
    verdien nie. Ons het reeds alles ontvang.

    Maar wel om aan ons dankbaarheid uiting te
    gee.

    Ook hier bly ons realisties. Ons goeie werke
    bly maar gebrekkig, laat staan dat ons van oortollige goeie werke sou kon
    praat. Die drie vereistes waaraan iets moet voldoen, lê die maatstaf hoog. ‘n
    Goeie werk moet gedoen word uit ware geloof, volgens die wet van God, en ook
    nog tot sy eer. Wie hierdie drie maatstawwe toepas op sy beste werke, sal moet
    erken dat ook ons beste werke maar gebrekkig is.

    Tog demotiveer dit nie vir ons nie. Want ons
    verlossing staan vas.

    Ons het begin met die derde deel van die
    Kategismus, wat handel oor die dankbaarheid. In die tweede deel is die redding
    afgehandel. Christus, nadat Hy ons gered het, roep jou op: doen nou jou bes. Kyk
    hoever jy kan kom.

    Ek hou jou vas, jy hoef nie te wanhoop nie. Doen
    net jou bes.

    Want as jy dit doen, verheerlik jy Sy naam des
    te meer op aarde.

    As jy dit doen, trek jy ook ander na die Lig
    toe.

    Ons mag vanaand huis toe gaan, gemotiveerd om
    dit te doen.

    Gevoed en gesterk deur die nagmaal, mag ons
    as sy ambassadeurs aan ‘n nuwe week begin.

    Deur ‘n bekeerde lewe, ‘n lewe van goeie
    werke te lewe hierdie week, verheerlik ons sy Naam, en trek ons ander nader na
    Hom toe.

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)