God het die mens as sy beelddraer op aarde geskape

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-05-17
Text: 
Nederlandse Geloofsbel 14
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
17 Mei 2015 AD, 17:30

Voorsang: Sb 16:1-5

Votum (sing Ps 121:1)

Seën

Ps 8:1,2

Gebed

Skriflesing: Genesis 1:24-2:7

Ps 147:6

Skriflesing: Genesis 2:15-3:24

Ps 33:7,9

Teks: Nederlandse
Geloofsbelydenis art. 14

Preek

Ps 8:3-7

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 147:5,7

Seën

 

 

 

 

 

 

Preek:
Nederlandse Geloofsbelydenis art. 14

Dit is vanaand ‘n leerdiens.

Ons staan vanaand stil by die
onderwerp wat artikel 14 van die NGB bespreek.

Die skepping van die mens, die
sondeval en die gevolge daarvan.

Ons het daardie geskiedenis saam
uit die begin van die Bybel gelees.

Die fokus gaan in hierdie
leerpreek wees op wat presies hier bedoel word.

En ook wat dit vir ons vandag
beteken.

En hoe hierdie onderrig van die
Skrif vergelyk met hedendaagse opvattings, denkrigtings, lewensfilosofieë wat
betref die oorsprong van die mens en sy doel op aarde.

 

Tema: God
het die mens as sy beelddraer op aarde geskape

1          Die mens is uit die stof van die aarde
geskape – wat beteken dit?

2          Die mens is volgens God se beeld
geskape – wat beteken dit?

3          Die mens is met ‘n vrye wil geskape

 

 

1          Die mens is uit die stof van die aarde
geskape – wat beteken dit?

Volgens Genesis 1 het God die
mens, saam met alle wilde diere op aarde, op die sesde dag geskape.

In Genesis 2 word die
skeppingsgeskiedenis gedeeltelik oorvertel, as ‘n opmaat tot die lewe in die
paradys.

Genesis 2:7 sê dat die mens
geformeer is uit die stof van die aarde en dat die HERE in sy neus die asem van
die lewe geblaas het.

Die mens se liggaam is deel van
hierdie aarde.

Dieselfde grondstowwe, dieselfde
atome sit in ons liggaam as in die res van die skepping.

En later na die sondeval, toe die
mens sterflik geword het, lees ons in Genesis 3:19: “Want stof is jy, en tot
stof sal jy terugkeer.”

Die mens is ‘n skepsel.

Net soos die stof, die grond, die
plante, die diere, die honde en katte, die bobbejane en sjimpansees, net soos
hulle is die mens ook ‘n skepsel.

As mens die vraag sou vra: waarop
lyk die mens meer – op God, of op ‘n sjimpansee?

Dan lê die antwoord voor die
hand.

Die mens natuurlik lyk meer soos
‘n sjimpansee.

Sy DNA stem vir 95% ooreen met
die DNA van ‘n sjimpansee.

Is ek nou hier besig om
ewolusionisme goed te praat?

Geensins.

Genetiese ooreenstemming lei nie
tot die konklusie van ewolusionisme nie.

Genetiese ooreenstemming lei
eerder tot die konklusie dat sowel mens as aap dieselfde Skepper.

En omdat ons dieselfde Skepper
het, dieselfde Persoon wat ons ontwerp het, sien ons baie ooreenkomste.

Dis soos wanneer mens
verskillende modelle motors van dieselfde merk langs mekaar sit.

Die manne onder ons sal dit dalk
beter kan verstaan:

Neem byvoorbeeld die merk
Hyundai.

As jy die i10, die i20, i30 langs
mekaar sit, en daar is nog meer modelle,

dan sien jy aan die een kant dis
verskillende motors,

maar aan die ander kant lyk hulle
ook baie dieselfde – baie ooreenkomste, van buite en van binne.

Hoekom, want dieselfde persoon of
firma het hulle ontwerp.

So geld dit vir die mens.

Ons is hier op aarde saam met ons
soortgenote, almal ontwerp en gemaak deur dieselfde Skepper.

Ons is net soos ons hond, biologies
gesproke, ook ‘n soogdier.

Nie dat ons diere is nie, maar
die manier hoe ons liggame funksioneer, stem geweldig baie ooreen met die
liggame van diere soos ‘n hond, of ‘n vark, of ‘n sjimpansee.

Terselfdertyd is daar ook
opmerklike verskille.

Die verskille het te make met die
doel waarvoor elke skepsel deur die Skepper ontwerp is.

Verskillende motors word ook
ontwerp vir verskillende doeleindes.

Daar is motors wat ontwerp word
om ‘n ligte passasiersvoertuig te wees, of dalk om ‘n kommersiële voertuig te
wees, soos ‘n bakkie om vrag te vervoer, of dalk ‘n 4x4 om op rowwe terrein te
kan ry.

So het die Skepper die sjimpansee
so ontwerp dat hy in die bome kan swaai.

Die mens se hande en voete is nie
so ontwerp nie.

Die Skepper het die hond ontwerp
met ‘n lang neus, sodat hy geweldig goed kan ruik.

Die Skepper het die uil ontwerp
met ongelooflike oë, sodat hy in die nag alles kan sien.

En die Skepper het die mens
ontwerp met ‘n brein so groot soos geen ander lewende wese dit het nie,
spesifiek vir die taak wat Hy vir hom opgedra het.

Daar is ‘n direkte korrelasie
tussen die taak wat die Skepper vir ‘n lewende wese gee, sy posisie in die
geheel van die skepping, die ekostelsel, en sy uiterlike voorkoms en
liggaamlike samestelling.

So is die werk van ‘n goeie
argitek.

Niks word aan die toeval
oorgelaat nie.

En wie God se skeppingswerk
ondersoek, sal dit al hoe meer agterkom.

Die absolute presisie en
doelmatigheid waarmee alles geskape is.

En hoe alle klein verskilletjies
‘n rede en ‘n doel het.

Tussen verskillende modelle
motors is daar verskille, soms groter, soms kleiner.

Kenners op die gebied sal vir jou
kan verduidelik hoekom.

Ons is nie almal kenners nie.

As my vrou winkel toe was, dan
sukkel sy soms om ons motor terug te vind op die parkeerplek.

Want alle karre lyk vir haar
dieselfde.

Dis nou nie haar sterkste kant
nie.

Net soos dit nie my sterkste kant
is om te kan onderskei tussen ‘n goeie en ‘n slegte skildery nie.

Hoe meer ons ons met God se skepping
besig hou, hoe meer kom ons onder die indruk van sy noukeurige ontwerp van alle
dinge.

 

Ons kom terug by die opmerking:
die mens is uit die stof van die aarde geskep.

Dit beteken: hy is een met die
aarde.

Hy is nou verwant met alle ander
lewende wesens.

Hy is selfs nou verwant met die
stof, die klippe, alle atome op aarde.

Hy is onderdeel van die geheel
wat die Skepper met sy hande op aarde toeberei het.

 

Ons beweeg nou na die tweede punt
toe:

 

2          Die mens is volgens God se beeld geskape
– wat beteken dit?

Die NGB skryf: dit wil sê: goed,
regverdig, heilig, sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon
ooreenstem.

Hierdie uitdrukking, dat die mens
na God se beeld geskape is, ontleen die NGB aan die Bybel.

Ons het dit gelees in Genesis
1:26:

“En God het gesê: Laat Ons mens
maak na ons beeld, na ons gelykenis.”

Beteken dit dat die mens op God
lyk?

Dat die mens uiterlike kenmerke,
gelaatstrekke het wat soos God lyk?

In die Bybel word daar bv.
gepraat oor God se gesig, sy aangesig, daar word gepraat oor God se regterhand,
of God se arm, of God se hart, God se oë, God se ore...

Dit is alles dinge wat ‘n mens
ook het.

Lyk die mens in hierdie opsig dus
op God?

Gemeente, so eenvoudig is dit
nie.

As dit so was, dan sou ‘n
bobbejaan ook na God se beeld geskape wees.

Want ‘n bobbejaan het ook ‘n
gesig, ‘n regterhand, ‘n arm, ‘n hart, oë, ore...

Maar ‘n bobbejaan is nie na God
se beeld geskape nie.

Dit staan hier in Genesis 1 net
oor die mens.

As ons hierdie woorde - na God se
beeld geskape – reg wil verstaan, dan moet ons dit in die konteks lees waarin
dit hier in Genesis 1 staan.

Want die sin gaan nog aan.

Kom ons lees dit weer.

In vers 26 staan: Laat Ons mense
maak na ons beeld, na ons gelykenis, (en dan vervolg die sin) en laat hulle
heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor
die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. So het God die mens
geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape.

Dat Hy na God se beeld geskape
is, het dus te make met die feit dat hy moet heers oor die ander skepsels.

Hierdie ‘heers’ hou in dat hy oor
hulle aangestel is, gesag oor hulle ontvang het, verantwoordelikheid.

Nie om hulle uit te buit nie,
maar om vir hulle te sorg.

Die mens ontvang ‘n gesagsposisie
tussen die Skepper en alle ander skepsels.

Hy is die kroon op die skepping,
hy is die onderkoning.

Dus, om na God se beeld geskape
te wees, beteken dat die mens ‘n spesifieke taak ontvang het, om hoof te wees
oor de skepping, en in die sin die Skepper te verteenwoordig.

Alle skepsels is aan die mens
onderdanig, soos aan die Here.

 

En die Skepper het die mens dan
ook so ontwerp en geskape, dat hy hierdie spesifieke rol sal kan vervul.

Byvoorbeeld met ‘n verstand, ‘n
brein, wat soveel groter is as die van ander skepsels.

En dan bedoel ek nie net
letterlik groter nie.

‘n Mens se brein is inderdaad
letterlik heelwat groter as die van ‘n sjimpansee.

Maar ‘n mens se brein is in
afmetings nie groter as bv. ‘n dolfyn se brein, of ‘n walvis se brein nie.

Tog is ‘n mens se brein vele male
kragtiger as die van ‘n dolfyn, wat op sig al ‘n slim dier is.

Net soos ‘n groot rekenaar nie
noodwendig die kragtigste is nie.

‘n Klein skootrekenaar kan baie
kragtiger wees.

Maar goed, God het die mens met
sulke eienskappe geskep, waaronder ‘n baie kragtige brein, sodat hy sy taak as
onderkoning op aarde sal kan vervul.

As onderkoning, as gesagsdraer,
verteenwoordig hy God op aarde.

In die sin is hy beelddraer van
God.

 

Nou is daar nog iets wat
belangrik is om in hierdie verband aandag aan te skenk.

As ons in Genesis 1:27 verder
lees, staan daar: “man en vrou het Hy hulle geskape...”

Nou is daar teoloë wat beweer dat
hierdie sinnetjie ook hiermee te make het.

Naamlik die feit dat die mens
beelddraer van God is.

God het twee soorte mense
geskape: mans en vroue.

En, word daar dan betoog, dit dui
dus daarop dat God ook uit verskillende soorte bestaan.

Ons weet vanuit die Nuwe
Testament dat God Drieënig is – Vader, Seun en Heilige Gees.

Die mens is, word daar dan
beweer, in sy geslagtelikheid, in sy onderskeidenheid as man en vrou,
beelddraers van God.

Want God is ook onderskeie in
verskillende soorte Persone.

As die mens man en vrou is, en hy
is beeld van God, hy lyk soos God, dan is daar dus ook manlik en vroulik in
God.

Veral mense in die sogenaamde
feministiese teologie betoog dat daar ook in God ‘n manlike en vroulike kant
is.

As die mens as man en vrou
beelddraer van God is, dan moet dit dus inhou dat daar in God ook manlik en
vroulik is.

Nou die vraag: is dit korrek om
hierdie verklaring af te lei uit Genesis 1:27?

Is dit ‘n verantwoorde eksegese
van hierdie vers, en van wat dit is dat die mens na God se beeld geskape is?

 

Ook hierdie sinnetjie “man en
vrou het Hy hulle geskape”, moet ons in die konteks lees van die res van
Genesis 1.

Hierdie teoloë kies daarvoor om
die sinnetjie te verbind aan die voorgaande sin, wat handel oor die mens se rol
as beelddraer.

Maar mens kan hierdie sinnetjie
ook verbind – en dit is die korrekte eksegese – aan dit wat daarop volg.

Luister maar: “man en vrou het Hy
hulle geskape en God het hulle geseën en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar
en vermeerder en vul die aarde.”

Die sinnetjie “man en vrou het Hy
hulle geskape” het dus direk te make met die mens se taak om vrugbaar te wees
en te vermeerder onder God se seën.

Die eksegese van hierdie teks
laat dus nie toe om te beweer dat die feit dat die mens as man en vrou God se
beelddraer is, daar ook manlik en vroulik in God self is, of bietjie minder ver
gevoer, dat dit dui op die verskillende rolpatrone van die verskillende Persone
in die Godheid nie.

Natuurlik is dit wel so dat man
en vrou saam as God se beelddraers oor die skepping moet regeer, en dat deur
hulle vrugbaarheid en die feit dat hulle die aarde moet vul en vermeerder,
hierdie taak nog beter kan uitvoer.

Dus die een het wel met die ander
te make.

Maar dit gaan te ver om te sê dat
die spesifieke van om God se beelddraer te wees, dat dit lê in die mens se
geslagtelikheid.

As dit so was, dan was die diere
ook God se beelddraers, want by diere is daar ook geslagtelikheid.

By diere is daar ook mannetjies
en wyfies.

Maar dit is nie Genesis 1 se
boodskap nie.

Die boodskap is duidelik dat net
die mens na God se beeld op aarde geskape is.

Hierdie alternatiewe verklaring
is – soos die term sê – insegese, en nie eksegese nie.

Hier word ‘n betekenis in die
teks gelê wat nie uit die teks self kom nie.

 

Ons kom nou by die derde punt.

Daar is nog ‘n spesifieke
eienskap, waarmee God die mens geskape het, waardeur hy nog beter toegerus is
vir sy taak, en waardeur hy sy God nog beter kan dien, en dit is die feit dat
die mens met ‘n vrye wil geskep is. Daarna kyk ons in die volgende punt.

 

3          Die mens is met ‘n vrye wil geskape

In teenstelling tot alle ander
skepsels, sterre, planete, plante en diere, is die mens met ‘n vrye wil
geskape.

Dit is een van die dinge wat ons
verstand te bowe gaan, hoekom God dit gedoen het.

Dat die mens geskape is om tussen
goed en sleg te kan kies.

Daar is teoloë wat beweer dat God
daardeur nog groter eer ontvang, en dit kan reg wees.

Uit die feit dat die mens uit eie
wil kies om sy Skepper te dien en te gehoorsaam.

Self besluit om dit te doen.

Nie net geprogrammeer is om dit
te doen nie.

Maar nogmaals, God se motiewe
hieragter gaan ons raamwerk te bowe.

En, soos NGB art. 13 gesê het,
ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na
die dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie.

Maar so is dit dus wel, die mens
het die vermoë ontvang om reg of verkeerd te kies.

En soos ons weet, die mens het
toe verkeerd gekies.

Eva, en Adam, en toe al hulle
nageslag agter hulle aan.

Diere werk nie so nie.

Diere kan nie vrywillig vir die
kwaad kies nie.

‘n Voël kan nie vir homself sê,
nou gaan ek ophou vlieg en dood op die grond val nie.

Of die voël moet ernstig siek
wees, anders sal hy nie op die grond val nie.

En ‘n dolfyn besluit ook nie
vrywillig om uit die water te spring en op die land waar hy nie hoort, te sterf
nie.

Diere kies nie vrywillig vir die
kwaad nie.

Maar so is mense dus wel.

Hy het die gebod van die lewe wat
hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware
lewe was.

Hy het sy hele natuur verderf en
daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien.

En in die proses het hy sy vrye
wil ook verloor.

Die mens se wil is nie meer vry
nie – hy het ‘n slaaf geword van die sonde.

Deur na die duiwel te luister, het
die mens homself willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en
vervloeking onderwerp.

Al sy voortreflike gawes wat hy
van God ontvang het, het hy verloor.

 

Het die res van die skepping ook
in sonde geval?

Die skepping dra die gevolge van
die sonde.

Dis soos as die leiers van ‘n
land korrup geraak het, dan het dit ‘n invloed op die hele land.

Alle inwoners van die land moet dan
funksioneer binne ‘n korrupte sisteem.

So is die sonde ook in die
skepping te sien.

Die ekosisteem moes aanpas by ‘n
sondige werklikheid.

Hoe die volmaakte ekosisteem was
met die skepping, dit is moeilik om te bepaal.

Ons moenie die fout maak deur te
dink ‘n volmaakte ekosisteem is daar waar die mens geen enkele invloed
uitgeoefen het nie – soos byvoorbeeld ‘n onbewoonde eiland.

In die volmaakte skepping, die
volmaakte ekosisteem, was die mens ‘n integrale deel daarvan.

Ook was die skepping, die
ekosisteem, soos dit na ses dae geskape is, nie iets staties nie.

Dit is geskape met die doel om te
ontwikkel, dit het potensiaal in hom gehad.

Die mens is as rentmeester oor
die skepping en oor die ontwikkeling daarvan aangestel.

Met die sondeval het hierdie
ontwikkeling egter ‘n totaal ander koers ingeslaan, en moes ontwikkeling plek
begin maak vir verarming, verskraling, en selfs vernietiging.

Maar weer eens, ‘n volmaakte
ekosisteem is nie een waar die mens nie in voorkom nie.

Dit is ‘n oorreaksie van die
milieubeweging.

Die volmaakte ekosisteem is waar
die mens sy rol as rentmeester weer vervul, in gehoorsame onderwerping aan die
Skepper.

 

Feit is dus wel, dat die sondeval
groot gevolge gehad het.

Vir die mens, en vir die res van
die skepping.

Die onderkoning oor die skepping
het korrup geraak, en die sonde en duiwel trap al hoe dieper spore in sy lewe,
en ook in die lewe van al sy onderdane, die hele skepping.

Was dit nie vir die moederbelofte
nie, wat ons ook vanaand gelees het, dan sou dit ‘n doemscenario gewees het.

Die mens en die hele aarde se
voorland.

Maar God sy dank dat Hy sy Seun,
ons Here Jesus Christus gestuur het!

Hy wat ons uit mag van die satan
verlos het, waaraan ons ons as mense vrywillig oorgegee het.

Nou gaan die aarde tog nie meer
‘n duister toekoms tegemoet nie.

Want sy lig skyn in die
duisternis.

Soos Johannes skryf oor die koms
van die Here Jesus: “En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het
dit nie oorweldig nie” (Joh 1:5)

Hy vernuwe ons wil.

Hy werk nou in ons om te wil
sowel as om te werk na sy welbehae (Fil 2:13).

Sonder Hom kan ons niks doen nie
(Joh 15:5).

Maar God sy dank, Hy herstel die
mens in sy posisie as rentmeester, as onderkoning.

Hy transformeer ons wil, sodat
ons weer streef na dit wat goed is vir onsself en vir die hele skepping.

En so is Hy besig om alle dinge
te herskep.

Die eerste Adam het die aarde in
die verderf gestort, die tweede Adam herstel dit.

Maak dit weer volmaak soos by die
skepping.

En selfs meer, Hy sal sorg dat
God se oorspronklike plan met sy skepping verwesenlik word.

 

Gemeente, soos aan die begin
gesê, hierdie was ‘n leerpreek.

Ons het dit nodig, om dinge weer
in die regte perspektief te sien.

God se Woord, soos dit ook
nagespreek word in die NGB, onderrig ons aangaande die skepping van die mens,
sy doel op aarde, sy posisie, die sondeval en die verskriklike gevolge daarvan.

Rondom ons, in die samelewing, op
televisie, in die lesinglokaal by die universiteit en in die klaslokaal van
skole wat nie die Bybel as  uitgangspunt
neem nie, hoor ons ander verklarings, ander teorieë.

Dit is belngrik om weer opgeskerp
te word ten aansien van die Skepper, die Argitek, die Ingenieur, die Ontwerper
van alle dinge, wat sy doel was met die skepping van die mens.

Hoekom Hy die mens geskep het
juis soos hy lyk.

En watter taak hy aan ons opgedra
het op aarde.

Danksy Christus mag ons hierdie
taak weer ter hande neem.

En al het ons soms die gevoel dat
ons nie veel uitrig nie, dat die opstandige wêreld al hoe korrupter word, in
Christus weet ons dat ons besig is met koninkrykswerk.

En dat Hy die werk van ons
gehoorsame hande sal bevestig.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)