Ons het ‘n indrukwekkende God

Minister: 
Ds FJ Bijzet
Church: 
(onbekend)
Date: 
2014-10-19
Text: 
Eségiël 1 : 1-2 : 1
Preek Inhoud: 

Indien u die preek wil gebruik
kontak asseblief vir ds FJ Bijzet

Kopiereg word voorbehou.

 

Preek over
Esegiël 1:1-2:1

Bellville, 19
Oktober 2014

 

Liturgie:

 

Votum en seëngroet

Ps 18:1

Wetslesing

Ps 18:12

Gebed

L. Esegiël 1:1-14

Ps 18:5

L. Esegiël 1:15-2:1

Ps 99:1

Verkondiging oor Esegiël 1:1-2:1

SB 60:1,3 (nuwe telling 1-2)

Gebed

Kollekte

Ps 97:1,2,7

Seën

 

 

Voor die
Skriflesing:

Wanneer God op ’n wonderbaarlike wyse die
priester Esegiël nader, en hom as ’n profeet gebruik, gebeur die nadering nie
in die tempel te Jerusalem nie. Esegiël in nie naby sy woonplek nie. Hy is
woonagtig te midde van die ballinge te Babel. Vir straf deur God uit hulle eie
land verwyder verwyder. U is moontlik bewus daarvan dat God se volk in drie
groepe uit hule eie land verban is. Die eerste groep uit hulle land verdryf,
was die hele Tienstammeryk in 722 voor Christus. Hierdie groep is deur die
Assyriërs afgevoer. Baie jare later, 597 v Christus, is die grootste gedeelte
van Juda en Jerusalem deur die generaals van Nebukadnessar na Babel afgevoer,
en mog daar slegs ’n klein groepie in Jerusalem achter bly, met Sedekia as
onderkoning. Maar hy het ’n gemors daarvan gemaak, sodat elf jaar later Nebukadnessar
persoonlik met sy leërmag, hom weer by die poorte van Jerusalem bevind, en die
res van die agtergeblewe mense saam neem na Babel. En die agter geblewe stad,
ingesluit die tempel, afbrand. Esegiël was al met die eerste groep afgevoer na
Babel. En iewers halfpad gedurende die elf jaar, onder die bewind van Sedekia,
toe daar nog ’n klein groepie van die oorgeblewe Jode in Jerusalem woonagtig
was, het hy sy eerste visioen gekry. God kom soek hom, kom by hom. Esegiël moet
sy volksgenote gaan meedeel, wat God se volk kan verwag, wat gaan gebeur in
Jerusalem, met die ballinge in Babel...... Kom ons lees Esegiël 1:1-2:1

 

 

xxxxx

 

 

Begin preek:

 

Is u ook by tye bietjie afgunstig op mense
soos Esegiël ? Op die manier waarop hulle ’n ontmoeting met God gehad het,
indrukwekkend, aangrypend. Ons het dit (vanoggend) gelees. God wat deur middel
van ’n donderstorm, op ’n vlieënde troon, omring deur engele, sy verskyning
maak. Ja, dit is regtig God ontmoet.

Ons sê gedurig dat ons hier in die kerk, elke
sondag, God ontmoet. Maar wat is dit werd, as mens dit opweeg teenoor hoe Esegiël
oog tot oog met God te staan gekom het ? Hier by ons in die kerk staan ’n gewone
man op die kansel, ons sing ’n bietjie, daar word gebid, ’n preek word gehou,
en dit is nou veronderstel om te wees God te ontmoet ? Saam aansit by ’n
nagmaalstafel waar daar brood en wyn is ...

Ek kan verstaan dat u so ’n gedagte sou kan
hê.

 

U moet egter in gedagte hou, dat die
ontmoeting wat Esegiël ervaar het, ’n uitsonderlike gebeurtenis was, anders as hoe
God gewoonlik mense besoek. Toe Esegiël God so indrukwekkend sien nader het, op
’n vlieënde troon,was dit slegs Esegiël wat dit ervaar het, die ander Israëliete
was nie teenwoordig nie. Hulle kon dit later slegs hoor, deur hoorsê. Hulle
moes tevrede wees met die woorde wat Esegiël hulle namens God moes oordra. Maar
hulle moes wel besef: wat Esegiël hulle voorhou, dit is afkomstig van hierdie
indrukwekkende God.

 

Dit was ook die geval met die ander
gebeurlikhede waarvan die Bybel vertel, toe God homself ook op indrukwekkende
en aangrypende manier hier op aarde vertoon het:

- op die Sinaiberg, toe Moses, Aäron en 72
verteenwoordigers namens die volk God

op die Sinai
ontmoet het, en saam met Hom aan tafel gesit het;

- toe Jesaja God
op sy hoë troon mag gesien het, omring deur engele wat aanhoudend “heilig, heilig, heilig” roep;

 – toe die eenvoudige herders op die oop veld
by Betlehem hulle skielik omring vind, in die hemelse skittering van God se
aanwesigheid;

- toe Christus
se leerlinge tydens Pinksterdag skielik die Heilige Gees se verskyning en
aanwesigheid mog ervaar, met die geluid soos van ‘n stormwind en met vuur wat
op almal teenwoordig se koppe soos ’n vlam gebrand het:

 – toe
Jesus wat opgestaan het, in Sy goddelike grootheid, vir Johannes wat na Patmos
verban is, kom besoek het.

 

Dit was bevestigings van uitsonderinge op die
reël. Want die indrukwekkende goddelike glans het weer vinnig teruggekeer na
die hemel. En wat oorgebly het, was

 - ‘n
Moses wat God se wette kom bekend maak het, en

- ‘n Jesaja wat ’n hele klomp profesieë moet
oordra, herders wat vir almal begin vertel het dat die lang verwagte Goddelike
Redder gebore is,

- ’n prekende Petrus in Jerusalem wat vanuit
die Ou Testament verduidelik het ‘n mens wat die Heilige Gees wil ontvang, tog
regtigwaar na die onlangs gekruisigde Jesus toe meot gaan, en

- ‘n Johannes wat sewe briewe aan gemeentes
moes skrywe, met die hoofsaaklike inhoud daarvan, ’n indringende oproep tot
bekering.

Maar daardie indrukwekkende verskynings van
God is op skrif gestel, om almal, ook met normale kontak met God, daarvan te
oortuig: Jy het met hierdie God te doen! Ook as ’n gewone mens sonder donder en
geweld sy woorde oorbring aan jou: weet Wie dit is wat deur middel van hierdie
woorde na jou toe kom.

Daarom is die boodskap van my preek ook:

 

Ons het ‘n
indrukwekkende God,

1. dreigend
vir wie Hom afwys,

2. soekend
vir wie Hom wil ontmoet.

          1.
Hoe God homself vir Esegiël sigbaar maak, is deur middel van ’n visioen. Ons as
menslike wesentjies kan nie God se grootheid bevat nie, ook nie hoe God lyk
nie. Maar God het deur sprekende beelde iets daarvan duidelik gemaak. Iets. Het
dit onder u aandag gekom, hoe Esegiël aanhoudend woorde soek om dit wat hy
gesien het onder woorde te bring ? Sal ons weer saam met my kyk ?

Vs 4: Toe het hy gekyk en gesien “iets wat soos blinkende metaal geskitter het.”
Vs. 5: “En daaruit het die gestalte van
vier wesens gekom
”. Mens kan “gestalte”
ook
vertaal met “...iets wat soos
vier wesens gelyk het
.”

Vs. 10: “En
hulle gesigte het gelyk soos die gesig van ’n mens...”

En so bly dit voortgaan. Dit bly by
besordatkrywings. So asemrowend dat Esechiël plat op die grond neerval. Dit is
vir God blykbaar noodsaaklik om Esegiël ontvanklik te maak vir wat God vir hom
wil sê. Esegiël moet eers self diep beïndruk word met God, alvorens hy sy
volksgenote kan beïndruk met dit wat God vir hulle wil sê.

 

Wanneer ons nou vanoggend deur die oë van Esegiël
kyk na wat hy gesien het, is die eerste wat ons nie kan ignoreer nie, dat die
verskyning van God nogal dreigend is. Ons sien onweerswolke in die hemelruim
saamkom tot ’n bondel, vol van springende bliksemstrale. Waar onweerswolke
gewoonlik donker is, is hierdie wolke vol lig. Oogverblindend. En soos die
wolke vinnig nader, blyk die wolke van vier wesens afkomstig te wees. Vreemde
wesens ! Hulle lyk soos mense, maar het elk vier gesigte. Bo en behalwe die
gesig van ’n mens, ook die gesig van ’n leeu, ‘n bul en ‘n arend. Elke gesig ’n
gesig van ’n sterk dier. Wesens wat lyk dat hulle aandui dat alle soorte
skepsele in diens is van die almagtige God: die mens, die wilde diere, mak
diere, voëls... Asook die engele, want net-nu in hoofstuk 9, wanneer Esegiël
hierdie verskyning van die Here nog ’n slag sien, blyk hierdie wesens “gerubs” te
wees. ‘n Spesiale klas engele.

 

Die gerubs maak die verskyning van God nog
meer dreigend. Want hulle herinner ons aan die gerubs wat God na die sondeval
by die ingang van die paradys geplaas het, met vlammende swaard: “Gee pad hier, moenie naby kom nie. Dit kan
jou dood tot gevolg hê!
” Gerubs wat ook geborduur was op die Verbode
Toegang Gordyn in die tempel, wat die pad na God se troon verspêr het.

Hierdie gerubs dra nou God se troon vinnig
nader. Alhoewel, regtig dra- dit is nie die geval nie. Hulle bevind hulle onder
die troon, God het nie hulle drakrag nodig, om homself staande te hou nie. Dit
is meer ’n geval dat hulle God begelei, met Hom saamgaan. Want bo ’n soort van
koepel, “iets in die vorm van ’n
uitspansel
” (hoor u: dit bly nog maar ’n gesoek na woorde) sien Ezegiël “iets wat soos safiersteen gelyk het, in die
gestalte van ’n troon
.” En op die troon word iets van God sigbaar. Egter
wel God wat hom enigsins aangepas het aan ’n menslike bevattingsvermoë. Ons
sien God se grootheid op ’n menseskaal. Maar dit bly nog steeds beangstigend.
Hierdie menslike gestalte brand volledig! Die ene vlamme. Die skittering  daarvan verblind jou oë. En terselfdertyd bly
die vleuels van die gerubs hoorbaar soos die branders van die see, soos die
hele skare in die stadion wat “Boe!” skreeu, soos die geluid van ’n hele
dreunende leërmag.

 

En weet jy wat die verskyning van God nog
meer dreigend maak, broeders en susters ? Ons is nie onmiddellik daarvan bewus
nie, maar Esegiël was destyds deeglik bewus daarvan. Omdat hy ’n priester was.
God het tog in Jerúsalem vertoef?  Daar
was tog God se tempel? Daar het Hy getroon, in die allerheiligste, agter in die
tempel. Wat maak God in sy glorie dan nou skielik hier, vêr van die tempel,
hier by die Kebarrivier van Babel ?

Dit is ’n voorbode vir wat nog gaan
plaasvind. Later, in hoofstukke 9 en 10, sien ons meer daarvan: God staan op
die punt om sy tempel in Jerusalem te verlaat. Die sonde het daar oorgevat, daar
het so min opregte ontsag en liefde vir Hom oorgebly dat Hy nie meer daar wil
bly nie. Hy kán nie daar bly woon nie.

 

Maar moenie dink dat Hy homself laat verjaag
nie. Die wyse waarop Hy homself aan Esegiël vertoon, wys dat Hy nog altyd die
God van die hele aarde is (dit is die rede vir die vier verskillende gesigte
van die gerubs). En niemand sal Hom ontvlug nie. Want kyk mooi: as gevolg van
al die verskillende gesigte, wat terselfdertyd alle rigtings kyk, is daar niks
wat God ontgaan nie. Terwyl die gerubs met  reguit bene op hulle doel afpyl. En tog is
hulle ook uiters beweegbaar. Dit blyk uit die vreemde wiele wat langsaan elk
van die vier gerubs is. ’n Wiel, met daarin nog ’n ander wiel. As gevolg
daarvan is dit nie nodig vir die gerubs om eers stil te hou voordat hulle kan
omkeer nie. Hulle kan blitsvinnig koerskorreksies uitvoer, alle kante toe.  En selfs die wiele is nog vol oë. Niemand sal
vir God ontsnap nie.

 

Dit, broeders en susters, is wat Esegiël in die
eerste plek moet verstaan. En dit is ook wat hy later vir die mense wat vanuit
Jerusalem en Juda na Babel afgevoer is, moet sê. Niemand sal God ontkom nie. Dreigend
is die Here vir die wat Hom verwerp
. Die mense te Babel moenie dink, dat
hulle binnekort weer sal terugkeer na hulle oorspronklike tuiste nie. En hulle
wat in Jerusalem is, moenie dink dat hulle niks sal kan oorkom omdat God tog
daar by hulle woonagtig is nie.

Al kom daar ook profete met gewone
mensewoorde, sonder donder en geweld, jou waarsku- besef dat dit híerdie God is
wat in daardie woorde na jou toe kom. En moenie jou in Hom misgis nie. Want wag
maar: nog ‘n rukkie en Jerusalem het ‘n ruïne geword. En die Israëliete wat
daar nog oorgebly het, is dood of ook as ballinge saamgeneem.

 

En so wil die Here nog geken word, gemeente. Ook
deur ons. Want Hy is nog altyd dieselfde. Weet wat jy doen, wanneer jy Hom
verwerp. Wanneer jy vir hierdie God sê: “U kan maar verby loop. Ek stel nie
belang nie” en dink dat u op daardie manier van Hom ontslae kan raak. Of as u
dink dat Hy in alle gevalle, wat ook al gebeur, aan jou kant is. Of as jy meen
dat jy kan doen net wat vir jou reg lyk.

 

Ons nader weer die
Kersfees. Ons gaan weer God se koms na hierdie aarde, deur Sy seun Jesus
Christus, gedenk. Toe het God nie op ’n indrukwekkende wyse in die prentjie
gekom nie. ’n Mens wat soos ’n slaaf gelyk het. ’n Weerlose slagoffer vir
ander, wat sterker lyk as Hy. Maar ook toe moes jy jou nie misgis nie. Hy het
ook toe hier op aarde dieselfde God verteenwoordig as die God wat Esegiël te
sien gekry het. En het elke woord wat Christus toe gespreek het, nie gerealiseer
nie? Ook dreigende woorde? Weer is Jerusalem met tempel en al ’n puinhoop
gemaak. Omdat God se volk God se Seun bly verwerp het.

Later het Christus
in Sy goddelike glorie aan Johannes te Patmos verskyn. Ook dreigend vir ’n
wêreld wat Hom bly verwerp het. Maar ook vir gemeentes wat hulle eerste liefde
verloor het, wat gelyk het asof hulle lewend is, maar inderwaarheid dood of lou
was. Hy wat oë soos vuurvlamme en voete soos blink koper het, terwyl daar uit
Sy mond ‘n skerp swaard wat tweesnydend is kom, wat dreigende briewe aan
gemeentes laat skrywe.

Ja, briewe wat voorgelees
word aan die gemeentes deur ’n gewone menslike voorganger. Maar moenie ’n fout
maak nie : elke woord van Christus het werklikheid geword. Daar het van die
sewe gemeentes in klein Asië nie een oorgebly nie.

 

          2. Tog is dit iets wat God
nie verkies om te doen nie, broeders en susters. Ons hoor Hom later in hierdie
Bybelboek iewers sê, dat Hy nie behae het in die dood van sondaars nie. Hy wil
liewers dat hulle hul bekeer en bly leef. Dus as jy Hom nie verwerp nie, maar Hom
al knielende, of plat op die grond neerval soos Esegiël, wil ontmoet, dan sal
Hy vir jou sê: “Staan regop, mensekind,
sodat Ek met jou kan praat.
” En dan sal Hy naderkom met sy soekende en
bevrydende woorde. Esegiël is gelukkig nie opgedra om net waarskuwende,
dreigende boodskappe oor te dra nie. In die tweede deel van hierdie bybelboek
is daar ook mooi beloftes van God. Nuwe perspektiewe. God maak weer ’n toekoms
vir sy volk moontlik. Vol genade. Daar kom weer ’n nuwe tempel, en Hy gaan bly
weer by sy volk. En hierdie slag beter. Ja, ons sien dit al in die Bybelboek
hoedat God weer opnuut na sy volk toe kom, in die persoon van die Here Jesus.

 

Die feit dat God nog altyd sy volk kom soek, is daarom terselfdertyd óók duidelik
sigbaar by die indrukwekkende verskyning by die Kebarivier. Want, as jy begerig
is om God te wil ontmoet, sal Hy jou vind, waar jy ookal is. Dink nog bietjie
aan die gesigte wat terselfdertyd alle rigtings kyk, en die wiele vol oë, wat
ook alle rigtings kan vat. Moenie dink dat God jou uit die oog verloor het nie;
dat dit Hom blykbaar ontgaan wat jy alles moet ondervind. “Hy sluit my in van agter en van voor, en lê sy hand op my. Hy verstaan
van vêr my gedagte. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u
aangesig
? Sing ons tog in Psalm 139. Hy is die God wat nie aan een plek
gebonde is nie, Hy is die God van die hele wêreld. Hy kan jou blitsvinnig
bereik, reguit afpyl waar Hy wil wees. En God kan alles saam met Hom vat, oppad
na waar Hy wil wees, alles is tot Sy beskikking: wolke, onweer en blitse, orkaankrag,
engele, mense, alle soorte diere ... en so kan mens dit aanvul met: sterre,
atome, alles. En die angsaanjaende vuur en geluid- dit is wat Sy vyande sal
ondervind wat jou lewe bedreig.

 

Maar vestig veral nog ‘n keer jou aandag op die indrukwekkende gestalte
van God op die troon. God ja, maar hy lyk soos ’n mens! Esegiël moet hier
heeltemal woorde soek om dit te beskryf. Eintlik is daar geskryf: “iemand wat lyk na wat soos ’n mens gelyk
het.
” Alhoewel Hy die onbeskryflike grote God is, en selfs die hemele Hom
nie kan bevat nie, kom so naby as moontlik. In die gestalte van ’n
mens. Soos Hy ook gedoen het met Abraham, sy vriend. En soos later Hy, op die
plato van die Sinaigebergte, aan tafel gesit het met Moses, Aaron en 72 verteenwoordigers
van die volk. God is lief vir ons, sy mensekinders. En Hy is bereid om baie te
doen om ons nie te verloor nie.

 

Mens sien
dit ook aan daardie vuur, daardie stralende glans wat om God se troon is. Met
die eerste sien daarvan lyk dit dreigend, afskrikwekkend. Maar as mens nader
kom, verander dit in kleure, en lyk dit soos ’n reënboog. Die teken van God se
genade en trou. Gegee na die grootste straf wat tot hede nog oor die aarde
gekom het: die sondvloed.

Hoe meer
sigbaar God word, hoe meer sigbaar Sy sparende genade waarmee Hy mense besoek.
Sy imponerende mag wat uitmond in: Immanuel.

 

Ons vier
oor ’n rukkie weer Kersfees. God het mens geword. En nie iemand wat lyk na wat
soos ’n mens gelyk het nie, nee, ’n mens van vlees en bloed, net soos ons. In
alle opsigte soos ons, uitgesonderd die sonde. En toe Hy as pasgebore babatjie
in die wiegie –‘n krip- gelê het, het God se stralende en indrukwekkende
aanwesigheid opnuut sigbaar geword op die aarde, omring deur engele, wat ook
net so sigbaar was. Maar vreemd: nie ’n sigbare aanwesigheid by die babatjie in
Betlehem nie, maar by herders in die veld. Hulle het heel waarskynlik ook eers
op die grond geval, nes Esegiël. Maar hulle het ook, net soos Esegiël, gehoor:
Moenie bang wees nie, staan regop, God
het ’n boodskap vir julle
.” God met ’n blye boodskap het mense gesoek.

 

Dit is vandag deur hierdie Jesus, deur sy
Gees, wat God ons nou voortdurend soek. Uitgesonderd die slag toe Jesus in
goddelike glorie vanuit die hemel vir Johannes kom besoek het by Patmos-
alhoewel Jesus en Johannes toe ’n spesiale verhouding met mekaar gehad het, het
Johannes ook op die grond neergeval- afgesien van daardie gebeurtenis, het God
se verskyning nog éénmaal  sigbaar geword
hier op aarde. Naamlik toe God met sy Heilige Gees teruggekom het na hierdie
wêreld. Soekend, want Hy wil by mense bly. Dit het weereens dreigend gelyk en
geklink: die geluid soos van ’n stormwind, vuur orals. Maar vir die wat God as
hulle redder aanvaar het, was daar nie regtig ’n dreiging nie. Slegs die gelúid
soos van ’n storm, en vuur wat nie ‘n enkele haar verskroei het nie.

 

En van hieraf het daar slegs prekende
apostels en hul helpers, evangeliste, en soortgelyk aan hulle: predikante,
ouderlinge en diakens oorgebly. Doopsbediening en nagmaalsvieringe. Maar moenie
fout maak nie, broeders en susters. Deur hulle nader nog steeds dieselfde God,
dieselfde Christus tot u. Soekend. En as ons ontvanklik is vir wat Hy vir ons
wil sê, mag jy lewe met ’n reënboog bo jou. Maar as u Hom afwys, Hom probeer
ontwyk, of probeer ignoreer, moet u bewus wees daarvan: daar gaan ’n dag
aanbreek wanneer u van aangesig tot aangesig sal staan, met Hom in al sy
Goddelike majesteit. En dan is daar nie meer ’n wegkom kans nie.

 

Maar die feit dat Hy dit ons vandag nog laat
hoor, wys vir ons dat Hy ons nog altyd soek in Sy genade. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)