Noodkreet tot God

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2014-09-21
Text: 
Psalms 74
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 21 September
2014 AD, 10:15

Voorsang: Ps
120:1-4

Votum

Seën

Ps 123:1

Wet

Ps 74:2,15

Gebed

Skriflesing:
Psalm 74

Ps 123:2

Teks: Psalm
74

Preek

Ps
74:1,11,12,13,16

Gebed

Kollekte

Sb 2:2,3,5

Seën

Preek: Psalm 74

Ek begin hierdie
preek met ’n paar woorde vir die kinders.

Soos julle
weet, woon die HERE in die hemel.

Maar tog het
die HERE lank gelede in die tyd van die Ou Testament ook ‘n tempel in Jerusalem
laat bou.

En hoe mooi
die gebou van die tempel ook was, dit kon nie met die hemel vergelyk nie.

God se
woning in die hemel is veel groter en veel mooier.

Maar tog,
die HERE het ook ’n tempel op aarde laat bou, sodat sy volk kon besef dat Hy
naby hulle is, en sodat hulle nie bang hoef te gewees het nie.

Maar weet
julle watter erge ding toe gebeur het?

In hierdie
psalm, Psalm 74 lees ons dat die tempel aan die brand gesteek is!

Die tempel
het selfs heeltemal afgebrand!

Dink net hoe
groot moes die mense, God se volk, geskrik het.

En weet
julle wie die tempel aan die brand gesteek het?

Dit was die
vyand.

Soldate van
die vyand.

Maar, en nou
gaan ek iets vertel wat nie maklik is om te verstaan nie.

Die soldate
van die vyand het die tempel afgebrand, maar weet julle wie die soldate gestuur
het?

Dit was die
HERE self!

Hoe is dit
nou moontlik?

Laat die
HERE sy eie huis sommer afbrand?

Wel, kom ek
probeer verduidelik.

Die kinders
van die HERE, die Israeliete, het ongehoorsaam geraak en hulle wou nie meer vir
die HERE luister nie.

Hulle het
Hom nie meer gedien nie.

Hulle het
hulle eie gang gegaan.

En weet
julle wat God toe gesê het?

As julle nie
meer na My wil luister nie, as julle ander gode begin dien, dan wil Ek ook nie
meer by julle woon nie.

Dan trek ek
weg.

En dan sal
my huis, die tempel, leeg agterbly.

Dan kan dit
ook maar afgebrand word.

Bo aan
hierdie psalm staan dat Asaf dit geskryf het.

Dit is heel
moontlik dat hy dit ook sien gebeur het, hoe die tempel afgebrand het.

En die
verskriklike verdrietige gevoelens wat hy toe gehad het, as iemand wat wèl nog
die HERE wou dien, wat wèl nog gelowig was, sy gevoelens lees ons in hierdie
psalm.

God se huis
staan in brand.

God se stad,
Jerusalem, word verwoes.

God se volk
word in ballingskap gevoer, na Babel.

O God, wat
gaan daar van u kinders word?

O God,
waarom verstoot U vir altyd?

Hierdie
noodkreet klink in die psalm.

Dit is ’n
onderwysing van Asaf.

Dit beteken,
ons kan vandag leer hoe en wat ons moet bid in tye waarin ons onself miskien
ook vertwyfeld afvra:

O God, wat
gaan met die kerk gebeur?

Is daar nie
baie mense wat deesdae oor hierdie vraag wakker lê nie?

Kerke loop
leeg.

Kerkgeboue
word verkoop.

Waar sal ons
kinders en kleinkinders God in die toekoms kan ontmoet?

Kom ons
luister watter boodskap God se Woord vir ons het .

Tema: Noodkreet tot God

1 Asaf kla oor God se straf in die hede (vers 1-11)

2 Asaf herinner aan God se seën in die verlede (vers 12-17)

3 Asaf smeek vir God se tussenkoms in die toekoms (vers 18-23)

1 Asaf kla oor God se straf in die hede (vers 1-11)

Hierdie
psalm begin met ’n waarom-vraag.

’n
Noodkreet.

Waarom, o
God, verstoot U?

Waarom, o
God, brand u toorn?

Ja dit was
afskuwelik wat die Babiloniërs in Jerusalem aangevang het.

Toe die
stadsmuur geval het na een en ’n half jaar se omsingeling, het die soldate
woedend en skreeuend die stad binnegestorm.

Hulle het
alles stukkend geslaan wat in hulle pad gekom het.

Hulle het
oor lyke getrap, op pad na hulle vernaamste doel:

in die
middel van die stad, op die hoogste punt: die tempel.

Voor jy kon
sien het daar groot vlamme uit die tempel gekom.

 

Gemeente, wat
moes die volk hierby gedink het?

Daar was
waarskynlik baie uiteenlopende gedagtes.

Maar die
gedagtes van ’n gelowige persoon soos Asaf het God in die Bybel vir ons bewaar.

Hierdie man
moes direk dink aan wat die profeet Jeremia veertig jare lank gepreek en
geprofeteer het:

Pas op, die
dag kom waarop God sy verbondsdreiging gaan uitvoer.

Dit kan nie
langer so aangaan nie.

Maar tog het
dit so aangegaan.

Die volk het
nie meer die HERE opreg gedien nie.

Hulle het al
die ander afgode ook begin dien.

En nou besef
Asaf baie goed: dit is sover.

Nou belewe
ons God se verbondsvloek, waarvoor Moses ons ook al gewaarsku het.

Daardie
verbondstraf word op hierdie oomblik oor die volk uitgegiet.

As gelowige,
wat besef dat hy self ook sondig is, roep hy uit, saam met die hele volk:

O God,
waarom het u vir altyd verstoot?

Waarom rook
u toorn teen die skape van u weide?

Asaf kyk op
na God.

God wat aan
elkeen in sy volk die teken van die verbond gegee het.

Ook hulle
wat afvallig geraak het.

Ook hulle
wat nie meer die tempel besoek het nie, maar die hoogtes besoek het waar die
afgodsbeelde gestaan het, die Baäls en Astartes.

Asaf roep
vertwyfeld uit:

HERE, wat
maak U nou?

HERE, dink
aan u vergadering, u volk, wat U in die voortyd verwerf het.

HERE, kyk
wat gaan aan.

Vers 3: kom
kyk na die ewige puinhope.

Alles het
die vyand in die heiligdom verniel.

Dit was vir
Asaf die allerergste.

Daar het
baie erge dinge gebeur.

Daar was
babas wat van die honger gesterf het in Jerusalem, daar is mense vermoor,
priesters is opgehang.

Maar dat God
se huis in puin lê, dit was die allerergste!

O God, kom
kyk na die puin.

O God, alles
is met byle en hamers stukkend geslaan.

Die heilige
grond is ontheilig deur die vyande.

Wat is daar
oor van u aanwesigheid?

 

Gemeente, in
ons land word kerkgeboue gelukkig nie aan die brand gesteek nie.

Mens kan ook
nie ’n direkte lyn van die tempel in die Ou Testament na ’n kerkgebou vandag trek
nie.

Ons lees
eerder in die Nuwe Testament dat jy self ’n tempel van God.

Deur sy
Heilige Gees is God aanwesig in jou lewe.

Jy as
gelowige is ’n tempel, waarin die Gees woon.

1
Korinthiërs 3.

God se
aanwesigheid by sy kinders ervaar ons nie meer by die tempel nie.

Die tempel
bestaan nie meer nie.

Ons ervaar
dit in ’n kerkgebou, waar daardie kerkgebou ook op aarde staan.

Maar dit is
nog nie eens die belangrikste nie.

God se
aanwesigheid ervaar ons daar waar die Bybel oopgaan, want daar is die Heilige
Gees aktief.

Ons is
bevoorreg dat daar in ons land nie vyande of soldate is wat kerkgeboue afbrand
nie.

Ons gedenk
ons geloofsgenote in ander lande, waar dit gebeur.

In lande
soos Irak en Nigerië word kerkgeboue wel afgebrand.

En in lande
soos Noord-Korea en Saoudi-Arabië mag die mense nie eens ‘n Bybel hê nie.

Maar dit wil
nie sê dat daar nie vyande in ons land is nie.

In ons land
is daar onsigbare vyande, wat tog ’n baie sterk invloed het op mense se
geloofslewe en kerklike lewe.

So kan ons
met die woorde van hierdie psalm vir die HERE roep.

O God, kyk
net hoe word mense se geloofslewens, en hoe kerke in ons land verwoes deur
materialisme, deur wêreldgelykvormigheid, deur humanisme, deur Skrifkritiek,
ensovoorts.

Hoeveel
gedoopte mense is daar nie in ons land – verbondskinders – wat nie meer die
kerk van binne sien nie?

Hoeveel
verbondskinders bevind hulle nie in ’n geestelike ballingskap nie?

 

Die
noodkreet van Asaf is tot God gerig.

Hiermee leer
die psalm vir ons om boontoe te kyk.

Ek het dit
al in die inleiding genoem.

Wie het die
tempel afgebrand?

Die vyand.

Maar wie het
die vyand gestuur?

Die HERE self.

Ons het te
make met sy toorn.

Besef ons
dit?

God is nie
afwesig nie.

God is baie
nadruklik aanwesig.

Ook in sy
straf.

O God,
betoon medelye met u kerk.

Ja HERE, ons
het dit verdien.

Maar sonder
U kan ons niks nie!

Kom
asseblief terug met u guns.

HERE, waarom
trek U u hand, ja u regterhand terug?

Ja HERE,
want as dit nog langer so aanhou, wat gaan daar dan nog van u kerk oorbly?

’n Noodkreet
tot God.

Ons sien nie
tekens nie, daar is geen profeet meer nie, niemand weet hoe lank nog nie (vers
9).

 

(Tema:
Noodkreet tot God

1 Asaf kla
oor God se straf in die hede (vers 1-11)

 

2 Asaf herinner aan God se seën in die verlede (vers 12-17)

In vers
12-17 blik Asaf nostalgies terug na die verlede.

God se groot
reddingsdade in die geskiedenis.

Enkele
historiese gebeurtenisse flits deur sy gedagtes.

Dink net hoe
groot God toe was!

Hoe
ontsagwekkend!

Dink aan hoe
Hy die see geklief het.

Toe die volk
van God uit Egipte bevry is, het Hy vir hulle ’n pad deur die Rooisee gemaak.

Die
Egiptenare het gebeef, hulle Farao en hulle hele leër het verdrink.

Maar die
volk Israël is op droë grond daardeur gelei.

Daarna het
God ook nog die Jordaanrivier laat opdroog, om sy volk toegang te verskaf tot
die beloofde land.

 

Asaf dink
nog verder terug.

Ja HERE, U
is dat wat dag en nag geskape het.

U het son,
maan en sterre geformeer.

U het die
grense van die aarde bepaal.

U het die
aarde gevorm soos dit nou lyk, met sy kontinente, oseane, ysbedekte pole.

Ja somer en
winter het U geformeer.

 

Gemeente,
nou is dit net goed om te besef dat nie almal so hieroor gedink het nie.

Die digter,
Asaf, het as gelowige naamlik op daardie stadium ’n nogal geïsoleerde posisie
gehad.

Dit kom ons
agter, as ons die inligting uit die Bybel, oor hoe die lewe van God se volk was
vlak voor die val van Jerusalem, op ons laat inwerk.

Die situasie
was toe naamlik soos volg:

Byna die
hele Juda het die afgode gedien.

Tussen
hakies, die noordelike ryk, die tienstamme ryk, Israel, was toe al op daardie
stadium meer as ’n eeu gelede in ballingskap gevoer, ook omdat hulle die afgode
gedien het.

Juda het dus
dieselfde paadjie van afval gestap.

Sommiges,
kan mens lees, het selfs kinderoffers vir de afgode gebring.

Van God het
hulle nie veel meer verwag nie.

Dus, wat ek
probeer verduidelik, Asaf het vir ’n groot deel alleen gestaan as hy sê in
hierdie psalm:

Nogtans is
God my Koning van die voortyd af (vers 12).

Nogtans is
Hy dit was verlossinge werk op aarde.

U is dit wat
seë en riviere kan drooglê.

U is dit wat
somer en winter beheer.

U is dit wat
vir reën sorg.

Nie die
afgode soos Baäl nie.

U is dit aan
wie dag en nag behoort.

Die
hemelligte en die son het U vasgestel.

Soos ons
sing, ek dink baie kinders ken ook al hierdie vers:

“Aan U
behoort die son wat ons bestraal,

die
sterrenag is maaksel van u hande,

die see wat
spoel langs vasgestelde strande;

die
jaarseisoen het U vir ons bepaal.” (Ps 74:12 berymd)

Asaf sing
hierdie woorde, hierdie pragtige belydenis, nie in ’n neutrale omgewing nie.

Met hierdie
woorde jaag hy juis baie ander mense van sy tyd die harnas in.

Volksgenote,
priesters, profete, teoloë,

so baie mense
wat van die HERE afgedwaal het en Hom nie meer alleen gedien het nie.

Wat voor
son, maan en sterre begin kniel het, wat die afgode begin aanbid het en vir
hulle begin offer het, net soos die omliggende volke.

Ja God se
volk het wêreldgelykvormig geword,

Net soos die
Egiptenaars wat die son aanbid het, of net soos die Babiloniërs wat die maan
aanbid het, en die Kanaäniete wat Baäl aanbid het.

Met hierdie
vir ons so pragtige vers maak Asaf ’n ‘statement’.

Basta met
die afgode.

Ek dien net
vir die HERE.

Die afgode
bestaan nie.

Son, maan en
sterre, wolke en reën is alles maaksels van sy hande.

 

Gemeente,
geld dieselfde nie ook vandag nog nie?

Hoeveel
mense glo vandag nog dat God almagtig is?

Dat Hy
wonders kan doen?

Dat Hy somer
en winter, dag en nag, son en maan, ja dat Hy ook jou persoonlike lewe beheer?

Staan u ook
op, saam met Asaf, om uit te roep:

Tog is U die
HERE.

Die
Almagtige.

Die Skepper.

Basta met
die fabels van ewolusionisme.

U is dit,
HERE, wat alles geskape het.

U het alles
geformeer.

U hand het
meesterlik alle lewende wesens ontwerp.

So herinner
Asaf homself en ook almal wat later sy psalm sou lees, aan die HERE se seën in
die verlede.

 

Ons het
ondertussen by die derde punt van die preek gekom:

 

(Tema:
Noodkreet tot God

1 Asaf kla
oor God se straf in die hede (vers 1-11)

2 Asaf
herinner aan God se seën in die verlede (vers 12-17)

 

 

3 Asaf smeek vir God se tussenkoms in die toekoms (vers 18-23)

Die derde
deel van hierdie psalm (vers 18-23) begin met:

“Dink
hieraan: Die vyand het die HERE gesmaad, en ’n dwase volk het u Naam verag.”

Die
eerlikheid gebied om te erken dat dit waar is.

’n Dwase volk het u Naam verag.

Ook in ons
tyd is daar so baie, van Christelike afkoms, wat die HERE se naam verag.

Wat juis
daardeur die vyande nog meer rede gee om God te smaad.

Maar
gelukkig, en dit mag ons uit hierdie psalm ook leer,

gelukkig was
daar toe ook nog werklik gelowige mense onder God se volk.

Dink
byvoorbeeld aan die profeet Jeremia en die mense om hom.

Dink aan
Daniël en sy vriende.

Dink aan
Esegiël.

’n Getroue
res, wat of nog in Jerusalem agtergebly het, of in Babel gewoon het.

En as een
van hierdie getroue res bid Asaf baie intens:

HERE, moenie
die siel van u tortelduif aan die wilde diere oorgee nie.

Vergeet nie
vir altyd die lewe van u ellendiges nie.

U
ellendiges...

Dit is
eintlik ’n pragtige uitdrukking.

Ons is
ellendig, meer kan nie oor ons gesê word nie.

Maar ons is
wel u ellendiges!

Ons behoort
wel aan die HERE!

U ellendiges.

En dit gee
nuwe hoop.

Moenie u eie
kinders vergeet nie HERE.

Aanskou die
verbond.

Gemeente,
dit is die kragtigste manier om die HERE in beweging te bring.

As ons die
HERE herinner:

Ons is mos u
kinders!

Kom help
ons! Red ons!

Niks is so
hartverskeurend as ’n kind wat angstig roep vir sy pa of ma nie.

Niks is so
vertroostend as wanneer ’n kind sy pa of ma gevind het nie.

Pleit op die
verbond.

Dit is wat
Asaf doen.

 

Ook dit mag
ons uit hierdie psalm leer.

Gemeente,
hou aan met pleit, met soebat.

Ons het in
die bloed van God se eie Seun ’n onwribare pleitgrond.

Jesus het
ons tot kinders van sy Vader gemaak.

Pleit op
hierdie fondament.

 

Vind die
HERE dit nie erg dat soveel verbondskinders los van die kerk lewe nie?

Soveel
verbondskinders wat nie meer daagliks die Bybel oopmaak nie?

Vind die
HERE dit nie erg hoe sy naam gesmaad word in histories Christelike lande nie?

Hoe sy Naam
ydellik gebruik word nie?

Pleit,
gemeente, dat God self ’n einde hieraan maak.

Staan op, o
God, verdedig u saak. (vers 22)

Dink aan die
smaad wat U die hele dag aangedoen word deur dwase mense.

God is tog
magtiger as die moderne en postmoderne opvattings?

Hy is tog
die Heilige Gees, wat ’n nuwe opwekking, ’n nuwe reformasie tot stand kan bring!

’n
Grootskaalse terugkeer na Hom, na gehoorsaamheid aan sy Woord.

 

Gemeente, in
hierdie psalm het Asaf indringend tot God gebid.

En weet u,
die HERE het sy gebed verhoor.

Die
hoogmoedige houding van die Babiloniërs het Hy geknak.

Hulle
wêreldryk het Hy laat vergaan.

En, soos
Asaf dit verwoord het, sy tortelduifie het Hy teruggelei na die beloofde land.

Sy tempel
het Hy laat herbou.

Heilshistories
gesproke was die terugkeer uit ballingskap die verhoring van Psalm 74.

En toe die
Here Jesus na die aarde gekom het, toe is Asaf se gebed nog op ’n veel
omvangryker wyse verhoor.

God het aan
sy verbond gedink.

Hy het
omgesien na sy volk en verlossing gebring.

Om die
woorde van die ou Sagaria te gebruik, toe hy die kindjie Jesus ontmoet het.

Dit gee ons
hoop, gemeente.

Hoop vir die
toekoms.

Hoop dat die
HERE weer tussenbeide sal tree in die toekoms.

Op klein
skaal – om dit so te verwoord – met dalk nog ’n opwekking, nog ’n reformasie,
nog ’n terugkeer na God en sy Woord in die toekoms.

Maar ook op
groot skaal, ek bedoel: op die jongste dag.

Gemeente,
moenie vergeet om God daaraan in u gebed te herinner nie.

Probeer om
Hom te verbid, Hom om te praat.

Laat ons
hierdie gebed van Asaf in ons tyd en konteks nogmaals bid.

Vra God of
Hy goed kennis wil neem oor hoe treurig sy verbondskinders soms lyk in ons tyd.

Bid of God
massaal ’n wonder van geloof en bekering sal laat plaasvind.

Nuwe en
blywende toewyding.

Nie net ‘n
oppervlakkige geloofslewe nie.

Nie net
gelowiges wat slegs met nagmaal kerk toe kom nie.

Christene
wat hulle geloof ook in hulle beroep in praktyk bring.

Met hierdie
biddende houding mag ons aan die werk spring.

 

Hierdie
psalm van Asaf was ‘n noodkreet tot God.

Asaf het
gekla oor God se straf in die hede.

Hy het ons
herinner aan God se seën in die verlede. En hy smeek vir God se tussenkoms in
die toekoms.

Ook al voel
ons dalk ’n minderheid, soos Asaf destyds.

Dit maak nie
saak nie.

Soos die
HERE in Jesaja 66:2 sê:

“Want my
hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die
HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en
wat bewe vir my woord.”

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)