Noodkreet tot Hom wat trou bly

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2014-11-02
Text: 
Psalms 88
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 2 November 2014 AD, 10:15

Voorsang: Ps
129:1,4,5,6

Votum: sing
Ps 121:1

Seën

Ps 111:1

Wet

Ps 88:1,2

Gebed

Skriflesing:
Psalm 88

Ps
88:3,4,5,6

Teks: Psalm
88

Preek

Ps
88:7,8,9,10,15,17,19

Gebed

Kollekte

Ps 86:2,4,8

Seën

Preek: Psalm 88

Die psalms,
hierdie ou liedere uit die Bybel neem nog steeds ‘n prominente plek vandag in.

In die
eredienste, en in gelowiges se persoonlike geloofslewe.

Hoekom
eintlik?

Die rede is
omdat hulle so gevarieerd is.

Hulle sluit
aan by amper elke situasie wat jy in jou lewe kan meemaak.

Nie net
vreugde, blydskap en liefde nie.

Maar ook
situasies van verdriet, eensaamheid, siekte, twyfel, loutering, ontnugtering,
selfs doodsangs.

Elke psalm
is nie ewe geskik vir elke situasie nie.

Ek is nogal
baie seker dat Psalm 88 waarskynlik nog nooit tydens ’n huweliksbevestiging
gesing is nie.

Dit sou
beslis nie pas nie.

Maar daar is
wel ander psalms wat dan uitstekend sal pas.

Psalm 88 is
geskryf vir ’n heel ander situasie.

Bo-aan
hierdie lied staan: in groot donkerheid – uitroepteken!

Ons vind in
hierdie psalm die gedagtes van iemand wat in doodsangs verkeer.

Wie hierdie
persoon presies was, mens lees bo-aan: ’n onderwysing van Heman, die Esrahiet,

en aan
watter siekte of toestand hy gely het – dit weet ons nie.

Hierdie lied
is wel toepasbaar op alle gevalle van ernstige siekte.

Alle gevalle
as die dood baie naby gekom het.

As ’n mens
agterkom dat dit nou ’n eenrigtingpad is, dat daar nie meer ’n omdraai terug na
die lewe is nie.

As die angs
jou keel toeknyp.

Dis nie so
dat hierdie psalm net vir bejaarde mense bedoel is nie.

Soos die
spreekwoord sê: ou mense sterf, jong mense kan ook sterf.

Hierdie
psalm het ’n boodskap vir ons almal.

Hierdie
psalm word dalk nie op ’n troudag gesing nie, maar mens sal dit wel van tyd tot
tyd hoor by ’n begrafnis.

Dan is die
lied baie op sy plek.

Dan gee hierdie
lied woorde aan ons emosies;

En help ons
om met ons klag na die HERE toe te gaan.

Tema: Noodkreet tot Hom wat trou bly

Psalm 88 is
waarskynlik die donkerste psalm.

Sover ek
weet die enigste psalm wat nie op ’n hoopgewende noot eindig nie.

Duisternis,
dis die woord waarmee dit eindig.

Dit tipeer
die gemoedstemming.

Nie ’n
korreltjie blydskap nie.

Nie eers
sekerheid van gebedsverhoring nie.

Pas so ’n
lied wel in die Bybel?

Is dit wel
opbouend, ’n lied wat so in die mineur afsluit?

Bo-aan die
lied staan: ’n onderwysing.

Dus skynbaar
wil God ons tog iets met hierdie psalm leer.

Hoe ons met
die dood voor oë, op ons sterfbed, tot God kan, ja mag nader.

Nie elke
gelowige sterf met ’n loflied op die lippe nie.

En ons
hemelse Vader het begrip daarvoor.

Die dood is
naamlik ’n immense sterk en weersinwekkende vyand.

En so sien
ons dat die doodsiek Heman op sy sterfbed nie veel meer kan doen nie as net
kreun en kla tot God.

En dit het
die Vader in die hemel hom nie kwalik geneem nie, anders sou hierdie psalm
beslis nie in die Bybel gestaan het nie.

Ja juis
daarom word dit ’n onderwysing genoem.

’n Noodkreet
tot Hom wat trou bly.

 

Hierdie
morbiede lied is dus die gebed van ’n sterwende.

’n
Ontredderde kind wat in al sy ellende aan God bly vasklou.

Dit sien ons
in hoe hy sy geklaag begin:

HERE, God
van my heil.

Hy begin met
‘n geloofsbelydenis.

U is die God
van my heil.

By U moet ek
wees, noudat geen mens my meer kan help nie.

Hierdie
psalm eindig dan wel met die woord duisternis,
Heman begin wel anders.

Hy hou vas
aan God, in ’n uur waartydens hy voel hoe alles van hom afgevat word.

HERE, God
van my heil!

HERE is met
hoofletters geskryf in vers 2.

Dit is ’n
verwysing na God se verbondsnaam, in Hebreeus: Jahweh.

Dit is ’n
klemmende oproep.

HERE, noudat
ek van almal moet afskeid neem, nou mag U my nie loslaat nie!

U is tog die
Een wat my ewige lewe, ja opstanding uit die dood beloof het!

Dit is,
gemeente, dus die eerste onderwysing, die eerste wat ons kan leer uit hierdie
lied:

By God is
daar heil.

Dit wil sê:
by God is daar uitredding, bevryding, ewige lewe, opstanding van die vlees.

Daaraan kan
jy vashou, as jou sterwensuur gekom het.

 

Want vir sy
gevoel was Heman al een van die dooies.

Hoor net hoe
kla hy.

Ek is siek
van ellende.

My lewe raak
al aan die doderyk.

Ek geld vir
iemand wat al in die graf lê.

’n Man wat
al sy krag verloor het.

Kyk, daar lê
ek al in die graf, dood, begrawe,

iemand aan
wie U nie meer dink nie...

Afgesny van
u hand.

In die
duisternis, in die diepte.

 

Gemeente,
gaan Heman hier nie bietjie te ver nie?

Is dit wel
reg wat hy sê?

Miskien moet
ons hom nie te gou oordeel nie, of hy nou te ver gaan en onbesonne dinge sê...

Die Heilige
Gees het hierdie opmerkings ’n plek in die Bybel gegee.

Hulle tipeer
die magteloosheid, die volslae hulpeloosheid van ’n mens.

Wie is die
mens, dat U aan hom sou aandag skenk?

Ons is swak,
en ons geloof is ook so swak.

En tydens
die sterwensuur doen die satan ook nog ’n laaste poging om jou geloof te knak.

Die loflied
uit jou mond te steel.

En wat dan
oorbly is geklaag en gekerm.

So is die
mens.

Op homself
teruggeworpe kwyn hy weg.

Wat eens
sterk en lewenskragtig was, is nou ’n hopie ellende.

 

Hierdie
psalm maak ons nederig.

Dit is nog
’n onderdeel van die onderwysing.

Dit maak ons
klein.

Maar
tegelykertyd is daar die troos, dat God trou bly.

Ook as Hy vir ons gevoel ons in die steek laat.

 

Soos gesê,
ons kan uit die psalm nie presies opmaak watter siekte Heman gehad het nie.

Daar is eksegete
wat sê die kans is groot dat hy aan melaatsheid gely het.

Want ons
lees dat die mense, selfs sy vriende hom vermy het.

Melaatsheid
is naamlik baie besmetlik.

Ook – sê
vers 16 – het hy die siekte al van sy jeug af gehad.

Tog, al was
dit melaatsheid, is die psalm van so ’n aard dat elke mens wat naby die dood
gekom het, homself kan inleef.

Die psalm
help ons verder.

Ons sien dat
die digter baie goed daarvan bewus is dat God
met hom besig is.

Agter sy
uitsiglose toestand merk hy God se hand op.

Sy leidende
hand, al sorg sy hand nie nou dat die meetsnoer in lieflike plekke val nie.

Vers 8
byvoorbeeld: u grimmigheid rus swaar op my.

Of vers 17:
u toorngloed gaan oor my heen, u verskrikkinge vernietig my.

Hierdie
woorde laat mens dink aan hoe Paulus later sou kla:

Ek ellendige
mens – wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? (Rom 7:24) – hierdie
sterflike liggaam...

Die besef
dat die lewe van elke mens een of ander tyd ten einde loop.

Selfs die
mees selfversekerde persoon lê die loodjie.

En die trouste
Christen sien dat sy lewe verbygaan, vol swakhede en sonde.

Ja dit is volledig
tereg dat God se brandende toorn oor ons heengaan!

En die
gelowige Heman durf dit op sy sterfbed nie te ontken nie.

Ons hoor nie
’n aanklag nie, hy wys nie met sy vinger na God nie.

Nee, hy kla
net, hy kerm.

HERE, u
verskrikkinge vernietig my, en dit is nog tereg ook, moet ek erken.

O God, my
lewe was so vol sonde!

Op so ‘n
oomblik het mens as sterwende niks aan vroom praatjies nie.

Salig is
elkeen wat diep daarvan deurdronge is hoeveel rede God het om toornig te wees.

Hoe dikwels
het ons nie goedkoop met God se genade omgegaan nie?

Ja die
Bybel, hierdie psalm in besonder, wals nie net oor die dood heen, asof dit
eintlik niks is nie.

Paulus noem
die dood nog die laaste vyand; wat eers op die jongste dag vergoed van die
troon gestoot sal word.

Self het
Paulus ook soos ’n berg teen die dood opgesien.

2
Korinthiërs 5:4: “Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat
ons liewer nie ontklee, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die
lewe verslind kan word.”

Ja dit is
normaal om teen die dood op te sien.

En gelowiges
ondergaan hierdie ontluisterende gebeurtenis net so radikaal as ongelowiges.

Wat dit
betref geen verskil nie.

En hulle wat
agterbly, gelowig of ongelowig, ervaar die gemis.

Hoe hard die
dood kan toeslaan, hoe onomkeerbaar die gemis is.

Dit geld ook
vir ons, wat deur Christus met sy duur bloed gekoop is.

Hierdie
tydelike, deur die sonde aangetaste en sterflike liggaam kan die ewige lewe nie
beërwe nie.

Dit moet
heeltemal afsterf.

En dit is
baie ingrypend.

 

Dit help nie
om met versagtende woorde oor die dood te praat nie.

Asof dit
eintlik iets is wat by die lewe hoort nie.

Die dood het
’n slopende werking.

Van ’n
welvarende selfversekerde man of vrou bly net ’n hopie vel oor been oor.

Miskien was
dit by Heman ook die geval.

Het Heman
dalk so afskrikwekkend gelyk, as gevolg van sy siekte, dat sy vriende hom nie
eers meer wou besoek nie?

In vers 9
kla hy teenoor God:

“U het my
bekendes ver van my verwyder, my iets afskuweliks gemaak vir hulle...”

 

Gemeente, is
dit so dat hierdie psalm ons dalk wil leer dat ieder en elk van ons dieselfde
op ons sterfbed sal meemaak?

Moet ons onsself
ook voorberei op ’n lydensweg soos wat Heman meegemaak het?

Wat sê die
Bybel verder hieroor?

Wel, in die
eerste plek mag ons almal bid dat dit ons bespaar bly.

Veral bid of
die Here Jesus vóór ons sterfdag mag terugkom.

Sodat ons in
’n oogwink verander kan word, en ’n verheerlike liggaam kry – soos die Skrif
sê.

Dan spring ons
die slopende proses van die dood vry.

Laat ons die
Here Jesus herinner aan sy eie belofte.

Niet dat ons
vir Hom kan voorskryf wanneer Hy moet terugkom nie.

Laat u wil geskied dit is wat die Here Jesus gebid het die
oomblik toe Hy self vreeslik teen die dood opgesien het.

En mog dit
tog die geval wees – net soos by ons Heiland – dat dit God se bedoeling ook met
jou en my is dat ons die heerlikheid slegs sal ontvang deur lyde en sterwe heen
– laat sy wil geskied, want sy wil alleen is goed.

En laat ons
dan bid vir krag, volharding en geloof.

Laat ons bid
dat Hy dit so sal lei dat daar geliefdes tydens daardie uur om ons heen is,

dat hulle
nie van ons wegvlug, omdat ons so aaklig lyk nie – soos by Heman die geval was

maar dat
hulle liefdevol om ons bed sit, vir ons bid, ons geloof ondersteun, ons pyn
verlig.

En dat God
veral met sy genade voelbaar aanwesig
sal wees.

 

Ons weet uit
ervaring, en dit sien ons ook in die Skrif, dat God met elke mens sy eie pad
loop.

Die een laat
Hy rustig sonder pyn inslaap.

Die ander
een moet ’n lang lydensweg deurstaan.

Baie
gelowiges in hede en verlede het – Goddank – nie ’n vergelykbare situasie as
Heman meegemaak nie.

Hulle mog
rustig, ja in geloof, en met ’n glimlag, met ’n loflied op die lippe, inslaap.

In hulle
laaste oomblikke mog hulle selfs die hemelse heerlikheid al aanskou.

Maar daar is
ook mense soos Heman, wat ’n ander paadjie moet loop.

’n Baie
moeiliker weg.

En dit is
die ryke troos van hierdie psalm: God hou ook hulle vas.

Die God van
hulle heil.

Die HERE
verag hulle nie as gevolg van hulle geklaag en gekerm nie.

Hy het
begrip.

Hulle is in
sy Boek opgeskryf.

“Kan u aan
die dooies ’n wonder doen? Of kan skimme opstaan, kan hulle U loof?

Kan u
goedertierenheid vertel word in die graf, u trou in die plek van vertering?”
(vers 11-12)

Gemeente,
dink u dat God ’n antwoord het op hierdie morbiede vrae?

Natuurlik
het God!

En Heman het
dit waarskynlik ook al te goed geweet.

En met sy
klaende vrae herinner hy God daaraan.

HERE, dit
maak tog nie sin as u kinders in die graf lê nie?

Dan kan
hulle U mos nie loof nie?

So kla Dawid
ook teen God in Psalm 30:

“Watter
voordeel is daar... as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof?” (Ps
30:10)

Asof God nie
’n antwoord sou hê op hierdie vrae nie...

In Christus
het God ’n antwoord gegee op hierdie klaende vrae.

 

Wat het toe
uiteindelik met Heman gebeur?

Het God hom
nog – in antwoord op sy vurige gebed – lewensverlenging geskenk?

Die einde
van hierdie psalm laat die vermoede ontstaan dat dit nie die geval was nie.

Miskien was
hierdie wel sy laaste woorde.

’n Klag, met
moeite uitgespreek terwyl hy voel hoe hy weggly in die duisternis van die dood.

Vriend en
metgesel het u “ver van my verwyder; my bekendes is duisternis”.

Het God dan
niks met sy klag gedoen nie?

Met sy
skreeu om hulp?

Uit die
geheel van die Skrif weet ons beter.

Die profeet
Jesaja profeteer byvoorbeeld:

“U dode sal herlewe... Waak op en jubel, julle
wat in die stof woon! Want u dou is 'n dou van die lig, en die aarde sal aan
skimme die lewenslig skenk.” (26:19)

Die HERE ken
hulle wat aan Hom behoort.

Hy sal hulle
kan terugvind.

Of hulle
begrawe lê op ’n vergete kerkhof, gesneuwel in die oorlog, verdrink in die see,
waar hulle liggame oor verspreid lê oor die aarde.

Hulle lewe is veilig by Hom.

Hy sal hulle
opwek.

Ook hierdie
Heman, wat dalk vol vrae en angs gesterf het.

Ook daardie
kind van God, wat onvoorbereid uit hierdie lewe weggeruk word, dalk in ’n
motorongeluk.

Ook daardie
kind van Hom, wat na maande in ’n koma sterf.

Ook daardie
kind van Hom, wat al in die moederskoot sterf, nog voordat sy ouers vir hom ’n
naam kon gee.

By God het
hulle almal ’n naam. Hulle is syne.

Selfs
daardie kind van Hom, wat gebuk gaan onder die siekte van depresse, en uit
wanhoop sy eie lewe geneem het.

Psalm 88 vra
begrip vir hierdie kinders van God.

Psalm 88 wys
op die God van hulle heil, wat trou bly, ondanks hulle ontrou, of ondanks hulle
vrae en klagtes.

Die Gees kom
ons swakhede te hulp.

Ook Heman
mog ervaar, na sy sterwensuur, wat God aan ons verseker in Romeine 8:18:

“Want ek reken dat die lyding van die
teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal
word nie.”

Want as God
vir ons is, wie sal teen ons wees?

Hoe sal Hy,
wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar ter wille van ons oorgelewer
het, vir ons met Hom nie ook alle dinge skenk nie?

 

Hierdie
frases wat ons mag hoor, elke keer as ons nagmaal vier.

As ons aan
tafel sit by Hom wat al ons skuld op Hom geneem het.

Die lyde en
doodsangs, die Godverlatenheid wat ons Heiland deurgemaak het, dit is iets wat
ons bespaar word.

Verlaat deur
die hemelse Vader.

Godsverduistering,
daardie ure aan die kruis.

Heman het
gekerm: Waarom, verstoot U my siel, verberg U u aangesig vir my?

En Dawid het
gekla in Psalm 22:

“My God, my
God, waarom het U my verlaat”?

Hierdie klag
sou Jesus self aan die kruis uitspreek.

Daar het Hy
’n offer geword vir ons sondes.

Met die
gevolg dat ons nie meer in Godverlatenheid hoef te sterf nie.

Nie dat die
sterwe vir ons maklik geword het nie.

Maar die
swaar dreiging van die oordeel hang nie meer bo die sterfbed van ’n kind van
God nie.

Christus het
sy liggaam aan die kruis laat spyker;

om die akte
van beskuldiging wat teen ons gerig was, te vernietig.

As ons ly,
mag ons weet dat Christus die ergste alreeds vir ons gely het.

Dat ons lyde
van beperkte duur is.

Dat die
poort na die heerlikheid al oop staan, vir wie op Hom vertrou.

Dat die dood
’n deurgang geword het na die ewige lewe.

Dat die loflied
uit die monde van sy kinders, as hulle sterf, nie stil raak, as die liggaam in
die graf gelê word nie.

Maar dat die
lof op verhoogde toon verder gaan.

In die
hemelse heerlikheid, waar ons siel tuiskom, direk na ons sterwensuur.

 

Gemeente, ek
sluit af met die oproep:

Kom ons wy
ons alledaagse lewe, noudat ons sterwensuur nog nie aangebreek het nie, voluit
vir ons Heiland.

Kom ons
gebruik die tyd nou, om ons sondes te bely.

Kom ons
staan toegewyd in sy diens, noudat ons gesond is en nog krag het.

En dan, as
die oomblik van ons sterwensuur aanbreek, dan sal God wel sorg.

Ons weet nie
hoe dit gaan wees nie, of jy sal moet ly, soos Heman het, of dat jy rustig sal
inslaap nie.

Maar selfs
al sal dit so wees dat jy ’n lydensweg sal moet gaan, en selfs al sal dit
veroorsaak dat jy gaan kla, angstig wees, nie met ’n loflied op die lippe, maar
met minder aangename woorde, weet dan dat die HERE sy kind nie in die steek
laat nie.

Jou laaste
oomblikke is nie deurslaggewend vir waar jy na die lewe heengaan nie.

Dit is ’n
tradisie dat mense baie waarde heg aan iemand se laaste woorde, veral onder
heidenvolke sien mens dit.

In hulle
bygeloof word ook baie betekenis geheg aan hoe
iemand sterf.

As iemand ’n
gewelddadige dood sterf, ’n slegte dood sogenaamd, dan word gekonkludeer dat
die persoon dus ’n slegte persoon was.

Al was hy
die mees aangename mens in hierdie lewe, as hy so sterf, moes hy skynbaar in
die verborgenheid tog ’n baie slegte iemand gewees het...

So redeneer
heidene in hulle bygeloof.

En die
tradisie om baie waarde aan iemand se laaste woorde te heg, kom ook
daarvandaan.

As Christene
doen ons dit egter nie.

Iemand se
laaste woord is nie bepalend nie, en hoef ons nie besig te hou nie.

Soos die
Skrif sê, die dood bly die laaste vyand, en die stryd teen hierdie vyand op die
sterfbed kan heftig word.

En maak nie
saak hoe dit gegaan het nie, vir ’n gelowige geld dat hy gered is in Christus.

En dat die
hemelse Vader sy kind deur die dood heen sal tuishaal.

Ook vir
hulle wat, soos Heman, gedurende die laaste oomblikke sy aanwesigheid dalk nie
gevoel het nie.

Hy laat jou
nooit in die steek nie.

Hy bly trou.

Die
noodkreet van sy kinders val nie op dowe ore nie.

Nooit nie.

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)