Met die vierde gebod bring God sy skepping tot rus

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2014-06-22
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 38
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 22 Junie 2014
AD, 17:30

Liturgie:

Voorsang: Ps 91:6,7,8

Votum

Seën

Ps 122:1

Gebed

Nagmaalsviering

            Lees formulier

            Gebed

Aan tafel:
lees danksegging; dankgebed; Ps 63:3

Skriflesing:     Deuteronomium 6:20-25

Nehemia 13:15-22

Hebreërs 10:19-31

Ps 63:2

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 38

Preek

Ps 84:1,2

Gebed

Geloofsbelydenis
(sing)

Kollekte

Ps 92:1,3

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 38

Die 4e
gebod is soos ‘n ou juweel wat nie op waarde geskat word nie.

Dis soos ’n
meisie wat van haar ma of ouma ’n sieraad present gekry het.

Maar sy is
skaam om dit te dra, want sy dink dis outyds.

Sy dra
liewers die goedkoop dinge wat die ander meisies in haar klas dra.

Namaak
edelstene.

Maar toe sy
die sieraad aansit vir die matriekafskeid, kon die mense nie hulle oë daarvan
afhou nie.

Want dit was
diamante en saffiere wat geskitter het.

So is die 4e
gebod, en soos dit ook bekend staan, die Sondagsheiliging, ’n juweel wat nie
altyd op waarde geskat word nie.

Tema: Met die vierde gebod bring God sy skepping tot rus

1 Die rusdag is ’n feesdag

2 Die feesdag is ’n rusdag

1 Die rusdag is ’n feesdag

In die Nuwe
Testament lees ons dat die Christene op die dag van die HERE bymekaar gekom het
om na die Evangelie te luister, saam te bid, saam God te prys, die sakramente
te gebruik.

Met die dag
van die HERE word bedoel die dag waarop hy uit die graf opgestaan het.

Die Sondag,
eerste dag van die week.

Die Joodse
sabbatsrus het die Christene begin vier op die opstandingsdag.

Die sabbatsrus
het teruggegaan op die skepping.

God het
naamlik die wêreld in ses dae geskape, en op die sewende dag het Hy gerus.

Die
Christene het besef dat die opstanding van Christus ’n gebeurtenis net so
indrukwekkend was as die skepping.

Hulle het
besef dat sedert Pase, Hemelvaart en Pinkster ’n nuwe tydperk aangebreek het.

Rede genoeg
om die dag van die HERE, die Sondag, eerste dag van die week, voortaan as
rusdag te vier.

 

Wie
feesvier, doen dit nooit alleen nie.

Daarom soek
die lede van Christus se liggaam mekaar op.

Hulle kom
bymekaar op die dag van hulle Hoof Christus.

Vanuit
hierdie besef klink dan ook in Hebreërs 10 die oproep om die onderlinge
byeenkoms nie te versuim nie.

Vanuit die
beeld van die liggaam geredeneer, is dit ook ondenkbaar dat dit moontlik is.

As jy kerk
toe wil gaan, maar jou een voet besluit om tuis te bly.

Of jou een
arm besluit om liewerste uit te slaap.

Jy kan nie,
gedeeltelik geamputeer, in die kerk verskyn nie.

So
indringend is die oproep wat uit hierdie beeld tot ons kom.

Op die dag
van die Here kom die hele liggaam bymekaar voor sy aangesig.

Dit is
normaal in die kerk van Christus.

Ons moet ons
onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie.

Maar laat
ons mekaar aanspoor, dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Dit is die
jongste dag.

Elke sondag
staan in die teken van daardie dag.

Die dag as
die bruidegom sy opwagting maak.

Brand ons
lampe? Of sal ons slapende betrap word?

Het ons
genoeg olie, dat ons lampe dan nog brandende sal wees?

 

Nog ’n aspek
wat die Kategismus noem, is dat naas die kerkdiens, die predikamp en die skole
onderhou moet word.

Hier word
bedoel, die opleiding van bedienaars van die Woord.

Stimuleer
ons ons seuns om dit ernstig te oorweeg?

Miskien dink
u as ouer.

Ek wil dit
my seun liewers bespaar.

Dis ’n lang
en moeilike studie.

En as
predikant staan mens altyd in die skynwerpers.

En jy kry so
gou kritiek as jy dit nie goed doen nie.

As ’n
profiel van ’n predikant opgestel word, moet dit altyd ’n skaap met vyf pote
wees.

Gemeentes wil
mos waarde vir hulle geld hê.

Asof daar
volmaakte predikante bestaan.

Tog is dit
onderdeel van die 4e gebod.

Dat ons die broers
van die gemeente stimuleer om uit liefde in die amp te dien, en dat daar ook
sal wees wat vir dominee studeer.

Dit is ons almal
se verantwoordelikheid.

Sodat die
verkondiging van die Evangelie op die eerste dag van die week sal voortgaan,
ook in die toekoms.

Want dit is
wat dit primêr ’n feesdag maak: die Evangelie van die opgestane Christus.

 

2          Die feesdag is ’n rusdag

Nie verniet
gebruik die Kategismus die woord rusdag nie.

Hierdie term
is direk ontleen aan die vierde gebod.

Ses dae met
jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag is die sabbat van die HERE
jou God; dan mag jy géén werk doen nie.

Op die
rusdag mag en moet jy jou werk uit jou kop sit.

Dit is darem
’n heerlike opdrag!

Op Sondag
geen baas, geen klant, niemand wat aan jou kop neul: het jy dit al gedoen; het
jy dat al gedoen; is dit al klaar; wanneer gaan jy dit doen...?

Op Sondag
vier ons fees, saam met Hom wat ewige rus in jou lewe gebring het.

Op asem kom.

En God sê:
dit geld vir my hele skepping!

Vir mense en
diere.

Vir
werkgewers en werknemers.

Vir
gelowige  en ongelowiges.

Vir bekendes
en vreemdelinge.

Jy kan dus nie
redeneer nie: as iemand in elk geval nie op Sondag kerk toe gaan nie, dan kan
hulle maar werk.

Heel die
skepping, alles wat God in ses dae geskape het, mag op die rusdag op asem kom.

En die rede
wat die Here vir hierdie gebod gee is:

want Ek het
in ses dae die hemel en die aarde geskape, en op die sewende dag het Ek gerus.

Hierdie dag
het Ek spesiaal gereserveer, geheilig, van my handewerk te geniet.

Tot rus kom
en geniet van al die goeie dinge wat God sy skepping bied.

 

Die vierde
gebod is eintlik baie besonder.

’n Gebod wat
jou beveel dat jy moet rus.

Eintlik sou
hierdie gebod nie eers nodig hoef te wees nie.

Iets wat
lekker is, is iets wat mens meestal uit jouself doen.

Dit is
vanselfsprekend.

Tog weet God
hoe ons as mense is.

Wat
vanselfsprekend behoort te wees, naamlik dat mense nie steel nie, en nie sy
medemens doodmaak nie, nie egbreek nie, dit is sedert die sondeval nie so
vanselfsprekend nie.

En so weet
God ook dat ’n mens verslaaf kan wees aan sy werk, of aan sy inkomste, dat hy
sy liggaam daarvoor sal afmat en stukkend maak;

of dat hy
dalk ander sal uitbuit vir sy eie gewin.

Dink aan die
24-uurs ekonomie van ons hedendaagse samelewing.

Is dit nou
werklik die bedoeling?

Erens moet
iemand die prys betaal.

God wil dat
mense gesond bly, sowel liggaamlik as geestelik.

Siedaar die
noodsaak van die vierde gebod.

So leef
hierdie skepping tot sy eer, en so bly alles volhoubaar.

As mense
goed vir hulleself en vir die skepping sorg, waaroor ons as rentmeesters
aangestel is.

En dit leer
die 4e gebod ons ook: die skepping kom tot rus en herleef as dit
fokus op sy Skepper.

As dit sy
Skepper eer.

God se eer
staan nie in kompeties met mense se welsyn en welvaart nie.

 

Gemeente, besef
u dat ons hierdie juweel ontvang het?

In die Vrye Gereformeerde
Kerke is daar ’n tradisie wat vir die Sondag ’n baie spesiale plek gee.

Dit is een
van die eerste dinge wat mense, wat nie lid is, sal raaksien.

Die manier
hoe die Sondag deurgebring word, is anders.

Dan praat ek
nie net oor die gewoonte om twee keer kerk toe te gaan nie.

Ook die
gebruik om letterlik geen werk te verrig nie.

Altans, soos
dit in die etiek altyd omskryf is, geen arbeid van noodsaaklikheid of
barmhartigheid nie.

Daaronder
word verstaan dat polisie, dokters en verpleegsters hulle take wat noodsaaklik
is, bly doen.

En ook ander
beroepe, wat as hulle sou stop op Sondag, ’n ramp sou veroorsaak.

En dat jy
jou buurman help as die kalf in die put geval het.

Maar
nogtans, geen gewone weeklikse werk op Sondag nie, ook nie huiswerk nie.

En dan is
daar nog ander gewoontes, of eintlik, juis nie gewoontes nie, maar dinge wat
ons nie op Sondag doen nie.

Nie op
Sondag inkopies by die supermark doen nie; nie op Sondag uiteet nie; nie op
Sondag petrollaai nie; nie op Sondag die langpad vakansie toe vat, of
omgekeerd, huistoe, vat nie, sorg dat as jy ’n vliegkaartjie bespreek, jou reis
nie op ’n Sondag val nie.

 

Laat ons
eerlik wees, hierdie is ’n tradisie, ’n leefwyse, wat ons baie spesiaal maak.

Sommiges sal
dalk sê: julle is eienaardig.

En ek kan u
verseker; hierdie anderste soort spesiale Sondagsbesteding gaan nie so bly nie,
as ons kinders, en die wat hulle by ons aansluit, nie besef hoekom dit so is
nie.

Want as jy
nie die waarde van die juweel besef nie, sy skoonheid, gaan jy dit nie dra nie.

 

Toe die volk
van God teruggekeer het uit die ballingskap, in Nehemia se dae, het hulle
teruggekeer in ’n land waar die heidene oorgeneem het.

Hulle as
groepie teruggekeerdes was omring deur heidene, en heidense leefgewoontes.

Met die
gevolg dat – omdat hulle self die Woord van die HERE en sy wette nie goed geken
het nie – hulle van die heidense gewoontes oorgeneem het.

Een van
hierdie gewoontes was dat handel en sake doen gewoon op die sabbat voortgegaan
het.

Ons het
daaroor gelees.

Vir Nehemia
was dit ’n doring in die oog – want hy het God se wet wel geken.

En ons het
gelees van die maatreëls wat Nehemia geneem het om hierdie ontheiliging van die
sabbat stop te sit.

Watter ryke
seën is dit nie, as ’n land of ’n stad, ’n regeerder soos Nehemia van God ontvang.

Wat die
bevolking op die regte pad lei.

Nie dat dit
vir Nehemia maklik was nie.

Hy het baie
teenstand ondervind, nie net van die heidene nie, maar ook van sy eie volk.

Tog het die
HERE se wil sy kompas gebly, en was hy nie afhanklik van die mense se goeddunke
nie, maar het hy telkens homself afgevra wat die HERE van hom dink.

En so was hy ’n soutende sout.

 

Gemeente,
dit kan u ook wees, juis ook wat betref die Sondagsbesteding.

Moenie
wonder oor wat ander mense van jou dink nie, maar wonder oor wat die HERE van
jou vra.

Die HERE se
wil is baie duidelik, soos ons dit kry in die 4e gebod.

Die HERE sê
nie net dat jy moet rus, liggaamlik en geestelik nie.

Hy sê ook
eksplisiet dat die mense om jou moet rus, selfs die diere.

Jou seun,
jou dogter, jou dienskneg, jou diensmaagd, selfs die vreemdeling in jou poorte.

Jou rus mag
dus nie ten koste gaan van iemand anders se rus nie.

Dis hoekom
ons nie supermark toe gaan nie; hoekom ons nie gaan uiteet nie; hoekom ons op
Saterdag petrol inlaai.

Suid-Afrika
is tipies ’n land waar die ryk mense kan rus, maar die arm mense, die
diensknegte en diensmaagde, die bediendes, die ‘employees’, en moenie vergeet
die vreemdelinge, die buitelanders, die Zimbabwiërs en Mosambiekers en alle
ander illegals uit watter Afrikaland ook al – hulle moet werk op Sondag!

Het jy al
gevra waar die ‘waiter’ vandaan kom wat jou in die restaurant bedien?

Tien teen
een uit een of ander Afrikaland, en vat hy hier in Suid-Afrika enige werk wat
hy kan kry, al moet hy dan op Sondag werk.

Maar laat
ons eerlik wees: dink u dat die CEO van Spur op Sondag werk, of van Mugg &
Bean, of van Makro, of van Checkers?

In elk geval
nie soveel ure as wat sy ‘employees’ op Sondag moet werk nie.

Die HERE
draai in sy Woord nie doekies om nie.

Die land waarin
sy wette verontagsaam word, veral ook sy sabbatswette, daardie land gaan sy
inwoners op ’n stadium uitspoeg.

 

Broers en
susters, ek hoop dat dit (weer) duidelik word: die keuse vir ’n bepaalde manier
van Sondagsbesteding is nie net tradisie nie, dis nie omdat ons moeilik en
streng wil wees nie.

Dit gaan
terug op God se barmhartigheid, nie net vir jouself nie, maar ook vir alle
mense.

Ons verlang
na ’n land waar almal op Sondag kan rus.

Ons verlang
na ’n land waar op Sondag die kerk se parkeerterrein vol is, en die ‘mall’ s’n
leeg is.

Waar op
Sondag ryk en arm kan opgaan na God se altare, sy lieflike woning.

Waar op
Sondag ryk en arm kan geniet van die samesyn van ouers met hulle kinders, en
met hulle oupas en oumas, en waar ook die enkellopendes en vreemdelinge nie
vereensaam nie, maar deel is van die gemeenskap van heiliges.

Gemeente,
oud en jonk, ek hoop julle besef, julle is nog steeds in besit van ’n ou baie
kosbare sierraad.

Moenie dat
dit van jou weggevat word nie.

 

Dit is ook
die strekking van die pragtige gedeelte wat ons uit Deuteronomium 6 gelees het.

As jou
kinders vir jou vra: moet ons nou alweer kerk toe gaan?

Dan kan jy
dankbaar en vrymoedig aan jou kinders vertel.

Die Here lê
die gebooie nie aan ons op om dit vir ons moeilik te maak nie.

Maar juis
omdat Hy die beste vir ons soek.

God se volk
was slawe in Egipte, maar die Here het hulle bevry, en hulle ’n eie land gegee.

En die rede
hoekom Hy die gebooie gee, is sodat dit alles goed met hulle sal gaan.

Sy gebooie
wys die pad deur die lewe.

Dit geld ook
vir die 4e gebod.

Nie vir niks
verwys God in Deuteromium 5, as die tien gebooie vir die tweede keer in die
Bybel staan, na die bevryding van sy volk uit Egipte nie.

So mag ons
dit ook aan ons kinders en alle mense vandag verduidelik.

God wil dat
dit goed gaan met sy kinders.

Dat hulle
lank en gelukkig lewe, tagtig, negentig, miskien wel honderd jaar.

En God kyk nóg
verder.

Hy is besig
om die ewige sabbat voor te berei.

Die nuwe
hemel en aarde.

Van hierdie
fees kry ons ’n voorproefie, as ons op Sondag rus.

 

Amen.

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)