Jesus Christus is die Here van ons lewe.

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-05-08
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 13
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 8 Mei 2016 AD, 17:30

Votum: Ps
121:1

Seën

Ps 123:1,2

Gebed

Skriflesing:
1 Korinthiërs 6:12-20

Ps 124:1,2

Skriflesing:
1 Petrus 1:13-25

Ps 124:3,4

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 13 v/a 34

Preek

Ps 24:1,5

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Sb 34:2,3

Seën

Preek: HK Sondag 13 vraag en antwoord 34

Jesus
Christus is Here, Baas van die wêreld in sy geheel en ook van elke mens
persoonlik.

Elkeen is sy
onderdaan.

Nie net
kerkmense nie, elke mens, ook alle regerings.

Ook konings
en presidente.

Jacob Zuma
is die kneg van Jesus Christus.

Heel
Suid-Afrika, elke hektaar grond, elke berg, elke koppie, elke rivierloop, elke
strand, elke plaas, elke dorp, elke stad is die eiendom van die uit die dood
opgestane Here.

Gemeente, sê
nou maar hierdie belydenis, dat Jesus die Baas van hierdie land is, sê nou maar
hierdie belydenis sou u die doodstraf kos.

Sê nou maar
u sou hiervoor in die tronk beland.

As jy
publiek sou uitspreek, Jesus is Baas van hierdie land, dat dit geag sou word
dat jy die gesag van die regering ondermyn.

Sê nou maar
dat hierdie belydenis ‘n kriminele oortreding sou wees.

Dat dit geag
sou word as destabilisering van die land.

Gelukkig
noem meer as 80% van Suid-Afrika hulleself Christen, gelukkig is so ‘n situasie
tans ondenkbaar in ons land.

Maar dit was
wel die omstandighede waarmee ons mede-Christene in die vroeëre Romeinse Ryk te
make gekry het.

In die
Romeinse Ryk was daar maar een Here.

In die
Grieks is dit genoem: Kurios.

Daar was
maar een Heer, en dit was die keiser. Wie dit ontken het, en publieklik iemand
anders Here genoem het, het hoogverraad gepleeg.

Daarvoor het
die doodstraf gestaan.

Dit is hoe
die Christenvervolging in die Romeinse Ryk tot stand gekom het.

‘n Uitspraak
soos van die dissipel Thomas: my Here en
my God
, was dus lewensgevaarlik.

Die feit dat
Thomas vir Jesus gesê het: my God.

Dit was ‘n
oortreding volgens die Joodse wet, maar vir die Romeine het dit nie saak gemaak
nie.

Maar die
feit dat Thomas Jesus my Here genoem
het, my Kurios, dit was
ontoelaatbaar.

So ‘n
uitspraak het die gesag van die keiser ondermyn.

Die indruk
is gewek dat Christene nie aan hom gehoorsaam is nie, asof hulle sy gesag nie
erken het nie.

Asof hulle
sy gesag sou ondermyn.

Iets wat nie
so was nie, dit was ‘n misverstand, maar so het die Christenvervolgings begin.

Die Romeine
het gedink dat die Christene hulle beywer het vir die koms van ‘n ander
koninkryk, en dat daardeur die stabiliteit in die ryk van die keiser aangetas
sou word.

Asof die
Christene terroriste was, wat die regering teengewerk het.

Kortom, die titel
Here was dus ‘n baie omstrede woord.

Vanaand gaan
die preek oor hierdie naam, hierdie titel.

En ons gaan
ook die vraag vra:

Wie is die
Here in jou lewe?

Wie is Baas
oor jou lewe?

Wat beteken
dit konkreet vir jou, vir elke dag?

Tema: Jesus Christus is die Here van ons
lewe.

1         Het
het ons vrygekoop om sy slawe te wees

2         Hy
het ons vrygekoop om sy vriende te wees

3         Hy
het ons vrygekoop om sy liggaam te wees

1         Het
het ons vrygekoop om sy slawe te wees

Hy het ons
vrygekoop van die sonde en uit alle heerskappy van die duiwel.

Hierdie
woorde het helaas vir baie van ons leë kerktaal geword.

Vrygekoop
... wat wil dit eintlik sê?

Dit klink so
bekend, en ons dink nie meer daarby na nie.

Dit het veral
twee oorsake.

In die
eerste plek ‘n gebrek aan sondebesef.

Dat ons nie
bereid is om dinge wat die Bybel sonde noem, in ons eie lewe ook sonde te noem
nie.

En dan ook
daadwerklik daarmee te breek.

En in die
tweede plek ons beskermde posisie hier in die kerk.

Danksy die
feit dat die meeste van ons in die kerk opgegroei het, ‘n Bybelse opvoeding
gehad het, kry ons relatief minder te make met die verwoestende krag van die
sonde.

Om maar een
voorbeeld te noem.

Die
gemiddelde kerklikd groei op in ‘n huisgesin waar daar ‘n pa en ‘n ma is.

Waar die pa
en ma ook van mekaar hou.

‘n Huisgesin
waarin jy veilig kan voel.

Maar vra
maar net aan iemand wat nie hierdie voorreg het nie, hoe verwoestend die sonde
is.

Hoe die
sonde iets stukkend kan maak.

Hoe iemand
verslaaf kan wees aan die sonde, en as die sonde jou eenmaal in sy greep het,
hoe ongelooflik moeilik dit is om daarvan afstand te doen.

Om uit die
slawerny van die sonde te ontsnap.

Ook al wil
jy hoe graag.

As jy
eenmaal slaaf geword het van die sonde ...

Mense wat
dit meemaak, weet hoe magtig die satan is.

Maar in
Sondag 13 bely ons nou:

Die Here is
magtiger.

Die Here is
almagtig.

En Hy wil
Heer wees oor elkeen van u lewens.

Hy werk
daaraan.

Moenie God
se werk onderskat nie.

Ontoeganklike
harte maak Hy sag.

Hy doen
alles om u los te skeur uit die mag van sonde en duiwel.

Selfs sy eie
Seun het Hy ingespan.

Jesus
Christus het jou gekoop met sy eie bloed.

Sy eie lewe.

Dit is veel
kosbaarder as silwer of goud.

In die
eerste brief van Petrus staan (1 Pet 1:18-19):

Julle is nie
deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop uit julle ydele lewenswandel
nie, maar met die kosbare bloed van Christus.

Julle was ‘n
slaaf van die sonde.

Julle kon
nie nee sê teen sondige dinge nie.

Julle kon
nie julle voet dwars sit, as die sonde op julle pad gekom het nie.

Julle was
slaaf van die dood.

En julle
lewe was oppad na die graf, die verganklikheid.

Julle hele
lewe was ‘n stadige aftakeling.

Julle was
ook ‘n slaaf van die duiwel.

Hy het julle
doen en late beheers.

Dit terwyl
julle onder die indruk was dat julle self in beheer was.

Die grootste
vergissing wat ‘n mens kan maak, is dat hy dink dat hy self sy lewe bestuur.

Die
mensemassas loop, sonder dat hulle dit self besef, soos slawe geketting agter
die duiwel aan.

Julle is
egter vrygekoop.

Nou begin
vir julle ‘n nuwe lewe in Jesus Christus.

‘n Lewe wat
nie oppad is na die ewige dood nie, maar na die ewige lewe.

‘n Lewe
waarin jy nou die krag en moed het om nee te sê vir die sonde.

‘n Lewe
waarin jy nou ‘n nuwe Heer volg.

Jy is nie meer
slaaf van die duiwel nie, maar nou is jy, en as ek dit sê bedoel ek dit
positief, nou is jy slaaf van Jesus Christus.

Slaaf wees
van die Here Jesus Christus.

Dit klink ‘n
bietjie negatief, maar dit is positief bedoel.

Slawerny op
aarde is ‘n oorsaak van die sonde in hierdie wêreld.

Dit is
weersinwekkend dat die een mens ‘n ander kan besit, selfs in so ‘n mate dat hy
daardie persoon se vrou en kinders onder sy oë uit kan verkoop.

Tog was daar
ook goeie slawe-eienaars gewees.

Wie ‘n goeie
heer gehad het, is goed versorg en kon op sy beskerming reken.

Daar kon ‘n
hegte band ontstaan tussen ‘n slaaf en sy heer.

In die Bybel
sien mens dit ook.

As Abraham
kinderloos sou gesterf het, sou sy slaaf Eliëser sy erfgenaam gewees het (Gen
15:2).

En Josef is
deur Potifar as slaaf gekoop, maar vervolgens aangestel oor sy huis.

Alles wat in
sy besit was, het hy aan sy sorg oorgegee (Gen 39:4).

Dit is in
hierdie positiewe sin wat die Bybel ons die slawe van Christus noem.

Dit is dan
‘n soort woordspeling.

Oppervlakkig
kink dit negatief, maar as mens beter na hierdie uitdrukking kyk, is eintlik
juis die omgekeerde waar.

Inderdaad is
dit so dat ons met alles wat ons het en is aan Jesus toebehoort.

Hy is ons
Heer.

Maar dan pas
die woordjie slaaf eintlik nie meer nie.

Want waar of
by wie kan ons ooit ‘n beter posisie hê, as dat ons die eiendom van Christus
is?

Wanneer Hy
in beheer is van ons lewe?

En Hy is in
beheer, dit is duidelik.

Hy is Heer,
nie net oor jou lewe, nie, maar Hy is Here van die hele wêreld.

Dit sê Hy
self in Mattheüs 28:18:

“Aan My is
gegee alle mag in die hemel en op aarde.”

Here oor
alles en almal.

Here oor
lewendes en dooies.

In die
Bybelboek Romeine 14:9 staan:

“Want
hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor
dode sowel as lewende te heers.”

In hierdie
konteks het die woordjie slaaf dus nie ‘n akelige konnotasie nie.

Jesus is
juis ‘n goeie Here.

By Hom het
ons dit goed, het ons selfs die ewige lewe.

Hy behandel
ons nie soos slawe nie.

Hy behandel
ons selfs soos vriende, soos sy eie broers en susters.

(Tema: Jesus
Christus is die Here van jou lewe.

1         Het het ons vrygekoop om sy slawe te
wees)

2         Hy
het ons vrygekoop om sy vriende te wees

Wat ‘n
kontras!

Ons as
kerkmense besef dit dikwels nie meer nie.

Daar is ‘n immense
verskil tussen slaaf van die sonde wees, en ‘slaaf’ wees van, toebehoort aan
Jesus Christus.

Soos Paulus
in Romeine 6:23 skryf:

“Want die
loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe
in Christus Jesus, onse Here.”

Christus het
ons vrygekoop – weer eens hierdie bekende woord vir ons.

Maar
regtigwaar, iets beters kon nie met ons gebeur het nie.

Soos daar in
Hebreërs staan:

Christus het
deur sy dood hom, wat die mag oor die dood gehad het, die duiwel, onttroon, en
almal bevry, wat gedurende hulle ganse lewe deur angs vir die dood tot slawerny
gedoem was! (Hebr 2:14-15)

Tog kan ons,
al is ons kerkmense vir dekades, dit soms moeilik vind, ‘n angstige idee, om
jouself honderd persent oor te gee aan Christus.

Dat Hy Baas
van jou lewe word.

Dat Hy
volledige seggenskap kry in jou lewe.

Ons vind dit
van nature nie lekker as ‘n ander ons baas is nie.

Daardie
oumenslike gevoel kan ons danig parte speel.

Jy gee
inderdaad dan die volledige beheer oor jou lewe uit hande.

Tog is dit die
bedoeling, en daar is nie ‘n alternatief, of ‘n middeweg nie.

Anders is
nie moontlik nie.

Jy moet jou
sonder reserwes aan Hom oorgee.

Vergelyk dit
vir ‘n oomblik met iemand wat ‘n operasie in die hospitaal moet ondergaan.

Baie van ons
het dit al meegemaak.

Mens kan
verskriklik teen ‘n operasie opsien.

Ook teen die
feit dat jy op ‘n bed lê, en toelaat dat hulle jou narkose gee wat jou aan die
slaap gaan maak.

Dan het jy
geen enkele beheer oor jouself meer nie.

Mens kan
vooraf gedagtes hê soos:

As hulle my
laat inslaap, sal ek ooit weer wakker word?

Wat hulle
alles met my gaan doen, dit kan ek nie kontroleer nie.

Ek is self
nie by my bewussyn nie.

Tog teken
mense elke keer weer om ‘n operasie te ondergaan.

Vanuit die
besef: dit kan nie anders, dit moet gewoon.

As jy gesond
wil word, moet die operasie plaasvind.

Jy het nie
‘n ander keuse, jy sal maar moet vertrou op die mediese personeel, dat hulle
hulle werk goed sal doen.

Gemeente,
hierdie is slegs ‘n voorbeeld.

Maar dit kan
ons help, om onsself daarby te bepaal, wat dit is, en hoe dit voel, as jy jou
lewe oorgee in die hande van Jesus Christus.

As Hy jou
Here word.

Jy besef, as
jy dit nie doen nie, sal dinge nie regkom nie.

As mens maar
net aangaan, ‘n lewe sonder God, gaan dit in elk geval nie beter word nie.

Dan lewe jy
op ‘n pad na die ewige dood.

Maar wie
homself oorgee aan Christus, maak dit mee, dat hy aan ‘n nuwe lewe begin, ‘n
lewe so mooi en so ryk, dit kan nie met woorde beskryf word nie.

Om die
eiendom van Hom te wees, niks is mooier as dit nie.

Wie aan sy
kerk behoort, wie bereid is om te hoor en te doen volgens sy Woord, sy Woord
wat sy stem is, word bevry van die ou slawerny van sonde, dood en duiwel.

Wie geen
kerklid is, wie nie na die Bybel luister en dit doen nie, bevind hom nog steeds
onder die slaverny van die duiwel.

Wat is ons
bevoorreg, dat daar vir ons betaal is.

En ons Here
gaan nog steeds voort om slawe los te koop.

So lank
mense in lewe is, het hulle die kans.

Om te
luister na die bevrydende roepstem van die Evangelie.

Aan hulle wat
Hy losgekoop het, sê Hy:

Ek noem
julle nie meer slawe nie, omdat die slaaf nie weet wat sy heer doen nie. Maar
Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan
julle bekend gemaak het (Joh 15:15).

Ons is sy
vriende.

Met sorg
regeer Hy daarom ons lewe.

En ook die
dag as jy sterf, is jy nog in sy hoede.

Dan sal Hy
ons siel na Hom neem.

En ons
liggaam sal Hy opwek, op die jongste dag, ontdoen van die slytasie van die
sonde.

Hy sal dit
verheerlik, net soos sy eie liggaam.

 

(Tema: Jesus
Christus is die Here van jou lewe.

1         Het het ons vrygekoop om sy slawe te
wees

2         Hy het ons vrygekoop om sy vriende te
wees)

3         Hy
het ons vrygekoop om sy liggaam te wees

Geliefde
gemeente, ek hoop dat dit weer duidelik is hoe geweldig dit is om die eiendom
te mag wees van Jesus Christus.

Hierdie
feit, sy eienaarskap van jou lewe, beteken veel.

Jou lewe
elke dag verander hierdeur.

In hierdie
verband het ons ‘n gedeelte gelees uit 1 Korinthiërs.

Paulus skryf
daar:

Slegs een is
my Here.

Ek is eiendom
van slegs een Persoon, die Here Jesus.

Ek laat my
deur Hom gesond maak.

Hy weet wat
goed vir my is.

Ek staan
positief in die lewe.

Of soos
Paulus skryf: alles is my geoorloof.

Alles is my
geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie.

Daar is
slegs Een wie oor my lewe heers.

In alles
volg ek sy raad.

Paulus spits
hierdie realiteit dan toe op enkele sake, wat toe in die stad Korinthe vir die
mense daar aktueel was.

Byvoorbeeld:

Ek sal my
nie laat oorheers deur voedsel nie.

Ek leef nie
om te eet en te drink nie, maar ek eet en drink om te lewe.

Dit geld ook
vir my liggaam.

My liggaam
het ek nie vir losbandigheid nie, maar my liggaam behoort aan die Here.

Losbandigheid,
die woord hoerery word in 1 Korinthiërs
6 gebruik, dit het egter ‘n wyer betekenis – losbandigheid, dit was iets wat
baie voorgekom het in die hawestad Korinthe.

Losbandigheid
en hoerery het selfs deel uitgemaak van die godsdienstige lewe by die tempels
in Korinthe.

Christene,
wat vrygekoop is, kon egter nie meer daaraan deelneem nie.

Ook as hulle
bure, familie of kollegas dit nog steeds heel normaal gevind het om losbandig
te lewe.

Voortaan het
die Christene geredeneer: my liggaam is eiendom van my Here.

Met alles
wat ek is en het dien ek Hom.

My liggaam
is vir die Here.

Paulus draai
hierdie stelling vervolgens ook om.

Jou liggaam
is nie net vir die Here nie, maar die Here is ook vir jou liggaam.

Daarmee het
Paulus bedoel:

Danksy die
opstanding van die Here Jesus uit die dood, is daar nou ook ‘n toekoms vir jou
liggaam.

Danksy sy
opstanding uit die graf sorg die Here daarvoor dat ook jou liggaam nie verlore
gaan nie.

En dan gaan
Paulus nog ‘n stappie verder.

Hy gebruik
nog ‘n beeld.

Ons vorm
almal saam as gemeenskap van gelowiges die liggaam van Christus.

Die liggaam
van Christus is ons.

Hy bedoel
dit simbolies.

Christus is
die Hoof, en ons saam is die liggaam, wat na die bevele, die instruksies van
die Hoof luister.

En dan skryf
Paulus: sal ek nou ‘n lid van Christus, dit wil sê ‘n lid van die liggaam wat
aan Christus behoort, vat en dit lid van ‘n hoer maak?

Geen sprake
van nie.

Maar, besef
dan wel goed, julle Christene in Korinthe, dat wie met ‘n hoer omgaan, een
liggaam met haar is.

Maar ‘n
Christen is een liggaam met die Here Christus.

Die
konklusie lê voor die hand: hierdie twee pas volstrek nie by mekaar nie.

Ons behoort
een liggaam te vorm met Christus, ons Hoof, nie een liggaam met ‘n hoer nie.

As ons dit
alles op vandag toepas, gemeente, laat ons nie een liggaam vorm met watter
sonde ook al nie.

Laat ons ons
liggame nie verkoop aan welke sonde ook al nie.

Laat ons die
sonde haat, en daarvoor wegvlug.

Jou liggaam
is tog ‘n tempel van God!

Die Heilige
Gees woon in jou.

Hoe
bevoorreg is ons nie, dat dit so is!

Ons liggaam,
‘n tempel waarin God woon!

Christus het
ons gekoop, ons wat ‘n bouval, ‘n ruïne was.

Maar
Christus gee ons nuwe lewe, Hy renoveer, herstel ons, Hy maak van ons ‘n
skitterende tempel.

Wat ‘n
genade.

Wat ‘n
voorreg.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)