God is heilig, want Hy is die God van die lewe

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2014-10-26
Text: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 47
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 26 Oktober 2014 AD, 17:30

Voorsang: Ps
129:1-4

Votum

Seën

Ps 8:1-3

Gebed

Skriflesing:
Levitikus 19

Ps 93:1,2

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 47

Preek

Ps 93:3,4

Gebed

Geloofsbelydenis:
sing

Kollekte

Ps 8:4-7

Seën

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 47

Die woordjie
heilig kan verskillende betekenisse
hê.

In die
alledaagse taalgebruik het dit dikwels ’n negatiewe lading gekry.

Heilig
beteken dan dieselfde as iets soos braaf, of selfs skynheilig.

Iemand wat
maak asof hy beter is as ander mense.

In die Bybel
leer ons egter dat die woord heilig
heeltemal iets anders beteken.

Heilig in
Bybelse sin is om jouself af te sonder van die sonde, en toe te wy aan God.

As ons dit onder die woord heilig verstaan, dan maak dit sin
as ons sê: ons is heilige mense.

Dws: ons is
toegewyde mense, aan God, en ons probeer die sonde al hoe meer agter ons te
laat.

Ons is almal
in sonde gebore.

Maar in
Christus is ons geheilig.

Oorgebring
onder die heerskappy van God, burgers van sy koninkryk.

Afgesonder
van die sonde en toegewy aan God.

In hierdie
sin is ons as gelowiges dus wel heilig.

Maar nie
skynheilig nie, asof ons nie meer sonde sou hê nie.

Maar nou die
volgende vraag:

Wat beteken
dit as ons sê dat God heilig is?

Wat beteken
dit dat ons sy Naam moet heilig?

Dit is
waarna ons in hierdie preek gaan kyk.

Tema: God is heilig, want Hy is die God van die lewe

Met die eerste bede bid ons

1 dat ons hierdie God van die lewe reg sal ken

2 dat hierdie God in ons lewens geheilig word

1 dat ons hierdie God van die lewe reg sal ken

Wat beteken
dit dat God heilig is?

In Levitikus
19 staan daar: “Ek, die HERE julle God, is heilig.” (v2)

God is
heilig, daarme word in die eerste plek bedoel – soos ek nounet genoem het:
afgesonder van die sonde.

God is
heilig, Hy het hoegenaamd niks te make met die sonde nie.

Hy is
volledig afgesonderd van die sonde.

Ook wil Hy
niks te make hê met die gevolge van die sonde nie - onreg, siekte, die dood,
ens.

Ook wil God
niks te make het met die magte agter die sonde nie – die duiwel en sy ryk.

Daarom is
God dus heilig.

In die
tweede plek het ek genoem: heilig is om toegewyd te wees aan God.

Ook dit is
op die HERE van toepassing.

Die HERE God
is aan Homself toegewyd.

God is
goedheid, volmaaktheid, liefde.

En sy hele
wese is daarop gerig.

 

Die feit dat
God heilig is, beteken dus dat Hy niks met die dood te make wil hê nie.

Dit is iets
wat ons goed moet besef.

Sondag 47
sê: gee dat ons u reg ken.

Inderdaad,
want wie God nie ken soos Hy is nie, besef ook nie hoe heilig Hy is nie.

Ons het ’n
hoofstuk uit Levitikus gelees.

Die boek
Levitikus begin met uitgebreide instruksies oor die verskillende offers.

Daar was
verskillende soorte offers.

Een soort
offer was die sondoffer, waaroor ons in Levitikus 4 kan lees.

Die
sondoffer bring mens onder die indruk van God se heiligheid.

Hy is die
Hoogheilige.

Nou dit
bedoel die Kategismus ook as daar staan:

Gee dat ons
U reg ken.

Ons het
naamlik die plig om die Bybel te bestudeer, want daaruit leer ons God ken, wie
Hy is.

Daaruit leer
ons hoe om eerbied vir Hom te hê.

Die Bybel
vestig ons aandag op sy heiligheid.

So word daar
in Levitikus 19 ’n voorbeeld genoem, ’n aspek mbt die dankoffer, om God se
heiligheid te illustreer.

Sien bv.
vers 5: as die volk ’n dankoffer vir die HERE geslag het, mog hulle maksimaal
twee dae daarvan eet.

Al die kos
wat tot die derde dag oorgebly het, moes met vuur verbrand word.

 

As mens dit
lees, wonder jy dalk: wat het dit nou met God se heiligheid te make?

Die feit dat
mens net twee dae van die dankoffer mog eet...

Dit gaan
hieroor, dat God se heiligheid inhou dat Hy niks met dood en bederf te make wil
hê nie.

 

Vleis wat
langer as twee dae in die hitte gelê het, begin bederf.

Veral in die
warm Midde-Ooste.

En so leer
die Bybel ons, uit ’n klein detail, ’n instruksie oor voedselgebruik, dat God
heilig is.

 

Om God se
naam te heilig, soos ons in die Onse Vader bid, is dus nie net ’n kwessie dat
jy op Sondag kerk toe gaan nie, en dat jy bid en vir die HERE sing nie.

Om God te
heilig het met elke liewe aspek van jou lewe te make.

Selfs jou
eetgewoontes.

En dit begin
mens dus besef, as jy die Bybel bestudeer.

Ook ’n boek
soos Levitikus.

In Levitikus
leer ons die hoogheilige Skepper as ons Verbondsgod ken.

En dat ons
hele lewe aan Hom behoort.

Ook jou
eetgewoontes, ook die feit of jy ’n higiëniese huishouding het, dat jy jou eie
liggaam goed versorg.

Want God is
die God van die lewe, en dood en bederf hoort nie by Hom nie.

As ons by
God hoort, as sy verbondskinders, en as ons veronderstel is om sy naam te
heilig, dan het dit dus ’n implikasie op elke aspek van ons lewe.

Ons mag die kinders
in die kerk ook met hierdie besef opvoed.

Die pragtige
besef dat die hoogheilige God nie hulle dood begeer nie, maar dat hulle ook
ewig mag lewe.

’n
Christelike opvoeding het baie kante.

Dis uit die
Bybel lees, psalmversies leer, maar dis ook liggaamlik goed vir jou kind sorg,
en jou kind leer om ’n gesonde gebalanseerde lewe te lei.

 

Net soos God
mag ons ook ’n afskuwelike hekel hê aan die dood, aan siekte, aan bederf, sowel
in liggaamlike as in geestelike sin.

Ons stry vir
die lewe.

En ons weet
dat die Hoogheilige met ons saamstry vir die lewe.

Ons weet dat
hierdie stryd in Christus al besleg is!

 

In die
hoofstuk wat ons gelees het, Levitikus 19, vind ons nog meer voorbeelde van die
feit dat God se heiligheid alles te make het met die gewone alledaagse lewe.

Trouens,
Levitikus 19 is ’n nogal ongewone hoofstuk.

As mens dit
so lees, kom die mees uiteenlopende onderwerpe verby.

Maar wat al
hierdie los onderwerpe aan mekaar verbind, is die refrein wat ons telkens lees:
Ek is die HERE jou God.

Of die
uitgebreider frase:

Heilig moet
julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig (v2).

Hierdie
refrein werp ook lig op wat die verband is met die eerste bede van die Onse
Vader.

Dit gaan oor
God se heiligheid.

En soos ek
genoem het, God se heiligheid het met die hele lewe te make.

Nog ’n
opvallende voorbeeld vind ons vers 9 en 10:

As julle die
opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes
en die are wat val, nie versamel nie.

En dieselfde
geld vir jou wingerd.

Daar moet
altyd iets oorbly vir die armes en vreemdelinge.

Ook dit het
dus met God se heiligheid te make.

God se
heiligheid het ’n hekel aan die dood.

’n Hekel
daaraan dat vreemdelinge honger ly.

Hy is
naamlik die God van die lewe.

Hy wil nie
dat mense sterf nie, ook nie armes of vreemdelinge nie.

Hy is ’n
heilige God.

 

Gemeente,
dit is indrukwekkend om sig te kry op God se heiligheid.

En sig op al
die praktiese konsekwensies daarvan.

En dit is
nou presies die eerste stap wat Sondag 47 noem, as ons hierdie bede bid: laat u
naam geheilig word.

Stap 1 is
dat ons bid:

O Here, gee
dat ek sig kry op u heiligheid.

Gee dat ek U
reg leer ken.

Want as ek sig
kry op u heiligheid, soos dit in die Skrif na my toe kom, dan kan dit nie anders
of ek sal u roem en prys nie, en U naam heilig.

Dit is dus
stap 1.

Lees,
bestudeer jou Bybel.

Kry sig op
God se groot dade.

God se werke
waarin sy almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid
helder skyn.

 

Hierdie
hoofstuk - Levitikus 19 - is maar een voorbeeld hiervan.

Dit is God
se heiligheid wat voorskryf dat offervleis net vir twee dae genuttig mag word,
en daarna verbrand.

Want God wil
dat sy kinders bly lewe.

Dit is God
se heiligheid wat voorskryf dat armes en vreemdelinge ook ’n bord kos moet kry.

God wil dat
mense ewig lewe.

Hy wat niks
met die dood, met siekte, sonde en duiwel te make wil hê nie.

 

Ons het tot
dusver gekyk na stap 1 uit Sondag 47.

Wie God se
naam wil heilig, moet Hom reg ken.

Jy moet
besef hoe God se heiligheid ’n impak het op elke aspek van die lewe.

Hierdie
besef kry jy deur die Bybel te bestudeer.

 

Ons kom nou
by stap 2, ook die 2e punt van die preek.

 

 

Tema: God is
heilig, want Hy is die God van die lewe

Met die
eerste bede bid ons

1 dat ons
hierdie God van die lewe reg sal ken

 

2 dat hierdie God in ons lewens geheilig word

Stap 2 het
te make met jou eie lewe.

Ons lees:
dat ons ons hele lewe, ons gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam
om ons ontwil nie gelaster word nie, maar geëer en geprys word.

Mens kan dit
nog eenvoudiger sê:

God se naam
heilig beteken dat jy self heilig moet wees.

Maar wanneer
is jy heilg?

Ek verwys
weer na die definisie van wat heilig is.

Afgesonder
van die sonde en van alle narigheid van die sonde soos dood en verderf, en
toegewyd aan God.

Hoe word
mens heilig?

Is jy dit
uit jouself?

Nee, dit
weet ons al te goed.

Ons is almal
in sonde ontvang en gebore.

Onderworpe
aan die ewige oordeel.

Uit onsself
het ons dus ’n band met die sonde, met die dood.

En dus kan
ons nie heilig wees nie.

Want wie
heilig is, is afgesonder van die sonde.

Soos God
hoogheilig is.

God woon in
die hemel, waar daar geen sonde is nie.

Waar alles
skoon en rein en HEILIG is.

Toe God
onder sy volk gaan woon het, was dit enersyds naby sy volk, maar andersyds ook
in afsondering.

Geen mens
mog sy voete in die allerheiligste sit nie.

Want daar
het die hoogheilige God onder sy volk vertoef.

Net die
hoëpriester mog een keer per jaar inkom, as hy ’n skottel bloed saamgevat het,

En so kan
ons vandag net by God kom, as ons tot Hom bid in die naam van Jesus.

Op grond van
sy bloed het ons toegang.

Dus, in
Christus is ons geheilig!

 

Die feit dat
jy in Christus heilig is, kan en moet ons dan ook weer uitwerk in al die
praktiese details van die lewe.

Ook hiervoor
gee Levitikus 19 vir ons ’n aantal voorbeelde.

Wat opval is
dat Levitikus 19 sy vertrekpunt neem by die 10 gebooie.

Die 10
gebooie wat vir ons ook geld as rigtingwysers op die pad van dankbaarheid.

Reël van
dankbaarheid, noem ons dit.

D.w.s. die
wet reël, reguleer jou dankbaarheid, lei dit in die regte bane.

Jy wil
dankbaar wees, omdat jy weet dat Christus jou gered het.

Maar hoe
moet jy dit nou wees?

Hoe moet jy
dit vorm gee?

Die 10
gebooie wys jou daarin die weg.

God se wet
leer jou om die sonde te haat, van die sonde weg te vlug.

God se wet
leer jou om heilig te lewe, dws jou lewe is aan God gewy, los van die sonde.

Soos ek gesê
het, Levitikus 19 maak die lewensheiliging konkreet met behulp van die bekende
10 gebooie.

Kyk
byvoorbeeld vers 11:

Julle mag
nie steel nie (8e gebod).

Julle mag
nie lieg nie (9e gebod).

Julle mag
die een die ander nie bedrieg nie.

Julle mag
nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ONTheilig nie (3e
gebod).

En hier sien
ons ook weer hoe die 10 gebooie uitgewerk word tot in die mees konkrete details
van elke dag.

Sien bv.
vers 13:

“die
dagloner se loon mag by jou nie tot die môre toe bly nie.”

Wie heilig
lewe, gee eerlik aan ’n ander wat hy verdien het.

Dit mog nie
met ’n dagloner gebeur dat sy gesin die nag met leë maag bed toe moes gaan nie.

En vers 14,
nog ’n duidelike aanwysing wat dit beteken om heilig te wees:

“Jy mag ’n
dowe nie vloek nie, en voor die blinde geen struikelblok lê nie; maar jy moet
jou God vrees.”

Dowes en
blindes, gestremdes is by God veilig.

Hy is
hoogheilig, en daarom wil Hy dat ook hierdie mense wat met afwykings en
gestremdhede moet leef, ’n goeie lewe het.

En so is
daar nog ’n klomp voorbeelde in hierdie hoofstuk.

Neem vers
28:

“Julle mag
ook ter wille van ’n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte
tekening in julle vel maak nie.”

Hoekom
eintlik nie?

Daar
staan:  “Ek is die HERE.”

Hy is die
God van die lewe.

Julle
behoort aan Hom, dus is julle ook heilig.

Julle kry by
Hom ’n welgeskape liggaam.

Nie om te
verniel nie.

Nie om te
bekras en permanent te beskadig nie.

Jy mag wees,
soos God jou geskape het.

Hoe jy ook
al is.

Ook dit is
vandag aktueel.

Ek het ’n
ruk gelede gelees van ’n kerk wat ’n sentrum oopgemaak het, waar mense na toe
kan kom om hulle tatoeermerke gratis te laat verwyder.

Ook dit het
met die heiligheid van ’n christen se lewe te make.

Met die
heiliging van die naam van jou Skepper.

 

So staan jou
hele lewe – gedagtes, woorde en dade, siel en liggaam, in die teken van die
eerste bede.

Levitikus 19
is ’n nuttige leidraad op die pad van heiliging.

Tot in die
kleinste details.

Tot in die
feit dat jy respek moet hê vir ou mense.

Sien vers
32: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer”

Doen julle
dit ook, jongmense?

Staan jy op
en bied jy jou stoel aan vir ’n persoon wat ouer is as jy?

Ook dit
hoort by die feit dat jy self heilig mag wees.

Ook dit
hoort by die heiliging van God se naam.

Uit jou
alledaagse gedrag moet jou Skepper nie gelaster word nie, maar geëer en geprys.

 

Gemeente, ek
dink dat ons wel gereeld hierdie eerste bede bid.

Maar leef
ons ook daarvolgens?

Laat u Naam geheilig word, dit is nie net iets wat ons bid en dan hoef
ons verder nie meer aandag daaraan te skenk nie.

God het sy
heilige naam aan sy kerk verbind.

Soos die
priesters wat destyds in die tempel, waar God wou woon, die taak gehad het om
die gebou rein en suiwer en heilig te hou.

Hulle moes
alle voorskrifte mbt die tempel nougeset nakom.

En as dit
nie gebeur het nie, was dit nie net ’n klad op hulle naam nie, maar ook op die
Naam van die HERE.

Dink aan die
hoëpriester Josua in die Ou Testament, wat vuil klere aangehad het (Sag 3:3).

Die duiwel
het gretig daarvan gebruik gemaak, nie net om Josua, maar ook die God van Josua
in diskrediet te bring.

Vandaag gaan
dit nog net so.

As mense van
die kerk hulleself dronk drink, dan maak die duiwel en die wêreld gretig
daarvan gebruik, nie net om jou naam en die van jou kerk deur die modder te
sleep nie, maar selfs die naam van jou God.

 

Soos Moses
destyds vir die volk gesê het, so klink die oproep vandag ook:

“Heilig moet
julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.” (Lev 19:2)

God is
heilig, want Hy is die God van die lewe.

Jy mag Hom
steeds beter leer ken, uit die Bybel.

Jy mag al
hoe meer onder die indruk kom van sy heiligheid.

En jy mag
ervaar watter positiewe invloed sy heiligheid op jou lewe het.

Danksy
Christus is jou lewe nou ook geheilig, aan God toegewy, deur sy bloed.

En aan die
hand van sy Woord, sy gebooie, help die Heilige Gees jou om hande en voete te
gee in die praktyk, sodat jou lewe steeds meer toegewy raak.

 

Amen.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)