Om die HERE te ken, gee die sekerheid van beskerming

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-04-24
Text: 
Rigters 17 : 13
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 24 April 2016 AD, 10:15

Votum

Seën

Ps 149:1,2

Wet

Ps 119:61

Gebed

Skriflesing:
Rigters 17

Ps
50:1,4,5,6

Teks:
Rigters 17:13

Preek

Ps 50:7,8,11

Gebed

Kollekte

Ps
72:1,10,11

Seën

Preek: Rigters 17:13

In ons land
bestaan daar ‘n uitgebreide aanbod van versekeringspolisse.

Ons ervaar
dit as ‘n normale saak om versekerings af te sluit, as mens dit kan bekostig,
vir jou gesondheid, vir jou huis, teen brand byvoorbeeld, vir jou motor.

In ons
kultuur verseker ons graag die materiële kant van die lewe, alles wat geld kos.

Tog is daar
ook ander maniere van verseker.

Vir baie
swart mense is dit belangrik om verseker te wees by hulle voorouers.

Verseker van
die goodwill van jou oorlede
voorouers.

Ons het
nounet Rigters 17 gelees.

Ons ontmoet
God se volk hier terwyl hulle balanseer op die randjie van die afgrond.

Hulle was
wel in die beloofde land, maar hulle het eintlik nog soos heidene geleef, net
soos die omringende volke.

Die
geskiedenis van Miga en sy ma is ‘n voorbeeld hiervan.

Die persoon
wat hierdie geskiedenis beskryf, die skrywer van die boek Rigters, doen dit met
‘n bepaalde perspektief.

Hierdie
perspektief vind ons in vers 6:

“In dié dae
was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë.”

Tema: Om die HERE te ken, gee die sekerheid
van beskerming

  1. Ons kry geen sekerheid uit ‘n
    transaksie met die HERE nie

  2. Ons kry geen sekerheid uit ons
    eie godsdienstigheid nie

     

  1. Ons kry geen sekerheid uit ‘n
    transaksie met die HERE nie

    Die
    Rigtertyd was ‘n baie donker tyd.

    Alles was
    wanordelik, niks was goed gereël nie.

    Elkeen kon
    doen net wat hy wou, ook ten koste van ander mense.

    Niemand was
    seker van sy lewe of sy besittings nie.

    Die outeur
    van Rigters kyk met ‘n duidelike perspektief na hierdie periode.

    Hy self het
    vele jare later gelewe, in die koningstyd van die volk Israel.

    Miskien
    onder koning Dawid of Salomo.

    Dit was eeue
    later.

    Hy, die
    skrywer van Rigters, was onder die indruk hoe goed dit vir ‘n land is as die
    land ‘n koning het wat die HERE vrees.

    En vanuit
    hierdie perspektief, die perspektief van die HERE se gesondmakende wette, kyk
    hy terug na die tye van sy voorouers.

    Die
    Rigterskrywer beskryf in sy boek ‘n aantal gebeurtenisse wat baie tiperend was
    vir die Rigtertyd.

    Dit het hom
    naamlik opgeval hoe Kanaänities, ja gewoon heidens, sy voorouers met God
    omgegaan het.

    Dat hulle
    die opinie gehad het dat ‘n mens met God kon handel dryf.

    Dat hulle
    van mening was dat daar oor en weer gunste afgekoop kon word.

    Dat hulle
    opreg geglo het dat ‘n mens vir God met ‘n beeld kon manipuleer.

    Die
    Rigterskrywer kyk terug na hierdie donker tyd toe die gesondmakende wette wat
    God aan sy volk deur Moses gegee het, nog so weinig impak gehad het op sy
    voorouers se denke en gewoontes.

    Neem
    byvoorbeeld die verhaal wat ons gelees het.

    Die ma het ’n
    vervloeking uitgespreek, want iemand het haar sak met silwerstukke gesteel.

    Waarskynlik
    was dit geld wat sy van haar man geërf het.

    Iemand het
    haar pensioen gesteel, en haar rustige oudag was nou aan skerwe.

    Nou moet ons
    onthou, gemeente, dat volgens heidense denke ‘n vervloeking ‘n magiese
    uitwerking het.

    Met so ‘n
    vervloeking wat bo jou hang, kon geen dief meer rustig lewe nie.

    Die ma het
    hierdie vervloeking uitgespreek ten aanhore van haar seun.

    Want miskien
    het hy wel geweet wie die dief was, maar wou hy dit nie sê nie.

    Met hierdie
    vervloeking bo sy hoof, moes hy wel praat.

    En dit
    gebeur dan ook.

    Miga besef
    dat die vervloeking nie net ‘n grappie was nie.

    En dus gaan
    bieg hy op dat dit hy was wat sy ma se geld gesteel het.

    En hy gee
    ook die geld terug.

    Dit was
    natuurlik nou eers ‘n skok vir ma!

    Nie in die
    eerste plek omdat sy soiets nie van haar seun verwag het nie.

    Maar veral
    omdat sy hom nou vervloek het!

    Sy het met
    haar eie mond haar seun die verderf in gehelp.

    Vandaar dat
    sy nie ‘n oomblik talm om direk ‘n seën uit te spreek nie:

    Vers 2: “Mag
    jy geseënd wees deur die HERE, my seun!”

    Om die
    vervloeking ongedaan te maak, moes sy so gou as moontlik positiewe uitsprake
    daarteenoor plaas.

    ‘n Seën, om
    die vloek te neutraliseer.

    Maar nog
    steeds is die ma nie gerus nie.

    Sy het wel
    haar geld terug, maar dit in ruil vir die lewe van haar kind?

    Daarom, ook
    die geld sal sy nou moet gebruik om die vloek af te weer.

    Om God se
    guns terug te koop.

    En daarom,
    op staande voet, heilig sy die geld aan die Here.

    Hoe meer
    positiewe dinge sy in die weegskaal kon lê teenoor die vloek, hoe beter.

    Dan het God
    nie meer ‘n keuse nie.

    Dan sal Hy
    hopelik daarvan afsien om haar seun te vervloek.

    Sy heilig
    die geld plegtig aan die HERE, staan daar in vers 3.

    Sy het ‘n
    vyfde van die bedrag gevat, want soiets staan daar in die wet van Moses – iets
    oor ‘n vyfde – dus 200 sikkels silwer, en dit het sy aan die goudsmid gegee.

    200 sikkels
    is ongeveer 2 kg silwer.

    Daarvan moes
    die juwelier ‘n beeld maak.

    ‘n Gesnede
    en ‘n gegote beeld, staan daar.

    Dit wil sê,
    ‘n beeld wat aan die binnekant van hout of metaal was, en aan die buitekant
    oorgetrek is met ‘n lagie silwer.

    Waarskynlik
    was hierdie beeld ‘n kalf, ‘n kalf soos wat Aäron in die woestyn gemaak het.

    ‘n Kalf was
    ‘n heel gebruiklike beeld in daardie tyd.

    ‘n Kalf om
    die krag en vrugbaarheid van God in die hemel te simboliseer.

    Hierdie
    beeld het dus ‘n indrukwekkende ornament in die heiligdom van Miga geword.

    Die
    heiligdom, oftewel, Miga se godshuis, soos dit genoem word.

    Verder het
    Miga van die geld ‘n skouerkleed gemaak.

    Dit was ‘n
    soort serp om aan te trek as ‘n mens vir God wou raadpleeg.

    Hulle het
    dit ‘n efod genoem.

    Die
    hoëpriester het so ‘n efod gehad, met die urim en die tummim daarin.

    Dit was
    bedoel om die HERE te raadpleeg as daar nie duidelikheid was oor Sy wil in ‘n
    bepaalde situasie nie.

    Miga het dus
    vir homself ook so ‘n efod, so ‘n skouerkleed, gemaak.

    Verder het
    hy nog huisgode gemaak, lees ons in vers 5.

    Huisgode was
    klein afgodsbeeldjies.

    Geluksbringertjies.

    Soos sommige
    mense vandag ‘n maskotte of gelukbringertjie in hulle kar aan hulle spieëltjie
    hang, so het die Kanaániete hulle geluk in hierdie huisgodbeeldjies gesoek.

    Elke
    Kanaänitiese gesin was in besit van sulke huisgode.

    Dit het
    êrens op ‘n gewyde plek in die huis gestaan.

    Al met al
    het Miga en sy ma nou al ‘n komplete privaatheiligdom besit.

    Wat nou nog
    ontbreek het was ‘n priester.

    Maar waarom
    sou Miga se seun dit nie kon doen nie?

    Ja wie sal
    hom verbied om sy seun as priester te salf?

    So sorg Miga
    vir sy eie godshuis, eie gesnede en gegote beeld, eie skouerkleer, eie
    huisgode, en ‘n eie privaatpriester.

    En so sien
    mens, want met hierdie doel beskryf die Rigterskrywer hierdie gebeure, so sien
    mens dat die een sonde tot die ander lei.

    Eers
    diefstal, toe die uitspreek van ‘n vervloeking, en toe allerlei bedenklike
    stappe om die vloek weer op te hef.

    Maar
    gemeente, is die optrede van Miga en sy ma eintlik so abnormaal?

    Is dit nie
    ook begryplik nie?

    Want Miga en
    sy ma het inderdaad in ‘n heel ander tyd gelewe.

    ‘n Heel
    ander kultuur.

    ‘n Kultuur
    waarin die vloek van die gode jou lewe kon ruïneer.

    Tog is
    hierdie manier van denke nie net iets van die verlede nie.

    Dat jy
    naamlik iets kwaads met iets goeds kon neutraliseer.

    Dat mens ‘n
    guns kan afkoop.

    Dit is ook
    in ons kultuur net so teenwoordig.

    Dat mens ‘n
    transaksie kan aangaan.

    Nie slegs
    met mense nie, maar ook met God.

    Wanneer ons
    ‘n ernstige sonde gedoen het, om dan ‘n klomp goeie dinge te doen.

    God sal dit
    tog wel raaksien!?

    Hy sal dit
    tog wel in berekening bring.

    Geliefde
    gemeente, hierdie manier van denke mis die kern van die Evangelie.

    ‘n Mens kan
    nie transaksies met God sluit nie.

    God is nie
    ‘n mens soos ons nie, en Hy dink ook nie soos ‘n mens nie.

    So werk dit
    nie.

    Hoekom nie? Omdat
    ons op so ‘n wyse nooit sekerheid kry nie.

    En dit lê
    dan aan onsself.

    Want wie die
    HERE ken, weet beter.

    Wie die HERE
    werklik ken, voel nie die behoefte om Hom om te koop nie.

    Wie die HERE
    werklik ken, ken Hom as die God van vergewing.

    Wie die HERE
    werklik ken, ken ook sy wette, wat juis bedoel is om ons te beskerm.

    Dit is nie
    nodig om God om te koop nie.

    In sy wet
    wys Hy die weg van vergewing.

    Miga en sy
    ma het die HERE en sy wette nie goed geken nie.

    Hulle het ‘n
    verkeerde weg gekies.

    En so is
    hulle probleme nie opgelos nie.

    Hulle het
    juis meer probleme gekry.

    As hulle
    maar net na die HERE se wet geluister het!

    Die
    Rigterskrywer vestig ons aandag op al hulle misstappe.

    In die
    eerste plek leer ons uit die HERE se wet dat mens nie oor ‘n vervloeking wakker
    hoef te lê nie.

    En ook dat
    dit nie nodig is om met allerlei maatreëls die vloek af te weer nie.

    Want die
    HERE se wet praat oor vergewing.

    Bely in jou
    gebed wat verkeerd was.

    Bely dat jy
    die geld gesteel het en vra vergewing.

    En wat Miga
    se ma betref: bely dat sy haar tong nie bedwing het nie.

    Dat sy op ‘n
    onbesonne wyse ‘n vervloeking uitgespreek het.

    En dat sy
    berou daaroor het.

    Dan sou God
    die vervloeking, daardie woorde wat sy in ‘n opwelling van wraak uitgespreek
    het, ook daardwerklik vergewe het.

    Moeiliker
    vra God nie.

    Maar Miga en
    sy ma het dit vir hulleself moeilik gemaak.

    Omdat hulle
    nie die HERE en sy wet goed genoeg geken het nie.

    Omdat hulle
    nie meer besef het dat God nie dink in terme van transaksies nie.

    Omdat hulle
    nie meer kon glo dat die HERE werklik ‘n vergewende God is nie.

    En dit het
    hulle duur te staan gekom.

    Letterlik
    ook.

    Uit hierdie
    hoofstuk blyk hoeveel geld hy en sy ma moes uitgee om die vervloeking te
    neutraliseer.

    Hoeveel geld
    hulle moes uitgee om hulle godshuis vir God aanvaarbaar te maak – so’t hulle
    gedink altans.

    As hulle tog
    maar net na die HERE se wet geluister het.

    Hoe mooi
    staan dit in die wet.

    Ons lees
    byvoorbeeld in Levitikus 6:7 “dan moet die priester [let wel die priester wat
    God aangestel het] vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE, en
    dit sal hom vergewe word – enigiets wat ‘n mens doen, waardeur hy skuldig
    word.”

    Miga en sy
    ma het gedink hulle moes self hulle probleme oplos.

    Helaas het
    hulle ontspoor.

    Want uit ‘n
    transaksies kry ons nie die sekerheid van vergewing nie.

    God dink nie
    in terme van transaksies nie.

    God is ‘n
    barmhartige Vader.

    ‘n Vader wat
    sy kinders vergewe as hulle hul sondes bely.

    ‘n Vader wat
    sy gebooie gegee het om sy kinders te beskerm.

    Ja, die HERE
    se wet is bedoel om ons te beskerm.

    As ons sy
    wet ken, en met sy wet ken bedoel ek nie net verstandelik nie, maar dit ook
    aanvaar, dan ken ons ook vir die HERE.

    Dan ervaar
    ons ook dat die hemelse Vader ons beskerm.

    Dan voel ons
    veilig.

    Dit is
    onnodig om Hom te probeer omkoop, as die hele aarde in elk geval aan Hom
    behoort.

    (Tema: Om
    die HERE te ken, gee die sekerheid van beskerming

  1. Ons kry geen sekerheid uit ‘n transaksie met die HERE nie)

    2         Ons
    kry geen sekerheid uit ons eie godsdienstigheid nie

    Ons gaan
    verder met die geskiedenis van Miga in Rigters 17.

    Miga was
    aangenaam verras toe hy hoor dat die man, wat sommer daar aangeloop gekom het,
    ‘n Leviet was.

     ‘n Boemelaar wat aangeklop het om te hoor of
    die baas nie dalk werk vir hom het nie.

    Hierdie
    Leviet was uit Betlehem afkomstig.

    In Betlehem
    het niemand meer werk vir hom gehad nie.

    Die Leviete
    was die mense wat die volk moes onderrig gee.

    Hulle was
    die kategete, die Bybelonderwysers, van vroeër.

    Maar in
    Betlehem het niemand blykbaar meer belang gestel in katkisasie nie.

    Die wet van
    die Here was ouderwets en uit die mode.

    Want die
    volk was nie meer in die woestyn nie, maar het nou mos in Kanaän gewoon.

    Heel ander
    tyd, heel ander omstandighede, heel ander samelewing.

    Mens kan
    daarby voeg dat God se volk in hierdie Rigtertyd ook nog nie ‘n eenheid was
    nie.

    Elke stam
    het net na sy eie belange gekyk.

    Elke stam
    was nasionalisties.

    Soms was
    mense van ‘n ander stam nie eers seker van hulle lewe in ‘n ander stam se
    gebied nie.

    Die blyk
    byvoorbeeld uit die geskiedenis wat in Rigters 19 vertel word.

    Hierdie
    Leviet was ook uit ‘n ander stam.

    Hy was ‘n
    vreemdeling, want hy was nie ‘n Betlehemiet nie.

    Hy het toe
    maar sy goed gepak.

    Hopelik was
    die mense in die bergstreke van Efraïm ‘n bietjie vriendeliker.

    En die geluk
    was aan sy kant.

    Want Miga
    het belanggestel, veral toe hy hoor dat hierdie man ‘n Leviet was.

    Miga het
    naamlik gemeen hy moes iets regmaak met die HERE.

    En, was dit
    nie so dat die HERE self die Leviete aangestel het nie?

    ‘n
    Gelukskoot vir Miga, en vir die gekwelde siel van sy ma.

    Maar, dit
    noem die skrywer van Rigters terloops, hierdie Leviet was nie die mees
    gehoorsame van sy soort nie.

    Hy was al
    hoogs tevrede met die salaris wat Miga hom aangebied het.

    En dat hy as
    synde Leviet nie die werk van ‘n priester mog verrig nie, naamlik offer en die
    Here raadpleeg deur die skouerkleed, die efod, ‘n taak wat God slegs vir die
    nageslag van Aäron afgesonder het, dit was vir hom geen onoorkomlike beswaar
    nie.

    Ook hy het
    gelewe asof die Here se wet ouderwets was, nie meer relevant vir hulle tyd nie.

    Hoekom moes
    daar nog in sy dae onderskeid gemaak word tussen priesters en Leviete?

    Was dit nie
    eintlik diskriminasie nie?

    Kortom,
    gemeente, ‘n droewige situasie.

    ‘n Leviet
    sonder werk, omdat God se volk katkisasie, onderrig in die wet, nie meer nodig geag
    het nie.

    ‘n Leviet
    wat bereid was om enigiets te doen vir geld, ook as dit op gespanne voet met
    die HERE se wet gestaan het.

    En mense uit
    God se volk, soos Miga en sy ma, wat eintlik net ‘n funksionaris gesoek het,
    wat ampshalwe die heilige handelinge kon verrig, die heilige handelinge wat
    deur hulle verdraai is tot heidense bygeloof.

    Maar
    inhoudelik, of die Leviet met God se heilige en genesende wet saamgestem het,
    of hy dit ooit nog self geken het, inhoudelik, dit was vir die mense nie meer
    belangrik nie.

    Miga was
    ongehoorsaam aan God se wet.

    Selfs die
    Leviet wat ongehoorsaam aan God se wet.

    Eiewillige
    godsdienstigheid.

    Die elemente
    wat daar nog oorgebly het, wat nog enigsins aan sy wet herinner het, was
    heeltemal verdraai en aan die eise van die tyd aangepas.

    Mense wat
    self uitmaak hoe hulle God wil dien.

    Strydig met
    die tweede gebod: Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak
    nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.

    Miga het by
    homself gedink: as ek ‘n Leviet as priester het, dan is ek dubbel seker van my
    saak.

    Dan moet die
    HERE my wel seën.

    Skynbaar het
    hy tog besef dat die priesterskap van sy eie seun nie heeltemal in orde was
    nie.

    Maar in
    hierdie Leviet het hy nou die waarborg gesien dat die vervloeking werklik iets
    van die verlede was.

    Hy sê in ons
    teks: “Nou weet ek dat die HERE aan my goed sal doen, omdat ek ‘n Leviet as
    priester het.”

    Gemeente,
    dit is miskien wel die ergste wat in die kerk kan gebeur.

    Terwyl ‘n
    mens dink dat hy iets goeds vir God doen, gaan hy teen Sy gebooie in.

    Wat ‘n
    profeet veel later ‘n keer sou sê, geld ook vir Miga, sy ma en die Leviet: “My
    volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” (Hosea 4:6)

    Hierdie
    gebrek aan kennis was nie omdat die HERE se Woord nie toeganklik was nie.

    Dit was
    omdat die volk, die leiers voorop, die Woord van die HERE geminag het, aan die
    kant geskuif het, ouderwets geag het, verwerp het.

    Die jeug is
    nie meer opgevoed in die wet van die HERE nie, katkisasie is nie meer as
    noodsaaklik beskou nie, ensovoorts ensovoorts.

    Maar,
    gemeente, as u die HERE nie ken nie, as u sy wet nie ken nie, kry u ook nooit
    sekerheid nie.

    Dan sal u en
    u kinders ook nie weet dat julle lewenslank by Hom veilig is nie.

    Miga het
    gedink dat hy self sy probleme moes oplos.

    Met sy
    rituele het hy probeer om die straffende God op afstand te hou.

    Die God in
    wie se naam hy vervloek was, deur sy eie ma.

    Miga het ‘n
    Leviet as priester in diens geneem.

    ‘n
    Instruksie uit die wet van God het hy volgens sy eie behoeftes geïnterpreteer.

    Moontlik het
    hy dit met die beste motiewe gedoen.

    Maar dit was
    vir die HERE nie aanvaarbaar nie.

    Hoekom nie?

    Omdat Miga
    homself sou laat verongeluk deur sy eie optrede.

    Hy het dit
    vir homself moeilik gemaak.

    Geliefde
    gemeente, die HERE eis nie toevallig dat ons moet lewe soos Hy dit wil hê nie.

    Hy eis nie
    toevallig dat ons Hom dien soos Hy voorgeskryf het nie.

    God gee die
    wet juis tot ons behoud.

    Miga en sy
    ma se lewens het vasgedraai as gevolg van hulle eie plannetjies.

    As hulle die
    HERE se Woord sou geraadpleeg het, was hulle probleme vinnig opgelos.

    Maar helaas.

    In die
    volgende hoofstuk (Rigters 18 – dalk kan u dit vanmiddag self lees), die
    vervolg op ons teks, word vertel hoe die Daniete opgeruk het en die godshuis
    van Miga leeggeroof het.

    Die
    silwerbeeld, die skouerkleer, die huisgode.

    Hulle het
    selfs die Leviet saamgevat.

    Of dalk meer
    korrek, die Leviet het verkies om met die Daniete saam te gaan, omdat hulle hom
    nog meer status gebied het.

    Liewer
    priester van ‘n hele stam as van ‘n enkele huisgesin.

    Gemeente,
    die Rigterskrywer wil vir ons iets belangrik leer.

    As ons God
    se wet nie liefhet nie, kry ons ‘n ongelukkige lewe.

    Dit is ‘n
    waarheid soos ‘n koei.

    En as jy
    deur jou eie sondes in die penarie kom, moenie dit self probeer oplos nie.

    God se wet
    wys ons die pad van skuldbelydenis en vergewing.

    Dit is goed
    vir jou lewe om God se wet na te kom.

    Ook daardie
    onderdele van God se wet wat dalk uit die mode is.

    Ook daardie
    onderdele waarvan ons miskien nie meer heeltemal kan verstaan hoekom God dit
    beveel het nie.

    Ons verstand
    raak soms verduister deur die tydsgees, deur die eise van die tyd.

    Dat Christus
    en sy apostels byvoorbeeld in die Nuwe Testament die ampte ingestel het, en die
    broeders opgeroep het om daarin te dien, maar nie die susters nie.

    Dat ons
    goeie God vir seksualiteit slegs ‘n plek in die huwelik gegee het, en nêrens
    anders nie.

    Dat
    homoseksualiteit ‘n gestremdheid is wat God nie wil hê dat dit beoefen word
    nie.

    So is daar
    in ons tyd ook meerdere dinge waarby die tydsgees en God se Woord in botsing
    kom.

    In die dae
    van Miga was daar geen koning in Israel nie.

    Elkeen het
    gedoen wat reg was in sy oë.

    Ook Miga,
    ook sy ma en die Leviet.

    Omdat daar
    nie ‘n koning was nie, was daar volgens die skrywer die moontlikheid om God se
    goedbedoelde wette ongestraf te oortree.

    Die skrywer
    het eintlik bietjie medelye met sy onnosel voorouers gehad.

    Volgens hom
    het hulle iets gemis: ‘n koning wat respek gehad het vir God se wet.

    Miga het nie
    ‘n koning bo hom gehad wat hom die goeie rigting kon wys nie.

    Dit was baie
    jammer.

    Miga sou
    geweldig gebaat het by ‘n Godvresende koning.

    Die pad van
    eie plannetjies, eiesinnige godsdienstig, wat hy gekies het om sy probleme op
    te los, het nie gehelp nie.

    Miga en sy
    ma het letterlik alles verloor.

    Die Daniete
    het hulle heiligdom leeggeroof.

    En daar was
    ook geen koning om wet en orde te handhaaf, om die Daniete te keer nie.

    Miga se ma
    sou nou nooit meer die gemoedsrus kry dat God haar seun sou beskerm nie.

    Sy het God
    se bevrydende wet nie geken nie.

    En die
    Leviet kon haar nie troos nie, omdat hy God se wet nie geken het nie.

    Alles het
    skeefgeloop.

    Die hele
    samelewing het ontspoor.

    Die skrywer
    van Rigters kon dit aan alles sien.

    Hy het self
    onder die heerskappy van ‘n Godvresende koning gelewe.

    En toe hy
    die argiewe raadpleeg om sy boek te skryf, is sy vermoede bevestig dat sy
    voorouers baie ver van God verwyderd was.

    Uit die hele
    boek Rigters blyk dat ‘n Godvresende koning nie ‘n vanselfsprekende saak is
    nie.

    ‘n Koning op
    aarde wat sy plek ken teenoor die groot Koning in die hemel.

    Die
    Rigterskrywer het terdeë besef hoe ryk die volk geseënd was met manne soos
    Dawid en Salomo.

    Hoewel die
    beste konings van die Ou Testament nog maar ‘n slap aftreksel was van wat God
    eintlik voor oë gehad het.

    Daarom mag
    ons ons nog veel ryker voel vandag.

    In die nuwe
    bedeling, wat in die lig staan van die koningskap van Jesus Christus.

    Na sy
    hemelvaart het God aan Hom die ewige koningskap geskenk.

    Ons word
    opgeroep om aan Hom trou te wees, om naby aan sy Woord te lewe.

    Uit onsself
    sou ons soos Miga en sy ma gewees het.

    Maar in
    Christus word ons ‘n beter weg gewys.

    Ons Koning,
    Christus, maak volledig waar wat in Salomo se Psalm geskryf staan:

    “Dan vind u volk weer ‘n beskermer,

    een wat hul saak besleg,

    ellendiges weer ‘n ontfermer

    wat oordeel volgens reg.”

    (Psalm 72:1 – berymd)

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)