Die Bevrydingsdag is daar om gevier te word!

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-06-19
Text: 
Markus 3 : 1-6
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 19 Junie 2016 AD, 10:15
(Nagmaal)
    

Votum

Seën

Ps 92:1,2

Nagmaalsformulier
(1e deel) & 10 Gebooie (Exodus 20)

Sb
26:1,10,11

Nagmaalsformulier
(2e deel)

Gebed
(afgesluit met die sing van die Onse Vader)

Apostoliese
Geloofsbelydenis (sing)

1e tafel:
Skriflesing: Markus 2:18-3:6; Ps 92:3,4

2e tafel:
Teks: Markus 3:1-6 & Preek; Sb 26:6

3e tafel:
Lofverheffing; Ps 92:5

Dankgebed en
voorbede

Kollekte

Ps 92:6,7

Seën

Preek: Markus 3:1-6

Tema: Die Bevrydingsdag is daar om gevier te
word!

Dit is
vandag ‘n feesdag. Ons vier ons bevryding.

Op Sondag
herdenk ons dat Christus uit die dood opgestaan het.

Op hierdie
Nagmaalsondag herdenk ons dat Hy aan die kruis vir ons skuld betaal het.

Dat Hy die
magte van die dood, die sonde, die satan, die hel, oorwin het.

Dat Hy ons
uit hierdie magte bevry.Dit is vandag ook ‘n rusdag.

Om fees te
vier beteken outomaties ook rus.

In ons teks
gaan dit ook oor hierdie dag.

Die rusdag,
wat onder die Jode die Sabbat, die Saterdag was.

In ons teks
gaan dit oor waarvoor hierdie dag eintlik bedoel is.

Ons het
gelees oor die spanning wat opgeloop het tussen Jesus en die Fariseërs.

Dit was as
gevolg van die feit dat Jesus se dissipels are op Sabbat gepluk het. Dit het
tot ‘n meningsverskil gelei.

En nou,
bietjie later op dieselfde dag, was daar weer ‘n konfrontasie.

Weer het dit
gehandel oor die doel van hierdie rusdag.

En dan kom
Jesus ineens in die sinagoge te staan voor ‘n keuse.

Die man met
die verdorde hand. Wat sou Hy met hom doen?

Sal Jesus
die man genees? Dit was iets wat volgens die reëls, die kasuïstiek van die
Fariseërs, op Sabbat nie geoorloof was nie.

‘n Dokter
mog nie op Sabbat iemand gesond maak, wat nie in doodsgevaar verkeer het nie. Dit
kon wag tot die volgende dag.

Maar dan
kies Jesus, teen die reëls van die Fariseërs in, om tog die man se
verskrompelde hand te genees.

Dit was
duidelik iets wat nie lewensgevaarlik was nie.

Dit was
moontlik iets wat pynlik kon wees, baie ongemaklik, so ‘n spastiese hand. Maar lewensbedreigend.
Nee.

Oor hierdie
geval het daar toe weer ‘n diskussie opgelaai tussen Jesus en die Fariseërs.  

Die
kasuïstiek van die Fariseërs het dit as arbeid bestempel.

Hulle het
hulle streng aan die reëls gehou, om so die Sabbat hoog te hou.

Het Christus
die Sabbat dan nie hoog gehou nie?

Met die
vorige redekaweling het Jesus opgemerk: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie
die mens vir die sabbat nie.”

Dus, die
Sabbat was ook vir die man met die verdorde hand.

Christus,
die Heer van die Sabbat, het hom van sy pyn en ongemak bevry op die Sabbat.  Eintlik het die bedoeling van die Sabbat so
pragtig tot uiting gekom. Jesus het hom weer lewensvreugde gegee.

Hy het dit
in die sinagoge gedoen as illustrasie van sy boodskap.

Hy was nie
in die eerste plek ‘n wonderdokter nie, maar Hy het gekom met die blye boodskap
van sy Vader. ‘n Boodskap van vergifnis!

Om eerlik te
wees, die Fariseërs wat daar was, het eintlik in hulle hart, hulle bose hart,
ook gehoop dat Jesus die man se hand sou genees!

Nie omdat hulle
vir die man omgegee het nie.

Maar hoekom
hulle dit gehoop het, was omdat dit vir hulle net nog ‘n rede sou gee om Hom te
kon bekritiseer. Eintlik ‘n omgekeerde wêreld!

Eintlik
verskriklik erg dat mense so met mekaar kan wees!

Want dan sou
hulle Hom kon aankla wees oortreding van die Sabbatsgebod, ten minste volgens
hulle opvattings.

Ja selfs
weens herhaalde oortreding van die Sabbatsgebod, die tweede keer daardie selfde
dag. Dus, volgens hulle kasuïstiek, nie net ‘n onopsetlike sonde nie. Nee,
doelbewys, by herhaling.

Belus op
Jesus se ondergang het hulle aan Hom die vraag voorgelê, of dit geoorloof was
om op Sabbat te genees.

Jesus het
Homself egter nie van koers laat afbring nie.

As Heer van
die Sabbat het Hy geveg vir God se bedoeling met hierdie dag.

Maar die
Fariseërs het hulle verhard, en hulle kon nie oortuig word nie.

Hulle het
ontstoke weggeloop en selfs met die Heriodiane gaan raad hou, skryf Markus. Normaalweg
was die Fariseërs en die Herodiane soos water en vuur, soos kat en hond.

Maar nou oorlê
hulle saam teen Christus, hoe hulle Hom kon ombring.

Soos dit al
in Psalm 2 voorspel is: die vorste en konings van die aarde hou saam raad ten
dei HERE en sy Gesalfde (Psalm 2:2).

Geliefdes,
laat ons vandag hieruit leer.

Moenie
toelaat dat die kwaad aanhou groei in jou hart nie.

Die nagmaal
is juis om jou hart skoon te was.

Moet veral
nie misbruik maak van God se wette, of mooi woorde wat baie Bybels klink, om
ander mense te kwets, ander mense te verneder, ander mense in ‘n hoek te dryf
nie.

Laat ons mekaar
vashou in die diens aan die HERE, maar dit gedryf deur die liefde vir mekaar.

Tye
verander, maar God se gebod bly dieselfde.

Hierdie
goeie gebod van God, om die rusdag te vier, staan vandag in ons land onder baie
spanning.

Op Sondag
draai die ekonomie deur op volle kragte.

By die
winkelsentrum staan op hierdie oomblik meer karre as by alle kerke in Waverley
saam. Ook dit was nie die bedoeling van die Heer van die Sabbat nie. Waar die
Fariseërs slawe van hulle eie reëltjies geword het, is baie mense deesdae slawe
van die kommersie, van die supermarkmentaliteit, konsumentisme.

Laat ons
daarenteen die bevrydingsdag herdenk, laat ons op hierdie dag weer stilstaan by
die wesenlike sake in die lewe.

Dit is dat
ons weer fokus op God se doel met die skepping, God se doel met jou lewe. Christus
is Heer van die Sabbat.

Christus is
Heer van die Sondag, die eerste dag van die week, die opstandingsdag.

Christus is
ook Heer van elke dag van die week.

Soos ons in
die Kategismus bely:

Juis op
Sondag leer ek om elke dag van my lewe van my bose werke te rus, en die Here
deur sy Gees in my te laat werk.

So begin ek
die ewige Sabbat reeds in hierdie lewe.

Onthou u nog
die keer toe Jesus die verlamde man genees het?

Toe het Hy
aan die Fariseërs gevra: wat is makliker, om vir die verlamde te sê, jou sondes
is vergewe, of om te sê: neem jou bed op en loop.

Christus het
van die Sabbat ‘n bevrydingsdag gemaak.

Nie net van
liggaamlike pyn nie, nie net van verlamming nie, meer nog, bevryding van sonde
en skuld.

Bevryding
van ons grootste vyande: die dood en die duiwel.

Daarom het
Jesus opgestaan uit die dood, op die eerste dag van die week.

Daarom vier
ons nou die rusdag op Sondag, die 1e dag, en nie meer op die ou Sabbat nie.

Sedert
Christus se opstanding uit die dood is die bevrydingsdag die eerste dag van die
week.

 

Kom ons
belowe vir mekaar op hierdie Nagmaalssondag, hierdie dag van bevryding, kom ons
belowe:

Ons gaan nie
toelaat die iemand ons vryheid by ons afvat nie.

Ons gaan
mekaar ook vashou by hierdie vryheid.

Die regte
manier van Sondag vier, om werklik tot rus te kom, liggaamlik en geestelik. Dit
staan geweldig onder druk in ons land.

Ons gaan nie
in reaksie die wettisisme van die Fariseërs oorneem nie. Nee. Dit ook nie.

Christus het
met een enkele opdrag die man se verdorde hand genees.

Maar daarmee
het Christus nie vir deesdae se hospitale, wat groot fabrieke geword het,
toestemming gegee om op volle toere deur te draai op Sondag nie. Wel roep sy
voorbeeld op tot die doen van barmhartigheid, ook op die rusdag. In die
Christelike etiek is daar deur die eeue melding gemaak van arbeid van
barmhartigheid, asook arbeid van noodsaaklikheid.

Dit is
arbeid wat op Sondag moet voortgaan.

Dit is ‘n
saak van barmhartigheid dat die noodgevalle afdeling van die hospitaal oop is
op Sondag.

Dit is ‘n
saak van noodsaaklikheid dat die polisie ook aan diens is op Sondag. Wat sou
anders op ons paaie gebeur, as almal sou weet dat daar op Sondag geen poliesman
aan diens is nie?

Maar barmhartigheid
en noodsaak is iets anders as konsumentisme.

Laat ons op
hierdie punt ook eerlik wees met mekaar.

Dit is nie
barmhartigheid of noodsaak, om op Sondag die Pick ‘n Pay of Checkers te besoek
nie, of op Sondag met vakansie te gaan of terug te keer nie.

Dit is dalk
gebrek aan barmhartigheid met die minder bevoorregtes in ons samelewing, wat as
gevolg van ons konsumentisme daarom op die Sondag moet werk, sodat ons vakansie
net nog daardie een dag langer kan wees.

Laat ons nie
met die stroom saamdryf nie.

Laat ons,
net soos ons Heiland, sowel vertoorn wees as bedroef, as die bedoeling van die
rusdag nie tot sy reg kom nie.

Die rusdag
is bedoel om goed te doen. Die rusdag is bedoel om lewens te red. Vandag vier
ons ons bevryding.

Ons vier dit
vandag dubbel omdat dit Sondag is, en omdat dit nagmaal is.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)