Jy kan nie ‘n Christen wees sonder goeie werke nie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-11-20
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 20 November 2016 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 130:1,2
(2e beryming)

Gebed

Skriflesing:
Hebreërs 10:19-39

Ps 130:3,4
(2e beryming)

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 32

Preek

Ps 131:1-3

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Ps 25:4,6

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 32

Daar was ‘n
keer ‘n baie ryk man, wat toe hy by ‘n stoplig stop, baie simpatie met ‘n
bedelaar gekry het, wat daar in die brandende son dag in dag uit staan en bedel
het. Hierdie ryk man het die bedelaar nie net ‘n paar rand gegee nie, maar
soveel dat hy nooit meer hoef te bedel nie. ‘n Maand later, toe die ryk man
weer by daardie stoplig stilhou, sien hy tot sy skok dat dieselfde bedelaar
weer daar staan en bedel. Dit het ook nie gelyk of daar aan sy uiterlik enige
verandering gekom het nie, inteendeel. Dis toe dat die ryk man besef dat ‘n
bedelaar se probleem veel groter is as net ‘n gebrek aan geld. Sy groot geskenk
aan die arm man het hom so lyk dit nie gehelp nie. Dit het hom eerder net nog
dieper in sy probleme van drank en dwelms ingehelp. Die ryk man het besef: geld
is nie vir hierdie bedelaar die antwoord nie. Hy moet opgeneem word in ‘n
kliniek of spesiale inrigting, waar hy onder streng maar liefdevolle
begeleiding van sy verslawings bevry kan word. En ook dit, al sou die ryk man
bereid wees om die kliniek se onkostes te betaal, sal eers dan ‘n kans hê om te
slaag, as die bedelaar self ook wil. As hy self bereid is om sy bestaan op
straat hiervoor in te ruil.

As hy self
insien dat hy op pad is na ‘n vroeë dood, as hy nie sy lewensstyl verander nie.
Ons kom nounou weer terug op hierdie voorbeeld.

Tema: Jy kan nie ‘n Christen wees sonder
goeie werke nie.

  1. Christus vernuwe jou

  2. Christus sorg dat jy ‘n positiewe
    uitstraling het

  3. Christus sorg dat jy nie verder
    weggly nie

  1. Christus vernuwe jou

    In die
    inleiding het dit oor ‘n bedelaar gegaan. In hierdie eerste punt gaan dit oor
    ons mense, in sonde verlore, oppad na die ewige dood. Sonder God se
    barmhartigheid is dit ons voorland. Ons is gedoem tot ‘n ewige straf.

    Maar daar
    was ‘n ryk man, God sy dank, wat ons ontmoet het. Hy het, skryf die Kategismus,
    ons gekoop met sy bloed. ‘n Onbeskryflike groot offer het Hy gebring om ons
    skuld af te koop. So het Hy ons vrygemaak. Danksy Hom is ons nie meer gedoem om
    bedelaars te wees nie. Tot ‘n bestaan waarin ons steeds verder afgly in
    verslawing en ellende, tot die dood, die ewige dood, volg nie. God sy dank. Christus
    sy dank!

    Maar, vir ‘n
    nuwe toekoms is daar nie net ‘n groot klomp geld nodig nie.

    Of, soos
    antw. 86 sê: dit is nie net nodig dat Christus ons met sy bloed gekoop het nie.
    Daar is meer nodig. Wat is nog nodig? Hier staan: Christus het ons nie net met
    sy bloed gekoop nie, maar deur sy Heilige Gees vernuwe Hy ons ook tot sy
    ewebeeld.

    Vir ‘n nuwe
    lewe het ons dus meer nodig as sy bloed, ons het ook sy Gees nodig.

    Christus
    koop ons nie net vry nie, Hy vernuwe ons ook deur sy Gees.

    Sy Gees maak
    dit moontlik om ‘n nuwe, ‘n ander, ‘n beter lewe te begin lei.

    Soos Paulus
    in 1 Korinthiërs 6:20 skryf: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in
    julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”

    Christus het
    ons nie net duur gekoop nie. Hy vernuwe ons ook.

    Omdat die
    Gees van Christus, die Heilige Gees in ons kom woon het.

    In die tweede
    punt gaan ons dieper in op hierdie nuwe lewe.

  2. Christus sorg dat jy ‘n positiewe
    uitstraling het

    Om ‘n
    positiewe uitstraling te kan hê, is dit belangrik dat jy jouself liefhet.

    Ek bedoel
    dit in Bybelse sin. Jesus sê byvoorbeeld oor die tweede tafel van die wet: Jy
    moet jou naaste liefhê soos jouself. Wat Hy met hierdie woorde bedoel is
    natuurlik dat jy jou naaste baie lief moet hê. Jy moet baie vir jou naaste
    oorhê. En dus bedoel die Here Jesus ook, dis die ander kant van die muntstuk:
    jy moet ook jouself liefhê. Jy moet ook vir jouself goed sorg.

    Dit is nie
    iets wat in kompetisie is met die liefde vir jou naaste nie. Dit is die
    noodaaklike begin. ‘n Bedelaar, wat aan drank en dwelms verslaaf is, het ‘n
    negatiewe selfbeeld. Maar, omdat Christus ons vernuwe, omdat sy Gees in ons
    woon, sorg Hy dat ons ‘n positiewe uitstraling begin kry.

    Hy sorg dat
    ons goeie werke begin doen. Goeie werke mag nie agterweë bly nie. Nie as
    betaling vir die skuld nie. Christus het reeds betaal.

    Maar omdat
    die Gees in ons woon, kan en mag goeie werke nie uitbly nie.

    En so kry
    ons, wat gedoem was tot die ewige dood, ‘n nuwe uitstraling.

    Ons het geen
    uitstraling gehad nie, ons verdoemenis en uitsigloosheid het van ons gesigte
    afgestraal, soos die doelloosheid en slegte selfbeeld van ‘n bedelaar se gesig
    af te lese is. Maar Christus gee ons ‘n nuwe uitstraling.

    Ons leer
    weer om onsself lief te hê. Om nie skaam vir onsself te wees, soos ‘n bedelaar
    nie. Dit is, broer en suster, die gevolg van die werk van die Gees.

    Die
    Kategismus sê: uit die vrugte is ons seker van ons geloof.

    Vrugte,
    daarmee word bedoel: goeie werke.

    Dinge wat
    ons nie gedog het ons sou kon doen nie. So word jou selfvertroue weer herstel,
    jou eiewaarde.  So kry jy weer
    uitstraling! Jy begin jouself weer lief te kry, want jy besef dat God jou
    liefhet. Soms sê mense: jou sit lekker in jou vel. As Christene kan ons veel
    meer as dit sê: Ons kan sê dat ons vervul is met die Heilige Gees! Dit is
    soveel meer en soveel ryker as om net self lekker in jou vel te sit. Die Gees gee
    jou ‘n positiewe uitstraling.

    Dit kan nie
    uitbly nie. Dit mag ook nie uitbly nie.

    Antwoord 86
    noem ten slotte: sodat ons “deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir
    Christus kan wen.”

    Wat hiermee
    bedoel word, is helder en duidelik, neem ek aan. Dit sou abnormaal wees, dat,
    nadat Christus so veel aan ons gedoen het, dat daar niks aan die buitekant
    sigbaar sou wees nie. Dan sou ons soos die bedelaar wees, wat ‘n groot klomp
    geld van ‘n ryk man gekry het, maar wat dit nie gebruik om sy lewe te verbeter
    nie, net om nog meer drank te kan koop.

    Christus het
    soveel in ons belê. Nie eers goud of silwer nie, maar sy eie bloed. En ook sy
    Gees woon in ons. Dus het Hy alle reg daarop om van ons ‘n positiewe
    uitstraling te verwag. Dat ons deur ons Godvresende lewenswandel ons naaste vir
    Christus wen. Goeie werke kan en mag nie uitbly nie. Nogmaals, nie om krediet
    by God te verdien nie. Dis reeds in orde. Maar omdat goeie werke die
    noodsaaklike gevolg is van ‘n lewe met Christus. Dit kan gewoon nie anders nie.
    Hieraan kan u uself toets.

    Het u
    uitstraling? U is gered uit die ellende, sonder enige verdienste van u kant. Maar
    het u nou ook die daarby passende uitstraling?

    Vraag 86 vra
    die vraag hoekom ons eintlik nog goeie werk moet doen.

    Ons kom weer
    terug by die voorbeeld van die bedelaar. Goeie werke vir hom sou wees dat hy
    die moontlikhede wat hom aangereik word, ook aangryp en gebruik. Dat hy die
    helpende hand vat, wat hom sal lei na ‘n normale, stabiele, gesonde lewe, vry
    van verslawings. As hy dit doen, sal dit nie onopgemerk bly vir ander bedelaars
    nie. Dit sal oor en oor duidelik vir hulle wees, dat hy daadwerklik besig is om
    uit sy ellende op te kruip.

    Sodanig dat
    hulle jaloers sal word. Ook op soek sal gaan na hierdie ryk man, wat nie net
    geld gee nie, maar die pad wys na ‘n kliniek, waar hulle gerehabiliteer kan
    word.

    Gemeente,
    dis wat dit beteken om ons naaste vir Christus te wen.

    Jesus sê in
    Mattheüs 5:16 “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie
    werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”

    Paulus sê
    dieselfde in Romeine 14:18 “Want hy wat Christus hierin dien, is aan God
    welgevallig en by die mense geag.”

    By die mense
    geag wees, dit is die gevolg van ‘n positiewe uitstraling.

    Hulle sal,
    danksy jou lewenswyse, jou hemelse Vader verheerlik.

    Dit bring
    ons by die derde punt:

     

  3. Christus sorg dat jy nie verder
    weggly nie

    Jy kan nie
    ‘n Christen wees sonder goeie werke nie. Deur sy Gees stel Christus jou in
    staat om goeie werke te doen. En nou is die oproep aan jou om dan ook aktief te
    raak. Want kyk, ‘n mens is nie net ‘n objek, ‘n robot nie.

    Die ryk man
    kon ook, toe hy by die stoplig stilgehou het, nie ‘n bedelaar langs die pad
    gesien het nie, maar ‘n uitgebrande ou skedonk van ‘n motorkar. En die ryk man
    kon by homself gedink het.

    As ek
    hierdie ou skedonk saamvat huistoe, dit restoureer, dan sal dit weer waardevol
    kan wees. Dan sal dit dalk selfs as ‘n troukar kan dien. En so gesê, so gedaan.
    Maar gemeente, by ‘n bedelaar, wat ook ‘n mens is, werk dit anders. ‘n Mens
    moet self ook sy medewerking verleen. So is mense deur God geskape, met ‘n eie
    verantwoordelikheid. En dit is waaroor dit veral in vraag en antwoord 87 gaan. As
    die mens net ‘n ding was, soos ‘n motorkar, dan was dit nie nodig dat v/a 87 in
    die Kategismus gestaan het nie. Dan sou iemand wat in die kerk die vergewing
    deur Christus se bloed ontvang het, en ook nog die Heilige Gees, outomaties en
    vanself die goeie rigting in beweeg. Maar dis nie hoe dit werk nie. God wil dat
    jy self ook vir Hom kies. Hy het vir
    jou gekies, dit blyk uit alles. Maar nou verwag Hy jou antwoord. Hy verwag dat jy ook ja
    sê vir Hom, en vir die nuwe lewe.

    Dink maar
    aan hoe Josua die volk Israel voor die keuse gestel het:

    Kies dan
    vandag! Vrees die HERE en dien Hom opreg en trou.

    Maar as dit
    verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vandag, wie julle wil
    dien: òf die afgode van julle vaders, òf die afgode van die Amoriete, maar ek
    en my huis, ons sal die HERE dien! (Jos 24:15)

    God wil dat
    u self vir Hom kies. Daarom hou ek aan u dieselfde klemmende keuse voor, as
    Josua aan die volk Israel:

    Kies vandag
    vir die HERE, kies bewus vir Hom!

    Gemeente,
    weet u wat vir die HERE die ergste is? As Hy so baie in mense belê het, as Hy
    so baie vir mense gedoen het, maar dit lyk asof dit geen uitwerking gehad het
    nie. Of nog erger, as dit selfs ‘n omgekeerde uitwerking het. Dink weer aan die
    ryk man wat die bedelaar uit sy ellende en skulde wou help. Toe hy hom ‘n paar
    weke later weer ontmoet, het niks verander nie. Die situasie was selfs nog
    erger! Met al die geld wat die bedelaar gekry het, kon hy nog veel meer drank
    en dwelms koop!

    Hierdie
    keersyde is dus ‘n reële werklikheid, gemeente. Die Kategismus vra die vraag: Kan
    die mense dan gered word, wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en
    hulle nie tot God bekeer nie? En die antwoord is dan glashelder: Nee, glad nie.
    Christus wil nie dat ons verder weggly nie.

    U kan uself
    goed voorstel dat die hulp van die ryk man aan die bedelaar ‘n omgekeerde
    uitwerking sal hê, as die bedelaar nie self bereid is om te verander nie.

    Dan nou, kan
    u uself voorstel dat ‘n kerklid wat nie bereid is om te breek met sy ou mens,
    met sy ou gewoontes wat hoort by ‘n bedelaarsbestaan en nie by die nuwe lewe
    uit die Gees nie, kan u uself voorstel dat so ‘n persoon veel gevaarliker is as
    iemand wat goddeloos lewe, maar buite die kerk?

    Laat ons
    elkeen in vrees en bewing voor God weer hierdie keuse maak.

    Kies vandag,
    kies vir die lewe wat die Gees in jou werk. Jy kan en mag nie met jou ou lewe
    aangaan nie. Dan sal jy die koninkryk van God nie sien of beërf nie. Daar moet ‘n nuwe lewe op gang kom. Ons wat
    in die kerk opgegroei het, laat ons besef dat enkel kerklid wees ons nie gaan
    red nie.

    Jou ou mens moet gekruisig word. Jy kan nie ‘n
    Christen wees sonder goeie werke nie. Wie by Christus hoort, KAN NIE dieselfde
    bly nie.

    En julle
    hoort by Christus. Dis die blye Evangelie. God het eers vir u gekies.

    U is op sy
    Seun ingeplant. U kan vrugte dra. U kan goeie werke doen.

    En wat vra
    die HERE nou van jou?

    Dit: wees
    bereid om te verander! Met jou ou mens kom jy nie in die hemel nie. Paulus
    skryf dit baie mooi en indringend in Romeine 6:13:

    “moenie
    julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid
    nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode
    lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van
    God.” Moenie jou lede – jou hande – gebruik om dinge te doen wat Christus verbied
    nie. Moenie jou lede – jou voete – gebruik om êrens heen te gaan waar Christus
    jou nie sal wil vind nie. Moenie jou lede – jou oë – gebruik om na dinge te kyk
    wat jou nuwe lewe besoedel nie.

    Moenie jou
    lede – jou ore – gebruik om na dinge te luister wat jou nuwe lewe benadeel nie.

    En so kan ek
    aangaan.

    In antwoord
    87 word ‘n aantal tipiese sondare genoem.

    Onkuise,
    afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower ...

    Voorbeelde
    van oortreders van bepaalde gebooie van God. Ookal vind ons in hierdie rytjie
    name van sondaars sommige gebooie nie terug nie, dink byvoorbeeld aan die 3e,
    4e en 5e gbod.  Die bedoeling is
    duidelik.

    Die hele wet
    is hier ter sprake. U word opgeroep tot ‘n lewe volgens al God se gebooie. U
    word opgeroep om nie verder af te gly, noudat u deur Christus gehelp is nie. U
    word opgeroep om ‘n positiewe uitstraling te hê.

    Oor ‘n
    positiewe uitstraling handel die rytjie woorde wat ons in Galasiërs 5 vind:

    “Maar die
    vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid,
    goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die
    wet nie. Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en
    begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees
    wandel.” (Gal 5: 22-25)

    Binnekort
    sal u ‘n kategismuspreek hoor wat spesifiek oor goeie werke handel. Dan mag ons
    hierdie nuwe lewe, hierdie positiewe uitstraling deur die Gees, nog verder
    ondersoek. In elk geval is dit dus duidelik dat God se gebooie ‘n prominente
    plek in die nuwe lewe inneem.

    Goeie werke
    as ons offer van dankbaarheid. God se gebooie wys die rigting, hoe om ons lewe
    as dankbaarheidsoffer vorm te gee. God maak dit self moontlik. En nou roep Hy u
    daartoe op.

    Dink aan hoe
    Hy ons oproep in 1 Petrus 2:5 “laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n
    geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan
    God welgevallig is deur Jesus Christus.”

    Broer,
    suster, Christus wil allermins dat u, noudat Hy u opgehef het, dat u weer teruggly,
    of dalk nog erger. Wees ook self bedag daarop, want dit kan gebeur! Die Heilige
    Gees waarsku ons in Hebreërs 10: “As iemand die wet van Moses verwerp het,
    sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder
    straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed
    van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade
    gesmaad het?”

    Laat ons die
    Gees van genade se werk in ons nie gering skat nie.

    Soos ons
    hier in die kerk sit, weet ons wat reg is, ons weet wat die regte koers, die
    regte pad is. As jy desondanks kies om soos die wêreld te lewe, wat die Gees
    nie het nie, hoeveel swaarder straf sal jy nie ontvang nie.

    Inderdaad,
    ‘n baie swaarder straf.

    Wat hier in
    Hebreërs staan, kan en moet ons ook toepas op ons gemeente Pretoria-Maranata. Jou
    kerklidmaatskap, die verbond, gaan jou nie outomaties in die hemel bring nie. Daar
    wag ‘n swaarder straf vir hulle wat, hoewel gewaarsku, aangaan in ‘n verkeerde
    rigting. Broer, suster, as jou ouderling, of die predikant, of watter
    gemeentelid ook, jou daarop attent maak, dat jy die onderlinge byeenkomste,
    soos daar in 25 staan, nie moet versuim nie. Of as jy daarop gewys word dat jy
    oorweldig mag word deur te veel drank nie. Of as jy daarop gewys word dat jy
    nie soos die wêreld maak nie saak watter gebod mag oortree nie, en jy gaan tog
    daarmee aan, hoeveel swaarder straf wag daar dan nie vir jou nie. Liewe broer
    en suster, ek is ernstig, hierdie is nie net leë waarskuwings vanaf die
    preekstoel nie.

    Moenie sy
    werk in jou afrem nie. Moenie dit blus nie.

    Hy maak dit
    moontlik dat jy ‘n positiewe uitstraling het. Sorg dat jy dit het.

    Bewaar jou
    daarvoor dat die kerk as gevolg van jou optrede ‘n slegte naam kry. Bewaar jou
    daarvoor dat die Heer van die kerk deur jou optrede gesmaad word.

    Vandag, in
    die twee dienste, het die Gees weer voortgegaan om te bou, aan sy Geestelike
    huis. Laat jou gewillig invoeg, nie as ‘n dooie steen nie, maar soos ‘n lewende
    steen. Jy kan nie aan Christus en sy kerk behoort sonder goeie werke nie.

    Christus
    vernuwe jou. Laat jouself vernuwe.

    Christus gee
    jou ‘n nuwe uitstraling. Wys dit nou ook self.

    Christus
    keer jou dat jy weer teruggly. Hou asseblief net sy hand vas.

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)