Christus ontwerp twee sleutels as toegang tot sy koninkryk

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-11-06
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 6 November 2016 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 139:1,2,3

Gebed

Skriflesing:
Mattheüs 16:13-20 & Mattheüs 18:15-20

Ps 139:4,5,6

Skriflesing:
3 Johannes 1

Ps
139:10,11,12

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 31

Preek

Sb 43:1,2

Gebed

Apostoliese
Geloofsbelydenis

Sb 43:3,4

Kollekte

Sb 43:5,6

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 31

‘n Sleutel
gebruik mens om ‘n deur oop of toe te sluit. Die meeste deure het ‘n slot. Mens
het ‘n sleutel nodig om in jou huis in te kom, in jou motor, in die skool, in  die kerk, ensovoorts. As dit goed is, pas
daar slegs een sleutel op die slot. Mens kan natuurlik duplikate maak. Sodat pa
en ma en die kinders onafhanklik die huis kan inkom. By ‘n motor kry mens
meestal ook ‘n tweede sleutel, vir die geval dat jy jou sleutel per ongeluk in
die motor toesluit. Dit gaan dan oor twee presies dieselfde sleutels. Tog
bestaan daar ook deure waarvoor mens verskillende
sleutels nodig het, om hulle oop te kry. Mens kan dink aan die deur van ‘n
kluis. Op sommige kluisdeure is daar twee slotte wat elkeen ‘n ander sleutel
het. As mens die twee sleutels aan twee verskillende mense gee, beteken dit dat
albei aanwesig moet wees, as jy die kluisdeur wil oopkry. Op hierdie manier kan
voorkom word dat een van die twee in die geheim dinge uit die kluis sou
vervreem.

Nou kan mens
die koninkryk van die hemel ‘n bietjie hiermee vergelyk.

Want die
deur na die koninkryk van die hemel het ook twee sleutels. Die Here het dit so
gewil, sodat mense wat in die koninkryk van die hemel ‘n plek ontvang het, nie
sommer deur die duiwel weggeroof kan word nie.

En aan die
ander kant, sodat mense wat vyande is van die koninkryk van die hemel, nie
sommer binne kan kom nie.

Tema: Christus ontwerp twee sleutels as
toegang tot sy koninkryk

  1. Wie is die sleuteldraers?

  2. Die eerste sleutel, nl. die
    verkondiging van die Evangelie

  3. Die tweede sleutel, nl. die
    kerklike tug

     

     

  1. Wie is die sleuteldraers?

    Hierdie
    uitdrukking – sleutels van die koninkryk – kan dalk by sommiges vervreemding of
    irritasie oproep. Asof iemand hulle in sy sak kan hê.

    Asof een
    mens ‘n ander mens buite die koninkryk van Christus kan sluit.

    Die laaste
    oordeel kom tog net aan Een toe? Dink aan Openbaring 3:7, waar Jesus sê:  “Dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die
    sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand
    maak oop nie”.

    As Jesus vir
    jou ja sê, dan kan niemand mos daartussen kom nie? Maar gemeente, Jesus sê ook
    byvoorbeeld vir Petrus in Mattheüs 16:19:

    “Ek sal jou
    die sleutels van die koninkryk van die hemele gee; en wat jy ook op die aarde
    mag bind, sal in die hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde mag
    ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.”

    Jesus dra
    dus hier die mag aan Petrus oor – die bevoegdheid om te bepaal wie gaan in en
    wie word buite gesluit. Twee hoofstukke verder, Mattheüs 18, word duidelik dat
    Petrus nie die enigste sleuteldraer is nie. Daar is baie aan wie Jesus die
    sleutels oorhandig! Ons lees daar oor die sogenaamde ‘weg van Mattheüs 18’ – ‘n
    weg van liefdevolle vermaan, wat persoonlik begin en indien nodig uitloop op
    die liefdevolle vermaan deur die hele gemeente. Na aanleiding daarvan herhaal
    Jesus dan die woorde (vers 18):

    “Voorwaar Ek
    sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees;
    en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.” Onder
    bind word verstaan: oor iemand die ban uitspreek.

    En ontbind
    beteken die ban weer ophef. Hieruit blyk dat Christus aan sy gemeente ‘n
    belangrike bevoegdheid gegee het. ‘n Geweldige verantwoordelikheid. En daarom
    is dit belangrik om goed op die hoogte te wees oor hoe hierdie sleutels hanteer
    moet word.

    Om vir ‘n
    oomblik terug te verwys na die inleiding, dit maak natuurlik geen sin om as ‘n
    kluis twee slotte het, altwee sleutels vir een persoon te gee nie.

    Dan kon mens
    net so goed ‘n gewone deur met net een slot gehad het.

    Die
    beveiligde deur is slegs effektief as daar aan die afspraak gehou word.

    So stel
    Christus ook instruksies vas vir die gebruik van hierdie twee sleutels. Wat is
    Christus se instruksies met betrekking tot die sleutels van die koninkryk? Uit
    die feit dat daar twee sleutels is, kan ons aflei dat Christus daarvoor sorg
    dat die sleutelmag nie net in die hande kom van een enkele ampsdraer nie. Die
    sleutelmag is en bly die eiendom van die hele gemeente. En Christus het
    ampsdraers oor sy gemeente aangestel om hierin leiding te gee. Die kerkraad
    handel vervolgens nie na eie insig, voorkeur of afkeur nie. Die kerkraad is
    bewus van die feit dat dit uiteindelik Christus is wat oop-en toesluit. Maar daarmee
    wag Christus nie tot op die jongste dag nie. Ook nou in die hede is Christus
    daarmee besig.

    Hy het die
    sleutelmag aan sy gemeente toevertrou. U, jy is ook ‘n sleuteldraer. In
    Mattheüs 18 kry jy ook ‘n belangrike taak. Niemand, selfs die dooplede, kan
    hulle hieraan onttrek nie. Ook julle jongmense moet hierdie twee sleutels
    gebruik. Natuurlik word die verantwoordelikheid groter, na gelang van jou
    posisie in die gemeente. As jy belydende lid word, word jou verantwoordelikheid
    swaarder. En as jy ‘n ampsdraer word, word jou verantwoordelikheid nog
    swaarder. Maar in beginsel is almal van ons dus sleuteldraers, wat daarmee kan
    oop en toesluit.

    Kom ons kyk
    nou vervolgens nader na hierdie sleutels:

    (Tema:
    Christus ontwerp twee sleutels as toegang tot sy koninkryk

  1. Wie is die sleuteldraers?)

  2. Die eerste sleutel, nl. die
    verkondiging van die Evangelie

    Dit is dus
    die eerste sleutel. Hierdeur kry die prediking ‘n besondere dimensie. Sê maar:
    ‘n ewigheidsdimensie. Want in die prediking van die Evangelie gaan dit oor
    ewige heil en ewige verderf. Gered word of verlore gaan. Die suiwer prediking
    van die Evangelie kan maar twee reaksies ontlok. Of jy gee in geloof gehoor
    daaraan, of jy lê dit langs jou neer. Die toehoorder van die Evangelie kan nie
    neutraal bly nie. En volgens die getuienis van wat ons nou, in die hede, met die Evangelie doen, sal God ons oordeel in
    die toekoms. Dit beteken dus dat die prediking nie net ‘n mensewoord is nie,
    nie net die mening van die dominee nie, nie net ‘n meditasie of oordenking nie,
    maar ‘n proklamasie. Die koninkryk het naby gekom! Bekeer julle en glo die
    Evangelie! In 2 Korinthiërs 5 sê Paulus dat hy as dienaar van die Evangelie
    alles daaraan probeer doen om die mense te oortuig.

    As daar
    gepreek word, gebeur daar iets wesenliks. Jy ontmoet Christus in die krag van
    sy Gees. Die sleutel begin te draai. Jesus lê sy hand op jou.

    Hy plaas jou
    voor ‘n keuse. Hy trek aan jou, die goeie kant op. In die prediking word alles
    wat Jesus vir jou gedoen het, aan die orde gestel.

    So skryf
    antw. 84 byvoorbeeld: Jy kry te hore dat al jou sondes waarlik deur God ter
    wille van die verdienste van Christus vergewe is, so dikwels as wat jy die
    belofte van die Evangelie met ‘n gelowige hart aanneem.

    Antwoord  84 wys verder daarop dat die mens nie soos ‘n
    robot is nie. Hy is nie vooraf deur God geprogrammeer nie. Die verkondiging van
    die Evangelie stuur aan op ‘n keuse van die mens self. Alles word daaraan
    gedoen dat die keuse positief sal wees. Maar die mens kan nie gedwing word nie.
    Hulle wat kies om ongelowig te bly, of die huigelaars, die toneelspelers in die
    kerk, hulle kry te hore dat die toorn van God en die ewige oordeel op hulle
    bly, solank hulle hul nie bekeer nie. Hierdie mense word nie in die hoek gesit
    nie. Nee, hierdie harde woorde vorm deel van die Evangelie. Sodat elkeen weet
    waaraan hy toe is, as hy die Evangelie van die hand wys. Ons sou nog baie oor
    die prediking van die Evangelie kon sê.

    Vir vandag
    laat ons dit hierby. Die prediking is dus nie vryblywend nie.

    Dit behoort
    ‘n impak te hê op die houding waarmee ons daarna luister.

    Dit behoort
    ook ‘n impak te hê op die houding waarmee ‘n prediker op die preekstoel staan. Dit
    gaan oor sake van lewe en dood. Hierdie ‘n sleutel, wat inderdaad oopsluit, of
    toesluit. Ewig kan oopsluit, en ewig kan toesluit.

    (Tema:
    Christus ontwerp twee sleutels as toegang tot sy koninkryk

  1. Wie is die sleuteldraers?

  2. Die eerste sleutel, nl. die verkondiging van die Evangelie)

  3. Die tweede sleutel, nl. die
    kerklike tug

    Die tweede
    sleutel, die kerklike tug, werk in omgekeerde rigting. Eers word toegesluit,
    met die bedoeling om hopelik binne nie al te lang tyd weer oop te sluit. Nou is
    die instruksies vir die gebruik van hierdie sleutel nogal uitgebreid. Die
    gemeente en die kerkraad, wat hierdie sleutel ter hand neem, moet hulle goed
    bewus wees waarmee hulle besig is. Dit kom mens goed agter uit die lang antwoord
    85. Daar word gepleit om baie omsigtig met hierdie sleutel te werk te gaan. Die
    bedoeling van hierdie sleutel moet mens goed besef, voor jy dit begin gebruik. Dit
    gaan nie daaroor dat jy iemand afskryf nie. Die woord ‘tug’ is afgelei van die
    woord ‘trek’. Dink aan die Duitse woord ‘ziehen’ of ‘erziehen’ wat opvoed
    beteken. Die tug het ‘n opvoedkundige karakter. Om ‘n voorbeeld te noem. Toe ek
    op laerskool was, het dit soms gebeur, as mens lastig was in die klas, dat die juffrou
    gesê het: gaan staan jy maar ‘n rukkie in die gang. Mens is dan as’t ware
    buitegesluit. Na ‘n rukkie het die onderwyser jou weer kom roep. Of as dit te
    lank geduur het, het jy self versigtig op die deur geklop. As die onderwyser
    oopmaak, het jy gesê dat jy jammer is. Dan mog jy weer inkom.

    Eintlik is
    dit die bedoeling dat die tug ook so in die kerk funksioneer. Om iemand tot
    besinning te bring. Daarom, al werk hierdie sleutel in die eerste plek in die
    rigting van uitsluit, hou mens die sleutel byderhand om so gou moontlik – hopelik
    – weer te kan oopsluit. As Paulus in 1Timotheüs 1:20 sê dat hy twee broeders
    aan die satan oorgegee het, blyk dit dat hy dit gedoen het met die hoop dat die
    twee vinnig sou agterkom dat ‘n lewe saam met die satan iets verskrikliks is, en
    dat hulle met berou sou terugkeer. Dit is ook die strekking van wat Jesus sê in
    Mattheüs 18, die sogenaamde ‘weg van Mattheüs 18’. Die klem val hier op die
    persoonlike broederlike tug.

    In die kerk
    trek ons aan mekaar. Uit liefde laat ons mekaar nie met rus nie.

    En eers in
    allerlaaste instansie lei dit tot werklike uitsluiting uit die gemeente. Nou
    het ek al genoem dat dit nie net een persoon is wat hierdie sleutel in sy sak
    dra nie. Die hele gemeente is sleuteldraer. Dit gaan dus oor ‘n
    verantwoordelikheid waarin jy ook deel. Ons begin nie by ‘n ander nie, maar by
    jouself. En dit is eintlik mooi. Want as jy so na die tug kyk, dan hoef mens
    nie bang te wees vir die tug nie. Die tug is nie om ‘n sondaar af te skryf nie,
    maar juis om die sondaar te behou.

    Ons hou
    mekaar vas, ons is saam op weg na die koninkryk van Christus.

    Ons beskerm
    die nuwe lewe – die wedergeboorte – wat die Heilige Gees in ons harte geplant
    het. Ons begin nou al met die nuwe lewe. Ons bewaak die voortgang van hierdie
    proses, sodat hierdie nuwe begin by elke gemeentelid voortgang vind. Nogmaals,
    ons mag by onsself begin. As dit die doel van die tug is, hoef ons nie bang te
    wees nie. Jy kan oop en vrymoedig wees, ook oor jouself. Sê nou maar,
    byvoorbeeld, jy het probleme in jou huwelik. Dan is dit, vanuit hierdie visie
    op die tug, nie iets om teen op te sien om jou probleme met ander te deel nie. Jy
    hoef nie jou swakpunte angsvallig weg te steek nie. Dan maak jy dit net vir
    jouself moeiliker. Die tug is nie bedoel om iemand te verneder nie. Die tug is
    bedoel om verder te help, om te werk in ‘n rigting en die soek na ‘n oplossing.
    Dit vanuit die uitgangspunt dat ons almal sondig is. Sê nou maar jy het ‘n
    alkoholprobleem. Dan is dit vir die duiwel uitstekend as dit verborge bly, want
    dan moet jy steeds verskonings uitdink, en so vermeerder jy jou sondes. Maar is
    jy dit bespreekbaar maak, kies jy die pad na ‘n oplossing.

    Sê nou maar
    jou hormone het jou gedryf dat jy te ver gegaan het in jou verhouding. Ook dan
    geld dat wie dinge verberg, die skuld vermeerder, en jy maak jouself kwetsbaar
    vir herhaling. Wie skuld bely, vind ontferming.

    Jy kan ook
    so opgaan in jou stokperdjie, of dalk in jou beroep, dat dit jou kerkbesoek
    negatief begin beïnvloed. Ook dan is dit pragtig as jy dit met iemand kan
    bespreek. Daarvoor gee God ons vir mekaar. Ons is almal sondaars, ons help
    mekaar op pad na die ewige lewe. In hierdie gesindheid gaan ons met mekaar om. Ook
    as jy hierdie sondes by ‘n ander broer of suster sien. In die goeie sin van die
    woord laat ons mekaar nie vry nie.

    Want dit sou
    beteken dat jy sou staan en toekyk hoe iemand besig is om verstrik te raak in
    die nette van die satan. Net soos ‘n spinnekop sy prooi toespin. Die prooi kan
    hoe langer hoe minder beweeg. As daar nie hulp van buite af kom nie, is dit
    gedaan.

    Hiervoor het
    Christus dus die tweede sleutel ontwerp.

    Veelbetekenend
    vind ons in vraag 85 nie net die woord toesluit
    nie, maar ook die woord oopsluit.
    Die bedoeling is nie om van iemand ontslae te raak nie.Die bedoeling is om
    iemand deur hierdie ingrypende maatreël tot besinning te bring. Die bedoeling
    is ook om die gemeente teen infeksie te beskerm. Sê nou maar daar is iemand in
    die kerk, wat net soos sommige teoloë deesdae, ontken dat Jesus uit die dood
    opgestaan het. As so ‘n persoon vrygelaat word om sy mening te verkondig, en
    ander kerklede hoor dit en die kerkraad doen niks daaraan nie, dan dreig die
    gevaar van infeksie. Sê nou maar ‘n gemeentelid is elke naweek dronk, en is ook
    nog trots daarop, en dit word oogluikend toegelaat, dan tas dit die gesondheid
    van die hele gemeente aan. Kerklede wat dit sien, behoort die betrokke persoon
    daarop aan te spreek. Ons moet die persoon met liefde help om daarvan af te
    kom. Mog die persoon by herhaling nie luister nie, dan moet daar verder hulp
    gesoek word, by die kerkraad wat oor die gemeente aangestel is. Wanneer die
    persoon die gesprekke met die ampsdraers langs hom neerlê, dan volg afhouding
    van die sakramente. In die uiterste geval kom die kerklidmaatskap op die spel
    te staan. Die bedoeling hiervan is dus, om deur liefdevolle bemoeienis die
    persoon weer op die regte pad te help.

    En sorg te
    dra vir die gesondheid van die hele gemeente.

    In die
    Bybelboek – 3 Johannes – wat ons gelees het, sien ons dat Johannes hom veral
    deur hierdie motief laat lei – die gesondheid van die gemeente.

    Johannes
    noem in vers 9 die naam van ‘n persoon – Diotrefes. ‘n Man wat al meerdere male
    liefdevol vermaan is, gehelp is om weer op die regte pad te kom, maar wat tog
    bly volhard het. By Diotrefes was die 9e gebod ter sprake. Diotrefes het lelik gepraat,
    met slegte woorde teen Johannes uitgevaar (vers 10). Met die bedoeling om sy
    naam skade te berokken.

    Hy het die
    ampsdraers se naam swartgesmeer. Meerdere kere is daar al met hom gepraat dat
    hy moes ophou, omdat die hele gemeente op hierdie manier skade ly. Wie by
    herhaling die liefdevolle vermaning langs hom neerlê, sy naam moet vermeld
    word. Om op hierdie manier die gemeente te beskerm teen infeksie. Om op hierdie
    manier sy slegte invloed te isoleer.

    Daar is nog
    een saak waaraan aandag geskenk moet word. En ek wil hê dat elkeen hier in die
    kerk hierdie vraag baie eerlik vir homself, of haarself moet beantwoord. Toe jy
    belydenis van geloof afgelê het, toe het jy op die volgende vraag ja
    geantwoord:

    Beloof u om
    as ‘n lewende lid die bediening van Woord en sakramente ywerig te soek, u gawes
    gewillig en met vreugde aan te wend, en u aan die Christelike vermaning en tug
    sal onderwerp, as u in leer of lewe u misgaan?

    My vraag aan
    elkeen van u vanaand is: Staan jy nog steeds by hierdie belofte? Of het jy dalk
    te maklik ja gesê, destyds?

    Ongelukkig
    wys die praktyk uit dat sommige mense te maklik ja gesê het.

    Want as die
    dag in hulle lewe kom, dat hulle vermaning en tug ontvang, hetsy van mede
    gemeentelede, hetsy van die ampsdraers,  dan
    wys die praktyk uit dat sommige mense nie hulle daaraan onderwerp nie.

    Hoewel hulle
    dit met hulle eie mond destyds belowe het. Hoe dikwels het ons al nie deur die
    jare gesien, dat mense in so ‘n geval hulle onttrek
    aan die vermaning en tug van die gemeente, van die kerkraad. En menslik
    gesproke, let wel, is dit mos eintlik gerieflik, dat daar, in hierdie groot
    stad waarin ons woon, nog baie ander ‘kerke’ is, waarna mens kan uitwyk.

    Keer op keer
    gebeur dit weer. Mense onderwerp hulle nie, maar onttrek hulle, om hulle eie
    gang te gaan. En daarom dat ek u baie indringend vra vanaand, is dit ook wat jy
    gaan doen, as die dag aanbreek dat jy vermaan word? Want laat ons eerlik wees,
    daardie dag sal vir elkeen van ons kom.

    Daar is
    niemand van ons wat sonder vermaning deur die lewe kan gaan nie.

    Maar met
    watter houding gaan jy die vermaning aanvaar? Gemeente, dit is ‘n onding, as
    mense van die een kerk na ‘n ander skuif, om onder vermaning uit te kom. In die
    5-punt samesprekings het ons as kerke saam afgespreek, en dit is iets om voor
    dankbaar te wees, dit mag nie meer gebeur nie. As iemand by ‘n ander gemeente
    aankom, omdat hy by sy eie gemeente probleme gekry het, word hy nie ontvang
    nie, maar teruggestuur.

    Geliefde
    broer en suster, vanaand moet jy nie die kerk verlaat voordat jy hierdie vraag
    baie eerlik vir jouself beantwoord het nie: Is ek bereid om my aan die
    vermaning en tug te onderwerp? Staan ek nog by my belofte?

    En dis nie
    my oproep nie, dit is Christus se oproep aan jou vanaand.

    Christus
    aanvaar dit nie as jy sy gemeente soos ‘n supermark behandel nie.

    Jy kom kry
    waaraan jy behoefte het, en as iets jou nie aanstaan nie, dan beweeg jy aan. Jy
    is deel van hierdie liggaam, onafskeidelik. Jy mag, jy kan jouself nie aan die
    opsig en tug onttrek nie.

    In hierdie
    preek het dit gehandel oor die gebruiksaanwysings by die twee sleutels van die
    koninkryk van die hemel. Twee sleutels wat ons almal moet gebruik. Dus behoort
    ons almal die gebruiksaanwysings goed te ken.

    Hierdie twee
    sleutels is nodig, omdat daar op aarde ‘n geestelike stryd woed. Christus se
    bedoeling is om met hierdie sleutels so veel moontlik mense in sy koninkryk te
    kry.

    Almal wie
    die Vader aan Hom toevertrou het.

    En om hulle
    te beskerm, sodat die duiwel hulle nie kan terugroof nie.

    Amen.

     

Liturgie: 

(kyk in preek)