Die HERE maak vir sy volk die deur na die toekoms weer oop

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-11-13
Text: 
Ester 8 : 3-17
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 13 November 2016 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 65:1,4

Wet

Ps 65:2

Gebed

Skriflesing:
Ester 8-9:19

Ps 137:1-4

Teks: Ester
8:3-17

Preek

Ps 105:20,23

Gebed

Kollekte

Ps
107:7,8,10

Seën

Preek: Ester 8:3-17

Soms kan dit
voel of jy op ‘n doodloopspoor beland het. In jou werk, dalk in jou huwelik,
dalk oorweldig daardie gevoel jou hele lewe. Soms kan dit ook vir ‘n gemeente,
‘n kerk, so voel. Watter toekoms is daar nog vir ons? Sal daar ook in die
toekoms groei en bloei wees? As die HERE ons beproef, ons in die nou dryf, sal
Hy ook êrens weer ‘n deur oopmaak?

Kom ons
luister vandag na die Woord van die HERE, hoe Hy, nadat Hy sy volk in die
verlede, in Ester se dae, ernstig in die nou gebring het, hoe Hy tog weer ‘n deur
vir hulle oopgemaak het.

Tema: Die HERE maak vir sy volk die deur na
die toekoms weer oop

1         Hy
laat Mordegai ‘n antiwet uitvaardig

2         Hy
laat die skrik vir die Jode op die volke val

1         Hy
laat Mordegai ‘n antiwet uitvaardig

Die
gebeurtenisse van hoofstuk 8 is ongeveer twee maande na die veelbewoë dag waaroor
die vorige hoofstuk handel, die dag waarop Ester haar afkoms aan die koning
bekend gemaak het. Die dag waarop Haman ontmasker is en toe opgehang is. Ons is
nou twee maande verder. Dit blyk uit die datering wat ons in vers 9 vind. Ester
het weer voor die koning se troon verskyn, en gelukkig het die koning weer sy
goue septer na Ester uitgesteek. Ester het hom toe versoek om Haman se moordplan
te herroep.

Want tot
dusver is Ester se lewe wel gespaar, en Haman is om die lewe gebring, maar die
wet van Haman het nog steeds bestaan. Dus Ester se volk, die Jode, was nog
steeds in lewensgevaar.

Wat was die
koning se reaksie?

Hy het Ester
en Mordegai volmag gegee om, in naam van die koning, en verseël met sy
seëlring, te doen wat hulle kon doen.

En so is
Mordegai se teenwet opgeskryf. ‘n Opdrag aan die Jode, en die landvoogde, die
goewerneurs, die vorste van die provinsies, van Indië in die ooste, tot Kus in
die weste 127 provinsies.

In naam van
die koning, verseël met sy seëlring, is dit opgeskrywe.

Mordegai se
wet moet ons sien teen die agtergrond van Haman se wet.

Volgens die
tradisie van Perse en Meders mog ‘n wet nooit herroep word nie. Dit klink op
eerste gesig baie positief, dit klink na ‘n baie soliede regstelsel. Maar dat
in so ‘n tipe regstelsel ook ernstige gebreke kan skuil, blyk uit hierdie
einste situasie. Want as daar ‘n verkeerde wet, of ‘n wet met ernstige
mankemente aangeneem is, kan dit nooit teruggeneem of nietig verklaar word nie.
Kombineer hierdie tradisie van onverbreeklike wette nou met ‘n wispelturige
koning, wat een twee drie sy seëlring uitleen, dan is dit ‘n resep vir groot
onheil. En so het dit geblyk met Haman se plan.

Destyds was
dit ook al die probleem toe koning Darius vir Daniël uit die leeukuil wou hou. Ook
al wou hy hoe graag, die wet van Meders en Perse het dit nie toegelaat nie.

Tussen
hakies, wat ironies is, is dat hierdie standvastigheid van die Perse en Meders
se wette ook maar betreklik is. Want, soos nou blyk, kan daar altyd ‘n
skuiwergat gevind word. En dit het hier dus gebeur. Mordegai het ‘n wet
uitgevaardig bo-oor, of teenoor, Haman se wet, wat nie herroep mog word nie. Volgens
Haman se wet moes die mense die Jode op die afgesproke dag aanval en uitmoor. Maar,
hierteenoor is nou Mordegai se wet gestel. Die Jode het alle volmag gekry om
hulleself te verdedig.

‘n Wet van
Meders en Perse . Tot vandag toe is dit ‘n uitdrukking.

Dit staan
vir ‘n wet wat onveranderlik is. Is dit positief?

As ons kyk
na waar dit in die Bybel genoem word, kan ons nie agterkom dat die Bybel dit
positief beoordeel nie. In die boek Daniël lees ons van ‘n wet van Meders en
Perse (Dan 6:16). En ook in die boek Ester lees ons hiervan, al is die twee
name dan omgedraai: wette van Perse en Meders (Ester 1:19). In Daniël word die
Meders eerste genoem, om hulle toe die grootste magsposisie in die ryk gehad
het. In Ester word die Perse eerste genoem, omdat hulle later die grootste
magsposisie gekry het. Maar hulle onveranderlike wette word nie in die Bybel
positief beoordeel, of as voorbeeld aangeprys nie. Wat God se Woord ons eerder
leer, is dat elke mensewoord feilbaar is. Ook elke wet wat deur ‘n mens
uitgevaardig word, is feilbaar. Dit het ook vir ons ‘n boodskap vandag. Al is
die oorgrote meerderheid van die wette van ons land baie goed, al is die
oorgrote deel van ons grondwet, ons konstitusie, baie goed, en beskerm dit elke
burger van hierdie land, ook ons land se wette en konstitusie sal nooit
onfeilbaar wees nie. Dit is slegs die Woord van die Here, sy wette, wat
onfeilbaar is.

Van die tien
gebooie staan daar, met soveel woorde in die Bybel, dat God hulle self
opgeskryf het.

Dit is die
enigste wette wat vir ewig onfeilbaar sal wees. Selfs van wette kan ‘n afgod
gemaak word. Ook van ‘n konstitusie kan ‘n afgod gemaak word, as dit verhef
word bo die gesag van God se Woord.

Ons kom
terug by die wet wat Mordegai uitgevaardig het. Daarvolgens mog die Jode hulleself
organiseer. In vers 11 staan: om bymekaar te kom.

Mens kan dink
aan iets soos dat hulle kommando’s gevorm het. Die Jode het die bevoegdheid
gekry om hulleself te organiseer, maatreëls te tref, ten einde hulleself te
verdedig, asook hulle vroue en kinders, en hulle besittings. Dit is eintlik
lagwekkend, dat daar in een koninkryk twee wette langs mekaar gestaan het. Die
een wat oproep om ‘n volk uit te roei. Die ander een wat daardie einste volk
die bevoegheid gee om hulleself te verdedig.

Ek wil dat
ons bietjie nader na vers 11 kyk.

Die
vertaling van vers 11 kan verwarring oproep. In ons Bybelvertaling lees dit
soos volg: “dat die koning aan die Jode wat in elke stad woon, toegestaan het
om bymekaar te kom en hulle lewe te verdedig, deur te verdelg en dood te maak
en uit te roei elke gewapende mag van volk of provinsie wat hulle in benoudheid
mag bring, saam met kindertjies en vroue, en hulle besittings as buit te
plunder.”

Hierdie
vertaling klink asof Mordegai se wet die Jode bevoegdheid gee om die aanvallers
van die Jode dood te maak, en nie net hulle nie, maar ook hulle kindertjies en
vroue, en dat die Jode ook hulle besittings as buit mog plunder. As mens dit so
lees, staan dit egter op gespanne voet met wat daar later in hoofstuk 9 genoem
word. Naamlik dat, toe die Jode hulleself verdedig het, hulle hulle hande na
die buit nie uitgesteek het nie.

Ester 9:15:
“En die Jode wat in Susan was, het ook op die veertiende dag van die maand Adar
saamgekom; en hulle het in Susan driehonderd man gedood, maar na die buit hulle
hand nie uitgesteek nie.”

En Ester
9:16: “En die ander Jode wat in die provinsies van die koning was, het
saamgekom en hulle lewe verdedig en gerus van hul vyande; en hulle het onder
hul haters vyf- en sewentigduisend omgebring, maar na die buit hulle hand nie
uitgesteek nie.”

Duidelik
word hier is anders gesê as in hoofstuk 8:11, altans soos ons vertaling nou
lees. Die Jode het nie hulle hand na die buit uitgesteek nie.

Volgens die
Hebreeuse grondteks is dit egter ook moontlik om vers 11 anders te vertaal. Naamlik
dat die kindertjies en die vroue wat hier genoem word, nie verwys na die vyande
nie, maar na die Jode se kindertjies en vroue. En dieselfde geld vir die
besittings. Mordegai se wet noem dus dat die Jode, deur saam te kom, deur
hulleself te organiseer, hulle sowel as hulle vroue en kinders en hulle besit
mog beskerm.

‘n Beter
vertaling sou dan soos volg lui: dat die
koning aan die Jode wat in elke stad woon, toegestaan het om bymekaar te kom en
hulle lewe te verdedig, deur te verdelg en dood te maak en uit te roei elke
gewapende mag van volk of provinsie wat hulle, hulle kindertjies en vroue en
hulle besittings, in benoudheid mag bring.

Mordegai se
wet was dus nie net ‘n spieëlbeeld van Haman se wet nie.

Haman se wet
het die mense toegestaan om, nadat hulle die Jode vermoor het, hulleself te verryk
met die besittings van die Jode. Mordegai se wet staan die laaste egter nie toe
nie. Dit was suiwer bedoel as verdediging, dat die Jode hulle lewens en die van
hulle dierbares mog verdedig. Mordegai se wet was nie bedoel dat die Jode
hulleself op ‘n vuil manier mog verryk nie.

So word
Mordegai se wet dus uitgevaardig as teenwig, as antiwet, teen Haman se
moordplan wat reeds tot wet aangeneem is. Dalk onthou u, Haman het destyds,
bygelowig soos hy was, die lot gewerp om die mees gunstige dag van die jaar te
vind waarop die Jode uitgeroei moes word (Ester 3:7). Die lot het toe kwansuis
die 13e dag van die twaalfde maand, die maand Adar, aangewys. Dit sou volgens
die heidense bygeloof die gunstigste dag gewees gewees het om die holocaust te
laat plaasvind.

Maar
ondertussen het die God van die Jode, die troue Verbondsgod, nie stilgesit nie.
Hy het dinge so omgedraai dat Mordegai nou in besit was van die koning se
seëlring. En so kon dit gebeur dat Mordegai vir daardie selfde dag ‘n ander wet
uitvaardig. En so het die HERE die lot van sy volk verander. Soos waterstrome
in die Suidland.

Die 13e Adar
sou nie meer ‘n dag van rou wees nie, maar van vrolikheid.

Die
rapportgangers het met hierdie nuwe wet hulle na die uithoeke van die koninkryk
gehaas. Hierdie keer nie hardlopers nie, hierdie keer op renperde. In daardie
tyd was daar nog nie e-pos of whatsapp, om vinnig ‘n berig na die ander kant
van die wêreld te stuur nie. En hoewel daar nog ‘n aantal maande oor was, was
Mordegai haastig. Daar mog nie ‘n kans bestaan dat hierdie antiwet te laat in
een van die koninkryk se uithoeke mog aankom nie. Daarom is koninklike renperde
uit die stoetery gebruik.

Ook moes
daarmee rekening gehou word, dat die Jode die nodige tyd beskikbaar moes hê om
hulleself voor te berei. Om hulleself te bewapen.

Om hulleself
te groepeer, beskermingskommando’s te vorm.

Ook moes die
plaaslike owerhede, provinsies, goewerneurs, vorste, herbesin. Hulle moes ‘n
totale u-draai maak. Van voorbereidings om die Jode uit te roei, na
voorbereidings om die Jode juis by te staan.

Veral in die
lig van die feit dat dit nie nou meer Haman was wat aan bewind was nie, maar
Ester en Mordegai, wat albei self Jode was.

En so het
die HERE lig en vrolikheid en vreugde en eer vir sy volk teruggebring. In al
die provinsies. In al die stede.

Wat die dag
van die holocaust sou word, is nou omgebuig om ‘n feesdag te word.

Wat bedoel
was om die Jode te verneder onder al die volke, het omgekeerd uitgedraai.

(Tema: Die
HERE maak vir sy volk die deur na die toekoms weer oop

1         Hy laat Mordegai ‘n antiwet uitvaardig)

2         Hy
laat die skrik vir die Jode op die volke val

Ons lees in
vers 17 dat die skrik vir die Jode op die ander volke geval het, en baie uit
ander volke het Jode geword. Wat ‘n opmerking! Hierdie was nie die Jode se werk
nie. Hierdie was die HERE se werk! Definitief!

Die Jode wat
tussen al die ander volke in die lande van die ballingskap bly woon het, was
meestal nie baie gelowige, baie toegewyde Jode nie. Hulle het dikwels gekies
uit finansiële redes om nie terug te keer uit die ballingskap na die beloofde
land nie. Hulle was nie noodwendig ‘n lig vir die nasies, daar waar hulle
verstrooi was nie.

Maar die
HERE het vir Homself weer ‘n Naam gemaak onder hulle! Deur al hierdie
gebeurtenisse, deur hierdie sameloop van omstandighede, het die HERE gesorg dat
hulle weer ‘n aantreklike volk geword het. Soseer selfs dat mense uit ander
volke by hulle wou aansluit! En wat wil jy, as die koningin van die koninkryk
‘n Jodin is. En as die magtigste man na die koning ‘n Jood is. U kan uself
voorstel wat daar op die 13e Adar gebeur het.

Die mense in
die koninkryk het eintlik die keuse gehad:

òf hulle kon
optree volgens die een wet, die wet van Haman; òf hulle kon optree volgens die
wet van Mordegai. Wat dink u sou die meeste mense gekies het? Vir watter wet
sou die meeste mense gekies het?

Vir watter
wet sou u gekies het, by die besef dat sowel die koningin as die magtigste man
van die ryk na die koning, Jode was? En dat Haman dood was?  Ja so het die HERE die aansien van die Jode weer
onder die volke gelig. Hulle het weer ‘n gidsvolk geword. Nie uit hulleself
nie.

Dit was die
HERE se werk!

Die skrik
vir Ester het op hulle geval, net soos God destyds die skrik vir koning Dawid
op die volke laat val het (1 Kronieke 14:17).

Meer dikwels
lees ons in die Ou Testament dat die skrik vir die Jode op die volke geval het.
Telkens was dit iets wat die HERE gedoen het. Al word die HERE se naam hier in
vers 17 nie genoem nie, was hierdie uitdrukking so bekend uit die Ou Testament,
die hoorders moes wel direk aan die HERE, hulle ou Verbondsgod gedink het. Dink
aan die tyd van die uittog uit Egipte.

Toe God die
Rooisee drooggelê het vir sy volk om deur te trek.

Toe God die
Jordaan drooggelê sodat sy volk kon deurtrek.

Toe God die
stad Jerigo laat instort het, deur bloot sy volk daaromheen te laat loop.

Ook toe het
die skrik vir die Jode op die volke geval. Nie omdat die Jode so goed was nie. Nie
omdat die Jode so talryk was nie. Hulle was in aantalle nie meer as die
Amalekiete, die Moabiete, die Kanaäniete nie.

Maar tog het
die heidenvolke na hulle opgekyk, die skrik vir die Jode het op hulle geval. Ook
toe was dit die HERE se werk!

“Egipte was
bly toe hulle uittrek, want vrees vir hulle het op hulle geval.” (Ps 105:38)

Soos Moses
en Mirjam en die volk gesing het na die ontsnapping deur die Skelfsee:

“Ek wil sing
tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in
die see gewerp ... Verskrikking en vrees het op hulle geval; deur die grootheid
van u arm was hulle stom soos ‘n klip, terwyl u volk deurtrek, HERE, terwyl die
volk deurtrek wat U verwerf het.” (Exodus 15:1,16)

Net so, in
die dae van Ester, het die HERE die aansien van die Jode weer onder die volke
gelig. Die HERE het weer blydskap gebring, nie net onder die Jode nie, maar ook
onder die ander mense. Die heidene het besef dat die plan van Haman nie net
vernietiging vir die Jode sou beteken nie, maar ook ‘n groot terugslag vir die
koninkryk. Soos Ester dit aan die koning gesê het twee maande gelede: “hierdie
ramp sal onder die verliese van die koning sy weerga nie hê nie” (Ester 7:4) Natuurlik
was daar ook mense wat hulle verheug het, by die afkondiging van Haman se
moordwet, kriminele elemente wat die besittings van die Jode wou buitmaak. Maar
deur al die sameloop van omstandighede het ook die heidene besef dat Mordegai
se wet veel beter was. Die waarheid van Spreuke 11:10 het weer bogekom: “Oor
die voorspoed van die regverdiges jubel ‘n stad, en as die goddelose omkom, is
daar gejubel.”

In vers 15
lees ons dat die stad Susan gejubel het en vrolik was, toe Mordegai die beheer
oorgeneem het en sy wet bekend gemaak het. Net vir die duidelikheid, hier word
gepraat oor die stad Susan. Dalk onthou u uit ‘n eerdere preek in hierdie serie
oor Ester, dat hierdie ‘n baie groot stad was.

Daar word
beraam dat daar in daardie tyd ongeveer ‘n half miljoen mense gebly het. ‘n
Hoeveelheid wat geweldig groot was vir daardie tyd. Binne-in hierdie groot stad
was daar, op die hoogste heuwel, die vesting Susan.

Dit was die
ryk voorstad waar die paleis gestaan het en waar die aansienlikes gewoon het. Oor
hierdie vesting word daar in Ester 1 gepraat.

Vir die
inwoners van hierdie voorstad, hierdie kleiner vesting, het Ahasveros sy fees
georganiseer, nie vir die halfmiljoen mense wat in die res van die stad gewoon
het nie. Maar dit is opvallend dat hier in vers 15 nie die woord vesting gebruik word nie, maar die woord
stad.

Daar word
hier verwys na die groot megastad, dat die hele stad vrolik was en gejubel het.
Ja die HERE het inderdaad die lot van sy volk verander.

Kom ons
vertrou die HERE ook vir vandag, kom ons bly Hom herinner, bly Hom vra dat Hy
ook weer vandag die lot van sy kinders sal wend. In die Westerse wêreld het
Christene deesdae ‘n slegte naam.

Vir ‘n groot
deel is hulle self daaraan skuldig, omdat hulle afvallig geraak het. Maar hoe
dikwels gebeur dit nie deesdae, dat owerhede besluite neem, wette aanneem, wat
lynreg teen die Bybel en teen dit waarvoor die kerk staan, indruis nie? Owerhede
in Europa, lande soos Nederland, Engeland, ook in lande soos Canada, Amerika. Christene
het in diskrediet geraak.

Dit laat
mens tot die HERE roep: hoe lank moet u kinders nog die smaad dra, die
veragting? In Suid-Afrika het die regering ook wette aangeneem wat teen God se
Woord indruis. In Suid-Arika val veral op hoe die regering, maar nie net nie,
ook so baie burgers van hierdie land, ‘n lewe lei wat God se wette totaal
verontagsaam. Laat ons die HERE vra dat Hy dit so sal lei dat al die kwaad en
goddeloosheid sy versadigingspunt mag bereik. Dat daar ‘n dag sal aanbreek dat
die meerderheid van hierdie land sal uitsien na ‘n Christenleier, iemand wat
norme en waardes het, iemand wat die HERE se Woord en wette eerbiedig.

Die HERE
maak vir sy volk die deur na die toekoms weer oop. Dit is die boodskap van
vanoggend se preek. In die tyd van die ballingskap het God se volk in
diskrediet geraak. Hulle is verstrooi oor die aarde, hulle is verneder, hulle
is afgeskryf. Maar die HERE het betyds ingegryp. Hy het gesorg dat sy volkie
nie volledig van die aardbodem weggevee is, met Haman se moordwet nie. Hy het
gesorg, deur die diens van Mordegai, dat daar ‘n antiwet opgestel is in die
Persiese Ryk. Hy het self gesorg dat die skrik vir die Jode weer op die ander
volke geval het. En so het Hy weer leefruimte gegee vir hulle wat Hom dien, wat
by Hom skuil.

Geliefdes,
mag die boodskap van vanoggend vir ons in ons omstandighede vertroos, geduld
gee, moed gee, ook vir die toekoms. Die HERE sal altyd weer ‘n deur na die
toekoms oopmaak vir sy kinders. Ook sy kinders, wat Hom dien, hier in
Suid-Afrika. Of hulle blank is, swart, kleurling of Indiër.

Hy sal ook
sorg dat die skrik op sy vyande sal val, of hulle blank is of swart, kleurling
of Indiër. In Christus het God ‘n deur na die toekoms oopgemaak.

Toe Hy
gekruisig is, het Hy die skrik op die hele wêreld laat val, toe dit pikdonker
geword het. Sy opstanding uit die graf is die deur wat na die toekoms oopgemaak
is. En sy hemelvaart. En die uitstorting van sy Heilige Gees. En nou leef ons
in die verwagting van sy wederkoms, Maranata.

En tot
daardie dag sal Hy sy kudde bewaar, en waar nodig, dus ook hulle vyande laat
val.

                                                                                                                                  

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)