Die Here Jesus Christus waak oor sy gemeente

Minister: 
Ds PG Boon
Church: 
Maranata
Date: 
2015-06-07
Text: 
Handelinge 12 : 11
Preek Inhoud: 

Indien u die
preek wil gebruik kontak asseblief vir ds PG Boon

Kopiereg word
voorbehou.

PRETORIA-MARANATA,
7 Junie 2015 AD, 10:15

Voorsang: Sb 18:5-8

Votum

Seën

Ps 100:2,3

Wet

Ps 38:14,15,17

Gebed

Skriflesing: Handelinge
11:19-12:25

Ps 33:7

Teks: Handelinge 12:11

Preek

Ps 2:3,5,6

Gebed

Kollekte

Ps 33:6

Seën

 

 

 

 


 

Preek:
Handelinge 12:11

In die hoofstuk wat ons gelees
het, speel engele ‘n belangrike rol, net soos op heelwat ander plekke in die
boek Handelinge.

Aan die een kant word die engele
ingespan om Petrus se lewe te red.

Om hom op ‘n wonderlike manier
uit die gevangenis te lei.

Aan die ander kant word die
engele ingespan om koning Herodes op ‘n dramatiese wyse te laat sterf.

Die engele is God se gesante, wat
presies doen wat Hy hulle opgedra het.

                                                     

Tema: Die
Here Jesus Christus waak oor sy gemeente

-         
Hy span sy engele in om Petrus te
bevry

-         
Hy span sy engele in om Herodes
uit te skakel

 

-         
Hy span sy engele in om Petrus te
bevry

In die periode waartydens die
gedeelte wat ons gelees het, plaasgevind het, het daar ‘n ernstige droogte
geheers in Israel.

Daar was groot voedselskaarste
onder keiser Claudius.

In die land Israel is daar van
oudsher baie graan verbou.

Vir eie gebruik, maar ook om uit
te voer.

Israel het byvoorbeeld uitgevoer
na sy noorderbure, Libanon en Sirië – die Tiriërs en Sidoniërs.

Libanon en Sirië was gebiede wat
baie bergagtig is, wat nie geskik is vir graanbou nie, maar wat veral bekend
gestaan het vir sy bosse.

Beroemd vir sederhout.

In tye van hongersnood was die
Tiriërs en Sidoniërs dus aangewese op hulle suiderbure.

Israel was veral bekend vir sy
landbouprodukte: graan, druiwe en olywe.

 

Wat het hierdie opmerkings oor
die hongersnood eintlik te make met die res van hoofstuk 12?

Ons lees hoe Herodes begin het
met ‘n vervolging teen ‘n aantal vooraanstaande Christene.

Dit het uitgeloop op die dood van
Jakobus.

Ook het ons gelees van die
wonderlike bevryding van Petrus.

En die hoofstuk sluit af met die
dood van Herodes.

 

In die stukkie wat ons uit die
vorige hoofstuk gelees het, word daar genoem dat daar ‘n kollekte in Antiochië
gehou is ten bate van die gemeente in Jerusalem.

Barnabas en Paulus is gevra om
die hulpgeld na Jerusalem te neem.

Dit was in reaksie op die
profesie van Agabus oor die hongersnood.

Die broederskap in Jerusalem is
hard getref deur die hongersnood.

Soos ons ook vandag weet, word
armer mense altyd harder getref as daar ‘n hongersnood of ‘n ekonomiese
insinking is.

Die gemeente in Jerusalem was
verarm, as gevolg van die vervolging.

Die Jode het die Christene
geteiken.

Hulle is gediskrimineer in die
handel.

Soos ons ook in Handelinge lees,
het heelwat gemeentelede gevlug uit Jerusalem.

Die gemeente is in ‘n groot mate
verstrooi.

En daardie deel wat agtergebly
het, het verarm.

Met die hongersnood het hulle
situasie nog moeiliker geraak.

In reaksie hierop het die
gemeente in Antiochië daarom ‘n spesiale kollekte vir hulle susterkerk gehou.

 

Hierdeur het hulle die gemeente
in staat gestel om betyds graan in te koop, voordat die pryse tydens die
voedselskaarste sou begin styg.

Graan was in tye van skaarste vir
die gewone man onbetaalbaar.

Hierdie hongersnood was ‘n strop,
ook vir die regering.

En skynbaar wou Herodes in
hierdie omstandighede ‘n sondebok soek.

Hy het een gevind in die
Christene.

Daar het ‘n klopjag gevolg op die
kerklike leiers.

Tussen hakies, gemeente, van
latere Christenvervolgings, byvoorbeeld in die Romeinse Ryk, is dit ook bekend
dat hulle deurgaans in tye van rampe en nasionale nood plaasgevind het.

Soos die kerkvader Tertullianus
later sou skryf:

Elke ramp wat die staat tref,
elke onheil wat oor die volk kom, elke keer kry die Christene die skuld.

Die Romeinse skrywer Tacitus
vertel hoe keiser Nero by die brand wat Rome in puin gelê het in 64nC die Christene
bewus tot sondebokke gemaak het.

En dit terwyl daar gerugte
rondgegaan het dat hy self die brand aangesteek het, omdat hy ontslae wou raak
van die krottewyke.

 

Rondom hierdie hongersnood
waarvan ons gelees het, het groot kragte ‘n rol gespeel.

Eintlik sien mens dat die satan
hier besig is

Om, behalwe vir die vervolging
van die kerk deur die Joodse leiers en Fariseërs, nog meer instansies in te
span in sy aanval op die jong gemeente.

Om dit in die woorde van
Openbaring te sê:

Die satan se aanval teen die vrou
wat die kind gebaar het (Openbaring 12).

Satan kry dit reg met sy intriges
in die aktuele politiek van koning Herodes dat die Christene as sondebok van
die hongersnood gebrandmerk word.

Maar gelukkig is die satan
gebind.

Want Christus het na sy
hemelvaart plaasgeneem op die troon in die hemel.

En sy onderdane in Antiochië kom
in aksie.

Hulle neem dit op vir die
gemeente in Jerusalem.

Hulle wat veral heidenchristene
is, vergeld kwaad met goed.

In hoofstuk 11 het ons gelees dat
die gemeente in Jerusalem aanvanklik vol wantroue was oor hulle susterkerk in
Antiochië.

Antiochië antwoord egter met
konkrete liefde in die vorm van ‘n kollekte.

Ja dit is Christus wat aktief is,
en vanaf sy troon dinge laat gebeur.

Dit sien ons veral in hoofstuk
12.

Daar woed ‘n geestelike stryd in
hoofstuk 12.

Aan die een kant die Joodse
leiers, wat nou onverwags steun kry van Herodes.

Eintlik is dit die satan met sy
intriges wat hier besig is.

Maar aan die ander kant Paulus en
Barnabas, Jakobus en Petrus, die vroeë kerk, aangestuur deur Christus vanaf sy
hemelse troon.

 

Wie was hierdie koning Herodes
eintlik?

Sy ander naam was Agrippa die
Eerste.

Hy was ‘n kleinseun van Herodes
die Grote, wat aan bewind was toe Jesus gebore is.

Vanaf die jaar 37 het Herodes
Agrippa sy gebied steeds meer uitgebrei.

Met sy dood in 44nC, waaroor ons
in hoofstuk 12 gelees het, was hy ook aan bewind oor Judea met Jerusalem as
hoofstad.

Godsdienstig gesien het Herodes
Agrippa aan die kant gestaan van die Fariseërs.

Van die verskillende Joodse
leiers het die konserwatiewe Fariseërs die meeste invloed op die volk gehad.

En soos ons in hoofstuk 12 sien,
het Herodes sy godsdienstige ywer probeer bewys deur vervolgingsaksies.

So het hy geywer vir die guns van
die volk.

En deur veral die Christelike
leiers te teiken, het hy geprobeer om die kerk in Judea nog verder te
verstrooi.

Dit het voorgekom asof Herodes in
sy opset geslaag het.

Jakobus is gevange geneem met die
swaard omgebring.

En toe Herodes sien dat die Jode
in hulle noppies hieroor was, het hy voortgegaan.

Hy het ‘n tweede leier, nog ‘n
apostel, laat arresteer.

Hierdie arrestasie het
plaasgevind op ‘n godsdienstig gesproke strategiese oomblik.

Tydens die dae van die ongesuurde
brode – sien vers 3.

Hierdie opmerking benadruk dat
Herodus probeer het om op die godsdienstige gevoelens in te speel.

Herodes het dit ook met die
nodige publisiteit gedoen.

Hy het ‘n spektakel daarvan
gemaak.

Hy het naamlik vier groepe van
vier soldate gebruik om Petrus in hegtenis te neem en te bewaak.

Bloot om indruk te maak op die
volk en Joodse leiers.

‘n Waterdigte bewaking wat
eintlik net gebruik is vir terroriste.

Dit het die opwinding by die volk
net nog groter gemaak.

Maar, aan die ander kant
natuurlik, dit het die ontsnapping ook des te indrukwekkender gemaak.

Daar is dus nou twee kragtevelde.

Aan die een kant koning Herodes
wat van plan is om dieselfde met Petrus te doen as wat hy met Jakobus gedoen
het.

En aan die ander kant die
gemeente wat intens vir Petrus gebid het.

En, daarop vestig Lukas as
skrywer van Handelinge ons aandag – eintlik is dit ‘n kragmeting op kosmiese
skaal.

Die oomblik toe dit gebeur, het
die gemeente dit nog nie besef nie.

Dit sien mens uit die feit hoe
verbaas hulle was.

Want hulle het glad nie rekening
gehou met ‘n moontlik ontsnapping nie.

Selfs Petrus ook nie.

‘n Engel van die Here het naamlik
by hom gekom.

Skielik ‘n bonatuurlike lig in
die donker sel.

Die engel moes Petrus wakker por
– hy’t hom op die sy geslaan.

Sulke klein details maak duidelik
dat Petrus volkome sonder eie toedoen bevry is.

Die boeie het van sy hande
afgeval.

Daarna het die een deur na die
ander vanself oopgegaan.

Die boodskap is duidelik: geen
beveiliging hou stand as Christus betrokke is nie.

As Hy wil bevry, help kettings en
boeie en yster deure niks nie.

 

Nog steeds is Petrus nie
heeltemal wakker nie.

Die werklikheid is so ongelooflik
dat Petrus onder die indruk was dat hy droom.

Eers na die engel met hom ‘n ent
saamgeloop het, een straat ver gegaan het, en van hom afskeid geneem het, eers
toe het dit tot Petrus begin deurdring wat gebeur het.

En daar staan Petrus toe.

Hy moes homself vir ‘n oomblik
oriënteer.

Mens hoor hom hardop dink.

Waarlik, die Here het sy engel
gestuur en my gered uit die hand van Herodes en uit al die verwagtinge van die
Joodse volk!

Die Joodse volk het geweet dat
Herodes hom gevange geneem het.

Hulle het uitgesien na die dag,
na die Paasfees, dat Herodes hom ook, net soos Jakobus, voor die volk sou bring
en openlik teregstel.

 

Maar nou staan Petrus ineens
buite op straat.

En nadat hy bygekom het,
rondgekyk het, het hy koers gekies na die huis van Maria, die ma van Johannes.

Hierdie huis het, soos dit
algemeen in daardie tyd die geval was met welgesteldes, ‘n voorportaal, of ‘n
poortgebou gehad.

Die huis is verder rondom ‘n
binneplaas gebou.

Miskien het u al ooit so ‘n huis
gesien, anders moet u bietjie kyk in ‘n boek of op internet.

‘n Tipiese Romeinse huis het ‘n
binnehof gehad, waaromheen die kamers gebou is.

Die binnehof was dikwels mooi
versier met plante, ‘n fontyntjie, ensovoorts.

Sulke huise van die welgesteldes
het in die tyd van die vroeë kerk dikwels gedien as plek van samekoms vir die
gemeente.

Dink byvoorbeeld aan die huis van
Lydia (Hand 16:40), of die huis van Jason (Hand 17:5), of die huis van Justus
(Hand 18:7), waaroor ons ook in Handelinge lees.

 

Petrus het op die poort geklop.

Die diensmeisie Rhode het van
blydskap die poort nie oopgemaak nie, maar vir die ander gaan vertel.

Maar hulle kon dit nie glo nie,
het gedink dit was sy beskermengel.

Duidelik het niemand met ‘n
ontsnapping rekening gehou nie.

Hoe kom ‘n mens verby vier
viertalle soldate?

Maar terwyl hulle in ongeloof die
diensmeisie aangestaar het, het Petrus bly bons op die deur.

Na ‘n rukkie is die poort toe wel
oopgemaak en is Petrus in veiligheid gebring.

 

Die volgende oggend was daar
natuurlike ‘n konsternasie in die gevangenis.

Herodes het direk gedoen wat ‘n
bevelhebber in so geval moes doen.

Met ‘n soekaksie begin.

En die personeel van die bewaking
het hy afgevoer en laat teregstel.

Herodes het voor ‘n raaisel
gestaan.

Die kragte wat dit veroorsaak
het, het hom ontgaan.

 

 

(Tema: Die Here Jesus Christus
waak oor sy gemeente

-         
Hy span sy engele in om Petrus te bevry)

 

 

-         
Hy span sy engele in om Herodes
uit te skakel

Lukas, wat oog hiervoor het, gaan
verder.

Want Christus was nog nie klaar
met Herodes nie.

Dit blyk uit die dramatiese einde
van sy lewe.

Nog steeds is daar sprake van ‘n
hongersnood.

En Herodes, ‘n gevoellose en
genadelose heerser, het probeer om selfs uit die nood van ander voordeel te
trek.

Ons lees oor ‘n gesantskap uit
Tirus en Sidon.

En soos ek al genoem het, was
hierdie land in tye van droogte ekstra afhanklik van Israel met sy groter
graanproduksie.

Hierdie gesantskap het probeer om
met die hulp van Blastus, ‘n hoë funksionaris van Herodes, ‘n vredesvoorstel te
bemiddel.

Maar Herodes was meedoënloos, en
het nie ore hiervoor gehad nie.

Hy wou munt slaan uit iemand
anders se nood.

Steeds meer het hy homself
geopenbaar as die kwaad in eie persoon.

Lukas sien ‘n duidelike verband,
en daarom skryf hy dit op.

Eers die vervolgingsaksie teen
die Christelike leiers, en nou sy optrede in die buitelandse politiek.

Maar gelukkig, sy dae is getel.

Lukas beskryf koning Herodes se
dood op so ‘n manier, dat mens selfs die konklusie kan trek dat sy dae ingekort
is.

Christus het genoeg gehad van
hierdie sluwe en meedoënlose jakkals.

Sy lewenseinde het heel dramaties
gekom.

Lukas vertel iets daarvan.

Vanuit ander bronne weet ons nog
meer.

Dit was tydens een van die groot
skouspele, wat deur Herodes georganiseer is ter ere van die keiser.

Hy het as eregas op die paviljoen
verskyn.

Spesiaal vir die geleentheid het
hy ‘n kleed aangetrek wat heeltemal van silwer gemaak was.

Hy het voor die massas mense
verskyn aan die begin van die dag.

Waardeur die silwer wonderlik
begin glans het in die eerste sonstrale.

Die skittering was amper
huiweringwekkend.

Sodanig dat dit onder die publiek
‘n rilling van opwinding en ontsag veroorsaak het.

En daarna het die massas begin
joel:

Die stem van ‘n god en nie van ‘n
mens nie!

Hierdie vleiery het Herodes
gestreel.

Hy het niks gedoen om die mense
tot bedaring te bring nie.

En juis op daardie oomblik kry hy
‘n fatale toeval.

Lukas skryf, ‘n engel van die
Here het hom getref.

Hy is deur wurms verteer.

Dit is waarskynlik ‘n verwysing
van Lukas, wat self ‘n dokter was, na Herodes se siekte.

‘n Diagnose.

Ander bronne vermeld dat hy
skielik ‘n hewige pyn in die hart- en maagstreek gekry het.

Ook hier is dit duidelik dat
kragte wat sterker as Herodes was, beheer oorgeneem het.

Die manier waarop Herodes die
voedselskaarste uitgebuit het, het in skril kontras gestaan met die hulpverlening
van die Christene in Antiochië.

Die manier waarop Herodes hom as
god laat vereer het, was die laaste druppel wat die emmer laat oorstroom het.

Christus regeer, Hy is die
Gesalfde.

Die hele aarde is in sy mag.

Hy verpletter Herodes met sy
ysterstaf, Hy slaan hom stukkend soos ‘n erdepot (Psalm 2:9).

 

Die boodskap van hierdie
gedeelte, juis aan hulle wat hoë posisies beklee, is wat daar in Psalm 2
verwoord word:

“Wees dan nou verstandig, o
konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees,
en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg
vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom
skuil!” (Psalms 2:10-12).

 

Herodes het nie aan God die eer
gegee nie.

Hy is deur wurms verteer en het
sy laaste asem uitgeblaas.

Maar Petrus en die gemeente in
Jerusalem het verder gegaan.

Hulle was weer veilig.

Want hulle het by Christus
geskuil.

Ja ook Jakobus, wat ‘n martelaar
geword het soos Stefanus, was veilig by Christus.

Salig, welgeluksalig, soos Psalm
2 sê.

 

Gemeente, God se Woord, hierdie
hoofstuk, leer ons om na die wêreld te kyk, die politiek van elke dag, die wel
en wee van die kerk, en selfs dit wat in die natuur gebeur, die weer, reën en
droogte, hitte en koue, ons word geleer om na alles te kyk vanuit die besef dat
Christus regeer.

Dat Christus alle dinge inspan.

Dat Hy toewerk na die doel wat Hy
met hierdie wêreld het.

Dit wil nie sê dat ons as
Christene alle gebeurteniss sal kan plaas, en in staat sal wees om alles wat
gebeur, te verklaar nie.

Daar gebeur dinge waarvan ons
wonder wat die doel daarmee is, hoekom Christus dit toelaat om te gebeur.

Dinge soos 9/11, of die feit dat Suid-Afrika
so ‘n korrupte staatshoof het, of die feit dat baie Christene in die Midde-Ooste
vervolg word sedert die sogenaamde Arabiese lente.

Ons kan nie alle gebeurtenisse
verklaar nie.

Ons weet wel dat Christus op die
troon sit, en aanstuur op die eindbestemming.

En hoewel ons waarom-vrae oorhou,
is ons nie wanhopig nie.

Net so min as die vroeë gemeente
in Jerusalem wanhopig was.

Hulle het gebid, hulle het kontak
gemaak met Christus in die hemel.

Dinge het reggekom.

Vir wat betref Petrus.

Hy is uit die gevangenis bevry.

Nie wat betref Jakobus nie.

Jakobus het ‘n martelaar geword.

Die gemeente kon dit nie verklaar
nie.

Maar in geloof het hulle omhoog
gekyk.

Christus sorg vir sy skape, in
lewe en in sterwe.

Hy gee vir ons die geloof om moed
te hou, in alle omstandighede.

Om die chaos van die
wêreldgeskiedenis te dui.

Om die tekens van die tye raak te
sien.

Die dood van Herodes was vir
Lukas ‘n duidelike teken.

Dat Christus regeer.

Hy stel maghebbers aan.

Maar Hy onttroon hulle ook.

 

Gemeente, ons behoort onsself te
oefen om ook so na alles te kyk.

Die wêreldgeskiedenis.

Die politiek.

Ook jou eie lewe.

Probeer om die tekens van die tye
raak te sien.

Tekens waaruit duidelik blyk dat
Christus regeer.

Dat Hy werk rigting die jongste
dag.

As jy hiervoor oog kry, kry jou
lewe perspektief.

Begin jy selfs die werk van die
engele raak te sien.

Dit gee mens moed en
uithouvermoë, om na teenslae weer verder te gaan.

Omdat ons weet dat die goeie
stryd nie verlore is nie, maar dat in Christus die oorwinning reeds behaal is.

 

Ja Christus omring jou vandag nog
steeds met dieselfde mate van beveiliging as toe met die gemeente in Jerusalem.

Skenk in die komende week hieraan
aandag.

Jou lewe word nie net so nou en
dan toevallig aangeraak deur ‘n engel nie.

Jou lewe word deurgaans, van uur
tot uur, begelei deur die engele.

Christus gee sy instruksies, en
die engele tree op, ter wille van sy uitverkorenes.

Jy en ek, ons is God se kinders.

Laat dit nie so wees dat die
engele jou elke dag weer die goeie kant moet optrek nie, dat die engele jou
elke keer moet red uit plekke en situasies waar jy nie behoort te wees nie.

Maar kies daarvoor, as kinders
van God, om vrywillig die goeie koers te vaar in jou lewe.

 

Christus is begaan met ons lot.

Ons is opgeneem in sy groot
reddingsplan.

21 eeue later is ons die
opvolgers van die gemeente in Jerusalem.

En geniet ons nog steeds dieselfde
mate van beskerming deur Christus, vanaf sy hemelse troon.

 

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)