Die HERE open die oë van sy kleingelowige kinders vir die verlossingsplan wat Hy reeds gemaak het

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-10-09
Text: 
Ester 4 : 14
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA,
9 Oktober 2016 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 125:1-3

Wet

Ps 86:1,2

Gebed

Skriflesing: Ester 4

Ps 86:4,5,9

Teks: Ester 4:14

Preek

Ps 78:12,17,18,25

Gebed

Kollekte

Ps 125:4-7

Seën

Preek: Ester
4:14

In Ester 4 lees ons oor die Jode se reaksie
op Haman se moordplan, wat as wet van Perse en Meders aangeneem is. Meer
spesifiek lees ons hoe Mordegai en Ester gereageer het. Hoe die Jode moes
gevoel het, kan ons vir onsself indink. Sê nou maar die EFF (Politieke party = Economic
Freedom Fighters) sou aan bewind kom en ‘n wet uitvaardig dat alle blankes voor
die einde van die jaar die land moet verlaat, en andersinds doodgemaak word.

By Haman se wetsvoorstel was daar nie eers
die opsie om te vlug nie. Ook in Jerusalem het die doodsberig deurgedring. Voor
die einde van die jaar sou almal uitgemoor word. Soos ons weet uit die
geskiedenis, op daardie stadium was die Joodse bevolking in Jerusalem in ‘n
baie kwesbare posisie.

Orals rondom hulle was daar mense wat hulle
nie daar gesoek het nie. En tot dusver was dit danksy die beskerming van die
Persiese Grootkoning dat hulle tog kon voortgegaan het met die herbou van die
tempel, met die herbou van die stad. Koning Darius het byvoorbeeld stadhouer
Tattenai se klag van die hand gewys. Maar nou het die Persiese Grootkoning,
Ahasveros, self teen die Jode gedraai.

Sy seëlring se stempel was op die briewe wat
oor die hele ryk uitgestuur is, waarin Haman se moordplan aangekondig is.

Tema: Die
HERE open die oë van sy kleingelowige kinders vir die verlossingsplan wat Hy
reeds gemaak het

In Ester 4 lees ons van die wanhopige reaksie
van die Jode op hierdie moordplan van ‘n Amalekiet, wat skielik die magtigste
man in die koninkryk geword het. Mordegai was waarskynlik een van die eerstes
wat van die plan gehoor het. Hy was daagliks in die regeringsentrum, die poort
van die koning. Deur sy kontakte het hy ook gehoor dat Haman ‘n fabelagtige
groot omkoopbedrag vir die koning aangebied het.

Mordegai was so geskok dat hy homself nie
meer kon beheers nie.

Geskok, nie net oor die moordplan nie, maar
ook oor die feit dat hy indirek die aanleiding daarvoor was. Hy was dit wat nie
voor Haman, die Agagiet, wou buig nie. En nou neem Haman wraak, nie net op hom
nie, maar op alle Jode. Mordegai het in die verste verte nie vermoed dat sy
hardkoppigheid, om nie te wil buig, sulke konsekwensies sou hê nie. Mordegai
skeur sy klere en trek ‘n roukleed aan. Hy strooi as op sy hoof.

Met ‘n geskreeu en gejammer het hy dwarsdeur die
stad gegaan, tot by die  poort van
koning. Huilend en jammerend, met ‘n roukleed aan en as op sy kop, het hy by
die poort van die koninklike paleis opgedaag. Volgens die geskiedskrywer
Herodotus het dit dikwels gebeur, dat mense in roukleed en al jammerende by die
paleis se poort opgedaag het. In die Ou Ooste was dit ‘n manier van wat ons
vandag sou noem: om te betoog of aksie te voer.

As iemand die koning of regering se aandag
vir een of ander onreg wou opeis. So het Mordegai luidkeels, publiek, dramaties,
aksie gevoer teen hierdie impulsiewe moordplan van die koning. Hierdie keer is
hy egter deur die poortwagters gekeer om in te gaan. Mense met rouklere aan mog
nie in die paleiskompleks inkom nie.

Ester se diensmeisies het toe aan haar gaan
vertel watter toestande daar by die poort geheers het, en spesifiek dat dit Mordegai
was. As vooraanstaande Jood het hy soort van die leiding geneem in hierdie
protesoptrede. Maar daar was ook ander Jode wat dieselfde gedoen het.

Ja in elke provinsie waar die koning se
moordplan bekend gemaak is, het die Jode uitgebras in weeklaag. Orals het die
mense begin vas.

Vas gaan in die Bybel dikwels saam met bid.

By die pasherboude tempel het die vromes
ongetwyfeld hulle nood uitgeroep tot God. Maar ook op baie ander plekke in die
Persiese ryk.

Soos die spreekwoord sê: nood leer bid. Selfs
die afvallige Jode het nou tot God geroep. En so het daar in die Persiese ryk
‘n breë Joodse boetebeweging op gang gekom, wat geroep het tot die HERE, tot
Jahweh, om verandering in hulle lot teweeg te bring. Vas en bid.

Geskeurde klere en ‘n gebroke hart.

“Onse God ... in ons is geen krag teenoor
hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet
doen nie, maar ons oë is op U.” (2 Kron 20:12)

Vas en bid. In ons kerkverband word daar ook
soms ‘n biddag uitgeroep.

‘n Paar weke gelede was daar ‘n biddag. En
vandag is dit, soos dit heet, voorbereiding op die viering van die nagmaal, wat
DV volgende week gevier sal word. Laat hierdie dinge nie net tradisies, vorme
wees nie.

Maar laat ons dit inhoudelik beleef.

Dit moet ons weer laat opkyk tot God, dat ons
alles van Hom verwag.

Vervolgens, toe Ester die berig hoor dat
Mordegai besig is om te protesteer by die paleis se poort, was sy geskok. Sy
was ontsteld, en het dadelik klere gestuur dat Mordegai dit asseblief moes
aantrek, sodat hy in die paleiskompleks kon inkom. Maar Mordegai het die klere
geweier.

En dit was toe eers, nadat sy Hatag, een van
die koning se hofdienaars gestuur het om uit te vind wat Mordegai besiel, dit
was toe eers, dat sy van die moordplan gehoor het. Mordegai het ‘n afskrif van
die plan gehad, en het gesorg dat dit onder Ester se oë kom.  Sodat sy self kon lees hoe rampsalig hierdie
wet was vir die Jode. By monde van Hatag vertel Mordegai ook die aanleiding van
dit alles. Ook vertel hy van die omkoopgeld. En dat Haman die koning se
seëlring gekry het, wat daarop dui hoe reël, werklik, die dreiging van hierdie
moordplan was.

Vervolgens dikteer Mordegai sy versoek aan
Ester, via Hatag. ‘n Versoek wat waarskynlik meer soos ‘n opdrag geklink het. Toe
Ester destyds in die harem opgeneem is, mog sy nie haar Joodse afkoms bekend
maak nie.

Dit was op bevel van Mordegai, haar oom. Nou
is Mordegai egter in ‘n hoek gedryf. Nou sien hy geen ander oplossing meer nie.

Nou moes
Ester haar afkoms bekend maak.

En ook Ester se teenwerping, weer via Hatag,
kon Mordegai nie op ander gedagtes bring nie. Niemand mog sommer na die koning
in die binneste voorhof ingaan, as hy nie geroep was nie. Hierdie maatreël was
gebruiklik by die oud Oosterse konings om ‘n sluipmoord te voorkom. Daar was ‘n
atmosfeer van wantroue. Ook nie verbasend nie.

Met so ‘n oppermagtige alleenheerser was dit
eintlik die enigste manier om van hom ontslae te raak. Tussen hakies, toe
Ahasveros ongeveer 55 jaar oud was, is hy in sy slaapkamer vermoor, deur
hofdienaars wat ‘n komplot teen hom beraam het. In die geskiedskrywing word
Ahasveros geskets as ‘n baie wispelturige man, ‘n wrede tiran, iets wat
heeltemal ooreenstem met die beeld wat ons van hom in die boek Ester kry.  Dis geen wonder dat Ester baie daarteen opgesien
het om voor so ‘n grillige despoot in die troonsaal te verskyn. Dit kon haar
dood beteken – Ester 4:10,16.

Dus vir Ester was Mordegai se plan prakties
onuitvoerbaar. Daar was te veel risiko aan verbonde. Moenie die onmoontlike van
my vra nie, het sy teengestribbel. Die reël is, wie ongevraagd by die koning
inkom, kry die doodstraf, en dit geld vir almal, tot en met die koningin. Ester
het wel die uitsondering op die reël geken, dat die koning sy goue septer kon
uitsteek, as ‘n gebaar van begenadiging. Maar daarop wou sy nie staatmaak nie.

Sy het die koning al vir ‘n maand nie gesien
nie, sy het geen idee gehad hoe sy gemoedstemming tans was nie. Daar kom nog by
dat Haman, die koning se hoogste raadgewer, vanaf die staanspoor teen haar sou
wees, as sy haar identiteit sou bekend maak.

En daar kom nog by dat die moordplan reeds ‘n
wet was, wat volgens die tradiese van die Perse en Meders nie ingetrek kon word
nie.

Maar, soos gesê, Mordegai kon nie op ander
gedagtes gebring word nie.

In ons teks sien ons hoe die HERE, die God
wat met Mordegai se volk ‘n verbond gesluit het, die geloof in hom begin wakker
maak. Mordegai, wat na die Babelse afgod Marduk vernoem is, sy naam beteken
vereerder van Marduk. Vaag begin hy besef dat die ongewone verloop van dinge in
sy lewe, die feit dat sy pleegdogter koningin geword het, dat dit tog met die
doel op iets kon gewees het. En dus hou hy vol, ondanks Ester se angs.

Hy gee ‘n nuwe opdrag aan haar. Hierdie keer
nie om haar Joodse afkoms te verberg nie. Maar hierdie keer om juis daarvoor
uit te kom. Self sien hy geen ander moontlikheid meer nie. En mog dit so wees,
dat dit haar doodsvonnis beteken, dit sal in elk geval gebeur, ook as sy niks
doen nie.

Want Haman se moordplan het ‘n wet van Perse
en Meders geword.

In koning Darius se tyd moes Daniël in die
leeukuil gegooi word, juis omdat dit ‘n wet van Meders en Perse was. Maak nie
saak hoe baie Darius van Daniël gehou het nie, die koning kon dit nie meer keer
nie. So sal Ahasveros dit nie kan keer nie, hoeveel hy ook van sy vrou Ester
hou.

As Ester ‘n Jodin is, moes sy ook gedood
word.

Mordegai is vasberade. In ons teks sien ons
sy vertroue in God wakker word, al is dit nog maar vaag. Israels se toekoms het
nie van koningin Ester afgehang nie. Daar sal van ‘n ander kant af ook verligting,
uitredding tot stand kan kom. Maar die vraag was, hoe God te hulp sou kom. Met
gebruikmaking van koningin Ester, of uit ‘n ander hoek? Maar as Ester nie sou
saamwerk nie, waarsku Mordegai, sou dit baie sleg kon afloop met haar en haar
familie. Daarom, nogmaals, in die huidige omstandighede was niks doen vir Ester
geen opsie nie. Mordegai besef nou hoekom sy koningin moes geword het. Dit was
nie net ‘n gulde geleentheid vir hom om hoër op te kom in die hof nie. By
Mordegai begin nou deurskemer: met die oog op ‘n tyd soos hierdie, het God
dinge so gelei dat Ester koningin geword het.

En dan probeer Mordegai Ester se oë ook oop
te maak vir God se leiding.

Was dit toevallig dat jy die
skoonheidskompetisie gewen het? Wie weet of jy nie met die oog op ‘n tyd soos
hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie? Toe jy destyds koningin
geword het, het God dit gedoen ter voorbereiding op dit wat nou besig is om te
gebeur! God se planne is nie altyd deursigtig nie. Maar soms kry ons ‘n glimps van
sy verhewe leiding.

En dan moet ons nie die oë daarvoor sluit
nie. Ons kan leer uit die verlede, uit die omgang van God met sy volk in die
verlede. Was dit toevallig dat Josef via die gevangenis op ‘n buitengewoon
onverwagte manier die onderkoning van Egipte geword het? Was dit toevallig dat die
dogter van Farao vir Moses, toe hy ‘n babatjie was, in die rietmandjie gevind
het, toe hy in die Nylrivier weggesteek is?

Was dit toevallig dat Moses in Farao se
paleis opgegroei het?

Was dit toevallig dat Daniël die magtigste
man in die ryk geword het, na koning Nebukadnesar?

En nou jy, Ester, is dit toevallig, is dit
regtig aan jou skoonheid te danke, dat jy koningin geword het?

Mordegai se intense beroep op Ester se hart
en gewete het ‘n uitwerking gehad. Ester besef sy gaan nie hier onder uitkom
nie. Maar sy is onseker.

Sy roep alle Jode op om vir haar te vas.  Vir drie dae en nagte moet hulle niks eet en
drink nie. Dit is ‘n ernstige vas. Vir drie dae niks drink nie, dit is baie
ernstig. Wie langer as drie dae nie water drink nie, kom in direkte
lewensgevaar. Volgens die Torah, die wet van Moses, was die Jode verplig om
slegs een dag per jaar te vas, naamlik op die groot versoendag (Lev 16:29-31). By
ander geleenthede kon mens wel vrywillig vas, hoewel die mense dan slegs
gedurende die dag nie geëet of gedrink het nie, maar in die aand wel weer.

Dit was dus nie ‘n kleinigheid wat Ester van
haar Joodse volksgenote gevra het nie. Dit was nie die gewone vas nie. En, lees
ons, ook Ester en haar diensmeisies sou dit doen. Soos gesê, in die Ou
Testament gaan vas en bid altyd saam. Hier sien ons dus ‘n begin van geloof,
van vertroue op die HERE, by Ester. Al is dit so dat haar opmerking ‘kom ek om,
dan kom ek om’ nog van ‘n soort fatalisme getuig. Sy voel haarself deur Mordegai
en deur die moordplan in ‘n hoek gedryf. Sy sou meewerk, al het sy self nog nie
heeltemal gemotiveerd daaragter gestaan nie.

Ester versoek dus dat almal saam met haar
moet vas. Sy is baie onseker.

Maar sy besef nou sy sal nie hier onderuit
kan kom nie. Waar ons by Mordegai tekens van geloof kan sien ontwaak, dat hy
begin oog kry vir God se optrede deur dit alles heen, is dit by Ester minder
duidelik. Ons hoor nog nie uit haar mond ‘n geloofsbelydenis van vertroue op
die Here nie, eerder ‘n soort fatalisme. As ek omkom, dan kom ek om. Sy is
sinies. In elk geval, die HERE het Ester nou sover gebring dat sy nie meer
verder soos verkleurmannetjie kan leef nie. Sy sal nou moet erken dat sy ‘n
Jodin is.

Baie Christene, ook vandag, lewe soos
verkleurmannetjies. Hulle lewe asof die antitese nie bestaan nie. Hulle wil dit
nie raaksien nie. Antitese is die teenstelling tussen waarheid en leuen. Antitese
gaan oor die groot geestelike stryd tussen God en die satan, tussen God se
kinders en die kinders van die wêreld. Antitese laat ons besef dat jy as
Christen nie neutraal in die lewe kan staan nie. Maar baie Christene lewe wel
so, hulle wil nie die stryd stry nie, hulle wil net rus hê in hulle lewe. Hulle
wil nie raaksien dat die satan besig is om sommige mense na die hel te lei nie.

Hulle wil nie daardie mense lastig val,
waarsku dat hulle oppad hel toe is nie. Hulle wil nie raaksien dat daar dwaling
kan wees, ook in kerkmense se leer en lewe nie.

Maar gelukkig, soms dryf God sy kinders in ‘n
hoek, sodat hulle nie anders kan nie as om daarvoor uit te kom wie hulle
werklik is, of wie hulle behoort te wees. So was dit met Ester. Sy is hier
letterlik in ‘n hoek gedryf.

Sy het nie baie daarvan gehou nie. Sy het
haar vervies vir haar oom Mordegai. Sy wou die liefste hier buite gehou word.

Maar Mordegai het gelukkig hierdie keer sy
rug reguit gehou.

Ester is in ‘n hoek gedryf. Sy’t dit goed
besef. As ek omkom, dan kom ek om.

Sinies, teen haar sin het sy saamgewerk.

Die geloof het nog gesukkel om in haar wakker
te word.

Tog word die HERE se aanwesigheid, ja selfs
sy almag, ook in die stad Babel, al hoe duideliker uit sy dade in die boek
Ester. Mordegai en Ester, wat ver afgedwaal het, omdat hulle afstam van
grootouers wat nie aan die oproep om terug te keer gehoor gegee het nie (soos
gelees in Jesaja 45),

hulle sondes wat nou besoek word aan die
derde en vierde geslag (dink aan die tweede gebod), hulle word deur die HERE
nou self opgesoek.

Die HERE gryp kragdadig in hulle lewens in. Hy
dryf hulle in ‘n hoek.

Aanvanklik het Mordegai Ester verbied om ter
vertel dat sy ‘n Jodin was.

Dit teken hulle nie as beginselvaste
gelowiges nie. Maar later het die HERE hulle in die nou gedryf, en so die
omstandighede gelei dat hulle wel geforseer was om daarvoor uit te kom. So doen
die HERE dit vandag ook nog met sy kinders. As hulle nie die moed het om vir
hulle geloof uit te kom nie, dan lei Hy ons in beproewings, om te sien of ons
die versoeking sal weerstaan, en daarbo sal uitrys, of dat ons dan finaal
ingee.

“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer
julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beprouwing van
julle geloof lydsaamheid bewerk.” (Jakobus 1:2,3)

God sy dank vir sy genade dat Mordegai en
Ester deur hierdie groot beproewing wat op hulle pad geplaas is, nie beswyk het
nie, maar uiteindelik opgestaan het en daarvoor uitgekom het dat hulle Jode
was.

God sy dank, dat Hy die geloof, die vertroue
in hulle wakker gemaak het.

God sy dank, dat Hy, ten spyte van hulle
kleingeloof, sy kinders nie in die steek gelaat het nie. Dat Hy bly dink het
aan sy belofte, om juis deur middel van hulle, daardie klein en onaansienlike
Joodse volk, alle geslagte van die aarde te seën (Gen 12:3). Ja hoewel Satan sy
skuiwe gemaak het, vir Haman magtig gemaak het, en gesorg het dat die moordplan
as wet uitgevaardig is, is God nie ontkant betrap nie. Want al eerder het die
God almagtig, die HERE van die Here, sy skuif gemaak.

Soos ons teks God se skuif verwoord: met die
oog op ‘n tyd soos hierdie het Ester tot die koninklike waardigheid geraak.

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)