Die verhoogde Christus stort sy Gees uit met die oog op die verbreiding van die Evangelie

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2014-06-08
Text: 
Handelinge 1-2 : 13
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 8 Junie 2014
AD, 10;15 (Pinkster)

Liturgie:

Voorsang: Ps
83:1,2,4

Votum

Seën

Ps 149.1,2

Wet

Ps 25.8,9

Gebed

Skriflesing:
Handelinge 1-2:13

Sb
13:4,5,6,7,9

Teks:
Handelinge 2:4

Preek

Ps 149.3,4

Gebed

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën

Preek: Handelinge 2:4

In die
Heidelbergse Kategismus bely ons dat die Seun van God deur sy Woord en Gees ‘n gemeente uit die hele
menselike geslag vergader, beskerm en onderhou.

Met sy Woord en Gees, staan hier, doen Christus
dit.

Daar is geen
beter illustrasie hiervan as wat op Pinksterdag gebeur het nie.

Christus het
sy Gees uitgestort, en aangevuur dat die Gees het die apostels die Woord begin
verkondig.

 

Tema: Die verhoogde Christus stort sy Gees uit met die oog op die
verbreiding van die Evangelie.

 

Op die
Pinksterdag gaan God se ou belofte in vervulling.

Dit Heilige
Gees het digterby gekom as ooit tevore.

Veral as
mens dit met vroeër vergelyk.

Dink aan
destyds by die berg Sinaï in die woestyn, toe die volk op ’n afstand van die
berg gehou is deur stormwind en weerlig.

Nou, met
Pinkster, is daar geen sprake meer van afstand nie.

’n Geweldige
windvlaag het die huis gevul waar hulle bymekaar was.

Daar was
vuurvlamme sigbaar op die koppe van die apostels, sonder dat dit hulle geskroei
het.

En deur die
Gees aangevuur, in vuur en vlam, begin hulle praat.

En al die
toehoorders was buite hulleself van verwondering toe hulle dit hoor.

Vers 11: ons
hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek!

 

Oor hierdie
spreek of praat van die apostels bestaan daar nogal verwarring.

Wat was dit
eintlik?

Daar word
dikwels hierna verwys as tongetaal.

Praat in
tonge.

Maar wat is
dit eintlik, praat in tonge?

Ons ken
tongetaal vandag as iets wat veral in Pinkstergemeentes en charismatiese groepe
gangbaar is.

Daarmee word
dan bedoel dat iemand skielik onverstaanbare klanke begin uitspreek, ’n soort
lofuiting waaroor hyself nie beheer het nie.

As jy dit
toelaat, kom dit skynbaar oor jou.

Jou verstand
is as’t ware afgeskakel, en jou tong kom in beweging, en dit praat maar deur,
die klanke kan jy nie begryp nie.

Dit is nie
Afrikaans, nie Engels nie, maar wat dit dan wel is... in elk geval
onverstaanbaar.

 

Nou is dit
‘n gevaar dat ons hierdie verskynsel – die sogenaamde tongetaal – gaan
teruglees in ons teks.

Dat mens
outomaties die gedagtesprong maak dat dit hier in die teks ook oor tongetaal
gaan, in hierdie hedendaagse charismatiese sin van die woord.

Maar as ons
dit doen, lees ons nie goed wat daar in ons teks staan nie, en loop ons gevaar
dat ons die teks laat buikspreek.

 

Kyk
byvoorbeeld na wat daar in vers 11 staan: “ons hoor hulle in ons eie taal oor
die groot dade van God spreek.”

Die mense
het dus woorde in hulle eie taal
gehoor.

Hulle het
nie snaakse klanke gehoor nie, dit was gewone woorde uit gewone tale wat hulle
gehoor het.

Die mense
wat daar bymekaar was, was vernaamlik Jode.

Hulle het
vanuit die Diaspora na Jerusalem gereis om die fees by te woon.

Al was hulle
Jode of Jodegenote, het hulle wel ander tale gepraat – naamlik van hulle
geboorteland, die tale van Mesopotamië, Kappadocië, Pontus, Asië, Libië,
Pamfilië, Egipte, ensovoorts.

 

Gemeente,
met hierdie besef in ons agterkop moet ons ook vers 4 lees.

Want hierdie
vers – altans die verkeerde uitleg daarvan – het al dikwels vir verwarring
gesorg.

Nie dat
hierdie vers op sig onduidelik of verwarrend is nie.

Daar staan:
hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale,
soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

Die Heilige
Gees het die apostels dus in verskillende tale laat praat.

 

Die Heilige
Gees wou hê dat elkeen daar teenwoordig presies te hore sou kry waar dit oor
gaan, sonder dat hulle enigsins iets sou misverstaan, omdat die apostels ’n vir
hulle onbekende taal sou praat.

Die apostels
self het waarskynlik van huis uit Aramees gepraat.

Dit is ’n
taal wat baie naby aan Hebreeus lê.

Die Hebreeus
wat in die Ou Testament gepraat is, byvoorbeeld in die tyd van koning Dawid,
was in die tyd toe Jesus op aarde was nie meer in gebruik nie.

Dit was net
nog bekend uit geskrewe tekste, soos die boeke van die Ou Testament.

Al in die
tyd van Daniël het die ou Hebreeus begin uitsterf, en is dit vervang deur
Aramees, wat baie naby aan Hebreeus lê,

soos bv.
Afrikaans en Nederlands ook naby aan mekaar lê.

In Jesus se
tyd op aarde het die Jode dus Aramees gepraat.

Daarnaas kon
baie mense ook Grieks praat, wat die internasionale taal van die tyd was, soos
Engels vandag is.

Van huis uit
kon die apostels dus waarskynlik Aramees praat, en dalk ook ’n bietjie Grieks.

Maar die
ander tale waarvan ons hier in Handelinge 2 lees, was vir hulle volledig
onbekend.

As hulle dit
sou wou praat, sou hulle vir ’n kursus of so moes gaan, wat waarskynlik jare
sou duur.

Net soos ek,
toe ek destyds sendeling geword het, by die universiteit moes inskryf om Noord-Sotho
te leer.

’n Vreemde
taal aanleer is ’n proses wat sy tyd vat, en uithouvermoë, dis nie iets wat
mens sommer tjop tjop kan doen nie.

Wat ’n
wonder is dit daarom dat die apostels nou ineens al hierdie vreemde tale kon
praat.

Die een het
skielik Egipties gepraat,

Die ander
een Libies, of Kappadosies, of Mesopotamies, ens.

Maar almal
het in elke taal dieselfde boodskap gehad.

Al die
omstanders het die Evangelie, die goeie nuus, in hulle eie taal gehoor.

 

Dus op sig
is hierdie teks heeltemal duidelik, was dit nie dat mens soms die gevaar loop
om dit met ’n vooroordeel, ’n vooropingestelde gedagte te benader, asof die
apostels hier een of ander snaaks klanke sou geuiter het nie.

Dit was nie
’n snaakse verskynsel nie, dit was nie ’n klomp mense wat heeltemal uitgehak
het nie.

Dis eintlik
presies wat die haatdraende Jode daarvan wou gemaak het.

Kyk net –
het hulle gespot – hierdie mense het te veel soetwyn gedrink, en dit is nog
maar oggend.

Inderdaad,
as iemand te veel wyn gedrink het, kan jy nie verstaan wat hy sê nie.

Maar hier
was dit allermins die geval.

Want in alle
nugterheid het die apostels vertel oor die groot dade van God.

En dit nie
net in hulle moederstaal nie – in Aramees of in Grieks nie.

Dit was nou
juis die groot wonder.

Mens kan dit
’n taalwonder noem.

Die Heilige
Gees het aan hulle die vermoë geskenk om die Evangelie te verkondig in meerdere
tale.

Soos gesê,
tydens die Pinksterfees – dit was ’n Joodse fees – was Jerusalem vol
feesgangers.

Ook
feesgangers uit die buiteland.

Net soos
vandag die geval is, het daar toe ook meer Jode buite as binne Judea of Israel
gewoon.

Sommige van
hierdie buitelandse Jode – veral as hulle ouer geword het – het soms gerepatrieer,
om naby Jerusalem – soos ons vandag sou sê – af te tree.

Maar hulle
het dan nog almal hulle eie tale gepraat.

Dit is
bekend dat daar in die stad Jerusalem verskillende sinagoges was, waarin daar
ook verskillende tale gepraat is.

Dit sien
mens byvoorbeeld in Handelinge 6:9.

Daar word
melding gemaak van ’n sinagoge van die Cireneërs, ’n sinagoge van die
Alexandryne, ’n sinagoge van die Jode uit Cilicië, en ’n sinagoge van die Jode
uit Asië.

Al hierdie
verskillende mense is dus deur die apostels toegespreek in hulle eie taal van
herkoms.

Die taal van
hulle geboorteland.

Die Heilige
Gees het na hulle uitgereik in hulle eie moedertaal.

Want, dit is
die belangrikste van ons teks:

Hier doen
die Heilige Gees ’n wonder!

Hy word deur
Christus uitgestort, en Hy aktiveer Christus se gesante op aarde.

Die tema vir
vandag se preek is:

Die
verhoogde Christus stort sy Gees uit met die oog op die verbreiding van die
Evangelie.

Dit is die
kader waarbinne hierdie taalwonder plaasvind.

Die Heilige
Gees verrig ’n wonder sodat die Evangelie versprei.

En nie
sommer ’n wonder nie, ’n baie effektiewe wonder!

Want watter
wonder kon die Heilige Gees beter verrig op daardie oomblik as hierdie
taalwonder!

 

Want
nogmaals, wat het die apostels eintlik gepraat in al die verskillende tale?

Dit is wat
vers 11 sê: ons hoor hulle oor die groot dade van God praat in ons eie taal!

’n Bietjie
later sien ons, vanaf vers 14, hoe die leier van die geselskap, Petrus, alleen
die woord begin voer.

Petrus hou
dan ’n uitgebreide preek, waarskynlik in Aramees, die taal van die Jode, oor
die groot dade van God.

Hy toon aan
uit die Ou Testament, die Bybel van die Jode, hoe die koms van die Messias
daarin aangekondig word.

En hoe Jesus
die beloftes wat daar in die Ou Testament staan, vervul het.

Die beloftes
het in vervulling gekom, tot hierdie einste dag toe!

Want toe
Christus op hierdie Pinksterdag sy Gees uitstort, het die profesie uit Joël in
vervulling gegaan:

Ek sal my
Gees op alle vlees uitstort, en julle seuns en dogters sal profeteer, ens., en elkeeen
wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

Dus,
nogmaals, wat het die apostels in die vreemde tale gesê?

Ons kan
daarvan uitgaan dat hulle presies dieselfde verkondig het as Petrus in sy
Pinksterpreek.

Kort
saamgevat: dit het gegaan oor die groot dade van God, wat Hy hier op aarde deur
sy Seun Christus gedoen het.

 

Gelukkig,
dat die apostels nie – soos wat sommige mense dit vandag noem – in ’n tongetaal
begin praat het nie.

Dis dalk
goed om op hierdie stadium iets meer oor hierdie sogenaamde ‘tongetaal’ te sê.

Want, moenie
my verkeerd verstaan, tongetaal is ’n verskynsel wat wel bestaan.

As jy ’n
erediens van sommige pinkster- of charismatiese groeperinge sou besoek, sal jy
dit teenkom.

Toe ek
hierdie preek voorberei het, het ek op internet ’n paar youtube filmpies gekyk
van hierdie sogenaamde tongetaal.

Dus ja, dit
bestaan, hoe sinneloos dit ook mag voorkom, gaan kyk maar bietjie op youtube.

Daar is
selfs video’s wat jou help om dit aan te leer.

Daar is
mense wat hulle inspan om dit te doen, en wat selfs op ander neerkyk wat nie so
kan ‘uithak’ nie.

’n Mens kry
dit nie sommer reg nie.

Dit vat ’n
tydjie se oefening.

Basies hou
dit in dat jou spraakvermoë van jou gedagtes losgekoppel word.

Normaalweg
as mens praat, dink jy wat jy sê.

Met tongetaal,
of soos dit ook genoem word, glossolalia, dink jy nie wat jy sê nie.

Jy laat jou
mond toe om maar net geluide te maak.

Mense beweer
dan dat dit Heilige Gees is wat in jou kom en daai geluide maak.

Nogal ’n
belediging vir die Gees.

Hierdie
verskynsel is al baie ondersoek.

Daar kon nog
nooit ’n bewys gevind word dat hierdie tongetaal iets beteken nie.

Daar is
mense wat beweer dat hulle tongetaal kan uitlê.

Maar ook
daarna is al ondersoek gedoen.

’n
Video-opname van iemand wat in tonge praat, is afsonderlik vertoon aan
verskillende sogenaamde tongetaal uitleggers.

Maar elkeen
van hulle het met ’n ander verklaring, ’n ander boodskap gekom.

 

Dit is ook
belangrik om te noem dat tongetaal nie net onder Christene voorkom nie.

Dit is ’n
verskynsel wat ook in ander godsdienste of kontekste voorkom.

Dit word
gesien as ’n soort toestand, ’n soort trans wat jou nader aan die goddelike, of
wat ook al bring.

 

Om terug te
kom by ons teks.

Hier in
Handelinge 2 lees ons dus oor TOTAAL iets anders as hierdie soort tongetaal,
oftewel glossolalia.

Mense wat
dit najaag, is besig met, soos die Engelse sê, iets wat ‘fake’ is.

Dit het
totaal niks te make met die geweldige TAALWONDER waarvan ons in ons teks lees
nie.

Gelukkig
maar, dat die apostels nie in hierdie ‘fake’ soort tongetaal gepraat het nie.

Want dan sou
niemand ’n woord kon verstaan het nie.

As dit die
geval was, dan sou daar op daardie dag nie drie duisend mense gedoop kon word
nie.

Gelukkig
maar, want met hierdie egte taalwonder het die Heilige Gees gesorg dat al die
mens die goeie nuus oor Jesus Christus op daardie dag te hore gekry het.

In hulle eie
taal!

En hulle kon
daarna in hulle eie taal hulle geloof bely en gedoop word.

So het die
verhoogde Christus gesorg vir die verbreiding van die Evangelie.

Hier, aan
die begin van die nuwe bedeling, het Hy met hierdie wonder gesorg dat die
verbreiding vinnig momentum optel.

So het
Christus deur sy Gees sy kerk gebou, beginnende by Jerusalem.

Met die
doel, soos ons dit in Handelinge 1 gelees het, wat Jesus vir sy dissipels gesê
het kort voor sy hemelvaart, dat die getuienis sal uitgaan, vanaf Jerusalem,
deur Judea, Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.

Die feit dat
ons vandag hier in die kerk sit, is ’n bewys daarvan dat dit gebeur het.

Ons is hier
saam as Christene.

Ons hoef nie
skuldig te voel oor die feit dat ons nie in tongetaal praat nie.

Maar God het
aan ons die gawe van profesie gegee.

Mens hoef
nie ’n dominee of ouderling te wees om te profeteer nie.

Profeteer
wil sê dat jy in staat is en ook bereid is om vrymoedig te getuig van Christus.

Jou geloof
in Hom, jou lewenswyse, die keuses wat jy in jou lewe maak tot sy eer, volgens
sy wil.

Getuie wees
met jou woorde, en jou dade.

Dit is
profeteer.

God se Woord
toepas in vandag sy tyd.

 

Die
kerkvader Augustinus het op ’n stadium die volgende gesê.

Hy het
ongeveer 400 jaar na Christus geleef.

Net soos in
ons tyd, was daar in sy tyd ook nie meer sprake van die taalwonder waaroor ons
in Handelinge lees nie.

Sommige
mense het hom gevra of dit nie ’n verarming is nie.

Hy het toe
geantwoord: in elke tyd gee Christus wat nodig is vir sy kerk.

Die Pinksterwonder
van die praat in baie tale het oorgegaan in die WERKLIKHEID van die veelheid
van tale in die eenheid van die kerk.

Hiermee het
Augustinus bedoel.

Op
Pinksterdag was daar net ’n klompie apostels.

Christus het
hulle in staat gestel om te begin preek in vreemde tale, sodat hulle so gou
moontlik op pad kon gaan.

Maar vandag
– Augustinus se tyd dus – is die kerk al gevestig in baie land en tale.

En in elke
taal is daar predikers wat elke Sondag die Evangelie verkondig.

 

Dit is
vandag nog steeds die geval.

Dit is ook
die Pinksterwonder vandag.

Toe ek
destyds as sendeling beroep is, moes ek vir jare die taal aanleer.

En op die
oomblik leer ds Van Alten Russies, juis ook met die oog op die verbreiding van
die Evangelie.

Soms sou
mens wens dat jy in een dag die taal kan praat, dat dieselfde sou gebeur as op
Pinksterdag.

Tog gebeur
dit nie.

Christus se
kerk is nou in die luukse posisie dat daar baie mense is.

Maar die
feit dat mense nog steeds tale aanleer, juis om met die Evangelie uit te reik
na ander, dit is nog steeds onderdeel van Pinkster.

Die feit dat
die afgelope twee eeue duisende sendelinge na die Afrika kontinent gekom het,

die feit dat
hulle al die moeite gedoen het om die swart tale aan te leer, dit op skrif te
stel, en ook die Bybel in daardie tale te vertaal; dit is alles ’n voortsetting
van die Pinksterwonder.

Afrika kan
Christus nie genoeg hiervoor dankbaar wees nie.

Die Bybel
was byvoorbeeld al in Zoeloe vertaal, al lank voordat dit in Afrikaans vertaal
is.

En dit was
sendelinge wat dit vir die mense hier gedoen het, sendelinge wat gestuur is uit
lande in Europa en Amerika.

So het
Christus Hom, veral in die afgelope twee eeue, ook oor Afrika ontferm.

 

Op ’n dag
soos vandag dank ons ons Heiland hiervoor.

Dit is
Pinksterdag, ons herdenk wat gebeur het destyds in Jerusalem.

Maar meer,
ons vier ook wat die Heilige Gees deur die eeue, en ook vandag doen, in alle
lande.

 

Amen.

 

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)