Die Heilige Gees skenk ‘n nuwe toekoms aan die Ethiopiër

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-05-24
Text: 
Handelinge 8 : 26-39
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
24 Mei 2015 AD, 10:15 (Pinkster)

Voorsang: Sb 16:6-10

Votum

Seën

Sb 14:1,2

Wet

Sb 13:7-9

Gebed

Skriflesing: Handelinge 8.1-8,
25-40

Ps 72:8,10

Teks: Handelinge 8.26-39

Preek

Ps 65:2,3

Gebed

Kollekte

Ps 65:4,5

Seën

 

 

 

Preek: Handelinge
8:26-39

Die teks vir die preek pas baie
goed by Pinksterdag.

Dit gaan oor die weg waarlangs
die Ethiopiese staatsamptenaar tot geloof gekom het.

Hoe die Heilige Gees nie net
mense, maar selfs engele ingespan het om hierdie man te red.

Hoe die Heilige Gees aktief is op
aarde, onder mense van alle nasionaliteite.

 

Tema: Die
Heilige Gees skenk ‘n nuwe toekoms aan die Ethiopiër

-         
Mense en engele word ingespan vir
die redding van ‘n sondaar

-         
Hulle wat voorheen uitgesluit is,
kry ‘n nuwe toekoms

 

-         
Mense en engele word ingespan vir
die redding van ‘n sondaar

‘n Engel van die Here het met
Filippus gepraat.

Mens kan die woord engel, of in
Grieks ‘angelos’ (aggelos) ook
vertaal met boodskapper.

‘n Boodskapper van die Here het
met Filippus gepraat.

As mens dit so vertaal, bedoel ek
nie dat dit maar net ‘n gewone mens was wat met Filippus gepraat het nie,
hoewel mense natuurlik ook boodskappers van God kan wees.

Ook jy mag ‘n boodskapper van God
wees.

God het in hierdie gedeelte wat
ons gelees het ‘n boodskapper na Filippus gestuur.

Uit die konteks van die boek
Handelinge kan ons aflei dat dit hier nie net oor ‘n menslike boodskapper gaan
nie, maar oor ‘n engel.

‘n Wese wat hom normaalweg aan ‘n
mens se gesigsvermoë onttrek.

Ook elders in die boek Handelinge
kan ons lees dat Lukas daarvan uitgaan dat daar engele is, en dat hy hulle
verskynings opgeteken het as historiese gebeurtenisse.

Net soos hy al die ander
gebeurtenisse opgeteken het.

Hy skryf bv. in hoofstuk 5 dat ‘n
engel van die Here die apostels uit die gevangenis bevry het.

Dit is net so waar as wat hy
skryf dat die sanhedrin die apostels verhoor het.

En in Handelinge 10 skryf Lukas
dat ‘n engel aan ‘n Romeinse offisier met die naam Cornelius verskyn het.

Dit is net so waar as wat hy
skryf dat Cornelius in Caesarea woonagtig was.

Dat daar engele aktief is, dit
hoort net soveel by die werklikheid wat Lukas in Handelinge beskryf as al die
ander dinge wat hy opgeskryf het.

En nou kan vandag dalk gesê word:
ja maar vroeër was die mense baie bygelowiger as nou.

Vroeër het almal gedink dat daar
engele en geeste en sulke soort dinge bestaan.

Dit het gewoon gehoord by die
wêreldbeeld van toe.

Maar vandag is ons nugterder.

Gemeente, wie dit vandag beweer,
ken die geskiedenis nog nie goed genoeg nie.

En besef nie dat daar vroeër net
so goed mense was wat nie in die bestaan van engele wou glo nie.

Dink maar aan wat Lukas skryf in
Handelinge 23:8: “Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook
geen engele of gees nie”.

Vroeër moes mense net so goed
soos vandag ‘n keuse maak.

Glo jy dat die werklikheid
omvattender is as dit wat jou menseoog kan sien?

Glo jy in God se werklikheid?

Probeer jy, om deur middel van sy
Woord, meer sig te kry op sy werklikheid, en vir die manier waarop Hy mense se
lewens regeer en lei, selfs deur die engele as sy diensknegte daarvoor in te
span?

Dit is inderdaad iets waaroor ons
verwonderd kan wees: hierdie werklikheid van engele om ons heen.

As jy dit tot jou laat deurdring,
gee dit ‘n veilige gevoel.

Dat jy omring word deur engele,
soos Psalm 91 sê:

“Want Hy sal sy engele aangaande
jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë”

Ja, die engele is om ons heen.

 

Tog is dit goed om ‘n keer oor
die engele ook as ‘n boodskapper te praat.

Omdat ons dikwels ‘n verkeerde
voorstelling het van wat ‘n engel is.

‘n Engel is nie soos ‘n klein
voëltjie met vlerkies nie.

Die Bybel openbaar aan ons die
engele as skitterende en indrukwekkende en kragtige gestaltes.

Byvoorbeeld ‘n stryder met ‘n
swaard in sy hand, in ‘n verblindende wit gewaad.

Dink aan die engel wat die pad
versper het voor Bileam en sy donkie.

Engele is gedugte boodskappers
van God.

Persone wat deur God geskape is
en diensknegte is in die hemel by Hom.

Wesens wat vir ons menseoog
normaalweg onsigbaar is.

Maar somtyds maak God mense se oë
oop sodat hulle die engele kan sien.

 

Die engele stry saam in die groot
stryd tussen goed en kwaad.

Hulle stry vir die behoud van die
mense.

Vir die voortgang van Christus se
kerk op aarde.

Vir die koms van sy koninkryk,
die nuwe aarde.

Christus span hulle in, vanaf sy
hemelse troon.

Ons weet dat daar geen toeval
bestaan nie.

En dinge wat vir ons toevallig
voorkom, kan heel moontlik die werk van God se engele wees.

 

‘n Voorbeeld daarvan is wat ons
hier lees in vers 26.

‘n Engel wat vir Filippus ‘n belangrike
wenk gee.

Handelinge 8 is ‘n pragtige
geskiedenis van hoe die Evangelie al baie vinnig tot in Ethiopië deurgedring
het.

Filippus kry te hore van die
engel:

“Staan op en gaan na die suide op
die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ‘n eensame pad.” (vers 26)

Die woorde “gaan na die suide”
kan mens ook vertaal met “teen die middaguur”.

Dan sou dit ook sin maak hoekom
die pad eensaam is.

Want teen die middaguur, as die
son op sy hoogste staan, het die meeste mense nie op die warm pad gereis in die
gloeiende sand nie, maar hulle siesta gehou.

Die pad na Gasa was die hoofroete
vanaf Jerusalem na die suide.

Die reisgeselskap van die
Ethiopiese hofdienaar het egter wel verder getrek.

Wie weet was hulle haastig om na
hulle land terug te keer.

Die engel het Filippus dus na
daardie roete gestuur.

Hoekom presies het Filippus toe
nog nie geweet nie.

Maar hy het gegaan, omdat hy, as
een van die eerste sewe diakens van die kerk te Jerusalem – homself geroepe
gevoel het om God te dien.

Om na mense uit te reik met die
blye boodskap.

Waar die Heilige Gees hom kon
gebruik, het hy gegaan.

In die eerste gedeelte van
Handelinge 8 het ons gelees dat Filippus in Samaria gearbei het.

Ook daar, onder die deur die Jode
veragte Samaritane was hy diensbaar.

En ook hierdie keer, in ons teks,
span die Gees hom in om uit te reik na ‘n buitelander.

So span die Heilige Gees mense en
engele in vir die behoud van ‘n sondaar.

‘n Ethiopiër, maar soos ons later
in die preek sal sien, nie net hom nie.

Ja by elke mens op aarde wat tot
bekering kom, by elke kind van God, span die Heilige Gees hulle in.

Sy diensknegte, mense en engele,
tot die redding van verlorenes.

 

 

-         
Hulle wat voorheen uitgesluit is,
kry ‘n nuwe toekoms

Wie was hierdie Ethiopiër
eintlik?

In vers 27 word ‘n hele ry titels
vermeld:

“’n hofdienaar, ‘n
staatsamptenaar van Kandace, die koningin van die Ethiopiërs; wat oor al haar
skatte was”

Mens kan in kort sê: hy was ‘n
minister uit Ethiopië, hy was ‘n hooggeplaaste persoon.

Die minister van finansies.

 

Kandace, dit was die koningin van
die Ethiopiërs.

Soos die koning in Rome Caesar
genoem is, en in Egipte die Farao, so het die koningshuis in Ethiopië bekend
gestaan as Kandace.

 

Daar is nog ‘n detail wat vermeld
word oor hierdie Ethiopiese minister.

Dit is die feit dat hy ‘n eunug
was.

Eunug is ‘n ander vertaling vir
die woord wat in ons Bybel met hofdienaar vertaal is.

Eunug, dit beteken, dit was
normaal vir alle hofdienaars in direkte diens van die koningin, dat hulle
ontman is.

Dit was ‘n algemene gebruik in
die oudheid dat die ministers van ‘n koningin ontman is.

 

Hierdie Ethiopiese minister het
dus kom aanbid in Jerusalem.

Gemeente, hieruit blyk dat die
HERE, Jahweh, die God van die Jode, ook in daardie tyd veel breër aanbid is as
net deur die Jode.

Wie die Ou Testament goed lees,
sal agterkom dat God sy volk toe ook ‘n sendingsopdrag gegee het.

En dit het ook gebeur, alhoewel
dalk nie altyd met eweveel entoesiasme nie.

Dink maar aan die optrede van die
profeet Jona.

Mense uit ander volke kon in
daardie tyd die status kry wat met die woord proseliet aangedui is.

Proseliete was mense uit ander
volke as die Jode, wat sê maar gaslid geword het in God se volk.

Hulle het die God van die Jode
aanbid, die Skepper van hemel en aarde,

maar hulle het nie alle
voorskrifte nagekom wat die Joodse volk so uniek gemaak het nie,

soos byvoorbeeld die spyswette en
die reinheidswette en die besnydenis.

Waarskynlik was hierdie minister
uit Ethiopië ook so ‘n proseliet.

 

As proseliet het hy Jerusalem
besoek, om die ware God daar te aanbid.

Maar by die tempel mog hy nie
orals kom nie.

As nie-Jood moes hy op gepaste
afstand van die tempel bly staan.

En dit nie net omdat hy ‘n heiden
was nie, maar ook vir die feit dat hy ‘n eunug was.

In Deuteronomium 23 staan dat ‘n
ontmande nie die voorhof van die tempel mog betree nie.

Die tempel moes ‘n sfeer van
volmaaktheid uitstraal, niks mog daar gebrekkig wees nie.

Nie dat God geen tyd gehad het
vir gebrekkige mense nie, inteendeel.

Die wet van Moses staan vol
bepalings wat opkom vir die swakkes in die samelewing.

Maar die tempel moes ‘n simbool
wees van die volmaaktheid van God.

So was hierdie Ethiopiese
minister dus aan die een kant Godvresend, maar aan die ander kant het hy aan
die kantlyn gestaan.

Hy is uitgesluit.

 

Maar, ons teks vertel dat dit nou
verlede tyd is.

Die Heilige Gees maak ‘n nuwe
begin met hierdie man.

Ek sê dit eintlik verkeerd.

Die Heilige Gees het al lank al
met hierdie man begin.

Maar nou gaan daar iets besonders
gebeur.

Dit was ‘n wonder, want dit was
nie toevallig nie, dat hy juis op daardie oomblik uit die Bybel gesit en lees
het, soos wat hy in sy wa op pad huis toe was.

En dit was ‘n wonder, dat hy juis
op daardie oomblik ‘n profesie uit Jesaja gesit en lees het.

‘n Profesie wat hy nie verstaan
het nie, hy het nie geweet wie daarmee bedoel word nie.

Maar dit alles het soos ‘n
legkaart inmekaar gepas.

Filippus mog dit verduidelik.

Hoogedele minister, dit gaan hier
oor Jesus!

Ken u Hom nog nie?

Het u nog nooit van Hom gehoor
nie?

Want die hele Jerusalem praat oor
Hom.

Dit kon nie anders nie of die
Ethiopiër, wat sopas uit Jerusalem afkomstig was, moes oor Jesus gehoor het.

Die Heilige Gees gebruik nou vir
Filippus om die hele boodskap aan hom oor te dra.

Soos ‘n skaap is Hy gelei om
geslag te word...

U het tog gehoor dat hierdie
Jesus gekruisig is?

Soos ‘n lam wat stom is voor die
een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie.

U het tog gehoor dat hierdie
Jesus in staat was om met een enkele woord ‘n storm op die see tot bedaring te
bring...

U het tog gehoor dat Hy met
enkele woorde ‘n dooie uit die graf kon opwek...

Maar dat Hy, toe Hy voor die
sanhedrin gestaan het, en toe Hy voor Pilatus gestaan het, dat Hy toe sy mond
nie oopgemaak het nie, dat Hy toe Homself nie verdedig het nie...

Dat Hy hulle toegelaat het om Hom
te kruisig....

In sy vernedering is sy oordeel
weggeneem... (vers 33)

Mens kan beter hier vertaal: In
sy vernedering is regspraak Hom ontneem...

Dit wil sê: groot onreg is Hom
aangedoen.

Sy lewe is van die aarde
weggeneem.

Het u nie ook die berigte gehoor
dat toe hierdie Man gesterf het, dat dit drie ure lank donker geword het?

 

Die Ethiopiër se oë het begin
glinster.

Hy het begrypend geknik.

Hy het inderdaad die wonderlike
verhale oor daardie Man gehoor, wat Jesus genoem word.

En nou, al lesende uit die
profeet Jesaja, terwyl hy homself afvra oor wie dit gaan, stuur die Heilige
Gees Filippus op hom af, en Filippus mog sy oë oopmaak, sy verstand verlig, die
verband lê tussen die ou profesie en Jesus Christus.

Uitgaande van daardie
Skrifgedeelte het hy die evangelie van Jesus aan hom verkondig.

 

U weet wat die uitwerking hiervan
was.

Die prediking van Filippus is
deur die Heilige Gees gebruik.

Die minister was waarskynlik nie
iemand wat sommer met enige praatjie om die bos gelei kon word nie.

Anders sou hy nie die
skatbewaarder van die koningin kon gewees het nie.

Maar Filippus se getuienis was
solied.

Dit het die minister oortuig.

Hy het erken dat dit wat Filippus
vertel, die waarheid moes wees.

Hy het sy geloof bely.

Hy is gedoop.

Vir hom het ‘n nuwe toekoms
aangebreek.

Die ware God van die Jode wat hy
vereer het, het nou baie nader gekom.

Hierdie God was nie nou meer net
vir hom ‘n Skepper nie, maar ook sy Redder.

Hierdie God wat sy Seun, die
Gesalfde, na die aarde gestuur het, om sondaars te red.

Nie net Jode nie, maar elkeen wat
sy naam bely.

En dit is wat hierdie minister
net daar en dan gedoen het, sy Naam bely:

“Ek glo dat Jesus Christus die
Seun van God is.” (vers 37).

Vir hom het ‘n nuwe lewe begin.

Die Heilige Gees skenk ‘n nuwe
toekoms aan die Ethiopiese hofdienaar, soos ons tema sê.

Hy wat voorheen uitgesluit was,
word nou in God se volk ingelyf.

 

Volgens ons teks het Filippus
kort na sy doop weer vertrek.

Maar die minister het verder
gereis met blydskap.

Al jare was God met hom besig
gewees.

Maar op hierdie dag het daar ‘n
keerpunt in sy lewe gekom.

In Jesus Christus het ‘n nuwe
toekoms vir hom oopgegaan.

Met blydskap het hy sy reis
voortgesit rigting Afrika.

En heel waarskynlik terwyl hy
verder sit en lees het uit die profesie van Jesaja.

Maar nou met geopende oë.

Spoedig sou hy ook Jesaja 56
lees, drie hoofstukke verder.

Met die lees van hierdie hoofstuk
sou sy blydskap nog groter word.

Want uit hierdie hoofstuk sou
blyk dat vir hom persoonlik ook ’n nuwe lewe begin het.

Dat daar vir hom as ontmande
werklik ‘n toekoms was.

Luister maar wat Jesaja profeteer
in hoofstuk 56:

“laat die uitlander wat hom by
die HERE aangesluit het, nie spreek en sê: Die HERE sal my gewis afskei van sy
volk nie; en laat die ontmande nie sê: Kyk, ek is ‘n droë boom nie.

Want so sê die HERE aan die
ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my
verbond: Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ‘n gedenkteken en ‘n
naam gee wat beter is as seuns en dogters; ‘n ewige naam gee Ek aan hulle, wat
nie uitgeroei sal word nie.” (Jesaja 56:3-4)

 

‘n Nuwe perspektief.

In hierdie wêreld is daar so baie
mense wat in ellende verkeer.

Laat ons eerlik wees: alle mense.

Die spreekwoord sê: elke huis het
sy kruis.

En so het hierdie ryk Ethiopiese
minister ook sy kruis gehad.

Maar die evangelie het nuwe
perspektief in sy lewe gebring.

Die evangelie het hom sy ellende
leer ken.

Die feit dat hy ontman was, geen
nageslag kon hê nie, was nie sy grootste ellende nie.

Maar die feit dat hy ook gered
moes word van sonde en dood.

Dit het Christus vir hom gebring.

En daarby het dit nie gebly nie.

Ook al sy ander aardse probleme
het klein geword in die lig van die ewige perspektief, die vernuwing van alle
dinge.

 

Gemeente, uit ons teks leer ons
weer iets oor ons hemelse Vader.

Hoe Hy die lewens van mense op
aarde lei.

Toeval bestaan nie.

Daar is engele orals rondom ons.

Hulle voer God se wil uit, sy
raadsplan.

Niks is toevallig nie.

Ons lees hier oor ‘n engel wat
Filippus aangespreek het.

Wat hom na die Ethiopiër gestuur
het.

En daar het nog veel meer gebeur
wat nie maar net toevallig kon gewees het nie.

Die feit dat hierdie man juis
vanuit Jerusalem op pad terug huis toe was.

Die feit dat hierde man juis op
daardie oomblik uit Jesaja gelees het, ‘n gedeelte wat geprofeteer het oor die
plaasvervangende lyde van Jesus Christus.

Dat die engel aan Filippus
verskyn het, dit was – sê maar – die laaste stappie in die program van die
Heilige Gees om hierdie Ethiopiër na die geloof toe te lei.

Want eintlik was die Heilige Gees
as jare lank met hierdie man besig.

En het Hy sy lewe so gelei dat
alles dalk op eerste gesig heel toevallig gelyk het.

Dat hierdie man deur Filippus
gedoop kon word.

Die skrywer van die boek
Handelinge, Lukas, het oog vir al hierdie dinge, wat so gelei is, en so skryf
hy dit ook neer.

Hoe Jesus Christus deur sy Gees,
wat die engele ingespan het, ja deur sy totale bestuur van die wêreldgebeure,
sy kerk versamel, en mense na die redding toe lei.

 

En soos die geval was met die
Ethiopiër, so kan elkeen van ons ook ons eie verhaal vertel.

Elkeen van ons kan verwonderd
wees oor hoe die Here jou lewe lei het.

Dat jy gedoop mog word.

Dat jy geloofsbelydenis mog aflê.

God bied aan die lewe van elkeen
wat sy naam bely, nuwe perspektief.

As jy jouself nou nog uitgesluit
voel, nie deel van God se volk nie, weet dan:

Dis nie toevallig dat jy op
hierdie Pinksterdag in die kerk is nie.

Dat hierdie boodskap ook jou nou
bereik het.

Ook hiermee het God ‘n plan.

Ook met hierdie prediking trek
Christus jou nader.

 

Net soos die Ethiopiër, mag ook
elkeen van u, saam met Christus, ‘n hoopvolle toekoms tegemoet gaan.

Sonder Christus is elke mens aan
die ellende oorgelewer, in die diepste sin van die woord.

Maar Hy het ons opgesoek.

Met sy Woord. Met sy Gees.

Hy lei jou lewe.

Daarvoor span Hy selfs sy engele
in.

Reken maar daarop.

Net soos by die Ethiopiese
minister.

Dit gee mens ‘n veilige gevoel.

Veilig omdat ek weet dat my
Heiland naby my is.

Sy Gees wyk nooit meer van my
nie.

Hy lei jou die toekoms in.

Met vreugde mag jy jou lewensweg
vervolg.

 

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)