Die geloof is ‘n vaste kennis en ‘n vaste vertroue

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2016-03-20
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) Sondag 7
Preek Inhoud: 

 


PRETORIA-MARANATA, 20
Maart 2016 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 12.1-3

Gebed

Skriflesing: Lukas 1.1-4; Hand 1.1-3, Kol 4.14, 2 Tim 4.11

Ps 12:4-7

Teks: HK Sondag 7

Preek

Ps 18:1,9

Gebed

Geloofsbelydenis

Sb 27:1-5

Kollekte

Slotlied: Ps 146:2,3,8

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 7

Daar is in
die wêreld 101 verskillende soorte geloof.

Maar wat is
nou die ware geloof?

Kan mens wel
praat oor die ware geloof?

Of moet mens
dit liewers agterweë laat in hierdie postmoderne tyd?

Elkeen het
mos sy eie oortuiging, en dit het nie sin om ander te probeer oortuig van ‘n
waarheid wat vir ieder en elk sou moes geld nie.

Selfs ‘n
atheïs glo ook, hy glo dat God nie bestaan nie.

Selfs
atheïste ken ook soiets soos geloofstwyfel.

Sê nou maar
dat God wel sou bestaan, wat dan?

Wat gaan dan
met my gebeur?

Vandag leef
daar wydverbreid die opvatting dat dit ‘n onbegonne taak is om ‘n ander van jou
geloof te probeer oortuig.

Los elkeen
uit dat hy vir homself bepaal wat hy wil glo.

Respekteer
ander se sienings.

Gemeente,
vanaand kyk ons na wat God se Woord ons openbaar oor wat geloof is.

En nie net
geloof in algemene sin nie, maar die geloof,
die enigste ware geloof.

Tema: Die geloof is ‘n vaste kennis en ‘n
vaste vertroue

1 Vaste kennis

2 Vaste vertroue

1 Vaste kennis

In die tyd
waarin die Nuwe Testament geskryf is, was door ook baie gelowe.

As gevolg
van die feit dat in die Romeinse Ryk die geografiese en kulturele grense tot ‘n
groot mate opgehef is, was daar sprake van ‘n soort internasionalisering.

Iets
soortgelyks beleef ons vandag ook.

In dieselfde
dorp of stad ontmoet jy mense wat van uiteenlopende agtergrond is.

Die een is
Christelik, die ander een Moslim, die ander Atheïs, of New Age, of
Vrymesselaar, of Humanis, of dalk Afrika voorvaderverering, noem maar op.

So was daar
in die tyd van die Romeinse Ryk ook ‘n plurale samelewing.

En in
daardie verwarrende samelewing was daar ‘n man wat op soek was na die ware
geloof.

Die naam van
hierdie man was Lukas.

Lukas was
nie dom nie, ons weet uit ‘n brief van Paulus dat hy ‘n dokter was.

Hy het nie
sommer net enige verhaal geglo nie.

Hy het
homself ook nie net impulsief in ‘n godsdienstige avontuur gestort nie.

Hy was
iemand wat nugter alle sake oorweeg het.

Dit het ook
gegeld vir die verhale wat hom ter ore gekom het oor hierdie uitsonderlike
persoon, Jesus Christus.

Wie Lukas
presies was, weet ons net ten dele.

Uit sy naam
en die naam van die persoon aan wie hy sy boeke gerig het – Teofilus – kan ons
aflei dat hy ‘n Romein of ‘n Griek was.

Ook maak
Paulus aan die einde van sy lewe as hy in Rome gevange is, daarvan melding dat
Lukas by hom was.

Het Lukas
dalk in die hoofstad Rome gewoon?

Of was hy
slegs op gesoek in Rome?

Ons weet wel
dat Lukas ook in Israel was, die land waar ons Here Jesus grotendeels sy lewe
op aarde deurgebring het.

En dit wat
Lukas oor Jesus gehoor het, het hom nie onberoerd gelaat nie.

Dit het hom
selfs daartoe gebring om, soos hy aan die begin van sy Evangelie meld, al die
verhale noukeurig te ondersoek.

Was dit net
wilde verhale, byvoorbeeld oor al die wonders wat Jesus verrig het?

Of was hulle
op die werklikheid gebaseer?

Die
resultaat van Lukas se ondersoek het ons voor ons.

Dit het
geblyk dat die verhale nie ongegronde gerugte was nie.

Die
Lukasevangelie getuig van deeglike historiese ondersoek.

Verskillende
persone het hy hiervoor benader, onder andere Jesus se ma, Maria, asook die
apostels.

 

Gemeente,
hoekom noem ek dit alles?

Ek noem dit
omdat die geloof ‘n vaste kennis is.

Die manier
waarop die Heilige Gees Lukas gebruik het om hierdie Evangelie op skrif te
stel, was dat Lukas sy gesonde verstand gebruik het, hy het sy kritiese denke
nie oorboord gegooi toe hy tot geloof in Christus gekom het nie.

Dit is
waaroor die eerste punt van hierdie preek handel.

Glo met jou
verstand.

In die
postmoderne tyd waarin ons lewe, word die geloof dikwels voorgestel as iets wat
irrasioneel is.

Iets wat net
met gevoel en met persoonlike smaak en keuse te make het.

Dit moet vir
jou goed voel.

Die een
persoon glo hierin, die ander daarin.

En dit het
geen sin om daaroor te diskussieer nie.

Mens moet
maar net ‘n ander se geloof respekteer.

Dit is
tipies van ons postmoderne tyd, so ‘n redeneertrant.

Maar
gemeente, as Christen, as kerklid, as ampsdraer, kan jy nie so redeneer nie.

As ‘n
ampsdraer ‘n huisbesoek bring, bestaan sy taak nie daarin dat hy slegs moet
luister en empatie opbring vir die ander se oortuiging nie.

Uiteraard,
daar moet goed geluister word.

Maar dit wat
gesê word, moet die ampsdraer ook beoordeel.

En indien
nodig korrigeer.

Hy moet dit
toets aan die maatstaf van die waarheid.

Dit is,
gemeente, lewensgevaarlik, as jy jou verstand uitskakel by jou geloof.

Jy moet juis
jou denkvermoë, wat jy van jou Skepper ontvang het, optimaal inspan.

Soos Sondag
7 sê:

Die geloof
is ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles vir betroubaar hou wat God in sy
Woord geopenbaar het.

As dit so
is, dan is jou verstand dus baie nodig.

Jy het jou
verstand nodig om te verstaan wat in God se Woord bedoel word.

Dit geld vir
ampsdraers, en vir elke gemeentelid.

Ons word
opgeroep om ander ook na die waarheid toe te lei.

Die waarheid wat God in sy woord geopenbaar het.

Dink aan
Lukas.

Dit was met
behulp van sy denkvermoë, en dat hy gebeurtenisse krities ondersoek het, dat hy
in staat was om alles – soos hy sê aan die begin van sy Evangelie – in die
regte volgorde op te skryf.

En mens moet
onthou, toe Lukas sy Evangelie geskryf het, en dit geld ook vir sy boek
Handelinge, toe was hy nog nie op die hoogte van die feit dat hierdie twee
boeke ‘n plek in die Bybel sou ontvang nie;

dat die
Heilige Gees gekies het om hom as instrument te gebruik vir die totstandkoming
van ‘n belangrike deel van die Nuwe Testament nie.

Lukas het
twee boeke geskryf, in die vorm van twee lang briewe, gerig aan ‘n vir hom
bekende persoon, die hooggeagte Theofilus.

Hom het
Lukas steeds in sy agterkop gehad terwyl hy alles geskryf het.

Nie soseer
die kerk van die toekoms wat sy boeke as deel van die Bybel sou lees nie.

Maar, as
Lukas dus nie sy verstand sou gebruik het, as hy nie deeglike historiese
ondersoek sou gedoen het nie, dan sou hy nie net vir Theofilus van enige nut kon
gewees het nie, en dan sou hy ook nie ‘n instrument in die hand van die Heilige
Gees kon gewees het, as getuie vir die kerk van alle eeue nie.

So geld dit
ook vir ons vandag.

So geld dit
ook vir ampsdraers in die kerk.

Soos die
bevestigingsformulier vir ouderlinge dit verwoord: ‘n ouderling moet die Skrif
ywerig ondersoek.

En alles wat
hy in die praktyk meemaak, moet hy toets aan die Woord van God.

Dit vereis
onderskeidingsvermoë.

En dit geld
ook vir elke gelowige.

Jy kan nie
dinge toets deur net op jou gevoel af te gaan nie.

Toets hou in
dat jy die toetsingskriteria wat God gegee het, gebruik.

Dit vereis
verstand.

Dit vereis
Skrifkennis.

Juis in hierdie
postmoderne tyd moet gelowiges ‘n vaste kennis hê.

Nie jou eie
gevoelens nie, maar wat die HERE sê.

Dit geld vir
al die aktuele onderwerpe wat ons teenkom.

Sondagsviering,
houding teenoor die owerheid, liturgie, huwelik, seksualiteit, arbeidsverhoudinge,
noem maar op.

Dit vra
kennis van die Bybel, dit vra kennis van die werklikheid, van die tydsgeeste om
jou heen.

Dit vra
insig in mense, mensekennis.

Lukas het
die Evangelie so opgeskryf, sodat hy Theofilus daarmee in die hart kon raak.

En die feit
dat hy dit kon doen, was ook omdat hy sy verstand gebruik het, omdat hy ‘n
betroubare historiese verslag opgestel het van alles wat Jesus Christus gedoen
het.

So het die
Heilige Gees hom ingeskakel.

Vandag kan
ons nog steeds die Gees dankbaar wees vir die Bybel, waaronder die Evangelie
volgens Lukas.

Daarom kan
ons vandag, ook in postmoderne tyd sê: Dit is my stellige oortuiging dat die
Bybel betroubaar is.

Ek glo met
‘n vasstaande kennis.

Wat daar in
die Bybel staan, is die waarheid.

Dit is nie
net my persoonlike oortuiging nie, nee, dit IS DIE waarheid.

En ek roep
alle ander mense op om ook daarin te glo.

Iemand het
‘n keer die volgende voorbeeld vir my genoem.

As twee
mense op die sypaadjie loop, en die een sien dat voor hulle ‘n mangat is,
waarvan die deksel af is.

Die ander
een sien dit egter nie, en loop reguit daarop af.

Wat doen jy
dan?

Skreeu jy
vir hom?

Stamp jy hom
desnoods aan die kant, sodat hy nie in die gat afval nie?

Die geloof
gaan nie net oor persoonlike voorkeure nie.

Dit gaan oor
sake van lewe en dood.

Gebruik
daarom jou verstand!

Deel met
ander die waarheid, nie net asof dit jou persoonlike oortuiging is nie, maar
omdat dit die enigste waarheid is, wat van God af kom.

(Tema: Die
geloof is ‘n vaste kennis en ‘n vaste vertroue

1 Vaste
kennis)

2 Vaste vertroue

Tot dusver
het ek dikwels verwys na die postmoderne tyd waarin ons lewe.

Hoe ons in
hierdie tyd met kritiese onderskeidingsvermoë moet lewe.

Dit wil
egter nie sê dat ons moet terugverlang na die moderne tyd nie.

Elke tyd het
sy eie hindernisse wat opgewerp word teen die Evangelie.

Maar, dit
kan mens ook sê, elke tyd bied ook weer nuwe kanse.

As gelowige
moet jy jou eie tyd goed ken.

Die gevare,
asook die geleenthede vir die Evangelie.

Soos ek
genoem het, in die postmoderne tyd waarin ons leef, is mense dikwels nie meer
lus om na die waarheid te soek nie.

Hulle is
moeg gestry.

Hulle soek net
persoonlike rus.

Hulle wil
maar net van die lewe geniet.

Die moderne
tyd, daarenteen, was weel deeglik op soek na die waarheid.

Die moderne
mens het daarvan uitgegaan dat hy met sy verstand in staat is om alles te kan
weet, en alles te kan bewys.

En wat hy
met sy verstand nie kon bewys nie, dit het gewoon nie bestaan nie.

So is mense
wat hulleself atheïste noem, tipiese moderniste.

Hulle beskou
die geloof in God as ‘n irrasionele versinsel, wat jy nie met jou verstnad kan
bewys nie.

Die geloof
bestaan volgens hulle uit ‘n aantal dogma’s wat jy nie kan bewys nie.

Maar
gemeente, so word die geloof deur die modernisme geweldig verskraal.

Asof die
geloof net sou bestaan uit ‘n aantal dogma’s.

Uiteraard
kan baie dinge wat in die Bybel staan, nie met ‘n wiskundige metode bewys word
nie.

Maar feit
bly wel dat die Bybel histories bewys kan word.

En alle
dogma’s, leerstellinge, kan bewys word vir sover die menslike verstand reik.

Want, dit is
iets wat jy as gelowige maar al te goed weet, jou menslike verstand is beperk.

Dit benadruk
gelowiges in teenstelling tot die moderniste, wat van die menslike verstand ‘n
afgod gemaak het – rasio-nalisme.

Maar dit is
nog steeds nie die belangrikste kritiek op die modernisme nie.

Soos Sondag
7 ons daarop wys: die geloof is nie net ‘n kwessie van denkwerk nie.

Die geloof
is ook ‘n vaste vertroue!

Geloof is
nie net ‘n verstandelike saak nie.

Geloof is ‘n
hele manier van lewe.

Geloof is
die vertrouensband met Iemand.

As jy sou
sê: ek glo dat die Bybelse leerstellings waar is.

Dan
konsentreer jy veral op die verstandelike aspek van die geloof.

Maar jy kan
ook sê: ek glo in ‘n Persoon!

En dan het
ons met ‘n vertrouensband te make.

Ek vertrou
daardie Persoon!

Die geloof
is ‘n vaste vertroue.

As ek
daagliks die Evangelie bestudeer, dan is die Heilige Gees besig om ‘n
vertrouensband te bou tussen my en God.

Ek kry God
meer en meer lief.

Ek raak al
hoe dankbaarder vir wat God my skenk.

Ek begin
besef dat die ewige geluk nie net vir ander weggelê is nie, maar ook vir my!

Nie net aan
ander nie, maar ook aan my skenk God vergewing van sondes, ewige geregtigheid,
ewige heil.

Alles is
genade, danksy Jesus Christus.

Geloof is
dus nie net om iets te weet nie, geloof is baie meer.

Dit is ook
vertrou.

Dit is ook
‘n bevryde lewe lei.

Iemand het
‘n keer aan my vertel hoe hy gevoel het, toe hy op twintigjare ouderdom tot
bekering gekom het, na ‘n lewe wat hy tot dan toe buite die kerk en sonder God
geleef het.

Hy het gesê:
dit het gevoel asof ek vir 20 jaar lank nie wasgoed gewas het nie.

Al my klere
was vuil en het gestink.

En toe, toe
is daardie hele berg wasgoed in een keer gewas.

Ek het
vergewing van al my sondes gevra, en van toe af het ek bevry gevoel.

Ek het
silwerskoon gevoel.

Gemeente,
die geloof is dus nie net om iets te weet nie, maar ook om te ervaar wat dit met jou doen.

Nog ‘n ander
voorbeeld.

Sê nou maar
jy is ‘n asmapasiënt.

Asmapasiënte
het ‘n pompie by hulle, vir as hulle benoud voel.

Om ‘n pompie
byderhand te hê, gee ‘n gevoel van rus.

As ek ‘n
aanval kry, dan het ek die pompie, en ek weet dit werk.

Dit is
verstandelik: jy redeneer: dit werk.

Maar as dit
dan gebeur, dat jy ‘n aanval van benoudheid kry, dan moet jy die pompie ook daadwerklik
gebruik.

Jy moet die
pompie vertrou.

So geld dit
ook vir die geloof in God.

Dit is nie
net ‘n besef dat God bestaan nie.

Dit is ook
om ‘n vertrouensband met Hom te hê.

Om sy
uitgestoke hand aan te gryp.

Geloof word
dan ‘n manier van lewe.

Naamlik, elke
dag vergewing vra van jou sondes en weer bevry word.

Elke dag
ervaar dat God jou weer nuwe kanse gee.

Elke dag
ervaar dat jy deel is van ‘n liefdevolle geloofsgemeenskap.

So het dit
ook met Lukas gebeur.

Dit geloof
het nie vir hom net ‘n verstandelike kennisname gebly van alles wat hy oor
Jesus uitgevind het nie.

Ook nie net
die konstatering dat die verhale wat hy ondersoek het, inderdaad geblyk het dat
hulle waar was nie.

Ja, Jesus
het inderdaad wonders gedoen, dit was nie net wilde stories nie.

Ja, Jesus is
inderdaad gekruisig, maar Hy het weer uit die dood opgestaan.

By Lukas het
dit nie net by ‘n vasstaande kennis gebly nie.

Onvermydelik
het dit vir hom ook ‘n vaste vertroue geword.

Jesus het sy
Heiland geword.

Lukas, die
dokter, het sy heil gesoek by die groot Heelmeester, die Heiland van die
wêreld.

Hy het sy
ellende leer ken.

Dat ook hy
in Adam onder God se oordeel gestaan het.

Maar dat hy
ook in Christus gered kan word.

Ook hy,
Lukas, is in Christus ingelyf en mog sy weldade ontvang.

Ons kan dit
aflei uit bepaalde opmerkings, wat later in die Bybel gemaak word.

Lukas het
nie aan die kantlyn bly staan nie, maar hy het ook ‘n volgeling van Christus
geword.

Hy is
opgeneem in die gemeenskap van gelowiges.

Dink maar
aan die opmerking van Paulus in Kolossense 4:14, waar Paulus vir die gelowiges
in Kolosse skryf: “Die geneesheer Lukas, die geliefde ... groet julle.”

Dink ook aan
wat Paulus aan Filemon skryf: Lukas is sy mede-arbeider (Fil 1:24).

En toe
Paulus in Rome gevange was, het hy genoem dat Lukas trou hom tersyde gestaan
het.

So het die
lewe van Lukas, die geneesheer, nie dieselfde gebly, nadat hy Christus leer ken
het nie.

Wie tot
geloof kom, begin ‘n ander lewe te lei.

Want glo
doen mens met jou hele wese, met hoof, hart en hande.

Geen aspek
van jou lewe bly onaangeroer nie.

Jy is
opgeneem in ‘n gemeenskap wat jou op die hande dra.

Jy weet
jouself geborge in die ewige arms van God.

Ons mag
vanaand weer huis toe gaan, met die onwankelbare besef: Dit is waar.

Alles wat
God ons in sy Woord openbaar.

Christus het
opgestaan uit die dood.

Daarom is
die lewe nie nutteloos nie.

Dit geld ook
vir my!

En vanuit
die sekerheid in ons verstand, en vanuit die vertroue in ons hart, steek ons
vervolgens ook die hande uit die moue.

Ons staan
gelowig in die lewe, met hoof, hart en hande.

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)