Moenie die duiwel ’n plek gee nie. Neem daarom die 9e gebod ernstig op

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2014-08-31
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 43
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 31 Augustus
2014 AD, 10:15

Voorsang:
Ps 108:1-4

Votum

Seën

Ps 62.1

Wet

Ps 119: 53

Gebed

Skriflesing:     Sagaria
8:14-23

                        Efesiërs
4:17-32

Ps 62:3,4,5

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 43

Preek

Amenlied: Ps 64:1-7

Gebed

Kollekte

Slotlied: Ps 101:1,3,4,5

Seën

Preek: Heidelbergse
Kategismus Sondag 43

Die gebod
wat vandag aan die orde is, kan mens goed vergelyk met ‘n virus.

In
Suid-Afrika is ons bekend met die MI virus – MIV of HIV.

Die virus
wat uiteindelik vigs veroorsaak.

Maar mens
kan ook dink aan ander virusse, soos die ebola-virus wat tans baie in die nuus
is.

’n Virus
soos MIV dring die liggaam ongemerk binne.

En die dag
as hy jou liggaam binnedring, dan gebeur daar eintlik niks met jou liggaam nie.

Ook nie die
week of maand wat daarop volg nie.

Die virus
soek vir hom ’n lekker plekkie in die liggaam, waar hy homself nestel.

Van daaraf
begin hy dan stadig maar seker homself vermeerder.

En eers as
die virus homself vermeerder het tot duisende of dermiljoene virusse, begin jou
liggaam die effek agterkom, en begin jy – wat jou gesondheid betref – stadig
maar seker agteruit te boer.

Die 9e
gebod – jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie – kan ’n
soortgelyke uitwerking hê.

Dit is so
maklik om iets wat nie waar is, of nie heeltemaal waar is nie, oor iemand
anders te vertel, agter sy rug om.

Iets wat sy
goeie naam aantas.

Dit kan tuis
gebeur, rondom die koffietafel, of op die telefoon.

Dit kan op
die kerkplein gebeur, of op die skoolplein.

Dit word
gesê, en daarna gaan die lewe weer aan.

Tog is daar
’n saadjie geplant, ’n persepsie geskep.

En as dit
nie net daar in die kiem gesmoor word nie, groei dit uit tot ’n reuse
wanpersepsie wat oop kommunikasie met die persoon self amper onmoontlik gemaak
het.

Net soos ’n
virus val dit ook eerste die swakker dele van die liggaam aan.

Daardie
mense wat dalk bietjie buitestaanders is, wat nie sterk in die groep staan nie.

En so word
hulle net nog meer geïsoleer.

Praat oor, en nie praat met – dit is iets wat die gemeenskap soos ’n virus stadig maar
seker kan lamlê.

Ons het in
Efesiërs 4 oor die duiwel gelees.

In vers 27
staan: gee aan die duiwel geen plek nie.

Mens sou ook
kon vertaal: gee aan die duiwel geen voet in die deur nie.

Die beeld
wat hier geskep word, is van iemand wat ongemerk jou huis kan binneglip.

Iemand wat
deur die agterdeur binnekom.

En as hy
binne is, begin hy stadig maar seker jou huis beheers.

As hy eers
in is, sukkel jy verskriklik om hom weer uit te kry.

Jy mag nie
valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

Hierdie
gebod word miskien dikwels oor die hoof gesien.

Ons doen in
verhouding meer moeite om die ander gebooie na te kom.

Maar as
hierdie gebod oortree word, kom ons soms nie eers agter nie.

Dis hoekom
hierdie sonde vir die duiwel so aantreklik is.

Hiermee kan
hy maklik ’n voet tussen die deur kry.

Net soos ’n
onsigbare virus wat jou liggaam binneglip sonder dat jy dit agterkom.

Maar as hy
homself eers genestel het, begin hy jou liggaam, of in die geval van sonde teen
die 9e gebod, dan begin hy bv. die kerklike lewe stadig maar seker
te ondermyn.

Die meeste
sukses behaal hy deur mense te laat dink dat oortreding van die 9e
gebod eintlik deel is van die kerklike lewe.

Dit is
lekker om oor mekaar te praat.

En as ons
lekker praat oor ’n ander, kies ons ons woorde nie altyd so sorgvuldig nie.

Daarom roep
Paulus so indringend op.

Moenie die
duiwel ’n plek gee nie.

Hou hom
buite die deur.

In die
Middeleeue was dit die gewoonte om die kerkklok te lui voor die kerkdiens begin
het.

Die mense
het geglo dat die klokgelui die duiwels weggejaag het.

Die tradisie
van ’n kerkklok het behoue gebly, maar die oorspronklike bedoeling daarmee het
verdwyn.

En ons
verstaan natuurlik maar al te goed, die duiwel kan nie buite die deur gehou
word deur die lui van ’n kerkklok nie.

Maar slegs
deur die suiwere prediking van die evangelie.

En as mense
die boodskap vervolgens ter harte neem.

Dit is dan
ook die bedoeling van die preek.

Ek vat die
preek soos volg saam met hierdie tema:

Moenie die duiwel ’n plek gee nie. Neem daarom die 9e gebod
ernstig op

1 Doen dit vanuit die besef dat jy self deur God bevry is

2 Doen dit vanuit die besef dat jy leef voor sy aangesig

3 Doen dit vanuit die besef dat jy jou goeie naam aan Hom te danke het.

1 Doen dit vanuit die besef dat jy self deur God bevry is

Ons het ook
’n gedeelte uit Sagaria gelees.

Na die
terugkeer van die Joodse ballinge uit Babilon het die
heropbou van hulle land nie so voorspoedig verloop nie.

Daar was
reëlmatige teenslae in die heropbou van stad en tempel.

Daar was
moeilikhede van buite af – byvoorbeeld teenwerking deur die Samaritane.

Daar was ook
interne moeilikhede.

Baie
slapheid en onderlinge geskille.

Maar in
Sagaria 8 het ons ’n pragtige en bemoedigende boodskap van God aan hierdie Jode
gelees.

Die volk
moes naamlik nie dink dat die HERE nog steeds kwaad vir hulle was nie.

Dit was
verby, die ballingskap was verby.

God was van
plan om nou ’n gelukkige toekoms vir Jerusalem te laat aanbreek.

Op haar
strate en pleine sou daar weer ou manne en vroue sit.

En rondom
hulle sal weer jong kinders besig wees om te speel.

Moes hulle
al maar deur rou en vas?

Nee, dit was
nie nodig nie.

Tel op jou
kop, sê die HERE, julle het weer ’n toekoms.

Wees bly en
spring aan die werk.

Spreek die
waarheid onder mekaar.

Vertrou
mekaar en vertrou My.

Beoefen
eerlike en heilsame regspraak in die poorte.

By die poort
het destyds altyd die regssittinge plaasgevind.

Julle moet
die waarheid en die vrede liefhê.

Moenie in
jou hart ’n ander se onheil beraam nie.

Moenie ’n valse
eed liefhê nie.

Ek soek vir
julle dit wat goed is.

Soek nou ook
vir mekaar die goeie!

 

’n Pragtige
uitspraak van die HERE is dit.

Julle is nou
bevry!

Julle kan
nou weer aan die werk spring.

Leef dan ook
nou volgens my gebooie, dan sal julle onderlinge verhoudings ook gesond word.

Die
regspraak word hier by name genoem.

Dit geld ook
vir die Kategismusantwoord.

Dat ek in
die gereg die waarheid moet liefhê.

Maar daar
staan ook: in alle ander handelinge.

Dan kan mens
bv. dink aan sake doen.

Eerlik wees
en jou woord hou.

Ook al sou
dit tot jou skade wees.

Dink aan
Psalm 15:4: “al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie”.

Soos ons
weet, daar bestaan besighede wat nooit hulle klante verloor nie.

Besighede
wat, as die produk of diens wat hulle lewer nie is wat dit pretendeer om te
wees nie, dat hulle dit op ’n ruimhartige wyse met die klant oplos.

Dit is ’n
voorbeeld van hoe jy heel prakties die negende gebod toepas.

Dat jy op
mekaar kan vertrou.

Dat jou ja
ja is en jou nee nee.

Op grond
hiervan kom duursame relasies tot stand.

 

In die
gedeelte wat ons uit Efesiërs gelees het, druk Paulus dit die Christene ook op
die hart.

In die
heidense wêreld, waarin hulle geleef het, was dit heel normaal om te lieg.

Maar hulle
is nou uit die heidendom verlos en mog deel word van God se volk.

En dus sê
Paulus, net soos Sagaria destyds tot die Jode:

Julle IS God
se kinders.

God IS julle
goedgesind.

Daaroor hoef
julle nie te twyfel nie.

Begin nou
maar gewoon doen wat Hy van jou vra, dan kom alles vanself reg.

Lê die leuen
af en spreek die waarheid, elkeen tot sy naaste.

Aan die
Christene in Kolosse skryf Paulus:

Moenie vir
mekaar lieg nie, julle het mos die ou mens met sy gedragspatrone uitgetrek en
die nuwe mens aangetrek!

 

(Tema: Moenie
die duiwel ’n plek gee nie. Neem daarom die 9e gebod ernstig op

1 Doen dit
vanuit die besef dat jy self deur God bevry is)

 

2 Doen dit vanuit die besef dat jy leef voor sy aangesig

Ons lewe
voor God se aangesig.

Dit wil sê
ons lewe in sy teenwoordigheid.

In die Bybel
noem die HERE Homself die Waaragtige.

Dit wil sê,
die waarheid in eie Persoon.

Wie by die
HERE hoort, wie voor sy aangesig leef, beklee homself dus ook met waarheid.

Dit is
uiteraard iets wat jy moet aanleer.

Of, om dit
beter te sê, wat die Heilige Gees jou aanleer.

Daarvoor
gebruik die HERE byvoorbeeld jou pa en ma.

Daarom is
dit so belangrik dat jy as pa of ma jou kind hierin voorgaan.

Kinders is ook
by jou, as jy die voordeur toetrek.

Kinders is
ook by jou, as jy in die kar ry.

Hulle hoor alles
wat jy sê.

Ook as jy
slegpraat oor ander mense.

Kinders mag,
moet van hulle ouers leer hoe om eerlik te wees.

Hoe om die
volle en nie die halwe waarheid te praat.

En dat die
waarheid jou sal vrymaak.

Dat ’n halwe
waarheid, of ’n wit leuentjie, hoe mens dit ook wil noem, dat dit jou
uiteindelik net dieper in die probleme bring.

Dit is een
van die kosbaarste skatte, ouers, wat jy aan jou kinders kan saamgee in die
lewe.

Veel
kosbaarder as ’n kar, ’n studiebeurs, ’n erfenis of wat ook al.

 

Eerlikheid
is goud werd.

Dit geld in
die mees letterlike sin.

Die
Kategismus sê:

Dat ek die
eer en goeie naam van my naaste soveel as wat ek kan moet verdedig en bevorder.

Soos die
spreekwoord uit Prediker 7 sê:

“’n Goeie
naam is beter as goeie olie” (7:1)

Olie was as
brandstof destyds in Israel minstens so belangrik as olie vandag.

Van goeie
olie kon mens skatryk word.

Swart goud,
soos dit vandag genoem word.

Maar ’n
goeie naam, sê Prediker, styg nog ver daarbo uit.

Silwer en
goud en olie kan gesteel word, maar nie ’n goeie naam nie.

Op
eerlikheid kan jy bou en vertrou.

Iemand wat
eerlik is, is waaragtig.

Net soos God
waaragtig is, voor wie se aangesig ons leef.

 

Gemeente,
hierdie is vir ons meer as genoeg om mee aan die werk te spring.

In al jou
verhoudings.

Dit begin in
die gesin.

Dit is mooi
as daar eerlikheid heers in ’n gesin.

As danksy
eerlikheid die band in die gesin heg is.

Dat jy weet
wat jy aan mekaar het.

En dat die
band heg bly, ook as die kinders die huis verlaat.

Dit begin in
die gesin.

En van
daaruit gaan dit verder, in die maatskappy, op skool, by die werk, en in die
kerk.

So kry die
tema van hierdie preek hande en voete:

Ons gee nie
vir die  duiwel ’n plek nie, nie in die
gesin, in die familie, by die werk, op skool of in die kerk nie.

Want ons
probeer trou om die 9e gebod in praktyk te bring.

Ons leef
voor die aangesig van die Waaragtige.

Ons mag leef
vanuit die waarheid.

Christus het
vir ons die waarheid geword.

Soos die
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 25 dit sê.

Laat ons Hom
navolg.

Hy het nie
net vir Homself gelewe nie.

Hy het selfs
nie onder lyde en dood probeer uitkom nie.

Want Hy het
bly stry vir die waarheid.

In sy
opstanding het die waarheid geseëvier.

Hierdie
Evangelie vuur ons aan om te stry vir die waarheid.

Vir die
goeie naam van jou Heiland.

En vir die
goeie naam van jou naaste.

Ook al
beteken dit moeite en lyde.

 

Dink
byvoorbeeld hoe Jonatan opgekom het vir die goeie naam van sy vriend Dawid.

Toe koning
Saul vasberade was om Dawid uit die weg te ruim, het Jonatan tussen hulle gaan
staan.

Hy het sy pa
herinner aan al die goeie dinge wat Dawid vir Saul gedoen het.

Dat Dawid
nie so sleg is as die beeld wat Saul oor hom gevorm het nie.

Maar dit het
Jonatan duur te staan gekom, dat hy so vir Dawid opgekom het.

Maar as jy
die waarheid liefhet, let jy nie daarop nie.

Ons let
slegs op die Waaragtige.

Wat Hy vir
ons gedoen het, en wat Hy nou van ons verwag.

Ons let op
ons tong, om daarmee die naam van ons naaste op te bou, en nie af te breek nie.

Want ons
besef wat Jesus gesê het, Mattheüs 12:36:

“elke ydele
woord wat die mense praat, daarvan moet hulle rekenskap gee in die
oordeelsdag.”

 

Daarom roep
ek u op, gemeente, en elkeen persoonlik, om ter harte te neem wat Paulus
destyds geskryf het.

Wees goed en
hartlik vir mekaar.

Vergeef
mekaar soos God jou ook vergewe het.

In Christus.

As jy dit
doen, dan doen jy wat God in die 9e gebod gebied.

As jy dit
doen, kry die duiwel nie ’n plek nie.

 

(Moenie die
duiwel ’n plek gee nie. Neem daarom die 9e gebod ernstig op

1 Doen dit
vanuit die besef dat jy self deur God bevry is

2 Doen dit
vanuit die besef dat jy leef voor sy aangesig)

 

 

3 Doen dit vanuit die besef dat jy jou goeie naam aan Hom te danke het.

In Sondag 43
staan:

Dat ek my
naaste se eer en goeie naam na my vermoë moet verdedig en bevorder.

In die nagmaalsformulier
staan:

God bewys sy
liefde vir ons daarin, dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars
was. Hoeveel te meer sal ons dan, noudat ons deur sy bloed geregeverdig is,
deur Hom gered word van die toorn! Want as ons, toe ons nog vyande was, met God
versoen is deur die dood van sy Seun, nog veel meer sal ons, noudat ons met Hom
versoen is, gered word, deurdat Hy leef.

 

Jonatan het
die goeie naam van sy vriend Dawid verdedig.

Dawid het
inderdaad ’n goeie naam gehad.

En dit was
die moeite werd om dit te verdedig.

Mens kan jou
goed voorstel dat Jonatan dit gedoen het.

Maar soos in
die nagmaalsformulier staan: by Jesus sien ons hierdie houding van Jonatan
terug, maar dan in die oortreffende trap.

Hy het vir
ons opgekom, om ons naam te red, en dit terwyl ons ’n slegte naam gehad het.

Hy het nie
ons goeie naam verdedig nie.

Nee, ons het
’n slegte naam gehad.

Tog het Hy
vir ons opgekom en vir ons ’n goeie naam gegee.

Dit is die
vervulling van die 9e gebod in die ultieme sin.

En ons mag
hierdie voorbeeld van Christus nou navolg.

In die
eerste plek deur suinig te wees op mekaar, mekaar se goeie naam en reputasie.

Maar ook as
ons die kerk weer verlaat het, doen ons dieselfde met elke ander mens wat ons
ontmoet.

Daar is ’n
belangrike verband tussen die 9e gebod en evangelisasie.

’n Kerk wat
die 9e gebod nie in praktyk bring nie, sal ook nie groei nie.

Ook al het
hulle ’n baie daadkragtige evangelisasiekommissie.

’n Kerk wat
dit wel doen, het werfkrag.

Christus se
mentaliteit het werfkrag.

Christus het
ons selfs beveel om vir ons vyande te bid.

Ons bid vir
alle mense, vir hulle ewige behoud.

Dat alle
slegte mense, net soos ons, die goeie naam van Christus mag begin dra.

Dat die
duiwel nêrens in hierdie wêreld meer ’n poot sal hê om op te staan nie.

Moenie die
duiwel ’n plek gee nie.

Sorg dat hy
nie ’n voet tussen die deur kry nie, of dit jou agterdeur is of die kerkdeur.

Ons sal hom
nie duld nie.

Want ons
doen naamlik wat God ons in die 9e gebod gebied.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)